Andries Bezuidenhout. Brokke in die collage van afstand en aanwesigheid [1]

(Met die opening van die uitstalling “Walter Meyer: ʼn Verdwene oomblik in tyd”, Universiteit van Stellenbosch Woordfees, Sasol Kunsmuseum, 4 Maart 2011)

[Walter Meyer’s] work is a response to traditional landscape painting because it champions realism. For this reason, his art seems unfashionable, conservative even, in relation to contemporary artistic production here and in the rest of the world where realism, and indeed painting itself, have gone out of vogue…  In contrast to early landscape painters like Volschenk, Hugo Naudé, Pierneef and even more contemporary ones, Meyer’s is a realism that is completely devoid of glamour or beautification and instead focuses on the ordinariness and banality of the South African landscape and platteland.
– Lise van der Watt

Realism has never been comfortable with ideas. It could not be otherwise: realism is premised on the idea that ideas have no autonomous existence, can exist only in things. So when it needs to debate ideas, as here, realism is driven to invent situations – walks in the countryside, conversations – in which characters give voice to contending ideas and thereby in a certain sense embody them.
– Uit Elizabeth Costello


Landskap met rooi duine en kameeldorings, dink Melanie. Sy skakel die CD-speler af, want Elizabeth het in die passasiersitplek aan die slaap geraak. Elizabeth word wakker as ʼn klip teen die Fortuner se pens klap, dan dobber haar kop gelukkig weer vorentoe. Melanie voel ook vaak en verwissel van rat. By Kuruman het hulle van die nasionale pad afgedraai Van Zylsrus toe. By Askham vir water gestop, nou grondpad Mier se rigting. Vreemde name vir dorpe, Groot Mier en Klein Mier. Daarna deur die grenspos Keetmanshoop toe, bestemming Lüderitz. Die Kalaharilandskap laat haar weer aan Walter Meyer se skilderye dink. Sy dink die afgelope paar weke konstant aan hom. Sy moes nooit daardie brief geskryf het nie. Stupid, Melanie, stupid, stupid, sj… toepid! “Dear Ms Williams,” het die antwoord gekom.

Sy’t Walter Meyer die eerste keer op ʼn CD teëgekom. Wel, nie in die musiek nie, maar op die CD-omslag. Dit was 1993. Mandela was al drie jaar uit die tronk, maar in die Vaaldriehoek en Natal is mense daagliks afgemaai. Derde mag, Inkatha’s met AK’s in kattebakke. Sy onthou nou nog die naam van die skildery: “Huis Met Witboom”. Dit was James Phillips en die Lurchers se fenomenale album Sunny Skies. Sy het James Phillips se musiek natuurlik reeds geken, veral dié van sy alter ego Bernoldus Niemand. Sy’t hom elke nou en dan in Yeoville sien stap. Walter Meyer ook, maar sy’t nie een van die twee ooit ontmoet nie. Meyer was terug uit Düsseldorf, onthou sy, waar hy onder Michael Buthe studeer het, deels weens besware teen militêre diensplig. Ons kerk se mense, dink sy. Later het hy en Catharina ʼn huis in Pearston gekoop, sommer uit die Landbouweekblad. Toe Bethulie en uiteindelik Upington. Die droë plekke in Walter se skilderye.

Die skildery op Sunny Skies se omslag het haar onmiddellik getref. Die huis met sy mynhoopgeel bakstene, doodgerypte grasperk met ovaalvormige beddings, TV-antenna op die dak, ʼn dooie, wit boomstomp in die voortuin, die donker Hoëveldlug. Hierdie is die Johannesburg wat sy geken het, die een met sy dreigende, sonnige lug. Op Sunny Skies het James Phillips gesing:

Just when we thought it’s over
we found it’s only just begun.
Just when we thought it’s over
we’re still dying like flies underneath the sun…
[2]

