Eben Venter. Laurie Anderson – einde van die Amerikaanse Wêreldryk

Die distopiese storie is die storie van ons tyd. Dis nie ‘n nagkappie wat almal voor slapenstyd wil vat nie. Aan my maak dit niks nie. Ek bedoel: dit stem my nie morbied nie.

Laurie Anderson, daardie immer vernuwende digter-sanger, gaan ‘n stap verder. In notas by haar nuutste album, Homeland, skryf sy dat baie van die groot Amerikaanse stories, die mees vertelde stories, deesdae apokalipties is. Dis almal stories oor hoe die aarde warmer word, meer en meer mense moet voed en al hoe gevaarliker word. Dis stories oor woeste oorstromings en vinnig verdwynende aardbronne en entropie en die wêreld wat stadig besig is om af te loop.

Sy gee altyd haar kenmerkende Laurie Anderson-stempel aan haar musiek, veral nommer sewe op die album: Another day in America. En die stempel is nie morbied nie. Hoe kry sy dit reg?

In 1978 het sy ‘n filter uitgevind om haar stem diep en swaar en so ‘n bietjie skrikkerig te maak. Amper asof dit uit die maag kom van ‘n onaardse skepsel. Haar eggenote en musikant in eie reg, Lou Reed, het hierdie skepsel Fenway Bergamot gedoop.

Fenway praat die versreëls óór die musiek en dit jaag jou senuwees op. Dit is, in Anderson se eie woorde, wild en lewendig en aan die verandere. ‘n Ware storie is dit egter nie, dis nie die punt van die hele ding nie. (Alhoewel jy die heeltyd voel wat hier kwytgeraak word, is profeties. Dis  waarheidspraak oor die val van die Laaste Groot Imperium en indien dit nie reeds geld nie, gaan dit binnekort eenhonderd persent geldig wees.)

Wat Another day in America verseker is, is ‘n goeie storie. Onheilspellend. Oortuigend. En baie mooi.

 

Hier volg enkele aanhalings daaruit. (Indien enige persoon aanvoer dis net ‘n storie of stuk prosa wat in opgekapte reëls uitgeskryf en as poësie opgedollie is, en enige persoon mág dit dink, vat jou kar en ry ver op ‘n ver en eensame pad sonder ander karre en sonder mense en sonder skape in die veld en luister asseblief na Fenway Bergamot wat baspraat bo-oor perkussie, baskitaar, die viola en elektroniese klavier en ander agtergrond stemme naamlik Antony van Antony and the Johnsons-faam).

And so finally, here we are at the beginning of a whole new era.

The start of a brand new world. And now what? How do we start?

How do we begin again?

 

What are days for?

To put between the endless nights.

 

And by the way here’s my theory of punctuation. Instead of a period

at the end of each sentence

there should be a tiny clock that shows how long it took you to write

that sentence.

 

Ah America! And yes that will be America. A whole new place just waiting to happen.

Broken up parking lots, rotten dumps, speedballs, accidents and hesitations, things left

behind, Styrofoam, computer chips.

..

 

Some say our empire is passing. All empires do.

And others haven’t a clue what time it is or where it goes or even where the clock is.

 

And oh my brothers and oh my sisters. What are the days for? Days are where we live.

The flow and then the flow. They come, they fade, they go and they go.

No way to know exactly when they start or when their time is up.

 

Naskrif: Die onheilspellende waarheid is dat Laurie Anderson wat so ver ek weet en kan vasstel nog nooit in Suid-Afrika was nie, wel, dat sy net sowel hierdie gedig aan die post-‘ 94 reënboogland sou kon opdra. Maar dis nie die punt nie. Dis net ‘n storie.

 

Bookmark and Share

25 Kommentare op “Eben Venter. Laurie Anderson – einde van die Amerikaanse Wêreldryk”

  1. Johann de Lange :

    Eben, die teks wat jy aanhaal sinspeel natuurlik op ‘n vers van Larkin:

    Days
    Philip Larkin

    What are days for?
    Days are where we live.
    They come, they wake us
    Time and time over.
    They are to be happy in:
    Where can we live but days?

