As die woorde begin droom

As die woorde begin droom. ‘n Keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel. Saamgestel deur Johann de Lange. 2011. Bel Monte Uitgewers. Prys onvermeld. ISBN 0-620-48688-0.

 

Resensent: Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Omslag

Omslag

Wilhelm Knobel se voortydige oorlye in 1974, op 39-jarige ouderdom, is as ‘n gevoelige verlies vir die Afrikaanse letterkunde ervaar. Belangrike letterkundiges soos J.C. Kannemeyer en André P. Brink het destyds getuig hoe treffend sommige van sy verse en versvertalings vir hulle was.

Intussen het Knobel as digter ietwat in die vergetelheid geraak, ten spyte van twee waarderende artikels oor hom deur mede-digter Phil du Plessis wat onderskeidelik in 1985 (in Beeld) en 1995 (in Die Burger) verskyn het. Sowel Kannemeyer as Heinrich Ohlhoff en Helize van Vuuren sonder – in hul onderskeie, kort oorsigte oor Knobel se werk in Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 en in Perspektief en profiel. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis (deel 2, 1999) – slegs sy lykdig “Elegie” uit vir enkele waarderende opmerkings. Saam met dié gedig verskyn net nog drie ander van Knobel in André P. Brink se omvangryke, driedelige samestelling van Groot verseboek van 3 jaar gelede.

Knobel se jongste broer, Deon, het enkele jare gelede egter as die handhawer en bevorderaar van dié Sestiger-digter se nalatenskap na vore getree. Hy het voordragprogramme uit sy oorlede ouboet se woordkuns saamgestel en by verskeie kunstefeeste opgevoer. In 2005 het ‘n eiehandige uitgawe van Twee siklusse gevolg, wat twee gedigreekse uit die digter se debuut, Bloedsteen (1966), bevat het. (Waar slegs ‘n drietal “grepe” uit die tweede siklus, “Bloedsteen”, in die gelyknamige debuutbundel verskyn het, is dit in sy geheel in Twee siklusse opgeneem.)

Met As die woorde begin droom, ‘n keur uit Knobel se ganse oeuvre, word hierdie ‘restourasiewerk’ volledig gemaak. In opdrag van Deon Knobel is die keuse deur Johann de Lange gedoen en die bundel saamgestel ter herdenking van die oorlede digter se vyf-en-sewentigste geboortedag verlede jaar.

Nie slegs ‘n ruim keur uit die gepubliseerde bundels (die genoemde Bloedsteen en dan Mure van mos uit 1970 en Nagelate gedigte uit 1976) is opgeneem nie; afdelings IV en V bevat ook ‘n vyf-en-dertigtal “[o]nversamelde verse (1956-1972)”, ‘n sewetal Afrikaanse vertalings van Jules Supervielle-gedigte deur Knobel (met, om moeilik begrypbare redes, nog een deur Phil du Plessis daarby), asook agt-en-dertig Engelse omsettings van Knobel-gedigte deur ‘n verskeidenheid vertalers, waaronder Deon Knobel en die digter self.

Die samestelling is mooi uitgegee. Dat die oog daarmee ook gehou word op ‘n moontlike herwaardering van Knobel se plek in die Afrikaanse poësiegeskiedenis, spreek uit die aanhalings wat die drukwerk op die omslag en sy binneflappe deurspek. Vergelyk:

 

Hierdie versamelbundel van Wilhelm Knobel sal beslis die aandag weer opnuut op hom vestig as digterlike herout van Sestig nog voordat Ingrid Jonker en Breyten met hul vrye verse gekom het.

  • John Kannemeyer, persoonlike mededeling 24 Junie 2010

 

Voor mij is hij een van de indrukwekkendste Zuid-Afrikaanse dichters uit de tweede helft van de twintigste eeu (sic) … een dichter als Knobel laat je niet los, je keert steeds opnieuw naar zijn werk terug. […]

  • Gerrit Komrij, NC Handelsblad (sic), 20 April 2000

 

Juis om hierdie rede is dit myns insiens jammer dat nie veel strenger in die keuringsproses omgegaan is met Knobel se werk nie. Die volledige publikasie van die “Bloedsteen”-siklus in Twee siklusse het al getoon dat die herhaalde kritiek oor die amorfe, prosaïese en derhalwe poëties spanninglose indruk wat ‘n groot deel van sy gepubliseerde gedigte maak, des te geldiger is ten opsigte van sy (voorheen) ongepubliseerde werk.

In meer as een gedig het Knobel gereageer op hierdie soort kritiek. ‘n Voorbeeld uit Nagelate gedigte:

 

        So pas het ek geboorte gegee aan ‘n

                    Gedig

        selfvoldaan gee ek dit aan ‘n kollega

                    vir waardering

        sonder verdere omhaal

        skeur hy dit uitmekaar:

        dis sonder die nodige ekonomie

        en eenvoud

        en nuutheid geskryf

en duidelik prematuur

sal ek dit pynlik herskryf

en voorlê vir kritiek

of dit nou al stukkend skeur

en in die snippermandjie gooi waar

dit hoort

wat stront [sic].

