Visums by verstek

Visums by verstek – Joan Hambidge (2011. Human & Rousseau, R150.00)

 

Resensent: Heilna du Plooy (Potchefstroom, 18 Maart 2011)

 

 

 

 

Visums by verstek

Visums by verstek

Reis is ‘n terugkerende motief in die literatuur. Trouens, dit word as een van die argetipiese temas van literatuur beskou. In die beskrywing of verslag van ‘n reis, selfs in ‘n blote verwysing na aspekte van ‘n reis of die beskrywing van ‘n moment of fase in ‘n reis, is daar egter altyd ook sprake van ‘n narratief.

Sulke stellings aan die begin van ‘n resensie oor ‘n digbundel vra om verduideliking. In ‘n boek met die titel The Rituals of Life skryf Langdon Elsbree (1982) dat vertel een van die rituele is waardeur mense sin maak van die werklikheid. ‘n Ritueel is in hierdie sin ‘n handeling deur middel waarvan mense in ‘n bepaalde gemeenskap of kultuur (of ook in ‘n kommunikatiewe situasie) aan die gebeure of situasies in hulle lewe betekenis toedig of probeer toedig, vir hulleself en vir ander. Mense vertel dus om te verstaan of te verklaar, hoewel daar in die postmoderne era hoogstens gepraat kan word van die strewe of uitreik na verstaanbaarheid en verklaring.  Of daar ‘n geldige gevolgtrekking of slotsom bereik word deur die verhalende handeling, is nie ter sake nie (waarskynlik word daar in hierdie stadium van die geskiedenis geglo dit is ook nie moontlik nie). Dit gaan om die vertel self, om die daad die beskrywing, ordening en verwoording van gebeure op ‘n bepaalde manier. In hierdie daad, die vertelhandeling as sodanig, sit die waarde opgesluit, in welke formaat dit ook al aangebied word, in beeld, in poëtiese vorm, in ‘n gewone prosavertelling, in ‘n mondelinge vertelling, ‘n dans of ‘n stuk musiek.

Trouens, daar word tans aanvaar dat vertel so ‘n basiese menslike handeling is, dat alle menslike tekste op een of ander manier ‘n narratiewe aspek sal vertoon. In die inleiding tot die boek The Narratological Analysis of Lyric Poetry  (Peter Hühn en Jörg Schönert, 2005:1) word gestel dat daar verhalende aspekte in liriese gedigte voorkom gewoon op grond daarvan dat vertelling ‘n antropologies universele semiotiese praktyk is. Onafhanklik van kultuur of historiese plasing, word vertelling gebruik om ervaring te struktureer ten einde sin daarvan te maak en om die sodanig gegenereerde betekenis te kommunikeer. Die kerneienskap van ‘n verhaal is dat dit in ‘n verhaal altyd gaan om verandering, sonder verandering is daar nie ‘n verhaal moontlik nie. ‘n Verhaal is dus altyd dinamies en ontwikkelend.

Reis word egter ook beskou as een van die argetipiese temas wat in klassieke werke van die wêreldliteratuur altyd weer terugkom. Elsbree beskryf 5 sulke temas: die vind en wyding van ‘n tuiste; konflik – gevegte, botsing en kompetisie;  reis; lyding; die soeke na vervulling. Hoewel die argument oortuigend is, is die getal argetipiese temas wat hy gee aanvegbaar. Elsbree toon nogtans aan dat hierdie 5 temas herhaaldelik in die groot klassieke werke van die wêreldliteratuur voorkom en dat literatuur oor hierdie temas lesers altyd opnuut boei omdat dit gaan om belewenisse wat universeel as belangrik en insiggewend beleef word.