    Ah, solving that question
    Brings the priest and the doctor
    In their long coats
    Running over the fields.

  2. Desmond Painter :

    Eben, dankie, ek gaan hierdie album beslis aanskaf. Ek’s ‘n fan van Anderson sedert ek in my eerstejaar op universiteit haar haunting Big Science gehoor het. Maar ek het lanklaas na haar geluister.

  3. Andries Bezuidenhout :

    Eben, sy het darem al saam met Suid-Afrikaanse musikante gewerk – Ray Phiri en Bakithi Khumalo – op “Strange Angels”.

  4. Eben :

    Okei dankie, Andries. Sy’t ‘n krag om goeie musikante vir haar musiek te trek. Op meegaande CD sê Lou Reed, nee maar mense sien nie haar loutere genie raak nie. Het hulle maar, dan was daar al lankal ‘n monument vir haar opgerig. Toe dag ek: SakSarel, Lou.

  5. Andries Bezuidenhout :

    Eben, Laurie en Lou se monumente sal seker in parke naby mekaar moet staan. Hier’s ‘n stuk van lank gelede oor Laurie Anderson en Walter Banjamin:
    http://versindaba.co.za/2009/05/12/walter-benjamin-se-graf-en-kreatiewe-frustrasies-waarin-ek-dalk-meer-weggee-as-wat-goed-is-vir-my/

  6. Breyten Breytenbach :

    Beste Andries, ek het nou net gaan kyk op die bostaande skakel na jou mooi en melancholiese stuk van 2009. “Die anderkant van die geskiedenis…” Is ons nie eintlik maar almal daar nie? En daardie beeld van Benjamin van geskiedenis wat die verkeerde kant toe waai. Carolyn Forché het ‘n helebundel gedigte geskryf met dit as tema.
    Port Bou (‘bou’ is ‘bees’ in Katalaans) is ‘n vreemde grensdorpie aan die see. Die tweelingdorp aan die anderkant van die grens is Cerbère, wat natuurlik die honde wat die hel bewaak oproep. Dit was seerowerwêreld destyds. Kaal geveeg deur die tramuntane, “oor-die-berg-wind” – ‘n voortsetting van die mistral verder noord wat struike verknot gesig-naby-die-grond oorgebuig laat groei.
    Ben Yamin (die seun van Jamin) was glo reeds oor die grens toe hy besluit het om terug te draai. Die verhaal is dat hy hom toe met ‘n rewolwer in ‘n hotelkamer in Perpignan deur die kop geskiet het. (Perpignan is die naaste stad aan Franse kant; Dali het beweer die stasie daar is die middelpunt van die wêreld.)
    Ek weet nie waar Benjamin se graf is nie. In Port Bou met uitsig oor die see – nie in die begraafplaas nie – is ‘n gedenksteen waar mense blomme kom lê.
    In die begraafplaas is die graf van ‘n sterk Republikeinse Spaanse digter (Hernandez? ek het die naam nou vergeet) wat daar in ballingskap oorlede is kort na die burgeroorlog of dalk nog daartydens. Tot vandag nog kom sit mense boodskappe en gedigte op die graf. ‘n Geraamde foto van hom is geset in die grafsteen. Sy ma het hom blykbaar in ballingskap vergesél, is enkele dae ná hom oorlede op die ouderdom van 100 en is in die naasliggende graf weggebêre.

