0nversadig

Cloete, T.T. 2011. onversadig. Kaapstad: Tafelberg. ISBN 978-0-624-04903-6; 152 pp., prys: R175,00 

Resensent: Heilna du Plooy

 

Vloeibare filosofie

Onversadig

Onversadig

T.T. Cloete is ‘n bekende en gevestigde digter in Afrikaans. Almal wat iets weet van Afrikaanse poësie, weet van hom en ken sy werk, meer of minder goed. Sommige hou van sy digterlike styl, ander nie, sommige dink hulle kan verstaan hoe die digterlike denke in sy oeuvre werk, ander verstaan dit nie of wil nie verstaan nie. Wat mense lees en waarvan hulle hou, bly immers ‘n persoonlike reaksie en oor mooi en lekker stem niemand ooit saam nie.

 

By die lees van Cloete se jongste en negende bundelbundel, onversadig, vra ek my egter af of lesers van Afrikaanse poësie en van die poësie in die algemeen, besef hoe eiesoortig Cloete se oeuvre is. By die verskyning van sy eerste bundel, Angelliera, het D.J. Opperman gepraat van “koningskos”, dit is bekende geskiedenis, maar al ken ‘n mens die tegniek en styl van hierdie digter, bly dit die noukeurige leser steeds verstom hoe hy homself in en deur die poësie vernuwe. Dit begin by die titel as sodanig: onversadig, en dit op 86-jarige ouderdom. Nie net is die publikasie van ‘n omvattende, omvangryke  en ideëryke bundel op hierdie ouderdom merkwaardig nie, maar die inhoudelike skopus van die onderwerpe in die bundel toon dat die digter inderdaad steeds die werklikheid met “onversadigde” oë en ore, met alle sintuie en met sy totale geestelike vermoë intens ervaar en beleef en daar steeds verwondering en vreugde in vind. Alles wat hy belewe, word poësie, nou selfs meer as vroeër toe daar baie ander dinge was wat die digter se lewe gevul het.

 

Die gedagte van “onversadig” word verder uitgewerk in die gedig “die druif geel en wynrooi glansend”. In die gedig word verwys na die “Landheer” se goeie werk, van die kleinste geskape dinge tot by die skouspelagtige weerverskynsels, en hoe die Landheer die leemte wat daar nog was, gevul het met die skepping van die mens, “toeskouers wat kan waardeer/ ‘n man en vrou wat kan takseer”. Nogtans word daar iets, ‘n “On-” van die mens weerhou, volledig sal die mens nooit ken of verstaan nie. Dit is dan ook vir die digter goed dat dit so is, dat van die hele onoorsigtelike versameling appels in die boord van “Kingstar-On-weet” die meeste nog verborge gebly het. Dit hou die mens honger, dit laat hom strewe, dit hou hom aan die soek en laat hom steeds en opnuut uitreik na nuwe dinge om te weet. Hierdie onversadiging, hierdie honger, is ‘n voorreg, want daarin setel die mens se dryfkrag om uit te vind, om te ontdek en veral om hom te verwonder aan wat hy vind. Daarom sê die digter van die mens: “hou hulle/ kraaimaer en pynlik honger en gesond”.

 

Hoe vreemd aan die denke van ons tyd is dit om te vra dat die mens juis nie alles moet kry of moet hê nie, dat die mens sy beperkinge as ‘n voorreg sal sien! Hierdie gedagte dekonstrueer die vroeg-twintigste-eeuse aanname dat die mens alles kan hê of selfs het, dat alles toeganklik is, dat alles uitgevind kan (en sal) word, dat die mens alles kan en alles mag. Ons lewe in ‘n tyd van oordaad, van oorvoeding van die sintuie en die liggaam. Soveel dinge is beskikbaar en toeganklik en selfs maklik. Maar hierdie oordaad werk afstompend. Die gedig reageer dus ook op die kontemporêre opvattings van die belangrikheid van sukses en voorspoed, van die hele voorspoedskultuur wat voorgehou word as die ideaal. Elke mens sal eventueel toegang hê tot alles wat sy hart begeer, maar as die mens alles het en niks oorbly om na te strewe nie, as niks meer ontdek kan word nie, sal alles dan perfek wees? Sal dit goed of lekker wees vir die mens om niks meer te hê om te ontdek of om oor verwonderd te wees nie?

