Leon Retief. Die espebome van Alticane

Espebome, ook bekend as trilpopuliere of in Engels “shaking or quaking aspens” is ongetwyfeld van die mooiste bome in die wêreld en kom wydverspreid voor in Europa, die VSA en Kanada.

Die bome word so genoem omdat hul blare selfs in die ligste briesie ‘n bekoorlike bewende dans uitvoer. In die herfs verkleur die blare na geel en rooi en ‘n espewoud daardie tyd van die jaar is werklik ‘n besondere gesig. Die blare voer hierdie bewegings uit omdat die elliptiese vorm van die petioles (stingels) ‘n spesiale aërodinamiese eienskap tot gevolg het. Soos byna alles in die natuur het hierdie trilbewegings ‘n oorlewingsvoordeel – in eksperimente waar die blare meganies gestabiliseer is, is gevind dat insekte gemiddeld sowat 27% minder skade aangerig het by blare wat wel toegelaat is om in die wind te tril.

Net buite Alticane, so ‘n ent noord van Saskatoon, is ‘n bos besondere espebome, enig in die wêreld. Hierdie bome het nie regop stamme soos gewone espe nie, maar is gekronkel en inmekaar verwronge in fantasmagoriese vorms.

 

 

Die oorsaak van hierdie vreemde morfologie is nog nie bekend nie, waarskynlik is dit die resultaat van ‘n mutasie maar die genoom van hierdie bome is nog nie gekarteer nie. Dit is ook moontlik dat al hierdie bome naby Alticane een enkele organisme is. Espe plant dikwels aseksueel voort, dit wil sê hulle wortels gee oorsprong aan ander espe wat weer aan ander espe oorsprong gee ensovoorts – in werklikheid ‘n versameling klone van die “moederboom”. Die bome bly ondergronds aan mekaar verbind en die grootste enkele lewende organisme op ons planeet in ‘n espewoud in Utah wat uit nagenoeg 47 000 bome bestaan en ongeveer 6 miljoen kilogram weeg.

 *

Ken Dalgarno is ‘n bibliotekaris in Moose Jaw en in sy vrye tyd ‘n skilder wat besig is om met sy landskappe bekendheid in Kanadese kunskringe te verwerf. Hy gebruik die afgelope paar jaar ‘n indrukwekkende en flambojante impasto-tegniek met ‘n taktiele bekoring wat mens laat voel dat jy jou hand oor die oppervlak van die verf wil streel. Onlangs het hy so half tong in die kies teenoor my opgemerk dat noudat sy skilderye begin verkoop hy genoeg geld het om al die verf te bekostig wat hy so kwistig aanwend.

Met sy eerste besoek het die bome Dalgarno gefassineer en hy het ‘n reeks skilderye met hierdie tema voltooi. Na ‘n uitgebreide reis deur Kanada is die skilderye terug in Moose Jaw waar hulle waarskynlik ten minste vir ‘n tyd lank sal bly want verdere tentoonstellings is nie uitgesluit nie. Nie een van die werke is te koop nie.

In hierdie skilderye, asook ander landskappe van Saskatchewan, gee Dalgarno ‘n ander perspektief op die tonele van hierdie provinsie. Tradisioneel word Saskatchewan beskou as ‘n ietwat vervelige prêrielandskap. Oftewel, dis plat. In die winter is dit wit, in die somer sien mens die groen koring, die geel canola en die blou lug en dit is dit. Dalgarno sien dit anders. “In Saskatchewan, the more you look, the more impressed you become” en sy skilderye forseer die kyker om kompleksiteit raak te sien, te ondervind.

 

Robert Kroesch het geskryf dat Kanadese nie ‘n minderwaardigheidskompleks het nie maar liewer wat hy noem ‘n “invisibility complex” en ek dink dit geld nie net vir Kanadese nie – dat mens ‘n refleksie van jouself moet sien in die kuns en letterkunde wat jou omring, dat mense kuns in al sy vorms nodig het om ons volledig van ons menswees bewus te maak.

Baie van wat bekend staan as “Western Canadian Landscape Art” behels die Rockies, woude, mere, watervalle, riviere en dierelewe. Sommige daarvan is wel na my mening goeie kuns maar die meeste is maar taamlik koekblikkerig. Dalgarno daarenteen werp ‘n geheel nuwe lig op hoe ons hierdie omgewing evalueer en ervaar, dit word byna ‘n meditasie oor wat die landskap doen en hoe dit voel as bloot hoe dit lyk.

Die reeks skilderye produseer meer vrae as antwoorde, uitlokkend eerder as dekoratief, die kyker bly nooit passief nie, vol teenstrydighede oor mooi, lelik, sensueel en siek of gesond. Elke skildery is vernoem na ‘n werk deur Margaret Atwood. Het dit te doen met Atwood se pre-okkupasie met oorlewing as tema? Haar ekologiese bewustheid?

Die afbeeldings van Dalgarno se skilderye sal noodwendig nie dieselfde impak hê as wanneer mens dit as’t ware in lewende lywe sien nie maar ek hoop dit gee darem ‘n idee.

Songs of the transformed. Ken Dalgarno

 

Failed sacrifices. Ken Dalgarno

 

Death by Landscape. Ken Dalgarno

 

 

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Leon Retief. Die espebome van Alticane”

  1. Marlise :

    Leon, dis ‘n pragtige blog hierdie. En ek hou van wat Dalgarno doen. Dit laat my ook bietjie herinner aan Van Gogh. Is die titels van die kunswerke titels van gedigte deur Atwood?

  2. Leon Retief :

    Gedigte, ‘n kortverhaal en ‘n roman.

  3. Dennis :

    Ek sou wat wou gee om ook die vermoë te kon hê, soos wat Dalgarno duidelik het, om waardering te kan gee aan die feitlik onuitspreeklike kompleksiteit van lewe. Dit kort diep insig sowel as vaardigheid om uitdrukking te kan gee aan sy indrukke – baie mooi.