 

Miskien sou Knobel ietwat ongemaklik gevoel het oor die kolligwerpery op alles wat hy nie self vir publikasie geoutoriseer het nie?

Die feit dat die skryf van verse – die kreatiewe aktiwiteit daaraan verbonde – deur Knobel gesien is as ‘n soort teenvoeter vir die bipolêre geestestoornis waaraan hy gely het, laat ‘n mens vermoed dat dit nie altyd net estetiese oorwegings was wat hom laat skryf het nie. Vergelyk die volgende twee gedigte uit Bloedsteen:

 

        Aan die kritikus

 

Ek hoor jou al sê

met seker kennis

en gewigtig

“Maar die Vorm …”

En wat kan ék sê

arme digter

ek weet so min van prosodie

en voel net hoe hort my bloedstroom deur die heffings

en keer dat die krag nie dalk

onverhoeds

êrens opdam nie:

dit mag katastrofies wees

en nie nét vir my vers nie …

Dag.

 

 

                 Weer aan die kritikus

 

– Hoe kan jy so seker wees jy herhaal jouself nie?

– En wie’t miskien gesê ek is seker?

die woorde herhaal ek, ja,

tot die woorde meer word as die woorde

dinge, kole, wat brand deur brein en hand

mý dalk nog brand

in my sagtheid, wie weet?

– maar wié wil weet?

– Kén ek jou sluwe stem nie?

Trap! of ek brand jou

brand jou met kole van Bloedsteen

dat jy wéét!

 

Daarom ook dat die belydende element so voorop staan in die meeste van sy gedigte – dat talle van hulle in briefformaat geskryf is, of herinner aan dagboekinskrywings (anekdotes, portrette en sketse, vasgelegde stemminge en indrukke). ‘n Groot aantal gedigte in As die woorde begin droom is byvoorbeeld titelloos.

Trouens, in een so ‘n titellose (plek-plek ietwat troebel geformuleerde) gedig uit Nagelate verse identifiseer Knobel hom uitgesproke met die gevoelsuitstorting en belydeniskuns van die Dertigers (in opposisie tot die objektiverende beeldingsvers wat deur die werk van byvoorbeeld D.J. Opperman en die ietwat latere Ernst van Heerden gangbare munt in die Afrikaanse digkuns geword het):

 

Dat dit sieklik is om te skryf oor die hart

word deur die meeste tydgenote streng beaam

Maar skryf oor die broos glas

wat gehoorsaam tril as die vinger dit tik:

dis genoegsaam indirek om die jongste resensent

se oor simpatiek in dié rigting te neig

En skryf oor die lyf

van die koel sinlikheid van Dertig

en die ewige roering van wier en vin gestroop

word vir die nuwe direktheid luidkeels geloof

 

Hoe sal ons die hart en die liggaam ooit weer paar

as die hart in die rilling van glas verstar

en die lyf in siddering van saad vervloei?

 

Belydenisse hoef natuurlik nie taal sonder poëtiese spanning te wees nie, en Knobel demonstreer dit met onder meer ‘n evokatiewe persoonlike herinneringsvers soos die volgende (uit Mure van mos):

 

Herinnering

 

Snikheet hang die middag oor die plaas

die geknars van die windpomp is stil

en geen luggie roer in die koring nie

verdwaalde skape skuil in die koelte van die boord

en knabbel af en toe aan die afgevalle perskes

In die groen wilgers voor die agterdeur klim kinders rond

Sien kan ‘n mens hulle nie

maar hulle skaterlag en gesels

val uit die ruigte soos ‘n vrolike spruit

of meng met die koel gekoer van die duiwe

Dan is alles skielik stil

as ‘n turende figuur in die kombuisdeur verskyn

en ‘n vrouestem roep “Marié, Rinie, Wilhelm!

Waar is die kinders tog?”

Dan as sy stap in die rigting van die windpomp en dam

waar die meidjies hulle voetsole met ‘n sandklip skuur

word die stilte in die bome nogeens onderbreek

en een vir een val die kinders uit die bome

oorryp lemoene in ‘n ontydige herfs[.]

 

Tel ek mý keur van treffende gedigte uit die Knobel-oeuvre, met verrekening van dié wat gebloemlees is in Ronel Foster en Louise Viljoen se Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 (1997), in die Nederlander Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte (1999) en in Brink se genoemde Groot verseboek-samestelling, kom ek by ‘n bietjie meer as drie dosyn gedigte uit wat myns insiens oortuigend bewys waartoe Knobel in staat was.

Dit is al ‘n prestasie wat nie gering geskat mag word nie, al sou ‘n mens nie Knobel op grond daarvan ‘n groot digter wou noem nie. Voeg hierby sy vroeë bydrae, alreeds in literêre tydskrifte in die middel-vyftigerjare, tot die vestiging van die vryevers as vormeksperiment van voorkeur onder die Sestigers (waarskynlik onder die invloed van die Nederlandse Vyftigers), en dis duidelik dat Knobel, minstens literêr-histories, ‘n stewige plek in die Afrikaanse poësiekanon beklee.

Dís wat hierdie keur deur Johann de Lange onderstreep. 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.