Ja, onder die einste Suid-Afrika se sunny skies. Dis deels hoekom sy so van Walter Meyer se skilderye hou. Hy kry Suid-Afrika se lig reg. Mense vergeet dat die lug een van die belangrikste dele van ʼn landskap is. Om die lug se lig met verf te meng is moeilik. Meyer is meesterlik hiermee; die bleek Hoëveld, Bethulie se lug vol helder wolke, die effe rooi tint bo die Namib, selfs Seepuntpromenade se flets gloed as die son sak, sodat jy kan sweer Mickael K gaan nou met sy trollie verbykom. Meyer kry dit altyd reg om die lug so koud te laat lyk as wat dit is, amper afsydig bleak. Bleek is net nie ʼn akkurate vertaling vir bleak nie. Dalk ʼn kombinasie van bleek en desperaat?

Konsentreer op die pad, Melanie. Waardeer die landskap. So anders as Pierneef met sy pastelle. Dis Liese van der Watt wat die twee met mekaar vergelyk het, destyds in ʼn artikel in Vuka. Waar Pierneef die landskapskilder van Afrikanernasionalisme was, is Walter Meyer die landskapskilder van Afrikanernasionalisme se verval. “The landscape of our discontent,” het sy dit genoem, of só iets. [3] Melanie het weer daaraan gedink toe sy J.M. Coetzee se White Writing lees, oor hoe kolonialiste Afrikalandskappe sonder mense skilder – reg om oorgeneem te word. [4] Pierneef se geordende landskappe, die amper Europese dorpe, sonder blindederm-townships wat langs ashope ontsteek. Dis op daardie landskap wat Verwoerd se vragmotors mense opgelaai het en in die tuislande gaan dump het terwyl Afrikaners op Parkstasie na Pierneef se panele kyk om te sien waarheen die trein hulle gaan vat. Het jy nie by die fokken treinvenster uitgekyk nie, Pa? Dit lyk heel anders as Pierneef se kitch, of hoe? ʼn Treinvenster is tog ook ʼn raam met ʼn prentjie, liewe Pa, amper soos jou dierbare Nasionale Party se TV-skerms, dynserig van hot air en lugspieëlings.

ʼn Dreadlock het uit die rekkie in Elizabeth se nek geval en hang nou langs haar wang af. ʼn Portret, dink Melanie. Ons in ʼn portret, buite die vensterraam ʼn landskap. Hoekom verf mense nog landskappe en monteer hulle in rame? Walter Meyer se landskappe gaan oor mense wat in transito is, vervalle huise, skrootwerwe. Dit belowe nie ʼn beter toekoms nie. Hoekom hou sy dan so daarvan? Hoekom laat dit haar tuis voel? Kan ʼn mens só nostalgies raak oor verval en jou eie dislokasie? ʼn Deuntjie van Gert Vlok Nel kom draai in haar kop:

Moenie vir my alleen agterlaat in hierdie land
waar hulle nog hekse verbrand nie
hierdie aaklige, aaklige land nie…
[5]

Sy weet Walter Meyer hou ook van Gert Vlok Nel se musiek. Die namiddag wat chroom word, net in olie op doek. Bethulie se motorhawe, nie Beaufort-Wes s’n nie. Ook nie Sutherland s’n nie. Walter Meyer staan teenoor Pierneef soos Gert Vlok Nel teenoor N.P. Van Wyk Louw staan. Destyds in Pretoria, in die tagtigs as student, het Walter Meyer sketse geteken vir die underground digters se little mags, soos Wurm, as sy reg onthou.

Sy kyk sylangs na Elizabeth. Happy-go-lucky Elizabeth. Elizabeth wat nie verstaan hoekom sy so ontsteld was oor Mnr. Khoza se brief nie. Dit alles oor ʼn blerrie Jatsenaam Hendrik Pierneef getiteld “Berglandskap”. Die skildery het in die raadsaal gehang. Sy wat Melanie is, as nuwebesemkurator, wou die Pierneef vervang met iets wat meer by die maatskappy se openbare beeld sou pas. Haar eerste aankoop was ʼn Willie Bester, ʼn lekker strugglestuk van rubber en blik, beslis iets wat meer oor die land se trauma as Pierneef sê. Maar hoe gemaak om die base te oortuig? Sy’t ʼn brief aan Mnr. Khoza geskryf en ʼn artikel oor Pierneef as die landskapskilder van Afrikanernasionalisme aangeheg. Sy’t ʼn paar woorde wat sy oog sou vang onderstreep, woorde soos “dispossession”. Sy wou hom nie patronise nie, dis net omdat hy so besig is!

