Paul Verlaine - vertaling in Afrikaans
Paul Verlaine - vertaal deur Peter Louw
Oortuigings
Jy glo aan die mistiek van koffiemoer,
teeblare, die dobbelaar se kans;
ék glo dat jou oë dans.
Jy glo aan sprokies,
drome, sterre en die hel;
ek glo die leuens wat jy vertel.
Jy glo aan ‘n vae en vriendelike God,
‘n spesiale heilige wat waghou oor jou lewe;
geen sonde te groot, of Hy kan dit vergewe.
Ek glo aan gekleurde nagtelike ure
blou en pienk, wanneer jou geparfumeerde lyf
die sorge van die dorre dag verdryf.
Soos alles wat jy glo, is my geloof
só diep, só ryk, só trou
want dit is gerig op jou.
(Convictions. Paul Verlaine)
Sentimentele gesprek
In die ou, verlate park, oorkant die fontein,
het twee figure in die sneeu verskyn.
Hul oë was doods en hul klere gedaan,
en hul woorde kon mens skaars verstaan.
In die ou, verlate park, oorkant die bevrore straat,
het twee spoke oor die tyd gepraat.
“Onthou jy ons ekstase, wild en blink?”
“Hoekom sal ek daaraan dink?”
“My skat, weet jy hoeveel het jy my gegee?
Droom jy nog oor my siel?” “Nee.”
“A! Die goeie dae van onuitspreeklike geluk
toe ons mekaar gevind het!” “Werklik?”
“Hoe sterk was die hoop, hoe blou die lug!”
“Hoop het na ‘n donker wolk gevlug.”
En so het ek hulle in die aand verloor
en net die donker kon hul woorde hoor.
(Colloque sentimental. Paul Verlaine)
‘n Groot swart slaap …
‘n Groot swart slaap
val oor my lewe -
Slaap, alle hoop!
Slaap, alle strewe!
Ek kan nie sien nie,
my geheue faal,
vergeet van goed en kwaad …
o triestige verhaal!
Ek is ‘n wieg,
word gesus deur ‘n hand
diep in ‘n graf:
geen klank, geen klank!
(Un grand sommeil noir …Paul Verlaine)
(Geskryf nadat hy tot gevangenisstraf veroordeel is omdat hy sy minnaar, Rimbaud, geskiet en gewond het. - PL)