Nou wil ek nie Hambidge se bundel reisgedigte narratologies ontleed nie en ek wil ook nie die verse tot hulle narratiewe aspekte reduseer nie, maar dit is wel van groot belang om te begryp hoe sterk die reis as ‘n motief of tema is. Ook dat reis altyd met beweging en verandering te make het en as sodanig gaan oor die ervaring van en besinning oor toestande van beweging en verandering.  Reis sluit stagnasie en stilstand uit, reis is dinamies. Om reise te beskryf, impliseer die representasie van verandering, van beweging. Die reisiger bevind sigself in ‘n onvaste staat, ‘n liminale situasie (soos in die inleiding ook vermeld word), in omstandighede van oorgange tussen plekke, met die noodwendige gepaardgaande veranderinge en wisselinge van gemoedstemminge van die reisiger vanweë verskillende en uiteenlopende reaksies op die ruimtes.

‘n Reis impliseer ook noodwendig die opeenvolging van gebeure en van reismomente. Al word daar in ‘n gedig net een moment uit die reis beskryf, is die voorafgaande reis tot op dié bepaalde plek en die daaropvolgende vertrek geïmpliseerd teenwoordig in die beskrywing of besinning.

Dit is ook in die lig van hierdie argumente noodwendig so dat iemand wat graag en dikwels reis en wat ook deurlopend oor die reis as sodanig en die inhoud en ervaringe van die reis bespiegel en daaroor skryf,  ‘n bepaalde soort persoonlikheid is. In die kombinasie van hierdie dinge, die reis, die onderliggende vertelling, die verwoording van belewenisse van reis en besinning en die soekende beweeglike digterlike psige, lê die aantreklikheid van hierdie versameling gedigte.

In Visums by verstek versamel Hambidge reisgedigte uit haar oeuvre, maar sluit ook ‘n aantal verse in wat nuut is of nog nie in bundels verskyn het nie. Sy gee ook in die inleiding van die bundel belangrike sleutels tot die lees en verstaan en waardering van die spesifieke versameling.

Die gedigte weerspieël inderdaad die omvang van Hambidge se reise. Sy skryf na aanleiding van haar belewenis en persoonlike aanwesigheid in plekke en stede in die VSA (New York, San Francisco, Las Vegas, Dallas), Suid-Amerika (Santiago, Rio de Janeiro, Machu Picchu), Europa (Amsterdam, Parys, Rome, Stockholm, Barcelona), die Ooste (Hongkong, Bangkok, Tokio) en eilande soos Zanzibar en Kuba, om slegs die belangrikstes te noem.  Maar die gedigte handel oor sowel die plek en aspekte van die plek as oor die belewenis daarvan, Meer nog, die digter interpreteer die plek en haar belewenis van die plek. Soms word die gedig oor ‘n plek as sodanig metafoor vir iets anders en soms word die plek die aanleiding tot ‘n reeks assosiasies waardeur sy die plek vir haarself merk, of waarmee sy belewenis van die plek in haar geheue merk.

New York is die stad wat in die eerste gedig beskryf word. Die stad word opgeroep deur verwysings na sy/haar vele gesigte, Chinatown, Greenwich Village, die Statue of Liberty, Central Park en die Empire State-gebou. Ook deur verwysings na die geskiedenis van die stad, Charles Lindbergh se historiese transatlantiese vlug en die depressie waarvoor Wall Street simbool geword het. Maar die gedig begin met ‘n verwysing na die dwingende aanwesigheid van die afwesigheid van die “imposante, tuimelende Twee Torings”. Die val van die toringgeboue het die sentrale gebeurtenis in die geskiedenis van die stad geword en sal dit waarskynlik lank bly, soos gesuggereer word deur die vooropgestelde posisie van die verwysings na die torings in die gedig. Die aanval op die torings word simbool van ‘n stad wat as ‘t ware sy veelbewoë geskiedenis oorleef en transendeer. Hierdie verandering bevestig die voortbestaan van ander behoue aspekte en plekke in die stad. En van dié stad wil die digter ereburger wees.

