Wanpraktyk

Wanpraktyk. Andries Samuel. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5282-2. Prys: R145. 68 bladsye. Sagteband.

Resensent: Zandra Bezuidenhout

wanpraktyk

wanpraktyk

Dis selde dat `n debuutbundel `n mens se aandag so vasvang as Andries Samuel se Wanpraktyk. Hier is `n nuweling wat iets het om te sê, op `n eiesoortige manier en poëties verantwoord, sodat hy met die intrapslag sy merk as digter maak.

Die bundeltitel leen hom tot verskillende interpretasies en het nie noodwendig betrekking op `n “misdryf” in die eng sin van die woord nie. Die digter bewerk juis die taal deur (onder andere) woorde se sluimerende betekenisse en assosiasies te aktiveer. Breër gesien en na aanleiding van die bundelinhoud, is Samuel se Wanpraktyk `n benaming vir handelinge of strukture wat afwyk van die norm, en daarin destruktief of disfunksioneel kan wees. Die titel kan egter ook ironies bedoel word, in welke geval die “koersafwyking” ook positiewe konnotasies dra.

Dit is verhelderend om die buite- en binneteks van hierdie bundel saam te lees. Die grys bundelomslag met afbeeldings van wasige, swewende strukture, en `n kleiner kindertekening wat tussen die voor- en agterplat verdeel word, berei die leser voor op `n onderliggende somberheid en `n gebrek aan samehang en betekenis. Van die visuele prikkels wat voor, tussen en ná die gedigte opduik, tesame met die tipografiese spel in sommige verse, kan moontlik teruggevoer word na die digter se bemoeienis met struktuur in sy beroep as argitek. Die tekeninge kan ook dui op work in progress, `n proses wat aan die einde van die gedigtekste uitloop op `n byna voltooide stadsplan, met daarna `n enkelstruktuur wat nou meer gedetailleerd voorkom. Die motief van strukture vind neerslag in die inhoud van die gedigte ten opsigte van strukturele wanpraktyke in samelewingsverband, sowel as die herstrukturering of herskikking van die menslike psige op weg na heling. Die digter mag selfs te kenne gee dat sy beoefening van die woordkuns `n “wanpraktyk” is; `n bedryf waarin die emosie `n rol te speel het, en wat ingaan teen die koel presisie van sy beroepsveld.

Ook die inhoudsopgawe is veelseggend. Die afdelings- en gedigtitels word voorafgegaan deur `n opskrif: “wanpraktyke, `n sak vol bedrieglike uitweegsels”, gevolg deur die afkorting “bv.” Hierdie ietwat ongeërgde, lakonieke en selfs wrang instelling rig aan lesers `n bedekte uitnodiging om die bundel ook so te benader. Die neologisme “uitweegsels” dra spore van “uitvaagsels” en “uitwerpsels”, maar terselfdertyd van “weeg” of “oorweging”. Dinge wat oorweeg, geweeg, en uitgewerp of verwerp is, bly agter as `n “sak vol” gedigte; en “bedrieglik” ontmoedig `n te gemaklike gevolgtrekking. Hierdie tong-in-die-kies-houding word voortgesit in die digter se benoeming van die onderskeie afdelings as wanpraktyk 1, 2, en 3, elk met `n eie omskrywing. Die twee bundelmotto’s is in `n sekere sin onrusbarend en sluit aan by die afdelingstitels. In die aanhaling van Anne Michaels word gewag gemaak van die slepende gewig van verlies, terwyl dié van Barend J. Toerien verwys na `n rilling oor die vel, maar ook na “botsels” – `n begrip wat terugkeer in die bundel se onverwagte slotreël, “ek bot in die eerste breuke”.

Die eerste afdeling, “Wanpraktyk 1 – stukke van my sleep met haar mee” verplaas die leser na Israel en die Jiddisje wêreld – `n milieu waarbinne die digter self gewoon het en waarheen hy periodiek terugkeer om sy kind te besoek. Uit die bundelkonteks kan `n mens aflei dat die spreker die situasie as `n wanpraktyk beleef. Die inleidende vers, “ykgedig”, maak gebruik van Bybelse gegewens en terminologie, waarmee daar oënskynlik ongeërg omgegaan word: “uit die pentateug, met `n bietjie proverbs en profeet”. Dit blyk dat die spreker by wyse van die digterlike woord tot klaarheid wil kom omtrent die presiese waarde wat aan ervarings toegeken moet word. Dit is `n sinvolle inset tot die bundel, omdat die gedig dien as `n yk-instrument of toetssteen waarmee verlies (en die gepaardgaande wanpraktyke of toestand van disfunksionaliteit) geweeg word. In die slot slaan die toon oor in patos: “ek weeg my daagliks/ daagliks by die verdriet van `n kind” – `n sleutelreël in die afdeling en selfs die bundel wat gelees kan word as `n “verseboek” van “verdriet” wat vir die nageslag bewaar word.