Ag, heilige freaking whoever, hoe moes sy geweet het Mnr. Khoza het die Pierneef self daar gehang? Blykbaar ʼn foto van Tokyo Sexwale saam met die geborgde sokkerspan daarvoor afgehaal nadat hy die Berglandskap iewers agter ʼn leggerkas opgespoor het. Genoem dat hy spesifiek na die landskap gaan soek het. Nogal ʼn slag met taal, hierdie Khoza, haar mooitjies op haar plek gesit. Sy weet nie of sy die woorde reg kan onthou nie:

“I have spent some time looking at Mountain Landscape. Occasionally, I bring a cup of tea in here, turn my back on our much envied city panorama, and simply gaze at that square of paint on canvas. There are golden foothills, soaring peaks in purple and mauve, storm clouds advancing or retreating. I get quite lost in it… Afterwards, when I return to the present… I feel as if I’ve been away to some high place where the air is purer. I feel quite refreshed. I cannot speak with authority – one day at the Louvre will hardly atone for a lifetime of ignorance – but I suspect this capacity to refresh the senses and the spirit is one of the marks of great art.” [6]

Nog 30 km tot op Mier. Die liewe Lizzie steeds uit soos ʼn kers. Melanie onthou die laaste groot Walter Meyer-uitstalling by Oliewenhuis. Sy’t van Johannesburg Bloemfontein toe gevlieg daarvoor, maar haar aankoopbudget vir die jaar was boomskraap. Sy wou nie een van die kleiner stillewens koop nie. Daar was ʼn ongelooflike selfportret. Dit het haar diep ontstel en sy’t gehuil. Die Saterdagoggend ná die opening wou sy in stilte na die skilderye gaan kyk. Catharina Scheepers het ʼn groep studente van een of ander kunsskool rondgelei. Agter haar raindrop-bril het Catharina so half afwesig gelyk, tjalie om die skouers. Sy woon nou in Kaapstad en Walter in Upington. Sy praat oor sy depressie en sy werkskedule. Heeldag verf hy.

Die studente is egter meer geïnteresseerd in hoe hulle by die punt uitkom waar hulle ook R50 000 vir ʼn skildery kan vra. Catharina humour hulle. Soms is dit bloot geluk, sê sy. Walter was op die regte tyd op die regte plek. Sy eerste groot uitstalling was saam met opkomende swart kunstenaars, iets wat nog heeltemal nuut was in daardie dae.

Iemand vra of Walter Meyer ronde of plat kwasse gebruik. Ronde kwasse, sê Catharina en vertel dat hy ver van die doek af staan as hy verf, armlengte. Hy steek die doek, soos met ʼn mes, stap terug, staan nader, steek weer. Melanie wonder of dít is hoekom daar ʼn afstandelikheid in sy skilderye is, so al asof hy bang is vir die landskappe wat hy verf. Kan ʼn mens so letterlik wees oor afstandelikheid? Kan hóé ver jy van die doek af staan as jy verf só ʼn impak hê op hoe ʼn skildery lyk? As jy jou gesig naby aan die doek sit, onthou Melanie, sien jy chaotiese kleure, maar as jy terugstaan is Walter Meyer se landskappe amper superrealisties. Is dit hoe hy sy illusie van realisme bewerkstellig?

