Philip de Vos. Oor 60 jaar van nou af

 

Daar’s miskien

nie veel te siene

in ‘n stukkende ruïne

maar Sannie

wil steeds flou val

by aanskoue

van ‘n bouval

en sy wéét

dat sy benoud is

omdat als

so hellyt oud is.

Ag sies tog!

arme Sannie

sit met hierdie wete:

oor sestig jaar van nou af

is Sannie Smit vergete …

 

‘n Rukkie gelede kom ek twee boeke van byna 500 bladsye elk in ‘n plaaslike tweedehandse boekwinkeltjie teë: Daar Ver oor die See asook ‘n tweede een: Andermaal Ver oor die See en albei deur ‘n  skryfster met die beskeie naam van Tannie.

En voor in staan die datums 1933 en 1939 en skielik besef ek dat die een boek so oud soos ek is, en tog het die bladsye nog nie vergeel nie, anders as sommige plaaslike uitgawes van so 25 jaar gelede wat alreeds lyk soos iemand met Geelsug.

En dan is daar die skuilnaam Tannie. Wie onthou haar nog? Maar hier met twee van haar boeke op my boekrak sê Tannie as’t ware: “Ek was wel eenkeer hier, en toe het ek my ding gedoen!”

Maar waarom moet skrywers agter ander name probeer wegkruip en waarom moet ons name hê soos Anne of Green Gables se L.M. Montgomery of Harry Potter se J.K. Rowling. Waarom nie liewers Laurentia Montgomery of Juanita Rowling nie. Dit klink mos veel vriendeliker en klink mos veel eerder na iemand wat jy ‘n drukkie kan gee om nie eens van ons eie E.K.M. Dido te praat nie. Weet enige iemand op aarde wat hierdie goeie vrou se naam eintlik is? Is dit dalk Eeufesia of Eulalia of Essie of Ermé met ‘n aksent op die laaste e. Ek kan my regtig nie voorstel hoe haar man vir haar sê nie: “Kom hier E.K.M! Kom gee my ‘n drukkie!” Kom hier Estrelita! klink tog veel vriendeliker alhoewel ek moet erken dat E.K.M. tog inderdaad ‘n vriendelike vrou is.

Dit het ek alreeds jare gelede agtergekom toe ek besig was om foto’s vir my fotoboek Milieu te neem. Ek het vir E.K.M. oorkant die Kaapse Parade ontmoet, want  sy het seker gewonder wie hierdie vreemde man was wat foto’s van haar wou neem, toe  daag sy by die fotonemery op met ‘n hele lyfwag van ooms en tantes en nefies en niggies  en kleinkinders om haar te beskerm net ingeval ek dalk ‘n  psigopaat of verkragter was. Ewenwel, E.K.M. was die vriendelikheid vanself tenspyte van al daardie voorletters in haar naam.

Maar nou dwaal ek al klaar af, want hierdie skrywe is nié oor Tannie nie, nog minder is dit oor E.K.M. of L.M. of J.K. Dis eintlik oor my tante Mimmie van Kimberley wat in 1876 gebore is. Vanjaar sou sy 135 jaar oud gewees het, maar vir my persoonlik het sy nog nie gesterf nie.

En alles het begin toe ek Tannie se twee reisboeke aangeskaf het met foto’s van ‘n dapper dame wat nes my tante Mimmie van Kimberley in die laat twintigerjare vergesel van familie deur Europa gereis het.

Cricketstraat 13,  die huis in Bloemfontein waar ek grootgeword het was ‘n huis sonder veel boeke, behalwe die boekklubboeke soos Die Susters du Pont, of Reisigers na Nêrens of Orion wat so dan en wan by die huis afgelewer is met die Nasionale embleem Het dag het overal.En tot vandag toe weet ek steeds nie wat hierdie woorde beteken nie. Dan was daar die donkerblou  Masterpiece Library of Short Stories ‘n stel van 10 boeke met een prentjie per boek – veels te min om ‘n nuuskierige kind te bevredig.

Maar dan was daar Halkettweg 25, Kimberley: Die huis van Oupa en Ouma en die wonderlike tante Mimmie.

Een of tweekeer per jaar het ons met my pa se Model T-Ford met sy opwenslinger en kattebak Kimberley toe gery. En Oupa en Ouma se huis was so anders as Cricketstraat. As ek aan Halkettweg dink, ruik ek weer die katjiepiering en lemoenbloeisels in die tuin, maar is ek nog steeds bewus van die soet-suur reuk van urine, want Oupa het prostraatprobleme gehad. Oupa en Ouma se deel van die huis was ‘n plek van skemerte en met hortjies om die middagson uit te hou.

En dan was daar die voorhuis met ‘n groot eettafel met sy Sondagmiddag-geur van braaiboud en geelrys en Georgina, die kruppel wit huisbediende met die swart opgeboude skoen wat sê. “Don’t be shy. There is ample for everyone.”

Teen die een muur het die staanklok met die twee koper spoegbakke alkant daarvan die minute en die ure afgetik en so nou en dan sy wysie laat hoor.