 

Hierdie selfde gedagte lê ten grondslag van “fragmente van die onvolledige gedig” waarin die siening verwoord word dat alle skeppingsdinge in hulle uniekheid en kunstige samestelling as gedigte beskou kan word (vgl. in hierdie verband ook die bekende gedig “God die digter” uit Jukstaposisie, 1982). Geen gedig kan egter alles insluit of omvat nie en omdat die heelal volgens wetenskaplikes voortdurend steeds uitdy, kan selfs hierdie gedig van die fisiese werklikheid nooit voltooid wees nie. Geen totaliteit sal dus ooit verwoord of omvat kan word nie. Dinamiek en groei en beweging is inherent deel van die heelal én van die mens as onderdeel daarvan. Die pragtige vers “Net één” bevat ‘n lewenscredo waarin bemoediging en aanmoediging maar ook ‘n waarskuwing opgeslote is. Die mens moet en kan geniet van alles, hy moet sy lewe waardeer en elke oomblik uitbuit, maar oordaad liefs vermy:

 

“Jy kry net één lewe. Net één.

Versorg en koester dit,

vier dit en vind daar vreugde in.

… Kom liefs tenger

onversadig en honger

maar voldaan terug.”

 

Die bundel is ingedeel in 13 onderafdelings, waarvan drie benoem is, afdeling 5 (“saamsing”), afdeling 7 (“kardoes”) en afdeling 10 (“L’amor che move il sole e l’altre stelle”).  Die afdelings is egter nie afgeslote of onverbonde groepe nie en sluit subtiel by mekaar aan om ‘n deurlopende betoog te vorm. Hoe dieper ‘n mens lees, hoe meer kom jy agter hoe die gedigte in die bundel op veelvuldige maniere aan mekaar koppel. Mens sou kon sê dat die verse in die bundel oor baie onderwerpe handel, maar tog almal familie van mekaar is (wat Cloete se eie manier is om die verband tussen gedigte te beskryf). Baie van die gedigte sou op meer as een plek in die bundel kon inpas en daar is ‘n onderliggende deurlopende gesprek oor die vorme en aard van die lewe en van menslike ervaring. Juis in die aangesig van die dood word die lewe in sy onvolmaakte volheid al hoe kosbaarder en daarom word dit meer intens waargeneem en ervaar.

 

Die bundel begin met vier gedigte wat met vorme van menslikheid gemoeid is. Helen Keller en Helen Martins, met haar uilhuis, was beide uitsonderlik in hulle menslikheid. Liggame wat fossileer in die aarde vertoon ook steeds menslikheid. Twee ander spesifiek menslike eienskappe kom in hierdie afdeling aan die orde, naamlik die mens se vermoë om te treur en te huil en die mens wat praat of meer spesifiek, die mens wat taal tot poësie skik.  Die gedig “stilhuil” eindig met ‘n besonder sterk beeld van smart, daardie diep smart wat jou laat huil in stilte, wat die uiterste kwesbaarheid inhou en as ‘n verblindende maar ragfyn fisiese pyn manifesteer:

 

stilhuil laat in die boom van jou are

deur jou lyf ragfyn strak

staande ‘n gloeiende gestolde weerlig vertak

 

Die volgende afdeling handel oor die “Landheer en pagters”. Die “blitsvinnige Landheer Skepper slaak/ uit ‘n leë niks alle bestaan in ‘n kitsoogwink” terwyl die pagters wik en “traagdink” en poleer sonder om in enige vergelykbare mate sukses te behaal. Die gedagte van die reddende waarde van onversadigbaarheid word in hierdie afdeling voortgesit. In die gedig “die eenvoud van die eenvoudiges” word die leë selftevredenheid van sommige mense, diegene met ‘n cv “so netjies verdig/ dat dit inpas in ‘n grafskrif”, vergelyk met die onversadigdes wat weet dat hulle steeds soekende sal wees, steeds sal uitreik na die ontbrekende. Hierdie lewensuitkyk word dan ook gesoek in historiese figure en historiese omstandighede in afdeling 4. Die vraag is of die mens nie eers in die dood iets van sy ideaal bereik nie: “Haal ons die ideaal …dan volmaak alleen/ as ons ophou asemhaal?” 

 

In die afdeling “saamsing” is die digter intertekstueel besig. Dit gaan egter nie net daaroor dat hy ander tekste aanhaal om ‘n eie teks te laat eggo nie. In “swerwende verse” kom die intertekstuele verbande tussen antieke tekste in herdigtings en omdigtings na vore. In hierdie reeks gedigte word akademiese kennis en insig in digterlike formaat aangebied. Cloete het naamlik agtergekom dat daar sterk ooreenstemmende beeldspraak in verskillende beroemde antieke tekste uit uiteenlopende tradisies voorkom, onder meer in die Bybelse Psalms, in Akhenaton se “Himne aan die Son” en “Himne aan Aton” asook in die “Canticle of the Sun” van Sint Franciskus. Hy dig gedeeltes uit hierdie tekste om en wys hoe dieselfde gedagtes en beelde gebruik word, maar hy voeg daarby die kommentaar van Vagebond 1, 2 en 3, wat natuurlik gestaltes van die digter self is. In hierdie kommentaar lê hy verbande tussen die antieke gedagtes enersyds en sy eie bestaan en die bestaan van die mens en ander lewensvorme andersyds. Hy sluit die reeks af met die gedagte dat gedigte ook ander gedigte oproep soos die een dag die volgende roep waarmee die band tussen mense en kunstenaars van alle tye gesuggereer word.

