Onderhoud met M.M. Walters

Braille-briewe vir diegene wat nie wil sien nie

MM Walters in gesprek met Louis Esterhuizen

 

M.M. Walters

MM Walters

M.M. Walters is in 1930 op Moorreesburg gebore en matrikuleer aan die Hoër Jongenskool Wellington. Hy studeer aan die Universiteite van Kaapstad en Suid-Afrika en doseer Afrikaans en Nederlands aan die Graaff-Reinetse en Paarlse Onderwyskolleges en die Universiteit van Kaapstad. Walters woon in Simonstad.Sy eerste gedigte is in Standpunte gepubliseer en later saamgevat in die bundel Cabala, waarvoor hy die Eugène Marais-, Ingrid Jonker- en W.A. Hofmeyr-prys ontvang. Daarna volg nog vyf digbundels waarvan die laaste een Satan ter Sprake is. Walters publiseer verskeie dramas, waaronder Die vroue van Kores en Die wingerdstok sal rank en die bundel satiriese essays, Saturae.Benewens vertalings uit Vergilius, publiseer Walters ook Shi-ching: Liedereboek (2003), ‘n keur uit die Chinese poësieskat, en Aki no kure: Herfsskemering (2006) uit die Japannese digkuns. Walters publiseer ook drie koffietafelboeke met gedigte en foto’s uit die streke van die Swartland en Weskus.

Mnr. Walters, eerstens van harte geluk met ʼn besonderse toevoeging tot u reeds indrukwekkende oeuvre. Daar u met Braille-briewe  in die styl van die Romeinse digter, Juvenalis, skerp kritiek in die vorm van briewe lewer, is die eerste vraag voor die hand liggend: Waarom Juvenalis as voorbeeld neem?

Die digters wat deur hul praktyk die vorm en karakter van die vers-satire uitgebou en vasgelê het, was Ennius, Lucilius, Horatius, Persius en Juvenalis. Decimus Juvenalis (60 – 130 nC) is dalk minder bekend as sy voorgangers uit die klassieke tyd, maar tog die een by wie ek die meeste aanklank vind. Miskien is dit die velheid van sy kritiek, die ergerlikheid waarmee hy te velde trek teen ʼn groter verskeidenheid mense en dinge, sy handhawing van die verskeidenheidsbeginsel, sy bytende humor en die moraliserende aard van sy satires.

Die titel van u bundel vind ek besonder ryk aan resonansie. Vertel egter wat die titel alles vir u impliseer?

Ek is bly jy hou van die resonansie. Ek self is ook lief vir die weer-klank in die poësie. Enige kritikus sal seker opmerk dat die satires bedoel is vir die blindes, of dié wat nie wíl sien nie.

Eweneens fassineer die opdrag voorin my. Dit lees: “Opgedra, ter afskeid, aan Juvenalis”. Waarom “ter afskeid”?

Terwyl die vers-satire as kunsvorm hopelik sal bly voortbestaan, sal dit nie die geval wees met die satirikus nie. Stof tot stof! Een of ander tyd moet ʼn mens seker die pen neerlê en “tot siens” sê. Met die tikkie ironie: Ek dink dis die eerste versameling klassieke vers-satires in Afrikaans.

Die bundel bestaan uit dertien ope briewe, gerig aan onder andere “die Groot Onbekende”, “Arnoldus Pannevis”, die “Heilige Augustinus” en vele ander. Is daar ʼn rede waarom daar presies dertien briewe is?

Nee, ek heg nie besondere betekenis aan die syfer nie. Juvenalis se bundel bestaan uit 16 satires en dit maak die bundel effens lywig. Daar is ook ander satires wat ek kon insluit, maar ek het gedink die bestaande is voldoende.

Nog ʼn ander interessante verskynsel is dat u elke brief met ʼn naskrif sluit. Wat is die belang van dié naskrifte, volgens u?

