Bekendstelling: As die woorde begin droom (Wilhelm Knobel)

Praatjie gelewer deur Ampie Coetzee tydens bekendstelling op Saterdag, 16 April, Protea Boekwinkel (Stellenbosch)

 

 

As woorde begin droom

As woorde begin droom

Ter inleiding: Hier is ‘n bundel van oor die 180 bladsye, soms met baie lang gedigte, en soms met baie kriptiese gedigte – altans moeilik verstaanbaar vir my. Nietemin: ek wil net waarsku dat ek nie ‘n lesing gaan gee soos ‘n sogenaamde ‘literator’ of kritikus nie. Die kritikus word alreeds aangespreek in die gedig ‘Weer aan die kritikus‘, parodieërend, vra die digter:  ‘Hoe kan jy so seker wees jy herhaal jouself nie?’, en die digter antwoord self : ‘En wie ‘t miskien gesê ek is seker?’ Ook in die aanklag: ‘ Kén ek jou sluwe stem nie? /Trap! of ek brand jou/ brand jou met die kole van Bloedsteen/ dat jy wéét’ (47). Die kritikus is maar net die arme donder wat probeer sê wat alreeds gesê is.

Hierdie bundel As die woorde begin droom is ‘n keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel wat saamgestel is deur Johann de Lange. Dit is ter herdenking van Wilhelm se 75ste geboortedag, in opdrag van Deon Knobel, en uitgegee deur Bel Monte-uitgewers. Daar is ook twee vorige bundels: Twee Siklusse: ‘die ongewapende man op 70 uitgegee in 2005, asook  Wilhem Knobel die ongewapende man  … van kindertyd tot sterwenstyd … 2008.

Vanaf die eerste bladsye van As die woorde begin droom  word een van die temas, nl. pyn al gegee: ‘Hy het pyn gehad / en uitgegaan op straat/ om hulp te soek/ …(15). Ander herhalende temas is die dood, sy siekte, verlossing, angs (wat miskien nodig is vir die ontstaan van ‘n gedig), waansin, kindwees, drome, visse, bome, sy verhouding met sy ouers. Maar deurlopend is dit drome, soos in die titel .. en later ook  ‘… hulle/ .. noem hom Josef die dromer’ (65). 

Hierdie self-erkende eienskap, of belemmering, kom miskien die beste na vore in die volgende liefdesgedig: ‘of jy selfs vir my lief is weet ek nie / hóé sou ek ook weet/ want ek is ‘n dromer/ wat hom ingedroom het in sy droom/ en ‘n nog sterker gevangenis / waar ons so inmekaar gestrengel sal wees/ dat ek nie langer weet waar ek ophou/ en jy begin nie/ dat ek wakker word soggens / met die geur van jou lippe op my tong/ en jou hare moet wegvee uit my mond/ om jou môre te kan soen’ (124). Om te droom kan natuurlik verskeie betekenisse hê: droom soos in slaap, dagdroom soos in wakker wees, wens, verbeelding, fantasie.      

Dan is daar ‘n nog sterker deurlopende tema as drome, nl. die onvermoë van die woord om bevryding te  bring (‘en ‘n nog sterker gevangenis’) Daaroor wil ek nou-nou spesifiek praat.

 

Deon Knobel sê iets – in die 2008 versameling – wat waarskynlik kenmerkend is van die tematiek: “Sy werk bied een van die unieke geleenthede in die Afrikaanse letterkunde waar ‘n psigiatriese siektebeeld met uiters fyn begrip en waarneming in digterlike taal beskryf word”. Die sleutelwoord hier is ‘beskryf’. Maar dis ‘n poging om op poëtiese wyse te ver-woord. Die poësie het nie sélf mal geword in sintaksis en semantiek nie, wat wil  wys wat die waansin is nie. Ek wil net in die verbygaan – en  nie as ‘n vergelykende waardebepaling nie – die voorbeeld van Peter Blum se ‘Man wat mal word‘ noem (ek haal die wending aan, waar die woord wat vryheid bring as ‘t ware uitgespel word: ‘ … één drong woord kraal wat alle enkelheid/ ophef, mág met kloktong die warreld vry, móét preek/ wat voldoen om juble te vrymaak: WOKNAKWYF!’). Dít is ons redding WOKNAKWYF (aanhaling uit Enklaves van die lig, 21).

 

Maar om terug te kom tot dié bundel. Die titelgedig is die sleutelgedig, en die eerste strofe is sprekend: ‘As die woorde begin droom/ gaan ‘n valdeur oop in my,/sien ek slanke diere swygsaam/ teen die druppende wande uitbeur/ van ‘n put/ Swart letters/ op die wit blad/ Pen hul glansende lywe gou vas:/ ‘n Laaste rilling halsstarrige lewe/ Dan lê  hulle stil/ twee-twee’ (36).

 

Die droom hier is surrealisties, is nie ‘n betekende nie. Die woorde as betekenaars kan nie ‘n betekende bereik  nie. Maar dan kom daar ‘n talisman, ‘n amulet: die bloedsteen teen bloeding wat hy nie net as sieraad sal dra nie. Maar later hou die bloedsteen op gloei – en dit word net gedra vir versiering. Skynbaar, na ‘n lang stryd – in ‘n baie lang gedig – kom daar wel ‘n stilte, ‘stemlose woorde’ (51). Soos woorde wat nie beteken nie. Heeltemal ‘n post-modernistiese konsep. Die onmoontlike taak is: om die droom te verwoord. En dis hierdie soort moedeloosheid met die woord wat Knobel ‘n tussenfiguur maak tussen die  Dertiger-digters en die Sestiger-digters se ontnugtering met die woord (waarvan die beste voorbeeld Breyten se poësie is). Van die Dertigers onthou ons nog Van Wyk Louw se tevredenheid met die beiteltjie as poëtiese woord, en ook die woord wat ‘smal swaard en blink’ is. Hoewel hy later in Tristia anders begin dink het: ‘iets staan in sterre-en-helderte geskryf/ en ek skryf ná in stof’. Woorde kan slegs weerspieëling wees van ‘n werklikheid.