Die gedig beskryf dus nie net die stad nie, maar gaan eerder oor die digter se siening van die stad, ‘n siening wat ingegee word deur haar konkrete belewenis van die stad. Saam met die digter reis die leser deur die stad, sien die opeenvolgend beskrewe plekke en merkers tot by die digter se belydenis van haar bewondering en liefde van die stad. Uiteindelik weet die leser ook, die begin en die einde van die verhaal van New York is gemerk deur die geweld van die vallende torings. Dit is dus belangrik dat die stad nie in ‘n statiese toestand beskryf word nie, maar juis as ‘n veranderende, groeiende en ontwikkelende simbool en die reisiger reis ook deur die stad en beskryf nie net een blik op die stad nie. So word die dinamiese en veranderende aard van die digter se belewenis direk met die eerste gedig aan die orde gestel.

Die New York-gesig sluit aan by vier ander gedigte (p. 88-92) wat spesifiek die tragiek van gebeure by Ground Zero as tema het. In al hierdie gedigte word dit ook duidelik dat vir die digter die reisbelewenis en die skryfhandeling onlosmaak verbonde en vervleg is, eintlik ineengegroei is en saam ontwikkel.  In die aanvangsgedig plaas die digter die deur op dubbelslot en gee haar oor aan herinnering, maar in die gedig “Memorial Day: New York 25.5.2000″ kan die wete van die skrikwekkende gebeurtenis nog nie ‘n gedig word nie: ” …in die Hotel Prosody grendel die digter/ haar onbewuste teen ‘n gedig/ wat broei uit bloedsweet” (p.88).

Die ineengestrengelde weergawe van feit en belewenis kan in bykans elke gedig gevind word. In die gedig “Via dolorosa” (p. 52) stap die digter-reisiger die stasies van die Jesus van Nazareth se lydensweg af saam met ‘n groep ander toeriste in Jerusalem. Die gedig word ‘n uitbeelding van die voorkoms en ingesteldheid van kontemporêre toeriste: een met ‘n T-hemp waarop  “I got stoned in Jerusalem” staan, ander wat dink oor iets om te drink, iemand wat prakties toegerus is vir ‘n dag se uitstappie, ander met selfone en sigarette.  Die gedig vertel egter hoe die digter self, “vér van huis en haard” wens sy kon die plek meer ongestoord beleef, die”steurnisse/ uitwis soos ‘n raam/ op my digitaal”. Die gedig beskryf dus ‘n plek en omstandighede, maar eindig in belewenis.

Op ‘n soortgelyke wyse is daar ‘n gedig wat gaan oor eet in Madrid (p.37), wat eindig met “Weet net ek verteer/ nog broksgewys aan jou”. Die gegewens oor die stad, inderdaad elemente kenmerkend van die stad se eetkultuur en ook kenmerkende geboue, groei ineen met herinneringe en emosies. Die reisiger is nie net op weg in die stad nie, maar ook op weg in terme van verbintenisse:  die herinnering suggereer ‘n verbygegane verhouding sodat die reis afgesien van ‘n soeke na nuwe horisonne en ervaringe is, ook ‘n beweging wég van die verlede en pynlike aspekte van die verlede is. Want reis impliseer onvermydelik altyd afskeid. Elke nuwe reis voorveronderstel ‘n voorafgaande afskeid en die reis kan ook gesien word as ‘n reeks afskeide.

 

Die lug, sand, oseaan:

‘n tafereel oor aankoms

en hierby ingesluit: vertrek. (“Zanzibar. Spore op die sand”, p. 43)

 

Die reis word metafoor van verskillende sake in verskillende gedigte. Eintlik is elke reis en (tydelike) bestemming ‘n uitgebreide metafoor vir iets anders. Hoewel daar soveel detail in die gedigte gegee word, is dit dikwels die geval dat die reis en plek en belewenis daarvan ‘n middel tot ‘n doel word (vgl. “Halifax”, p. 39, “Afskeid”, p. 70, “Jouissance”, p. 74). Aan die ander kant word die metaforiese moontlikhede van beelde uit reise ontgin in ander verbande: “Nou maak ek ‘n linksomkeer in hierdie gedig./ ‘n Vliegtuig bars deur my World Trade-sekerhede,/ die brokstukke van dertienreëls tuimelende Lego-blokkies” (“Dromende denke”, p. 56).

