Frances Lubbe. Opwekking

Die blomme het al ‘n paar weke terug begin kop uitsteek hier in Londen, en vandag het ons uiteindelik ook rede om die plante se optimisme te deel: die son skyn!  Vir die eerste keer in maande.

Graffiti in die lente, Bethnal Green, foto deur Dagmara Kodlubanski

East End graffiti in die lente, foto deur Dagmara Kodlubanski

Die energie en opwekking wat vroeë lente meebring het my in die East End se strate ingestuur om die plek van voor af te ontdek en verken. Dis nie meer soos in die winter die geval dat ‘n mens koponderstebo loop teen die koue en so vinnig moontlik binneshuis wil kom nie. Lente laat mens weer opnuut na jou omgewing kyk. En om die buurt op behoorlike wyse te ervaar, te ‘sien’, het allerhande verassings opgelewer. Daar is kleurvolle uitbarstings van graffiti op die mure, sproeikuns, verfkuns en delikate teeltjies wat hoog teen mure geplaas is, op die strate van die East End. Londen is propvol straatkuns. Dit kom in baie verskillende vorme en in baie moontlike media, enigiets van ‘n haastige gekrap op ‘n muur met ‘n pen tot ‘n uitvoerige en fyn afgewerkte enorme eekhoring, wat op ‘n sakeonderneming se kantmuur verskyn het.

Eekhoring, foto deur Aaron Dey

Eekhoring, foto deur Aaron Dey

Straatkuns intigreer op interessante wyses met stedelike landskappe. Waar daar in die middel van ‘n stad nie spasie blyk te wees nie, word spasie geskep deur allerhande oppervlaktes in te span vir kuns. Hierdie kuns is soms snaaks, soms sinies en dien baiemaal as kommentaar op hedendaagse sosiale temas. Dit neem kuns uit die tradisionele ingeperkte omgewing van die gallery en tot in openbare ruimtes, en poog dus om kuns meer toeganklik te maak. Dit is uit-en-uit ‘n stadskunsvorm – vinnig, doelgerig en soms ‘hard hitting’.

Persoonlik verkies ek die straatkuns wat op meer subtiele wyse omgaan met die kyker en ‘n kunstenaar wat dit goed regkry is Slinkachu. Met die leuse ‘Abandoning Little People on the Streets since 2006′ skep hierdie innemende en slim kunstenaar ‘n wêreld binne ‘n wêreld deur piepklein mensfiguurtjies in allerhande mini-landskappe te plaas dwarsoor die stad. Slinkachu speel met die temas van stadslewe, die gevoel wat ons almal van tyd tot tyd ervaar dat ons klein, gering en naamloos is. Terselfdertyd spoor sy werk ons ook aan om versigtig en met nuwe oë na die dramas wat daagliks in ons omgewing uitgespeel word, te kyk. Ek het ongelukkig nog nie self op enige van Slinkachu se werke afgekom nie, en hoop regtig dat ek nie enige miniatuur mensies vertrap het in my daaglikse reise nie!  Kyk gerus op slinkachu.com en little-people.blogspot.com vir meer voorbeelde van sy wonderlike miniatuur landskappe.

Hoekom sien die taxi-bestuurders my nie raak nie??  'n Slinkachu figuurtjie

Hoekom sien die taxi-bestuurders my nie raak nie??

Die mees berugte kunstenaar in die straatkunsveld is sekerlik Banksy. Hierdie geheimsinnige persoon, wie se werklike identiteit nog nooit vasgestel is nie, kom van Bristol af, maar hy het sy stempel dwarsoor die wêreld as ‘n kontroversiële kunstenaar afgedruk. Hy gebruik tekenpatrone (stencils) en sproeiverf om skilderye in publieke areas te maak. Ten spyte van die taamlike donker boodskappe wat telkens in sy werk opduik, is die skilderye delikaat en tegnies sterk. Aangesien dit in Engeland onwettig is om hierdie tipe kuns op openbare eiendom aan te bring, werk Banksy en ander soos hy in die geheim, soms deurnag, of baie vinnig gedurende die dag sodat hulle nie betrap word nie. Gegewe die min tyd tot hulle beskikking verwonder mens jou aan die vaardigheid waarmee hulle werk van sulke kwaliteit maak. Banksy sê van sy tegniek: ‘Most graffiti writers arrive at a style by the need to work fast and quiet. If you arrived at a style by painstakingly drawing in your bedroom and touching up on Photoshop, then people can smell the difference from about five miles away.’ (SwindleMagazine.com)

