Duskant die donker / Before it Darkens – Cas Vos

 

Bekendstellingstoespraak  (Boekbekendstelling: 13 Maart 2011)

– Marthinus Beukes

 

Teen die duur van nánagstilte en donkerte in

 

Omslag

Omslag

Paradoksale bestaansaspekte of polariteite genereer spanning wat dikwels  prikkels vir die digtersambag is om tot balans te probeer dig.  Donker en dood plaas die soeke deur kunstenaars na lig en lewe op die voorgrond. In Vos se oeuvre is die drif na balansherstel ‘n deurlopende gegewe. Sy vyf bundeltitels is ‘n sintese van die uitreik na samehorigheid van dispariteite of die verwondering in die nuanses van donker na lig en dood na lewe (én uiteraard is die omgekeerde ook waar).

Duskant die donker – Before it darkens is ‘n titel wat my as leser oorrompel het. Die vooropplasing van tyd in die titel is ‘n belangrike betekenisdraer vir hierdie keurversameling. Dit is immers nog nie donker nie – alhoewel die tyd se voorttik daarheen beweeg. Met die vyf afdelings van die bundel is die belangrikheid van wording, lewe, progressie of bestaansbevestiging met die “Skeppings”-gedig (p.12) die rigtingwyser vir die leser se wandeling deur die kosmos van die woordheelal.

Die vraagstellende ingesteldheid van die openingsgedig (soortgelyk aan Job se worsteltaal) om God se skeppingskrag te verwoord, word met die laaste vers “as suster dood kom” (p.126) bekragtig. Al is die dominante atmosfeer die aanwesigheid van dood of donkerte, is die behoudenis met die afdruk van “haar hande” (p.50) die metafoor van die skepper se drang om te bestendig. Soos wat dit in hierdie gedig verwoord word, is die simbiose tussen manlik en vroulik, verlies en bestendiging belangrik, maar ook die kompleksiteit van lig en donker se velerlei nuanses:

 

Die man soek na sy vrou

met sy hart se noodlyn langs

tot waar die eensame nagte

soos ooglede oor haar oë gly.

Op die vlaktes

van sy verbeelding vind hy

die afdruk van haar hande.

 

Maar die titel van hierdie versameling verse beklemtoon nie alleen die belangrikheid van tyd as merker van transformasie nie.  Ruimtelike veelkantigheid  is eweneens belangrik. Die plek wáár die spreker en aangesprokene, die Skepper en skepsel, die geliefdes, maar in besonder die digter en die gedig sigself bevind, is van waarde. Die gedig wat die titel van die samestelling verse dra (p.40), is ‘n beklemtoning van die elemente wat vir Vos belangrik is, naamlik die intieme ruimte van die geliefdes, die minnaar en beminde se saamwees rondom die tafel van gemeensaamheid.

 

Voor ‘n vlaag wind

die nag laat kreun

en die bome se koppe hang,

moet ek huis toe gaan

voor ek die spoor verloor.

 

Vanaand sal ek vir ons tafel dek,

vye en melk en skille aftrek,

rooiwyn uit die kelder se koelte

skink tot jou beker vol vreugde skyn

en my hart ligvoets dans

op die maan se aandrefrein.

 

Die gedig of digterskap is die amulet teen die naderende donderkte of dood se verskrikking. Soos wat die gedigte uit Vos se vorige bundel, Intieme afwesige, “Aan flarde” (p.54) en “Vere in die wind” (p.56), verlies gemeen het, is die skrywershand hier die herskepper van gebrokenheid. Deur te skryf, poog die digter om vervlietendheid te verdryf met pen en ink. Die vers sal langsamerhand bly voortduur. In dié verband kan die gedig “Nanag” genoem word as illustrasie van behoud:

 

In hierdie nanag

as slaap  my verlaat

soek ek na woorde

slaan my hand

aan ‘n pen

vryf oor wit papier

stilte oor die leegte.

 

Die punt van my pen

soek en vind ‘n woord,

‘n vers se eerste lig.

 

Die woord en wederwoord van verlies en vind, dag wat sal breek ná die nag se donderduurte, en die intieme liefde tussen bemindes, besit nie ‘n doods- of sterwensfinaliteit nie. Soos die slotgedig treffend saamvat, is die dood, dus die donkerte wat sal kom, nie ‘n vyand wat gaan vervreem nie, want dit is “suster dood” wat sal kom. In ‘n byna paradyslike aanhoor en voel van die geritsel van die skepper-God se aanwesigheid wat ‘n mistieke kwaliteit verklap, is die berusting dominant en nie weerstandige opstandigheid nie:

 

ek (sal) god in die aandwind hoor ritsel

en die afdruk van sy liefde sien

sal ek my nog verbly oor die meisie

se jong borste wat trots soos pruime swel;

 

sal ek jou steeds kan liefhê, liefhê

sal ek jou met my soene die nag in kan lei

en sal jy, myl lief, nog my dieper dors kan les

as suster dood kom

 

Die opmerklike aanwesigheid van liefdesbeelde in hierdie vers beklemtoon dat die digter en sy geliefde God op mistieke wyse be-leef ten spyte van die sterwensdonkerte.  Só sal hulle ‘n hoopvolle nanagvrede binnegaan.  Hierdie is nie ‘n vertoef duskant die donkerte wat hopeloos is nie, maar dit dra die kiem van nuwe lewe wat eers tot wasdom sal kom, ná die voltooiing van die lewe- en doodsiklus, in harmonie met skepping en skepper, voltooi is.

Cas, dankie vir hierdie handevol aangrypende verse! Hulle sal tesame met die dinamiese en vitale vertalings deur Leon de Kock, veerkragtig bly en die donkerduurtes deurlééf op die ligte danstrant van die die pen se skeppingsdrif.  Met hierdie versameling én vertaling, maar ook met Johann de Lange se insiggewende inleidingsopstel, van Vos se gedigte, is ‘n dinamiese lewensduur verseker. Duskant die donker / Before it Darkens is bevestiging dat digkuns teen die duur van nánagstilte en donkerte vir die lesers van Vos se verse groot vreugde sal bly verskaf.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Duskant die donker / Before it Darkens – Cas Vos”

  1. Louis Pienaar :

    Marthinus Beukes vat dié uitstekende bundel baie goed saam.