Hambidge skryf ‘n oop toeganklike soort vers. Of dit altyd werklik so oop en toeganklik is, is egter wel ‘n vraag, want daar is soveel assosiasies en verwysings in die gedigte opgeneem, daar is soveel kennis van kultuur en geskiedenis in elke gedig geïntegreer dat daar waarskynlik veel dieper op die, selfs onbewuste, inhoude van die gedigte ingegaan kan word. Soms voel ‘n mens dat ‘n gedig strakker kon wees, of digter geweef, dat die opnoem van detail byna te maklik kom en die oorgange miskien soms ietwat voorspelbaar is as mens die oeuvre goed ken. Nogtans is die volgehoue vloei van die gedigte aantreklik en word die ritmiese gang van taal oor die grense van sin en versreël heen trefseker hanteer, van die vroeë verse af tot by die heel resentes.

Daarby kom die interessante werking van die verhouding tussen los elemente en ‘n saambindende onderliggende verhaal. Die opnoemtegniek laat die gedig skynbaar verbrokkel (tipies postmodernisties) maar die onderliggende reismotief, in enkel gedigte en die bundel (oeuvre?) as geheel, werk soos ‘n verhaal en bewerkstellig weer koherensie.

Die reisgedigte is dan ook inderdaad op ‘n bepaalde manier tiperend en beskrywend van Hambidge se oeuvre: die voortbeweeg van plek tot plek, van verbintenis tot verbintenis. Die onderliggende gedagte is altyd, die reis gaan voort, plekke en mense kom en gaan. Die verandering en voortgang vorm ‘n  verhaal van vervlietende reiservarings en van die skryf- en leeservaring van beperkte duur van die gedig, maar dit is ook die verhaal van ‘n lewe. Daar is momentele oomblikke van stilstand en nadenke, maar die beweging  gaan onvermydelik weer voort. Verandering, selfs rusteloosheid, dryf die beweging en die reis. Want uiteindelik is die reis ‘n reis in die self in, en daardie reis is sonder einde. In die gedig “El Condor Pasa” (p.75) word verwys na die kosmiese plan wat  argetipies in die rotse afgedruk is in die heilige Inka-stad, Machu Picchu, terwyl die digter “reis in die self: ‘n smagting/ na antwoorde, stilte en kosmiese eenheid”.  Hierdie stilte word nie bereik nie en dan word daar weer verder gereis.

In die slotgedig in die bundel word nog ‘n sleutel, of dalk dié sleutel, tot die reis as motief gegee, vir daardie reis wat fisies en konkreet dwingend noodsaaklik is om die grense van die gees uit te stoot, maar wat psigies en metafories dui op die ongrypbaarheid van die dinamiek van die gees. Ook van die onsegbare. In hierdie gedig word die veranderende reisiger beskryf as iemand wat nou “‘n Ander Reis” onderneem, ‘n reis wat selfs die geliefde woord van die digkuns oorstyg:

 

In die winter het die waterval opgedroog,

dog die berge staan in hulle groenheid groener,

die lug in blouheid blouer, selfs hoër, helderder.

So laat ons nog ‘n mislukte sonnet skryf,

nog ‘n plek herbesoek en die hereweet,

dankbaar wees vir dit wat buite benoeming lê.

 

Die mens is ‘n reisiger, deur die wêreld, deur sy eie lewe en ook in sy eie psige. ‘n Digter soos Hambidge ondersoek en bedink en deurdink egter al hierdie soorte reise eksplisiet. Haar poging om wat sy sien en beleef op reise te verstaan en te deurgrond, is vervleg met die pogings om die elemente en aspekte van haar bestaan te deurgrond. Hierdie verstaansprosesse en deurgrondingspogings vorm afsonderlik en saam verhale (een groot verhaal met baie verhaallyne?) want die vertel van verhale is die verstaansritueel van die mens.

@ Heilna du Plooy

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.