Die daaropvolgende gedig, “my dogtertjie”, sluit hierby aan. Sonder die uitspreek van direkte emosie, en met die skyn van speelsheid, is die vaderfiguur se woorde des te meer deerniswekkend:

 

my dogtertjie

is `n geitjie

 

sy bak in liefde

soos die son

 

vlakke mure en plafon

maak haar vasklou niks

 

haar klewerige vratpootjies

het my beet

haar fynsliertstertjie

krul my om”[.]

 

Lesers en aspirant-digters mag dit interessant vind dat Samuel op die onlangse Stellenbosse Woordfees genoem het hoeveel hy aan die bostaande vers moes snoei en skaaf om `n oormaat aan “drama” en sentiment uit die vers te weer en `n gestroopte produk staan te maak. Daaruit sou `n “fynsliertgediggie” tot stand kom wat in sy berekende eenvoud die leser omslaan. Die afdeling bevat meer gedigte wat die hartsverbintenis tussen die vader en “pa se kind” te midde van die meegaande verdriet uitbeeld. In “visitation rights”, `n gebruik wat ook sinspeel op `n wanpraktyk, is die digter se speelse en ongeforseerde omgang met taal louter genot. Met woordvondste soos “kantel ons familiewenkbroue” en “glabberige waterblom” voer die digter `n ligter toon in om die somberheid te balanseer.

In “berigte van herkoms / psalms vir die verste kind” word die afstand wat tussen ouer en kind ingetree het, en die innerlike geweld wat daarmee saamgaan, konkreet voorgestel deur `n gedig wat telkens onderbreek word deur grepe uit oorlogsberigte. Ewe interessant is die afwykende tipografie in “all god’s children took their toll” waar afsonderlike brokke vers heen en weer oor die bladsy beweeg. Dit versterk die belewenis van die inhoud, naamlik dié van `n verskeurde, gewelddadige wêreld waarin die kind, en by implikasie die vader, hulle bevind. Algaande word dit duidelik dat die begrip “wanpraktyk” onder meer van toepassing is op die versteuring van lewensvorme, en hier spesifiek op die skending van `n ouer-kindverhouding soos versinnebeeld deur die gelyklopende verwonding in tye van oorlog.

Kenmerkend van bundel is nie alleen die verskeidenheid ten opsigte van styl en toonaard, tematiek en beeldgebruik nie, maar veral die parallelstelling van verskillende sake binne een gedig. Ook in die tweede afdeling vloei die ek-spreker se donker gemoedtoestand (“blues in yk”) ineen met die triestige Kaapse weer, voelbaar gemaak deur die herhalings, ritmiek en klanknabootsing, asook in die droefgeestige, liedjie-agtige strofes. Tegelyk nugter en weemoedig klink die spreker se ervaring van sy Kaapstadse omgewing in “stadfragmente”:

 

hier bo bly ek in 902

half leeukopgespalkte uitsig

blokkie see

[…]

die maan skans op

in die wolkmaansop

en skif dof agter leeukop verby[.]

 

Samuel weet hoe om `n synstoestand met `n omweg verbeeld deur die hantering van die vergelyking en metafoor. In “onttrekking” sê hy: “[dis] asof my blokkiesvloer/ oorgelê is met slange en met lere” en “die matte van my verstand/ soos baarde verleë dennenaalde/ gestrand in geutbeton”. Die digter se knap omgang met klank blyk uit versreëls soos in “tussen my skedel/ en die skil van my kopvel” en “ratelende skarrel”. In die versugting: “hoeveel dae is dit al/ watter seë koers ek in/ hoeke waters gee ek my aan oor/ watter skaaldier dieptes onder” word die radeloosheid deur die segswyse verhelder. Die oënskynlike gebrek aan samehang in die versbou verhewig die nagmerrie-agtige ondervinding.

Daar word ruim gebruik gemaak van neologismes, onder andere in “voëlvuurasem” waar oor die liefde gepraat word in terme van “teugde”, “bilg”, “skraak”, “uitskuinsend”, “ontrookte”. Saam met “dit asem” en “dit natgebore vuur” dui die woordkeuses op `n ontredderde geestestoestand. `n Mens kan jou afvra of die taalverwringing nie soms te ver gevoer word en gesog voorkom nie.

 

Die wyse waarop Samuel gespesialiseerde begrippe as metafoor aanwend, spreek reeds van `n gevorderde digvermoë. In “enkele tegniese besonderhede oor water” benut Samuel terme uit die argitektuur, soos Gilbert Gibson uit die mediese woordeskat put om verse op `n oorspronklike wyse in te klee. Die gedig van Samuel, een van die hoogtepunte in sy bundel, is `n ironiese gesprek met en oor water waarin verdigtingsmeganismes en die stryd teen roes en verrotting betrek word. Uiteindelik word dit `n besinning oor die “diep water” waarin ons by wyse van spreke woon, en waar die digter hom in `n “spatsel droog” bevind, “in `n fles vir woorde/ wat teen water verset”. Die slotstrofe word `n illustrasie van die stryd om water uit te sluit, as `n poging tot oorlewing en om wille die bedryf van digterskap.