  7. Breyten Breytenbach :

    Korreksie! (Jammer, mense.) My geheue speel my duidelik parte. Benjamin was inderdaad in Port Bou se begraafplaas begrawe – in een van die tipiese bogrondse ‘laaie’ wat beteken dat daar niks oorgebly het nie. Die gedenksteen is aan die een uiteinde van die begraafplaas. Hy is dood aangetref in die Hotel de Francia in Port Bou en die oorsaak van dood was ‘n oordosis morfien. (Alhoewel daar botsende weergawes is van wat die dood veroorsaak het, en presies op watter dag.) Waar ek die storie van die rewolwer gekry het weet ek nou regtig nie.
    Die Republikeinse digter waarna ek verwys het is Antonio Machado. Sy graf is in Collioure – ‘n naburige dorpie in Frankryk (gewilde vakansieoord vir Matisse en Dufy o.a.) – en hy deel dit – die graf -met sy ma, Ana Ruiz, wat drie dae na hom oorlede is.

  8. Andries Bezuidenhout :

    Dankie hiervoor, Breyten. Op hierdie tema sou ek graag wou noem dat “op pad na die grens” juis een van my gunstelinge is in die nuwe bundel.

  9. Breyten Breytenbach :

    Andries: Republikeinse vlugtelinge – man, vrou en kind met bondeltjies besittings te voet uit Barcelona – het glo dae en nagte lank deur die klowe van Noord-Katalonië na die grens gestroom. Lyke, ou skoene, weggegooide klere, lê seker vermolm onder die kreupelhout. Aan die Franse kant het die owerhede – ‘n ‘linkse’ Populêre Front regering! – hulle in kampe opgesluit. Ek het nog ‘n ou Brasiliaanse kommunis geken, Apolonio de Carvalho, wat deelgeneem het aan die ontsetting van vlugtelinge in een van die kampe. Baie van hulle het lede van die Résistance geword om teen die Duitse besetting van Frankryk te veg. Dié wat die oorlog oorleef het kon uiteraard nie terugkeer na Franco se Spanje nie. Sommige is na Rusland, die “tuiste van sosialisme” (het hulle geglo) waar hulle deur die Goelag opgeslurp is en byna almal verdwyn het.
    Ek lees nou weer George Orwell se “Homage to Catalonia.” Die relaas sny seer en diep. Maar wys ook dat ons (die mensdom) by geleentheid tot die broederskap van verset in staat was.
    Wat hét ons gemaak met ons revolusies?

  10. Desmond Painter :

    En wat het ons gemaak met die idee van ‘die toekoms’? Ek lees pas in ‘n onlangse boek van Frederic Jameson: ‘Utopia, I argue, is not a representation but an operation calculated to disclose the limits of our own imagination of the future, the lines beyond which we do not seem able to go in imagining changes in our own society and world (except in the direction of dystopia and catastrophe). Is this then a failure of imagination, or is it rather simply a fundamental skepticism about the possibilies of change as such, no matter how attractive our visions of what it would be desirable to change into? Do we not here touch on what has come to be called cynical reason, rather than the impoverishment of our own sense of the future, or the waning of the Utopian impulse itself?’

  11. Andries Bezuidenhout :

    Breyten en Desmond, ek dink elke nou en dan aan Rick Turner se “The Eye of the Needle” (en dan ook C-P Naude se mooi gedig oor hom, oor die dag toe hy vermoor is). Dis seker amper nostalgies om deesdae nog aan iemand soos Turner te dink. Sy utopiese denke, soos ek dit verstaan, gaan nie oor ‘n bloudruk nie, maar deelname. Dat wat jy bou reeds in praktyk in hoe jy dit bou is. My stuiwer vir die oggend.

  12. Wysneus :

    Desmond, julle Utopianers moet dalk ‘n nuwe landsnaam kry (ek’s seker jy weet dit beteken ‘geen land’). En in More se oorspronklike Utopia was ateïste die enigste onwelkomes. Dit is en het ‘n slegte naam.

    Ek stel voor Nutopia of Eutopia.

    Ai, dere’s de rub! Om selfs ‘n ideale naam te kry sukkel. My name klink soos broodsmeer en Ethiopië.

  13. Breyten Breytenbach :

    Die Middewêreld?

  14. Wysneus :

    Ek sou self in die Goue Middewêreld bly, maar net as die Elwe nie die skepe vat nie.