 

Die afdeling bevat meer intertekstuele gesprekke met ander Afrikaanse digters, maar die ander merkwaardige gedig in die afdeling is  “Achilles se skild”. Die gedig beskryf die uitvoering van die taak wat Hefaistos opgelê word om vir Achilles ‘n skild te maak. Die hele proses van die maak van die skild word beskryf, maar ook dit wat op die skild uitgebeeld word. Cloete volg hierin sy bron, naamlik Homeros se Ilias en spesifiek Boeke 18 en 22, taamlik noukeurig, maar deur slim woordkeuse word daar subtiele kommentaar in die gedig ingebou.

Die skild van Achilles is ‘n representasie van ‘n hele werklikheid en al die aspekte van die menslike lewe, die skoonheid, die vrugbaarheid, die heerlikhede en die wreedheid. Cloete lê in die eerste gedeelte baie klem op Hefaistos se gebreklike liggaam: hy is “die hinkende horrelvoet Hefaistos”, “die krom kreupele” op sy “tenger hoepelbene”, maar ook op Hefaistos se kunstenaarsingesteldheid: hy weet as hy behendig is en as hy geduldig en langsaam sy werk verrig, daar iets moois tot stand sal kom.

Die gedig is ‘n ekfrastiese gedig soos wat Homeros se beskrywing van die skild ook ekfrasties ‘n visuele kunswerk in taal representeer, maar Cloete se hantering maak van sy gedig nie net ‘n her-representasie van die skild nie, maar ook ‘n toevoeging tot sy eie verkenning van die temas van krag en swakheid of onvolkomenheid en gestremdheid, asook van die funksie van die kuns en die kunstenaar wat juis nie sterk is nie, maar tog invloedryk. Ek dink hier aan die progressie in “toepassings van dante” in Idiolek (1986) waar die uitbeelding van skoonheid gekontrasteer word met die wanstaltigheid van bepaalde duifsoorte, en die suggestie dat kuns vormgewing is en as sodanig goed in die oë van die m(M)aker. Daar is in Cloete se oeuvre ook ‘n hele aantal verse oor ander gebreklike kunstenaars soos Toulouse-Lautrec, Saint-Saëns en Beethoven (vgl. “bukse”, in Driepas, 1989:75). Daar is ook gedigte oor die digter self waarin hy homself in sy kreeftegang beskryf, hoe hy voor God in sy gestremdheid en pyn huppel (vgl. onder meer “refraksie”  en “artropatie” in Idiolek, 1986:44 en 50). Die belangrikheid van die kunstenaar kom ook herhaaldelik aan die orde byvoorbeeld in die gedig “beethoven 2” (Cloete, 1986:112):

Hy het vir ‘n molto adagio
beethoven aan die lewe gehou

God het vir ‘n a-mineur
Hom aan beethoven gesteur

 

Cloete wil dus via Homeros se beskrywing van die maak van Achilles se skild iets sê oor die mens, oor hoe voortreflikheid en wreedheid, kuns en oorlog, die beste en die slegste in die mens juis onvoorstelbaar na aan mekaar lê. Cloete plaas klem op wat uitgebeeld word in die skild en as omdigter suggereer sy woordkeuse dat wat Hefaistos gedoen het, was “om ons ontglippende dubbele menslikheid/ in een stuk te smee”.

 

Hierdie uitbeelding van ‘n hele werklikheid geskied ook by implikasie in die bundel self wat gedigte oor ruimtereise en die “die siermotiewe van die smerige vlieg” langs mekaar plaas en in die afdeling “kardoes” kleiner gedigte saamgroepeer soos wat bont lekkers in ‘n tuitgedraaide bruinpapierkardoes saamlê.  Van die grootse gedagtes en ruimste sirkels af kom die digter ook uit by die eietydse Suid-Afrikaanse werklikheid en selfs die Dakar tydren word ‘n gedig. In al die gedigte bly die besinnende digterstem die agterliggende begeleiding sodat uitbeelding en kommentaar poëties versmelt.

