Marlies Taljard. Droom
Droom
‘n Windstil middag.
Op die bed lê ons na mekaar gedraai
soos Afrika in twee skywe oopgesny.
Uit die diep skeurdal van stilte tussen ons
droom ek
jou landskap was aan my bekend
lank gelede
toe ek in die klawer van jou liggaam
gekniel het
my hande om die gekapte klipkom van jou slape gevou
turend in die heilige poel van jou siel
tot kennis, lig en profesie
die oppervlak misterieus beroer
en weet:
ons het mekaar geken
toe ons nog heel was.




