Leon Retief. Voëlkyk in Saskatchewan

Lente het hier amptelik op 20 Maart aangebreek. Nou goed, ons weet almal dat die klimaat wat mens met ʼn spesifieke seisoen assosieer nie altyd op die amptelike eerste dag van daardie seisoen begin nie, maar hier daag die lente beslis maar sleepvoet op…

 

Eerste dag van die lente in nabygeleë Regina

Eerste dag van die lente in nabygeleë Regina

  

ʼn Beter aanduiding van die wisseling van seisoene hier is die kom en gaan van voëls, waarvan daar meer as 270 spesies in die prêrie is. Wanneer die bome se eerste blare begin verkleur is dit asof daar ʼn onrustigheid by die voëls begin posvat. Seemeeue, waarvan daar baie in Moose Jaw is (1400 km van die naaste oseaan) kry gewoonlik eerste die wanderlust en sommer vroeg in die herfs sien mens hulle in hul derduisende op die groter winkels se parkeerterreine saamdrom. Eendag is hulle net eenvoudig weg, elke iedere een van hulle, al wat oorbly is ʼn parkeerterrein vol voëlmis en ʼn paar wit vere wat lusteloos in die herfswind rondwaai.

Volgende om te vertrek is die Kanadese ganse (seker die regte Afrikaans vir Canadian geese, Branta canadensis) en sneeuganse (Chen caerulescens).

 

Sneeuganse

Kanadese ganse

Sneeuganse

Sneeuganse

 

Hierdie is natuurlik watervoëls en wanneer die winter naderkom begin hulle ook in groot troppe vergader. Anders as die seemeeue besoek hulle nie parkeerterreine nie maar vorm groot troppe in die nabygeleë mere waar hulle druk vlugplanne en weersomstandighede bespreek. Kort daarna begin hulle vertrek, anders as die meeue is hulle nie eensklaps weg nie, hulle vertrek so stuk-stuk in enorme groot V-formasies wat soms duisende voëls bevat en wat al snaterend oor Moose Jaw vlieg.

Die mees verstommende migreerders is die suikerbekkies (hummingbirds). Hierdie klein voëltjies, waarvan daar verskeie spesies in Saskatchewan is, oorwinter so ver suid as Panama en sommige oorkruis selfs die Golf van Mexiko, ʼn ononderbroke vlug van ongeveer 800 kilometer. Voor hul migrasie begin eet hulle soveel moontlik sodat hulle gewig toeneem tot ongeveer 6 gram, wanneer hulle hul suidelike bestemming bereik het hul gewig afgeneem tot ʼn skrale 2,5 gram.

Die enigste voëls wat nie migreer nie is die LBJ’s (Little Brown Jobs soos hulle deur voëlkykers genoem word). Hulle is die hele winter hier teenwoordig, waarvan op aarde hulle leef weet ek nie. Al wat ek kan dink is dat hulle skuiling en voedsel vind in die Jackson Pines, nie-bladwisselende bome waarvan daar  baie in die omgewing is. Geen Kanadees kon my nog hieroor inlig nie.

Little Brown Jobs

Little Brown Jobs

Die omgekeerde is natuurlik ook waar – wanneer die lente sy stadige aantog begin sien mens die eerste ganse oor die dorp vlieg, aanvanklik net in klein groepies van vier of vyf, later weer die massiewe troppe wat ʼn paar maande gelede suidwaarts vertrek het. Die eerste aankomelinge se gedrag is altyd vir my so effens komies – hulle gaan land in nabygeleë Buffalo Pound Lake en in Nicolle Flats, ʼn natuurreservaat ʼn ent buite Moose Jaw. Met hul aankoms het die wateroppervlak nog nie ontdooi nie en hulle trap so half vererg op die ys rond en snater asof hulle hoogs geïrriteerd is omdat hulle nog nie kan begin seem en nes bou nie.

En dit gee aan my die verskoning om een van Glen Sorestad se gedigte te plaas.

 

Early Arrivals

 

Look at them standing there. Even from this distance

observe the sheer puzzlement in their demeanour.

 

Two stand together there, another pair close at hand;

farther away, a straggler wandering off by itself,

 

lost in its own soliloquy. They all inch along,

tentative as octogenarians, carping, no doubt

 

concerning the pond’s unacceptable condition,

the thick ice layer beneath their webbed feet.

 

It is March and the Canada Geese are back,

prepared to get on with their life work of nests,

 

eggs, and the raising of goslings, who will,

in turn, take their place here a future March.

 

The essential ingredient lacking from their

home-making agenda — water. So here they stand,

 

muttering to one another, perhaps discussing

alternative strategies, possible new nest locations.

 

They edge out across the ice, purposeless

as movie extras shown up on the wrong set.

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.