Ongeskonde lyk die Kalahari, dink Melanie. Met global warming en suurwater wat by Johannesburg se mynskagte uitsypel is om landskappe te skilder dalk die mees radikale ding wat ʼn mens kan doen. [7] Blykbaar loop die Cradle of Humankind die gevaar om deur hierdie radioaktiewe water versuip te word. Fossiele, alles daarmee heen. Hoe toepaslik sal dit nie wees nie, dink sy. Die wieg van die mensdom word die graf van die mensdom. Sy sukkel om nie hardop te lag nie. En nou soek hulle gas in die Karoo en steenkool onder die Wes-Kaap se wingerde. Hoe lyk dit met ʼn mynhoop langs Simonsberg, Stellenbosch? How’s that for progress, my liewe Pierneef? Lus vir ʼn knypie landscape performance art? That’s where the cutting edge is, my dear. Video en performance.[8]

Ai, die brief. Oor “Berglandskap” het Khoza se ander connections ook met hom saamgestem. Leo Mbola van Telkom was blykbaar oortuig die Pierneef is ʼn prent van die Winterberge naby Queenstown, waar hy grootgeword het. En daai Eddie Khumbane van Spoornet het die skildery as “a prime piece of real estate” beskryf. Hoe’t Mnr. Khoza sy reaksie beskryf? Iets soos: “He stood there with his hands behind his back, gazing at the painting as if he owned it, and not just the painting but the mountains themselves, the lofty reaches of the Winterberg.”[9]

Mnr. Khoza het die artikel oor Pierneef by sy brief aan Melanie ingesluit. Hy’t self ʼn paar woorde onderstreep, ander woorde as sy, soos “the proprietorial gaze”. As Eddie Khumbane dink Berglandskap is “a prime piece of real estate”, is die skildery “not at odds with our corporate culture”, het hy teruggeskryf. Dan die uitklophou. Mnr. Khoza sal die Pierneef in die raadsaal hou en die Willie Bester mag sy wat Melanie is, “Dear Ms Williams”, in die ingangsportaal sit waar almal dit kan sien.[10]

Die Fortuner skuif heen en weer oor die grondpad. Melanie dink aan Zander Blom en sy tjommies wat op Pierneef se graf gaan dans het. Avant Car Guard. [11] Sy’t by die Art Fair in Sandton ʼn meer bekostigbare stuk van Zander vir die maatskappy aangeskaf. Melanie wonder of hy ook besef hoe vreemd toepaslik dit is dat ʼn Blom op iemand se graf beland. Hoe moet sy Mnr. Khoza se brief lees? Bedoel hy Pierneef se kuns is so goed dat hy die grense van nasionalisme oorsteek, of bedoel hy iets veel donkerder met die “proprietorial gaze”? Is hy ironies daaroor? Of herken hy sy eie nasionalisme in Pierneef? Hoe maak jy sin van hierdie aaklige, aaklige landskap?

Voëlnes teen telefoonpaal, dink Melanie. Vandag sien sy landskappe met rame én titels deur die voorruit. Stamp in die pad. One for a video. Elizabeth strek en gaap. “Hey, girl,” sê sy.

“Jy wakker?” antwoord Melanie, “lus vir musiek?”

“Not if it’s the late James Phillips again. I was hoping fourty winks would save me from that fate,” mompel Elizabeth.

“Ek kan nie ophou dink nie, babe,” sê Melanie.

Elizabeth sit haar een voet teen die paneelkissie. Rooi toonnaels, die groottoon silwer. Vreemde sin vir kleur, hierdie enetjie, dink Melanie. Elizabeth sê: “Mel, you’re on holiday. We’re here to get away from your paintings and politics. Relax, enjoy the Kalahari.” Sy neurie “Ver in die ou Kalahari” se deuntjie, heeltemal van die noot af.

“Jy weet ek ken ander woorde vir daai song,” lag Melanie. “En as jy my weer Piernig noem, laai ek jou sonder water af.”

“That’s cruel,” sê Elizabeth, “and come to think of it, these barren landscapes must be the reason for all the heavy drinking among you arty types.”