Maar – dan was daar die wonderlikste deel van die huis: die drie kamers waar tante Mimmie gewoon het. Daar was ‘n klein intreeportaal langs die voordeur met prente teen die mure en ou fotoboeke met kiekies wat met swart  driehoekies vasgeplak is.

En dan was daar vir my as kind die nuwe hemel en die nuwe aarde waarvan ek in die Sondagskool gelees het: ‘n kamer vol sonlig met prente teen die mure en die wonderlikste van alles: ‘n muur met ‘n hele boekrak vol boeke.

Tante Mimmie het my die De Vos-familiewapen teen die muur gewys en vertel van Wouter de Vos wat reeds in 1717 van Groenlo in Holland hier in Suid-Afrika aangekom het. “‘n Mens is nie net ‘n naam nie. het sy vir my gesê  – die van is die heel belangrikste” en dan het sy my die ets gewys van die Nederlandse kunstenaar Cornelis de Vos.

En tussen die familiewapen en die ets het ‘n Hollandse bordjie gehang met die woorde: Zo als het klokje thuis tikt, tikt het nergens. En as die ou staanklok uit die sitkamer sy liedjie tot in tante Mimmie se kamer laat hoor, het sy  die woorde vir my gesing: “Snel vlieg die tyd, nooit kom hy weer.”

En teen ‘n ander muur was ‘n prent van Rio de Janeiro – en alles gemaak van blou-pers skoenlappervlerke. “Dit het ek gekoop toe ek in Suid-Amerika was,” en dan het sy gewys na ‘n foto van haar in Egipte met drie piramides vaag op die agtergrond. En toe het ek alreeds gedink: eendag wil ek nes tante Mimmie by die piramides op ‘n kameel se rug afgeneem word.

En deur tante Mimmie het ek stories ontdek: Langenhoven se Brolloks en Bittergal en die wonderlike Krismiskinders. Het ek dit later self gelees, of was dit dalk met my op tante Mimmie se skoot? Vandag, na al die jare, weet ek self nie meer nie, maar hoop tog dat dit tante Mimmie was wat op ‘n warm somermiddag die stories vir my in haar sonnige kamer voorgelees het.

Wie dan was tante Mimmie?

Ek was nog altyd deurmekaar as dit by familie-sake kom. Al wat ek kan onthou is dat almal altyd gepraat het van Kissemiem, wat ek toe later agtergekom het eintlik Cousin Miem was. Dus was sy op een of ander manier familie, maar hoe weet ek nie presies nie. En net soos die Engelse Cousin Miem, onthou ek ook hoe my pa altyd die Engelse woorde Mummy en Daddy gebruik het wanneer hy van sy ouers gepraat het.

Tante Mimmie, as ek nou daaroor nadink, het maar ‘n valerige voorkoms gehad. En toe ek so 7, 8 jaar oud was, was sy seker al digby die 70. En ek onthou nou nog die ligte haartjies op haar bo-lip. Maar vir my was sy die mooiste vrou op die hele aardbol. ‘n Vrou wat in Kimberley grootgeword het en gesterf het, maar wat vir ‘n rukkie lank die vaal strate van Kimberley verlaat het en per boot gereis het na lande van tulpe en piramides en ‘n Jesusbeeld wat met uitgestrekte arms na die see se kant toe uitkyk.

Maar waarom het ek juis haar uitgekies, tante Mimmie van wie ek eintlik so min weet?

In haar testament het sy my haar bruin stel Langenhoven-boeke nagelaat. En ek weet nog na al die jare presies waar om na Brolloks en Bittergal te gaan soek, want van al die boeke was  deel 5 die heel dikste.

Maar wie was sy en is daar iets wat sy in die boeke laat agterbly het sodat ek vandag nog na 53 jaar iets van haar kan weet?

Voor in een van die Langenhovenboeke was ‘n velletjie papier gedateer 13 November 1958.

 

In 1975 het ek my eerste boek geskryf. Na jare van skoolhou was daar ‘n skielike bevryding en ‘n nuwe bewuswording van my eie kreatiwiteit. Ek het my kinderjare onthou en Karel van Krieketstraat geskryf wat aanvanklik afgekeur is en toe uiteindelik eers as my sesde boek gepubliseer is. Tante Mimmie maak ‘n vlugtige verskyning op bladsye  37 en 38.

 

Tante Mimmie se gesig lyk vir Karel ‘n bietjie soos die droë peertjies aan Krieketstraat se peerboom. Hy slaan sy arms om haar nek. Haar oë blink en nou wéét Karel dat Kersfees naby is.

Na die aandete, toe dit koeler is, sit hy op die rusbank met die baie kussings. Tante Mimmie se vingers vee oor die boeke op die rak en sy vertel Karel van ander lande en van ander mense.

Teen die muur hang ‘n prent. Dis van tante Mimmie op ‘n kameel. Om haar is die sandwoestyn. Dit is ‘n ander tante Mimmie wat uit die prent na hom kyk.