  15. Desmond :

    Wysneus, juis aan jou gedink toe ek Jameson se verwysing na ‘cynical reason’ lees.

  16. Andries Bezuidenhout :

    Ek het darem ‘n naam vir “distopia”. Dis Pretoria. Maar net soos ek vanoggend voel.

  17. Breyten Breytenbach :

    Andries: toe ek die eerste keer van Poestoria gehoor het, het ek gedog daar word verwys na Pastorie met so ‘n effens aangesitte aksent. En agterna besef dis seker hoekom ek gedink het ek is op heilige grond daar in Maksimum Sekuriteit.
    Desmond: dis ‘n werklik fassinerende aanhaling van Jameson wat jy hier bo gebruik het – dié oor Oetopia. (Het Kerkorrel dan nie ook iewers oor die begrip gesing nie?) Wat is die titel van Jameson se boek? Dit wil vir my voel asof daar so ‘n ligte (t)rilling in die lug is – die gemeenskaplike behoefte aan verbeelding, ook etiese en morele verbeelding. (Waar eties dalk juis nié moreel of moralisties hoef te wees nie.) Dink jy die gewaarwording van so ‘n ‘nuwe’ (?) behoefte is siklies van oorsprong?

  18. Wysneus :

    Desmond, aan die hand van Santayana se “wisdom comes by disillusionment” is my huidige definisie van wysheid “to be disillusioned without being cynical.”

    Drome oor die toekoms is fyn (selfs onontbeerlik), maar as dit gebou word op drome oor die huidige of verlede weklikheid baar dit elke keer doringdraad en guillotine en goddelooslik aaklige kuns.

  19. Desmond Painter :

    Andries, ek het die afgelope twee dae nagraadse seminare aangebied by Unisa, en gisteroggend veral was die uitsig oor Sunnyside daar van die heuwel af so helder en herfs, en ek so bly om vir ‘n rukkie uit Skelhombos te wees, dat distopia die laaste ding was waaraan ek gedink het!

  20. Desmond Painter :

    Breyten, dit is uit Jameson se Valences of the Dialectic (Verso, 2009). Dit het ‘n mooi werk van Diego Rivera op die omslag: En El Cruce de Caminos (Man/mens by die Kruispad?). Jameson het onlangs ook ‘n boek geskryf met ‘n interessante titel: Archeologies of the Future.

    Ek dink ook daar is so iets in die lug, ‘n behoefte na politieke, etiese, dalk eksistensiele (her)verbeelding; ‘n begeerte, dalk, om die toekoms los te dink van die ekonome se virtuele ‘futures markets’, van die uitsigloosheid van (dikwels anti-humanistiese) doemprofete, en dalk van die uitgediende idees van heelwat ouskool ‘lefties’ (op wie Wysneus waarskynlik hierbo reageer). Ek sien selfs oraloor nuwe verwysings na die amper vergete Cornelius Castoriadis, na sy The Imaginary Constitution of Society. Ek het ‘n baie sagte plekkie vir ou Griekse kommuniste; sommige van my beste vriende is ouerwordende maar geduldige Greikse kommuniste!

    Of dit siklies is? Interessante vraag. Maar ek weet nie!

  21. Andries Bezuidenhout :

    Ja, Desmond, oor Distoria gaan dit seker oor die kant van die bed wat die voet die planke tref. Ek’s bly ek woon so hoog dat ek darem nie na die aankomende herfs deur tralies hoef te kyk nie. Ek moes 7:30 ‘n klas gee en kon nie stilhou vir koffie, koerant en croissant nie. Wysneus, geen utopia sonder croissants nie! Desmond, Eric Olin Wright se boek “Real Utopias” word op die oomblik in my veld gelees.

  22. Desmond :

    Ja-nee, Andries, koerante, koffie en krisante is immer waarom mens besluit het nooit die universiteit te verlaat njie!! 🙂 En nou moet ek hardloop om met die tweedejaars te gaan gesels oor revolusie, er, nee, oor sosiale sielkunde… (‘n subdissipline wat, veral wat die studie van ‘crowds’ betref, juis ontstaan het in VREES vir revolusie en opstand!)