Banksy se kuns dekonstrueer tradisionele instellings, en trek skewebek vir die politiese en sosiale geskilpunte van die dag. In die afgelope paar jaar het hy byvoorbeeld die tradisionele vertoonruimtes van die Tate Modern in Londen en die Museum van Moderne Kuns in New York bevraagteken deur bloot in te stap, met ‘n geraamde skildery van sy eie werk onder sy arm, en self sy kuns langs meer gevestigde kunstenaars sin op te hang.  Gelukkig het hy nie sy sproeikan in die Tate Modern ingeem en iets direk op die mure gesproei nie!  Hy is astrant, ja, maar terselfdertyd geen vandaal nie. Op sy eie manier dring Banksy se kunswerk aan dat ons op ander, nuwe maniere na onsself en ons gemeenskap kyk, en dit is ‘n verfrissende boodskap.

Soos straatkuns meer bekend en selfs modieus word, ervaar die kunstenaars die eienaardige verplasing van straat na galery, van ‘ondergronds’ na welbekende kunstenaar wat onderhoude toestaan, en wie se werk op veilings hoë pryse behaal. Ten spyte van die feit dat hy nou ‘n gevestigde kunstenaar is, gaan Banksy aan met die straatkuns. Hy verduidelik dat die beskikbaarheid van geld die uitvoering van die kunswerk bloot vergemaklik het: ‘I’ve been pretending to be a construction manager and paying cash to get scaffolding put up against buildings, then I cover the scaffolding with plastic sheeting and stand behind it making large paintings in the middle of the city. I could never have done that a few years ago.’ (SwindleMagazine.com)

Daar is baie voorbeelde van Banksy se kuns in Londen. Hierdie is een van my gunstelinge en dit is in my buurt.   In ‘Yellow Flower’  word ‘n werker met ‘n lang verfstok uitgebeeld op die muur. Dit blyk dat terwyl hy besig was om die geel dubbelstreep op die pad te verf, hy effens van koers gegaan en ‘n blom teen die muur geverf het.

Bansky se kunswerk, Yellow Flower, in 2007

Bansky se kunswerk, Yellow Flower, in 2007

Daar was in 2007, toe hierdie skildery verskyn het, groot belangstelling toe ‘n verbygaande voetganger ‘n foto geneem het van ‘n man wat besig was om die geel blom in die bogenoemde kunswerk teen die muur te verf. Die BBC het die storie verder gevoer onder die opskrif ‘Artist Banksy ‘’captured in photo”’, maar sy identiteit is nooit bevestig nie. Dalk maak dit nie eintlik soveel saak of ons weet wie hy is of nie.

Daar is ‘n sikliese eienskap aan straatkuns wat goed geïllustreer word deur Banksy se blommeprent.  Die foto hierbo wys hoe die skildery gelyk het in 2007. Hier is hoe dieselfde muur vandag lyk:

Yellow Flower vandag

Yellow Flower vandag

Die werk hou nie vir ewig nie, en daar is ander straatkunstenaars (en ‘n paar vandale in hierdie geval) wat hul kommentare wou laat hoor, of hul eie stempel op die muur wou plaas. Met straatkuns is dit altyd moontik om jou stem te laat hoor.

BLOSSOM

This knuckle

of petals

twisted from the branch,

held like a match

to your sleeping face,

so the next breath you take

will draw you

from a private dark,

slow the carousel

of blood-bright shapes,

as ammonium carbonate

or a burning feather

might revive a castaway:

naked, salt-bitten, sun-wrecked,

the wind at her heart

deur Adam O’ Riordan

In The Flesh (Chatto & Windus, 2010)

Bookmark and Share

Comments are closed.