Onderhoud met Jasper van Zyl

Die absurditeit van die alledaagse

Jasper van Zyl in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Jasper van Zyl

Jasper van Zyl

Jasper van Zyl is in 1987 in die Paarl gebore en word as pastoriekind groot op Lambertsbaai, Kimberley en Upington, maar hoofsaaklik op Gansbaai. In 2004 verskyn sy eerste verse in Antjie Krog en Alfred Schaffer se Nuwe stemme 3 terwyl hy nog op hoërskool is. Sedertdien word van sy verse in verskeie bloemlesings opgeneem en tree hy by verskeie poësiefeeste en aanlyn-skryfskole op. Van Zyl is tans ‘n mediese student aan die Universiteit van Stellenbosch.. Sy debuutbundel, Die lewe tussen pikkewyne, het pas by Tafelberg Uitgewers verskyn.

 

 

Veels geluk met ‘n indrukwekkende debuutbundel, Jasper. Vertel ons ietsie meer oor die titel, Die lewe tussen pikkewyne? En – hoe skakel dit met die treffende omslag-ontwerp van die bundel?

Baie dankie vir die mooi kompliment, Louis. Die lewe tussen pikkewyne is ‘n aanpassing van ‘n reël uit dit is nes jy daar sê, ja, een van die gedigte in die bundel. Die titel verwys na ‘n lewensbestaan in absurditeit, eenvormigheid en navolging. Dit, glo ek, is die sentrale tema in die bundel: die absurditeit van die alledaagse.

Ek het redelik min insae gehad wat betref die omslag, maar ek dink dit slaan die spyker op die kop! Dit vang vir my die buitestaanbestaan mooi vas.

Toevallig weet ek dat jy jou tyd geneem het met die hele proses van tot publikasie kom; met die implikasie dat hierdie verse oor ‘n lang tydperk tot stand gekom het. Was dit ‘n moeilike proses vir jou om hulle tot ‘n bundel saam te bind?

Vir my is die skryf van ‘n gedig ‘n ontsaglike onderneming. Ek wens dat ek daartoe in staat was om myself ‘n “skrywer” te noem: iemand wat kan gaan sit en letterkunde uitspoeg. Maar dis nie so nie. Om te skryf is ook nie iets wat ek vir ontspanning doen nie – ek het seker bloot nie genoeg om te sê nie! Dis seker waarom die poësie vir my so aanloklik is: ‘n mens kan ‘n idee of ‘n storie of ‘n bepeinsing of ‘n droom of ‘n stukkie protes in ‘n klein pakkie toedraai.

Die meerderheid verse in die bundel is oor jare geskaaf – een van die gedigte het ek in graad 10 begin en eers laasjaar klaargemaak. Dis ‘n kouproses: ek sal ‘n gedig begin en lank daaraan peusel, tussendeur ‘n woordjie hier en daar verskuif of verander of sny. Op die ou end word die gedig iets heel anders as wat ek bedoel het. Dit behoort dus geen verrassing te wees dat die verse wat in die bundel opgeneem is, min of meer my volledige oeuvre verteenwoordig nie!

‘n Gevolg is natuurlik dat die bundel nie ‘n konsepbundel is nie. Ek glo dat die verse oor die algemeen die sentrale tema, d.w.s. die absurditeit van die alledaagse, volg, maar die saambinding van die verse is heeltemal lukraak deur my redakteur, Francois Smith, gedoen.

Jy is tans besig om jou as medikus te kwailifiseer. Hiermee neem jy natuurlik jou plek in in ‘n nogal indrukwekkende galery van digters wat hul in die mediese wêreld bevind (het). Ervaar jy dat jou studies ‘n positiewe invloed het op jou digterskap?

Iemand wys my nogal nou die dag op die groot aantal Afrikaanse digters wat uit ‘n mediese agtergrond kom – dis nogal, soos jy sê, ‘n indrukwekkende groep.