 

In die volgende twee afdelings het die digter dit oor die liefde, eers oor “die liefde wat vriendskap heet” en die komplekse vorme van die weemoed oor mense wat nie meer daar is nie, en dan die pragtige afdeling “L’amor che move il sole a l’altre stelle”. Dié afdeling staan onder die titel van die slotreëls van Dante se “Die Paradys”, die derde deel van La Divina Commedia: “deur die Liefde wat die son en die ander sterre beweeg”.

 

Die gedigte handel oor die afskeid en dood van die geliefde vrou, die lewensmetgesel van baie jare. Die gedigte verwoord wat eintlik onmoontlik is om verwoord te word; die smart, die verslaenheid van smart en die pogings om deur herinneringe ervarings te besweer. Die digter beskryf hoe hy uitstappies wat vroeër gedeelde ervaring was, weer onderneem:

 

het sy my ontval

my duifie sonder gal

sy het in ‘n ondeurdringbare wakkerland gaan bly.

Soms het ek die ou roetes daarna

verdwaas uit die dorp oor en oor gery

en asof dit ‘n uitkoms inhou in my wanhoop

 

Die digter sien drie troupante op ‘n plek waar hierdie voëls gewoonlik nie aangetref word nie en wonder: “vlieg jy in een van hulle rond miskien”. Hy ry ook weer terug na die plek maar weet:

 

…hoe maak

ek met ‘n troupant ‘n afspraak

 

vir wie moet ek kwaad

word vir ‘n hand vol reënboogvere se verraad

 

Die afdeling sluit af met ‘n gedig wat suggereer dat geen kunstenaar nog ooit met sy kuns werklike gemis kon transendeer nie: geen pigment kan “skryn” weergee nie, geen leemte kan toegemaak word deur “ondigte geperforeerde taal” nie en die klanke van die komponis verloor “hulle afsonderlikkende simf”. 

 

Desnieteenstaande kan die digter ‘n mate van rus vind in die groter beeld van ‘n lewe en die omvattende werklikheid. Hy kan weer luister na die voëls en weet: “inskiklik/ lê ek my by die pynlike soet/ van die stadige sterflikheid neer”. Hy staan soos ‘n bonsai “klein maar droom”, en beskryf ‘n wonderlike plek, daardie plek waar “ons almal … daardie einde (sal) haal”.

 

‘n Bundel soos hierdie waarvan ek slegs ‘n saamgetrekte oorsig kon gee, is ‘n omvattende leeservaring – dit is nie kitsleesstof of iets waarmee ‘n uurtjie gevul word nie. Dit is ook eintlik by herlees wat ‘n mens eers ten volle begryp hoe kompleks elke gedig is, hoe sorgsaam die verwoording, die sintaksis, die tipografie en die klankpatrone ingespan word om die mees subtiele suggesties vas te vang. Vir ‘n digter soos T.T. Cloete is die skryf van gedigte ‘n natuurlike uitvloeisel van sy lewe en as sodanig bestryk die gedigte ‘n uitgebreide intellektuele en emosionele register. Hy is en bly eenvoudig “a poet’s poet” want mededigters staan telkens opnuut verwonderd oor sy virtuositeit en vindingrykheid ten opsigte van sowel tematiese as tegniese aspekte van die poësie.

 

In die slotgedig gee die digter self ‘n aanduiding van sy digterlike soeke en waar hy hom tans bevind. So word die noue verband tussen lewe en vers geïllustreer:

 

met gevou en gepas het ek gesoek

in ‘n verskietende lang moeisame verlede

waar ek inpas en langsaam het ek tuisgekom

in die deursigtige tent van my ouderdom

 

Die gedagtegang in onversadig is verreikend en steun op die kulturele arsenaal van ‘n belese en beleë persoonlikheid en ‘n skerp assosiatiewe brein. Daar word in gesprek getree met kerntekste uit die Westerse verlede, maar ook met ander Afrikaanse digters. Daar word kommentaar gelewer op die mens in die geskiedenis en op die mens van vandag in sy besige bedrywighede en vermaak. Hierdie poësie is nie ‘n versameling lukrake verse nie, dit is die verslag van ‘n denkwyse, dit representeer die deurlopende digtende aard van ‘n lewe en die dinge wat in daardie lewe gebeur en waaraan daardie lewe raak. Dit gaan hier nie net oor goeie en voortreflike poësie nie, hoewel dit weldeeglik deur ‘n studie van die tegniese aspekte van die gedigte aangetoon sou kon word. Dit gaan om ‘n soort poësie wat ‘n mens vloeibare filosofie sou kon noem, poësie wat denkend is, wat gedagtes wakkermaak en voed, maar steeds in taal wat oopmaak, wat dinamies is, wat ‘n vloeiende denkproses ondersteun en voortgang bewerkstellig.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.