“Dít is die sfinks, en dít is die piramide waar die Farao al duisende jare begrawe lê   . . .”  Sy vertel hom van elke prent en van elke beeldjie in haar kamer.

Agter glas blink blou skoenlappervlerke. “Dit het ek in Suid-Amerika gekry, en eendag as jy groot is, moet jy ook hierdie lande besoek.” Sy staan van die rusbank af op en Karel gaan staan langs haar voor ‘n portret aan die muur.

“Elke prent  vertel ‘n ander storie,” sê  sy, en dit is asof haar stem skielik anders is, en Karel weet sommer dit is tante Mimmie van die sandwoestyn en die skoenlappervlerke wat nou met horn praat.

“Hierdie seun …” en haar vingers voel langs die raam van die portret af, “is Titus, die seun van Rembrandt, ‘n beroemde skilder wat meer as driehonderd jaar gelede gelewe het. Rembrandt het hom geskilder toe hy ‘n kind was. Titus is dood op sewe-en-twintig jaar.” . Dis vir Karel asof die seun in die portret na hom kyk.

“Rembrandt was baie lief vir Titus, en ek is baie lief vir die portret. Weet jy, Karel, jy lyk mos vir my byna net soos Titus gelyk het.”

Karel kyk na die portret maar sê  niks. “Kom, Karel.” Haar hand raak aan sy hand. “Jy moet nou gaan slaap.”

 

Dit is woorde wat ek 35 jaar gelede van haar geskryf het. Ek onthou wel hoe trots sy op Afrikaans was en hoe sy my ma berispe het omdat sy gepraat het van ‘n Wynfees in die Boland in plaas van die Wingerdfees.

En ek onthou ook hoe trots sy was, toe Mimi Coertse se eerste langspeelplaat met Afrikaanse liedjies in die laat vyftigerjare vrygestel is. En toe sy saam met my luister na Arnold van Wyk se toonsetting van I.D. du Plessis se woorde, het sy gesê: “Luister hoe mooi is Afrikaans.”

In die stilte van my tuin

flikker son en skaduwee

beurt’lings op die muur.

Blare van verbloeide rose

het die wind hier dik gestrooi

voor die ope deur.

En die maanwit skoenlappers drywe

op die geurende lug lomerig verby.

Ook die hart wat jou bemin

voel die vreugde van die uur

as jou mond so lag

as jou mond so lag.

Wat is daar meer wat ek van my geliefde tante Mimmie weet? Hier en daar in Langenhoven se versamelde werke het sy soms iets met ‘n ligte potloodmerkie uitgestip, iets wat later weer uitgevee kon word. En hier was dit veral in deel 9 met Langenhoven se Ons weg deur die Wêreld wat ek ‘n regmerkie opgemerk het. Tussen al die aanhalings wat sy met ‘n strepie gemerk het, was hierdie allenige regmerkie by Besproke Spreuke nommer 33

Doen ‘n meisie onreg aan, en wanneer jy eendag self ‘n dogter het, sal die vrees dat daar meer skurke is as jy, vir jou ‘n kanker in die siel wees.

En toe ek hierdie woorde lees dink ek aan iets wat vir my êrens deur iemand vertel is: Tante Mimmie het nooit getrou nie, en na haar aftreejare as onderwyseres het sy allenig die wêreld deurreis.

Tog was daar ‘n oomblik in haar lewe toe sy voor die preekstoel gestaan en gewag het vir haar bruidegom om op te daag. En toe die nuus later kom dat hy alreeds getroud is, het sy teruggegaan na haar kamer in Halkettweg 25 met sy prente teen die mure en die Langenhoven boeke op die boekrak.

Toe tante Mimmie op 13 November 1958 oorlede is, het my tante Marie later die kamer opgeruim en die prente en beeldjies aan die museum in Kimberley geskenk.

Die enigste ding wat sy nie geweet het wat om mee te maak nie, was die koffer onder tante Mimmie se dubbelbed. Die koffer was gesluit en toe sy uiteindelik die deksel oopkry, was daar in wit papier toegevou, ‘n trourok van die dag toe tante Mimmie voor die preekstoel staan en wag het.

Oor 60 jaar is Sannie Smit van my versie miskien vergete, maar vir tante Mimmie sal ek vir altyd onthou.

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Philip de Vos. Oor 60 jaar van nou af”

  1. Ellen Botha :

    Philip, jy’t tant Mimmie vir ons ook lewendig gemaak, dis pragtig beskryf! Mens wens eintlik sy kon hierdie blog van jou vandag gelees het.
    Dankie.

  2. leonard :

    So so mooi! Jy mag maar verhale vertel.

  3. Philip
    My Ma Maxie het altyd van Cousin Mim gepraat.
    Die engelse voorvoegsel was uit respek gewees. Ons Sondag middag kuier in Kimberley (ek was nog op Laerskool)by Halkettweg kan ek nog goed onthou.

  4. Jacques J van Onselen :

    Heerlik Het ons nie maar almal Tannies in ons lewe nie?