Tempermes

Tempermes, deur Louis Jansen van Vuuren. Queillerie, ISBN 9780795800214, 2010

Resensent: Heilna du Plooy

 

Tempermes

Tempermes

‘n Titel soos Tempermes vir ‘n digbundel is ‘n duidelike aanwysing: hierdie bundel gaan iets met skilder te make hê. ‘n Tempermes is ‘n paletmes, nie die een wat soos ‘n troffeltjie lyk nie, maar die een met langer ovaalvormige slap lem. Die onmiddellike betekenisassosiasie van die titel word verder versterk deur die buiteblad van die bundel. Die diep akwamarynblou en kobaltblou bolangs word effens koeler laer af op die blad en in die voorgrond is die figuur van ‘n man in skakeringe van groen. ‘n Vertikale rank waaraan ‘n ruikertjie blomme hang, voltooi die buiteblad.

Die digter van hierdie bundel is inderdaad ‘n skilder, soos duidelik word uit die bekendstellingsnotas en berigte oor die bekendstelling van die bundel wat gepaardgegaan het met ‘n kunsuitstalling. Die visuele sintuiglikheid wat op die buiteblad so duidelik is, ‘n helder, uitbundige gebruik van kleur, word in die bundel egter ‘n algemene eienskap: in elke enkele gedig staan die sintuiglike aspekte van belewenis voorop:

 

Beheks deur purper kruike

koue ambrosyn

sweer ons gierig trou  (p.9)

 

Of soos in die volgende strofe:

 

In die breekblou van die winternag,

in die skitterglans van ‘n lentedag

noem ek jou naam (p. 13)

 

Wat kleur betref, lei die digter se kleursensitiwiteit hom om kleure noukeurig te spesifiseer. In die gedig “Plaas”  is die huis se dak “oksied” geverf, die mure se “smeerwitkalk” word nat en die kerkhof se muur is  “doodswit”. In die gedig “Vincent” word Van Gogh se bekende skilderye opgeroep deur ‘n opstapeling van kleure:

 

Skitter, skitter sterrenag
huilblou hemelruim
koorsblou
loodwit en vermiljoen
son en maan wat wankeldraai

Honderd spuwende sterre
bergblou
beenwit en oksiedrooi…

 

 

geeloker
rooioker en omber
sonbesiekoor sing in die olyftakarms
skitter, skitter sterrenag  (p.50)

 

En in die gedig “Narkissos”  (p.49)  word die selfliefhebbende mens langs die waterpoel se einde soos volg beskryf in ‘n baie mooi strofe:

 

Tussen klippe en bleek brokke been
groei daar ‘n rare blou blom:
botsel van ‘n vreemde liefde,
kleur wat net van kobalt kom.

 

Dit gaan egter ook dikwels om smaak (“Kaneel en suiker, soet die nag” , p. 18;  “dek ek tafel swierig / met pienang en komyn”, p.34), of om klank, hetsy in die verwysing na liedere soos ‘n serenade en ‘n aubade, die “Elizabeth-serenade” (p. 20) of “My hartjie, my liefie/ die son sak weg” (p. 32) of in gewone beskrywings waar die klank meespeel soos in  “Sonbesiepraatkoor met die vink” (p. 25) en “Bokbaaivygie, disseldoring/ hoor jy ook die roofmeeu roep?” (p. 33). In “Die jagter se dogter” (p.47) word die hele vroegoggendse jagatmosfeer opgeroep in die eerste strofe, spesifiek deur na geluide te verwys:

 

Jaghoring krul ‘n hoë noot,
miswit skoorsteenrook.
Koperklanke rasper die klipmuur op,
hoog, tot by die dak se hoogste nok.
‘n Nes vol kuikens piep.

 

Die bundel is deurtrek van sintuiglikheid, meer nog daar is ‘n lewensdrif en ‘n sterk drang tot lewensgenieting wat uit vele gedigte spreek. Dit is selfs asof die liefdesmart waaroor in baie gedigte geskryf word, met ‘n soort energie beleef word. Dis inderdaad  byna ‘n gierigheid wat in die gedigte beskryf word, soos die eerste gedig dit self noem. Die gedigte vloei dan ook vlot voort met ‘n soort vaart en baldadigheid waarin ‘n groot energie opgesluit sit.

In geheel beskou is dit ‘n bundel wat spreek van ‘n soort dekadensie, nie as ‘n werklike lewensstyl nie, maar die lewensgenietende dekadensie van  daardie  estetiese ingesteldheid wat ‘n mens ook by Hennie Aucamp kry.  Die energie en vloei, die sensuele aard van die temas en van die gedigte self onderskryf hierdie waarneming.

Tog is die tematiese skopus van die bundel beperk. Daar is ‘n paar gedigte oor jeugherinneringe, ‘n paar stemmingsgedigte, ‘n paar verse oor kunstenaars, (Van Gogh en Sylvia Plath as metafoor), maar die meeste gedigte gaan oor die liefde en liefdeservarings. Daar is mooi wendinge in die gedigte soos blyk uit die aanhalings hierbo en ook soms verrassende metafore. Die verse vlot ook gemaklik en val ritmies sag op die oor.

Die bundel as geheel verloop vir my gevoel net te gemaklik en te glad, asof die keuse van woorde en reëls en strofes en gedagtes net te gou en te voorspoedig gemaak is. Dit is asof daar werklike diepgang ontbreek – wat miskien nie erg is nie, want waarom kan gedigte nie oop en duidelik en by-die-eerste-aansig-mooi wees nie? By herlees begin mens egter die baie geykte frases opmerk, die clichés, die soms te voorspelbare retoriese wendinge en ook soms die geforseerde klankpatrone en woordkeuses. Op die eerste vlak is hierdie bundel ‘n kleurvolle, klankryke en smaaklike leeservaring, soms uitbundig en soms weemoedig, maar altyd op vaart. By ‘n herlees word dit yler en voorspelbaarder, woordvaardig maar waarskynlik net te moeiteloos. 

 

@ Heilna du Plooy

 

Bookmark and Share

Comments are closed.