“[S]oekmekaar” toon hoe die digter in die vryeversvorm ook elemente van `n meer tradisionele styl (met betrekking tot eindrym) inkorporeer. Vernuftig ook is die herhaling van bepaalde woorde en frases. Die gedig is veelseggend in sy oënskynlike eenvoud, en die manier waarop die vers tot stilstand kom in “soek daar”. Ten spyte van die praattoon word die nodige spanning gehandhaaf om die gedig te laat slaag.

Nog `n hoogtepunt in die bundel is “losklim”, waar besonderhede uit die rotsklimsport  as boustof gebruik word. Die opbou van die vers simuleer die bewegings van die klimmer en die opeenvolgende momente waarin hy hom teen die natuurkragte verset. Die slotreël staan los van die res van die strofes en is besonder beeldend: “onversadigbaar wulp die grond haar dye”, asof die aarde die klimmer verlei om sy greep te los en hom oor te gee aan die aantrekkingskrag van die aarde “wat hom terug wil smyt”. Die ongewone gebruik van die werkwoord wat dikwels by Samuel voorkom, val op in “hy slak versigtig opwaarts”, asook in die grond wat “wulp” –  binne hierdie konteks `n eggo van “wulps”. Weereens kan die gedig as ook as `n metafoor vir die lewensklimtog óf die maak van poësie geïnterpreteer word.

Dieselfde stryd om `n “greep” te kry word sigbaar in “my sokkies is swart”, hier met betrekking tot die greep op woorde, lettergrepe en betekenis. In die daaropvolgende vers, “strandtekens”, lyk dit of die spreker sy houvas op die werklikheid kwyt raak. Ná `n vreemde droom word die spreker wakker (“ek sweet wakker uit `n droom […] ek dryf my bewussyn binne”) en beleef hy `n angservaring – eers by die see (“die see is aan die kom/ en die maan kan dit nie terughou nie”), en daarna op land (“ek ry terug die wêreld in […] soos ek bruin waterspuite/ in waaiers oor die veld uitspat”. Die hele gedig skep die indruk van `n toestand van horries of `n durende nagmerrie. Woordverbindinge (“moddergrondpadlangs”), onbekende woorde (“desperasie”) en `n onverwagte beeld (‘nat pels soos `n handdoek”) is in pas met die toestand van verwarring. By wyse van kontras spreek die gedig “dwarsberg” van rustigheid en `n byna bo-aardse ervaring. Die “enkel hengelaar” by die bergpoel word omgeef deur “boë suisende helder lyn/ terugkerend silwer tussen gewrigte/ en rimpels watersterre/ van forel wat spring”. Dit is `n voorbeeld van hoe Samuel estetiese effekte bereik wat ver verwyderd is van geykte “mooiskrywery”.

Die laaste afdeling van die bundel bestaan hoofsaaklik uit liefdesverse waarin verwonding en ekstase vermeng is, met `n vooropstelling van die liggaamlike. Hoewel die gedigte ten dele tref, danksy `n innige toon of enkele raak besonderhede, maak dit vir hierdie leser die indruk van jeugwerk. Die segging is net te direk – wat `n meer toeganklike vers tot gevolg het, maar inboet aan veelvlakkigheid, soos wat vroeër in die bundel aangetref word. Die ryk, gekonsentreerde slotvers met sy meesleurende opbou (“op pad na `n nuwe bouterrein”) staan veel sterker. Ook hier sluit die titel en inhoud aan by die argitektuur, maar dit gaan om meer as die werklike bouterrein. Dit wil ook `n metafoor wees vir die proses van herstel, hier verbeeld as `n moeisame tog deur `n wildernis wat ingebreek moet word en die soeke na `n nuwe pad wat “sywaarts uit[breek]”. In die verrassende losstaande slotreël, “ek bot in die eerste breuke”, skuil `n paradoks. Deur `n besondere vonds van klank en beeld word `n nuwe fase in die vooruitsig gestel, en die bundel op `n hoë noot afgesluit.

Die feit dat Andries Samuel die seun van die bekende digter en skrywer Antjie Krog is, het hoogstens interessantheidswaarde, want met Wanpraktyk tree Samuel na vore as `n woordkunstenaar in eie reg. Sy debuut sal ook tot jonger volwassenes spreek, en tot alle poësielesers wat bereid is om `n bietjie moeite te doen vir die raakhoor van `n nuwe stem. Daar is nie net groot belofte nie; die digter se penne is reeds stewig ingeslaan op die bouterrein.

@ Zandra Bezuidenhout

 

Bookmark and Share

Comments are closed.