Ek het natuurlik begin skryf lank voordat ek in hierdie wêreld beland het. Maar die mediese omgewing is baie poëties, omdat jy te doen kry met die weerloosheid, angs, seer, woede en soms ook die uitbundige geluk van die mens. Verder is daar natuurlik ook ‘n heel ander dimensie aan ons bestaan in die vorm van fisiologie, mikrobiologie, farmakologie: ‘n klein wêreldjie waarvan mens omtrent niks weet nie. Die “onondektheid” daarvan boei my geweldig en ek glo dat dit wel ‘n invloed op my skryfwerk het.

In die gedig “om te keer” (p.42) skryf jy: “ek skryf nooit oor hoe ek voel nie. // my begrip is te anemies vir die bladsy / ek verwoord moeiliker as wat jy dink.” Gee ons so effense kykie na jou werkswyse? Is jy byvoorbeeld ‘n konstante digter, of werk jy sporadies aan gedigte? Skryf jy ‘n vers vinnig klaar, of werk jy lank daaraan soos hierdie aangehaalde reëls wil suggereer?

Soos ek bo genoem het, is dit vir my maar ‘n moeisame proses. Ek sal stukkies van ‘n gedig skryf en baie lank daaraan werk voordat dit volledig is. Die proses behels dikwels ernstige snywerk (gewoonlik volledige strofes) en die invoeging van ‘n woord of twee hier en daar.

‘n Gedig begin gewoonlik as ‘n strofe of ‘n versreël, dikwels geïnspireer deur ‘n liriek of selfs ‘n enkele woord. Dan begin die proses van voor af. Soos ek sê, dis nie iets wat natuurlik kom nie. Ek werk ook dikwels aan meer as een gedig op slag, wat dit nogal moeilik maak.

Jou vroegste verse het reeds in Nuwe Stemme 3 (Tafelberg, 2005) verskyn; daarna was jy ook by etlike Versindaba-feeste betrokke. Het jy dié vroeë blootstelling as positief ten opsigte van jou digkuns ervaar, of was dit iets wat jou geïnhibeer het? Anders gestel: het die verwagtings wat rondom jou vroeëre verse ontstaan het, druk op jou ontwikkeling as jong digter geplaas?

Die grootste voorreg wat jong skrywers, veral dié wat in Afrikaans skryf, het, is dat daar ‘n ontsaglike groot aantal gevestigde skrywers is wat bereid is om hulle te lei. Ek onthou byvoorbeeld, Louis, dat ek kort nadat ek in Nuwe Stemme 3 verskyn het, daar voor Protea Boekwinkel ‘n koppie koffie saam met jou gedrink het (die sigaret daar het my in groot moeilikheid by die skool laat beland!) Om kontak te maak, verg letterlik ‘n e-pos of oproep. Dis ‘n onontginde myn wat ons meer sal moet gebruik om skryftalent onder ons jongmense te ontwikkel.

Ek was destyds baie verras deur die positiewe reaksie op my verse in Nuwe Stemme 3, maar ek onthou ook dat ek heelwat (dog altyd opbouende) kritiek ontvang het. Ek was eers baie verwar deur die verskillende insette: sommiges het gedink my skryfstyl is effens aansitterig en daar was heelwat verskillende opinies rondom my vermenging van Afrikaans en Engels. Dit het vir my lank gevat om die kritiek te kanaliseer, maar wat vir my van die meeste waarde was, was dat dit my daarop laat let het dat ek self ook nie heeltemal gemaklik was met my skryfstyl nie. Tussendeur, soos ek daaraan gewerk het, het ek begin om meer positiewe reaksies te ontlok en kon ek só my voete vind en stadigaan begin lig sien.

Kortom: terwyl die proses aanvanklik redelik verwarrend was, het die geleenthede my die kans gebied om self ook krities na my werk te begin kyk – iets wat baie jong skrywers dringend moet leer doen.

Tydens jou optredes by die Versindaba-feeste het jy jou ook as musikant laat geld met pragtige toonsettings van jou gedigte. Hoe belangrik is hierdie musikale inkleding vir jou?

Musiek is vir my ‘n baie groter bron van inspirasie as poësie. Toe ek aanvanklik begin skryf het, so rondom graad ses of sewe, was die Britpop-orkeste van daardie tyd vir my ‘n sleutel om my eie gedagtes te leer fokus. Ouens soos Radiohead, Oasis, Travis: almal het ‘n manier om hul eie (baie poëtiese) lirieke perfek met hul klank te vermeng.