 

In hierdie bundel van Knobel is vele gedigte die uiting van sy ars poetica, ‘n illustrasie van wat die gedig vir hom sou kon beteken, en die pyn om die poëtiese woord te vind: ‘snags as hy wil bid/ raak sy woorde in die vesels verstrengel/ en ritmies/ op die slag van die uur/ pik swart voëls/die korrels uit sy hart’ (63). Die geslaagde beeld is van ‘n garingboom wat groei. Dït is poësie, omdat dit beeld, metafoor, geword het. Maar Knobel het dit nie geweet nie – dat die ‘verlossing’ lê in die aard van die perfekte gedig. In baie van die verse in hierdie bundel het hy poësie geskryf – waar die gedig self betekenis geword het en weggekom het van die gedurige klag; ‘ … oor digterskap wat saam met die gebrek/ aan seksuele uiting heeltemal weggesterf het/ oor mislukte pogings om te kan trou/ om die eensaamheid ontvlug/oor gebrek aan kontak …’ (130). Die gedig eindig so: ‘onthou net ons onderwerp/ manies depressiewe psigose/ seks/ religie’. Terapeutiese gedigte.

 

Dis veral in die ‘Nagelate gedigte‘ van 1976 waar die versugting oor die woord die mees prominente is. Ek gee enkele voorbeelde: ‘ … te lank/het my woorde die ou spel vars bly hou/en niks gebring/as snags/die lawwe onwerklike spel van ‘n droom’.(86). En wit papier wat ‘n kanker word (90) ; woorde wat slegs reëls vul. In woorde word die self gevind, maar die gees soek nog ‘n nuwe stem (92).  Daar is ook die bekentenis van ‘n onvermoë met die skepping. Soos hierdie reëls uit die ‘Tweede brief vir Breyten’: ‘Hoe meer ek sukkel om die stilte oop te wurg/ hoe vaster gly dit af in my keel/ Leen vir my ‘n paar van jou reëls . – dit lyk my hulle kom so ongevraag -/ dan beur ek met hulle skigtige hoeke/ die deksel op wat altyd digter sluit'(93). Dis natuurlik, onbewus, ironies – want Breyten soek altyd nog die woord, maar vind dit slegs in die metafoor – omskryf soos in sy nuutste bundel: ‘ons gedigte is slawe elk met ‘n volle wuif,/ vere fier op die kop’. Of : ‘ons taal was ‘n voetnoot/ onder die onleesbare bladsy geskiedenis?’

 

Maar weer terug by dié bundel: die juiste woord bly uit, en daar kan in die stilte net ‘n afgrond vermoed word (118).

 

Maar – weereens – waar die gedig gedig geword het, sonder die klag en die pyn, is daar die ware digterskap. Dit is veral te lees in die ‘Onversamelde verse (1956-1972)‘. Dis ironies dat hierdie gedigte onversamel was.

 

Ek noem enkele reëls en enkele gedigte haal ek aan. Die hele gediggie ‘beatnik‘:

 

beatnik

 

sy skouers steek knopperig uit

oral slenter hy in sandale rond

hy’s ‘n krater

sy woorde is punterig

hy druk hom uit in sinne wat nou lank

dan kort is

hy versteur die reëlmaat

van almal wat hom kry op straat

of kafee

hy’s ‘n kaart  (140).

 

(Let op beelde soos ‘krater’ woorde wat ‘punterig’ is ‘versteur die reëlmaat’ ‘hy’s ‘n kaart’). Daar is nog gedigte soos ‘kliniek‘, ‘Wurm‘, ‘Viooltjiegeur‘, ‘Verveling is gebore op ‘n Sondagmiddag‘, ‘Seepunt‘, ‘See‘, ‘roeier‘, ‘ontlading‘, ‘Aand in die kafee‘.  Ek wil net, om te wys op die metaforiek, die kort gediggie ‘roeier‘ lees:

 

eers as die lem insny in die stroom

skiet die boot met ‘n vaart vooruit

en die trilling in die hout

is later onskeibaar van die hart se klop:

die spane sal gaan lê as die hart gaan staan

maar die boot gly voort in krag van die stroom

met ‘n trilling gelaai wat die hart laat klop (146)

 

Dis die metafoor van roeispaan en hart wat ander betekenisvlakke oproep

 

Om te sluit. In een van die laaste gedigte is daar aanvaarding: van siekte, pyn, en die woord wat dikwels nie wou kom nie. Maar daar is tog, miskien, vertroosting in die laaste reëls, in die wending aan die einde:

 

Oorgang

 

Eers toe dit aand geword het

en ‘n sagte reën in die lug uitsak,

het hy terruggegaan

en die seer in hom

het plek gemaak

vir stil aanvaarding;

die seun wat hy tot nog toe was

het agter in die laaste lig gesterf

en in die donker aarde vasgereën

om uit te blom

met elke lentereën    (151)

 

 

***

 

Ampie Coetzee

16 April 2011

Stellenbosch

 

 

Wilhelm Knobel

Wilhelm Knobel

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.