“En wie’s nóú donker?” vra Melanie. “Just to lift the mood,  Sunny Skies,” sê sy en skakel die CD-speler aan.

Notas, erkennings, verwysings

[1] Die titel kom uit Breyten Breytenbach se “die onvoltooide vers” uit sy bundel Die beginsel van stof (Human & Rousseau, 2011), bls. 22-23.

Die aanhaling van Liese van der Watt kom uit haar artikel “Exploring the art of Walter Meyer: Now is the landscape of our discontent,” Vuka, vol. 2, nr. 4 (1997), bls. 25-31.

Die aanhaling van J.M. Coetzee kom uit Elizabeth Costello (Secker & Warburg, 2003), bl. 9.

Erkenning ook aan Ivan Vladislavić, by wie ek die meeste gesteel het om die storie te vertel. Sien: Ivan Vladislavić, “Mountain Landscape,” Art South Africa, vol. 6, nr. 2 (2007), bls. 47-48.

Verdere erkenning aan Marlene van Niekerk, “The Fellow Traveller (A True Story),” intreerede aan die Universiteit van Utrecht, 15 Januarie 2008, asook Die sneeuslaper (Human & Rousseau, 2010), spesifiek die hoofstuk oor “Die vriend”.

Baie dankie aan Sandra Klopper vir leesstof van kardinale belang en Irma du Plessis vir voorstelle en kommentaar.

[2] James Phillips and the Lurchers, “Fun’s not over,” van die album Sunny Skies (Shifty Music, 1993).

[3] In Pierneef se werk, skryf Van der Watt, “[t]he land is empty of human activity, but unlike him, Meyer’s landscapes are also devoid of wealth and prosperity. Indeed, Meyer’s sparse landscapes are populated by ruins of farmhouses and vestiges of smalltown dreams, a land filled with abandonment, with failure and decay.” Sien: Liese van der Watt, “Making whiteness strange,” Third Text, nr. 15 (2001), bl. 63.

In Vuka skryf sy: “Meyer’s art describes human displacement. His works retreat from narrative – they carry no promise for a brighter future nor are they nostalgic for a better past. Suspended in the ‘now’, his works proclaim not ownership and authority, but transience and temporary residence… His work is a response to traditional landscape painting because it champions realism. For this reason, his art seems unfashionable, conservative even, in relation to contemporary artistic production here and in the rest of the world where realism, and indeed painting itself, have gone out of vogue. This penchant for realistic portrayal as well as the fact that Meyer prefers to work in the very traditional medium of oil painting, is quite surprising for an artist who received his training in the 1980’s when neoexpressionism, conceptual- and installation art dominated most academic institutions such as the University of Pretoria and the Staatliche Kunstakademie in Düsseldorf where Meyer studied for four and three years respectively between 1982 and 1989 – and indeed produced abstracted works… But it is through the kind of realism which he utilises now that Meyer manages to break away from the medium of traditional landscape painting. In contrast to early landscape painters like Volschenk, Hugo Naudé, Pierneef and even more contemporary ones, Meyer’s is a realism that is completely devoid of glamour or beautification and instead focuses on the ordinariness and banality of the South African landscape and platteland.” Uit: Van der Watt (1997), bls. 25-31.

[4] J.M. Coetzee, White Writing: On the Culture of Letters in South Africa (Pentz Publishers, 1988). In Dirk Klopper se woorde: “J.M. Coetzee claims that for all their vaunted attachment to the country, white South Africans suffer from a deficiency of love. Their love, he says, is directed exclusively toward the land, and therefore ‘toward what is least likely to respond to love: mountains and deserts, birds and animals and flowers’.” Klopper kwalifiseer hierdie stelling deur na o.a. Hierdie lewe en Agaat te kyk. Sien: Dirk Klopper, “An Unsettled Habitation: Narratives of South African Landscape.” In: Michael Godby, The Lie of the Land: Representations of the South African Landscape (Iziko, 2010), bl. 39.