Ek onthou dat ek destyds Engelse lirieke geskryf het, seker maar om hierdie ouens te probeer na-aap. Maar dit was in daardie tyd dat ek op Piet Botha en ander Afrikaanse kunstenaars afgekom het (dit was in daardie tyd dat ‘n klomp baie progressiewe Afrikaanse orkeste begin werk het: Klopjag, Skallabrak, Spinnekop, Akkedis – almal jongmense wat met Voëlvry grootgeword het). Ek het dadelik geweet dat ek meer gemaklik is in Afrikaans en hierdie ouens het dit “okay” gemaak om dit te erken.

Goeie poësie is soos musiek. Ek strewe altyd daarna om my gedigte te laat “klink” soos dit gelees moet word, nes musiek gespeel word soos dit geluister moet word.

Afgesien van die afgerondheid wat jou verse kenmerk, is dit dikwels die slotreëls wat ‘n mens tref; reëls wat lank na die lees in ‘n mens sy gedagtes bly resoneer. Een so ‘n voorbeeld is die pragtige vers “geraamtes in die kas” (p.37) wat soos volg begin: “die dokter beweeg met nagskof deur die pediatriesale, / gesels met dié wat wakker lê en deel balonne uit / waar daar ‘n behoefte is”. Van dié vertrekpunt stu die vers verder tot met die volgende slotreëls: “snags lê hy stil en tel vlieërs / in sy donker wakkerte. in sy slaap / noem hy sy vrese by die naam.” Hierdie enigsins ‘oop’ einde laat ‘n mens vermoed dat hiermee ‘n benouende angstigheid mee vervleg word … Kan jy dalk hierop uitbrei?

Ek is ontsaglik verlig dat jy dink die verse mooi afgerond is. Ek dink dit is waarom ek so lank met ‘n gedig moet sit: iets vóél bloot nie reg nie, dit sít bloot verkeerd. Daarom was dit so ‘n wonderlike ervaring om met Francois Smith te werk. Francois het ‘n manier om presies dit wat skort, op die naam te kan noem. Heelwat van die afronding wat jy sien, is aan hom te danke.

Ek haat dit om my verse te interpreteer; “it defeats the purpose” vir my, soos ons in Engels sê. Maar kom ek probeer: vir my gaan daardie vers oor die vervlegging van goed en sleg, die duistere motiewe in ons goeie dade. Hierdie verteenwoordig natuurlik ‘n geweldige spanning, of benouendheid, soos jy dit noem. Ek hoop dat dit in die vers na vore tree.

In nog ‘n verrassende vers, “dit is nes jy daar sê, ja” (p.20) skryf jy: “in die begin speel jy teësinnig huis / en later leef ons heerlik tussen pikkewyne. // in ons igloe slaap ons styf teen mekaar. / ons weet nou al hoe mens hier warm word. / jy’s pragtig, jy’s yslik mooi / en jy blaas vaal rook wanneer jy buikspreek.” Kan hierdie vers gelees word as ‘n ars poetica? Die digter as buikspreker, by wyse van spreke?

Ek dink wel so. Ek dink die gedig skep ‘n baie ongewone atmosfeer en ‘n mens is half onseker wat om daarvan te maak. Dis tergelykertyd ‘n innemende prentjie, ‘n rustige aand op die see saam met ‘n geliefde en ‘n spannende, duister toneel. Dis seker soos die meeste gedigte, of hoe? Ek dink ‘n mens skep dan ‘n redelik interessante spanning deur die rol van digter op die buikspreker te projekteer: ‘n herberg in ‘n onherbergsame landskap … dis eintlik nogal ‘n mooi beskouing van die digkuns.

Jasper, om pluspunte in hierdie debuut van jou uit te sonder, is ‘n bykans onmoontlike taak, omrede daar sóveel is wat ‘n mens kan uitsonder. Een hiervan – en waarskynlik die rede waarom hierdie myns insiens een van die sterkste debute in afgelope jare is – is die totale afwesigheid van ander stemme wat in jou gedigte saampraat. Jou digterstem is gewis uniek en eiesoortig. Ook is daar die minimum aan peritekste (gegewe buite die gedig om) ter sprake. Was hierdie afwys van enige vorm van interteks vir jou ‘n bewustelike besluit gewees of iets wat natuurlikerwys ontstaan het?