  23. Breyten Breytenbach :

    Dankie Andries, dankie Desmond vir die vars lug. Dis eindeloos kosbaar! En Desmond, ek onderskryf jou ‘vertroue’ in Griekse revolusionêre met hart en mond. (Of hulle nou geskenke bring of te not.) Jou verwysing na daardie garde maak my skoon bewoë. Die eerste keer wat ek in Griekeland was, was dit op uitnodiging van ‘n ou uitgeweke Griekse Trotskis, internasionalis, aan die hoof van ‘n faksie wat weggebreek het van die Vierdie Internasionaal. Dit was die tyd van die kolonels se bewind in Griekeland. My vriend was ‘n ware gentleman. Mikis Theodorakis – van “Never on a Sunday” faam – en sy orkes was toe ook in balingskap. Een aand het ons na hulle gaan luister in ‘n Paryse werkersvoorstad. Irene Papas het ook saam met ons gegaan. Na die konsert het sy met die orkeslede gaan praat in die kleedkamers. Sy het gesê sy sou hulle graag alles wou gee; indien moontlik sou sy ook vir hulle geblikte of ingelegde poes (dit was haar uitdrukking) wou gebring het. Daar is baie gelag en gehuil. Die orkes se sangeres was kreupel.

  24. eben :

    Daai’s baie mooi, Breyten!

  25. Desmond :

    Breyten, baie mooi storie — veral vir iemand soos ek, wat daagliks, nadat ek vir my brood gesing het, wonder: maar wanneer bring hulle dan die ingelegde koejawels?!

    Ek het in 2004 ‘n paar maande in Griekeland (Kreta, spesifiek) vertoef, by ‘n kollega en vriend van my, Athanasios Marvakis (hy verkies, sedert hy in SA was, dat ek en ander SA vriende hom ‘Attie’ noem). Attie se pa was ‘n aktiewe kommunis en moes op ‘n stadium vlug van die kolonels. Dinge het weldra warm geraak vir sy gesin ook, en Attie vertel dat hy letterlik een aand as jong seun in Griekeland bed toe gegaan het, en die volgende dag in Duitsland wakker geword het.

    Om veiligheidsredes is die kinders nie vooraf vertel hulle in die nag vlug nie; jy kan jou die skok en die trauma van aanpassing indink. Hulle het nie ‘n woord Duits gepraat nie, maar moes skool toe. Attie vertel dat daar net een opsie was: jy moes leer baklei — intellektueel, ja, maar ook met die vuis!

    Deesdae is hy terug in Griekeland en die mees onvermoeide politieke- en gemeenskapsorganiseerder wat ek ken — ‘n man wat ‘n vreemde, stereotipe mengsel van Griekse gelatenheid en Duitse doeltreffendheid beliggaam. Terwyl ek by hom op Kreta was, het ek ‘n bietjie gehelp met die voorbereidings vir hulle jaarlikse anti-rassismefees: dit was ‘n lieflike gebeurtenis in die sentrale park, waartydens immigrante uit alle oorde, dikwels ook Afrikane wat die verradderlike Middelandse see aangedurf het en ‘onwettig’ in die land was (wat ‘n vreemde idee, om ‘onwettig’ in ‘n land te wees — sans papiers!), kos en musiek gemaak het en bloot hulle teenwoordigheid as mense, as waardige bydraers tot die openbare sfeer en die kulturele milieu, aangekondig het.

    Deesdae woon en werk Attie in Thessaloniki, en hy is steeds diep betrokke by immigrante-politiek; ek gaan in Junie en Julie kuier. Ek sien hoeka my besoek oorvleuel weer met die jaarlikse anti-rassismefees, die keer in Thessaloniki. Ek sien uit na woedende hiphop uit Albanie en kos uit Noord-Afrika.