Sien ook W.J.T. Mitchell, Landscape and Power, 2de uitgawe (University of Chicago Press, 2002); Lieze van Robbroeck, “The Lie of the Land,” Art South Africa, vol. 9, nr. 2 (2010), bls. 66-67; Jennifer Beningfield, Land, Landscape and Politics in South Africa in the Twentieth Century (Routledge, 2006).

[5] Gert Vlok Nel, “Moenie my hier vergeet nie, Dixie,” van die album Beaufort-Wes se beautiful woorde, (Wildebeest Records, 1998).

[6] Hier ploeg ek krom vore met Ivan Vladislavić (2007) se kalwers. Die hele storie van Ms Williams, die kurator wat die Pierneef met ʼn Willie Bester-kunswerk wou vervang, is vervat in die brief aan haar deur ene H.K. Khoza, wat kom uit ʼn kortverhaal van Vladislavić in Art South Africa gepubliseer. Ek het besluit om Ms Williams se kant van die saak hier te stel, of wat haar saak moontlik sou kon wees.

[7] “Die mik van ʼn raasblaar, berei vir ʼn papegaai, sewe kepe in die sandsteen om die raaf te ontvang, ʼn strelitzia, met die vlagstok in die gleufwerk gereed vir die suikervoël. En daar was skoorstene en telefoonpale gespan in verwagting, en riete en gras in beroering van vertrek, ʼn opstel in afwesigheid, vol stootwind en glipstroom, en die speling van die verlewendigde lig.” Sien Van Niekerk (2010), bl. 185-186. As gevolg van ekologiese verval, beleef omgewingsgeskiedskrywing as veld die afgelope tyd ʼn oplewing. As voorbeeld sien William Beinart, The Rise of Conservation in South Africa: Settlers, Livestock, and the Environment 1770-1950 (Routledge, 2003) en meer direk op landskapskuns van toepassing sien Brett M. Bennett, “Reading the Land: Changing Landscapes and the Environmental History of South Africa.” In: Michael Godby, The Lie of the Land: Representations of the South African Landscape (Iziko, 2010).

[8] Hier is iets van die tragikomiese karakter Jimmy Harris se stem: “Video het ʼn lang pad gekom, my vriend. Dit het ver gekom sedert die sestigerjare. Dis serious stuff nou. Dis head-on. Dis angst-free. Dis ʼn cool take on contemporary life. Dit het nie die estetiese baggage van painting nie. Dit het sonder estetiese verwagtings gekom omdat dit aan die begin geassosieer is met televisie en newsreels. Dis freedom to explore, man – dis vryer as enige ander kunsvorm. Painting kom met te veel estetiese baggage. Jy kan jou gat nie daarin roer nie, of jy bots teen een of ander constraint.” Uit: Ingrid Winterbach, Die benederyk (Human & Rousseau, 2010), bl. 64.

[9] Vladislavić (2007).

[10] Ibid.

[11] Vir ʼn bespreking van “Avant Car Guard at J.H. Pierneef’s grave, 1954”, maar ook die rol van Pierneef as objek vir kontemporêre landskapskunstenaars, sien Godby (2010), bls. 126-127.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Brokke in die collage van afstand en aanwesigheid [1]”

  1. Marlise :

    Andries, dis ‘n heerlike en interessante vertelling hierdie! Jammer ek kon die opening nie bywoon nie, maar ek het wel gaan kyk na die uitstalling. Was die eerste keer dat ek sy werk gesien het. Dit was eenvoudig indrukwekkend. Walters het meeste van hierdie skilderye (heel grotes ook) met ‘n baie klein kwassie geskilder – so blyk dit vir my toe ek sy kwashale van nader bekyk het, minder as ‘n sentimeter wyd. Dit was asof die impak van die skilderye groter vir my was as ek op ‘n ver afstand daarna kyk – die kleure steeds so helder, elke element daarin duidelik. Het gehou van Straattoneel!

  2. Dankie Marlise. Dis daardie “chaotiese” detail wat my so vang.