Ek is mal oor interteks in gedigte, maar ek ken ook nie genoeg om dit altyd te snap nie. Ek onthou dat ons op skool Joan Hambidge se Totius behandel het. Ons onderwyseres het nogal vir ons ‘n klein boekie gemaak van die gedig, tesame met kopieë van al die gedigte van Totius waarna sy verwys. Dit was loshande die mees treffende gedig in die matriekkurrikulum. Gert Vlok Nel is natuurlik ook ‘n meester wat dit aanbetref. En jy ook, Louis!

Ek dink dat ek moontlik te veel respek vir digters het om met hulle in gesprek te probeer tree. Dis nie iets wat ek doelbewus doen nie; ek dink dis bloot ‘n geval van respek vir “outoriteit” – daai oeroue Afrikaanse motto!

Ten spyte van my opmerking hierbo, weet ek ook dat jy ‘n vurige leser van die digkuns is. Is daar bepaalde digters (plaaslik óf internasionaal) wat in die besonder tot jou spreek?

Ja, kyk, ek lees baie graag, maar ek is uiters selektief! Ek glo dat ‘n mens moet lees wat tot jou spreek, en om nie te lees net omdat jy voel jy moet nie. Ek stel nie genoeg in enigiets belang om al my tyd daaraan te wy nie – kortom: ‘n bundel moet lekkerder wees as ‘n rekenaarspeletjie of ‘n TV-program!

Ek lees baie graag Robert Frost, e.e. cummings en Alfred Schaffer op die internasionale front (sal iemand asseblief net klaarkry en Charl-Pierre Naudé betaal om ‘n bundel van sy Afrikaanse Schaffer-gedigte te publiseer!). Plaaslik is dit Charl-Pierre, Gilbert Gibson, George Weideman, Gert Vlok Nel. Danie Marais is ook besig om sterk op my te groei! Dan moet ‘n mens ook nie vergeet van die Afrikaanse “musiekdigters” nie: Bacchus Nel, Gian Groen, Piet Botha en Hunter Kennedy, om maar ‘n paar te noem.

Dankie vir hierdie geleentheid om oor jou indrukwekkende debuut te kon gesels, Jasper. Sal jy by wyse van groet dalk so vriendelik wees om een van jou persoonlike gunstelinge uit Die lewe tussen pikkewyne hieronder te plaas?

Dankie, Louis. Hier is een van my gunstelinge, avontuur:

avontuur

op hierdie dorp van ons
word dit nooit lig nie.
geen bome kan hier groei nie,
dis knaend koud.
die straatligte moet altyd brand
op die plek wat ons avontuur noem.

elke jaar, met die trek
van die nagvoëls, hou ons partytjies
tot mekaar se eer.
ons skiet vuurwerk af,
dompel slapende katte
in die munisipale swembad.

ons dra ook geen hemde nie,
net vel en been. ons kyk op,
want die lug is ‘n kalm uil
wat oor ons slapende landskap waak

en die katte jaag. ons volg
die geluide van verwilderde vlerke
wat soos klappers
oor die landskap reën 

en wie verdwaal slaap vir altyd
in die grotte, op die skerp kontoere
tussen sand en water. soos vlermuise
hang hulle onderstebo

die geraamteverkenners.

© Jasper van Zyl (Uit: Die lewe tussen pikkewyne, 2011: Tafelberg Uitgewers)

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud met Jasper van Zyl”

  1. Aangename kennis, Jasper! Eerlikwaar, hierdie is die digdebuut in Afrikaans waarna ek nog die heel, heel meeste uitgesien het. Die handvol verse wat ek deur die jare van jou raakgelees het, het my oortuig. Uit Heilna du Plooy se resensie en die onderhoud met Louis, is dit vir my duidelik dat dit die wag werd was. Die vreemdmaking in jou verse – dis waarvoor ek die lug al jare lank dophou. En kyk, nou reën dit katte en honde, wortels en rape. Op my erewoord.