Yannis Ritsos - vertaling in Afrikaans

Yannis Ritsos - vertaling deur Melanie Grobler

 

Die Dans

 

Die tou glip-gly deur sy vaardige vingers

wat hom terug sal neem na die sagtheid

van haar vel, asof dit van haar af kom

die effense labiale reuk wat hom op en uit neem

ʼn klammigheid in die lug wat die klipblinde

man na die lig lei.

 

Asterios is dood, sy opgefrommelde horing

sy snoet bebloed.  By Delos het hul gestop, Theseus

en die jong Athener om na die altaar van horings te stap

om daar te dans, ‘n onleesbare dans behalwe vir dié

wat reeds die leë meander van die labirint geloop het.

En dit was middag: ‘n skel son, die gloed van hul naaktheid

die glans van herhalings, die verblindende opkoms

van die son, die reuk van dennenaalde en die hiasinte…

 

Dinge verander: nuwe passies, nuwe dreigemente, nuwe vrese.

Nuwe gevolge ook.  Starend na die opkomende jaar op die strand

van Naxos dink ons nie meer aan Theseus, die Minotaurus of Ariadne nie.

Maar mense dans nog daardie dans, gewone mense

wat sy-skop dans by troues en begrafnisse, kroeë

en by die waak van dodes in kiste, asof hoop en hart

tog kan ontmoet, asof hul hulself uit die duisternis kan dans.

                                                                                               

- Yannis Ritsos

 

            (Vertaling: Melanie Grobler. April, 2011)

Bookmark and Share

Los kommentaar