Die naskrifte is maar soos oral anders, ʼn addisionele gedagte. In die verssatire kan dit egter ook, soos in Satire 2, “skoorsoekerig” gebruik word.

Die bundel open met ʼn brief aan “die Groot Onbekende”, ʼn vers waarby die hele galery van antieke gode betrek word. Die bundel sluit eweneens met ʼn brief aan “die ou Gode” waar heelwat van die openingsbrief se “gode” uiteraard weer teruggevind word. Die leser vermoed dus dadelik dat daar ʼn bepaalde ontwikkeling van die eerste brief na die laaste plaasvind. U kommentaar?

Nie juis nie. Miskien is dit maar ʼn geval dat die mitologie en die gode wat daarin ʼn rol speel, in beide satires, die 1ste en die 13de, na vore kom. En dat selfs die Noorse gode hulle ewebeeld in ons geskiedenis het.

Nog ʼn ironiese spel wat u in dié bundel speel, is die manier waarmee u elke brief afsluit met “Jy weet wie”, of “U weet wie” soos by die eerste brief. Nietemin, met die laaste brief , gerig aan die “Ou Gode” wyk u van dié patroon af wanneer u dit afsluit met “Hulle weet wie”. Lees ek reg dat hierdie ʼn mate van identifikasie met die “ou gode” en distansiëring met die “nuwe gode” impliseer? Na wie versy die “hulle”, met ander woorde?

Die spreker of skrywer in die meeste van die satires word nie genoem nie omdat die aangesprokenes hulself in “die hemel” bevind. Verder is die verskil in die gebruik van die aanspreekvorms “u” en “jy” seker duidelik – hoewel die hoeflike “u” meer en meer besig is om in Afrikaans te verdwyn. Die “hulle” van Satire 13 dui miskien daarop dat die satire nie direk “aan” hulle gerig is nie, maar “oor” hulle gaan.

In die slotbrief, gerig aan die “ou Gode” vind ʼn mens die volgende treffende reëls wat op Balder, die goeie god van die suide, betrek word:

Toe het Balder, die goeie god van die sagte suide,

geweet dat die sterfte in die wolke hang.

Die suidelike horing van sy land wat ver

uitsteek, omspoel word deur warm strome,

waar berge, vangnet van klam winde,

blink watervalle maak wat pêrel, stort

in groen valleie diep en vrugbaar, sy land

sou ys word, ongenaakbaar hard en dood.

Hierdie – en ook vele ander – dui op ʼn redelik somber ingesteldheid. Tog vind ek te midde van die kritiek wat op soveel instansies (en figure) gelewer word, ook ʼn versugting na iets meer hoopvol. Lees ek reg, of is optimisme onvanpas in dié verse?

Die slotverse van Satire 13: “Net die winde het gewaai / oor die skemerte van die gode”, verraai seker dat die satire gebaseer is op die “Götterdämmerung” met sy “Walkure”, “Asgard”, “Fimbulvetr” en “Ragnarok”. Dan word dit seker ook duidelik dat die Noorse mitologie hom weer afspeel aan die suidpunt van Afrika. Iets wat soos jy sê “redelik somber”, of soos die PS sê “‘n hartseer verhaal is”.

Die volgende reëls, geneem uit die ope brief aan “die nuwe Doktorandus”,  is myns insiens ʼn belangrike sleutel tot die tematiek van die bundel. Sou u met so ʼn siening akkoord kan gaan?

Stadig en pynlik, pynlik stadig wen die mens

aan insig en begrip, verdwyn ou gode uit hul kastele.

Maar die teoloë kou kaiings,

wil steeds Esegiël speel met ou beendere.

 

‘n God wat eerlik is, sal nog die heerlikste

skepping wees van die mens se vrugbare verbeelding –

eenvoudig en opreg en met die nodige erkenning:

Geen God het ooit iets geskryf nie.

Daar is geen goddelike tekste om na te vors nie.

 

Heeltemal. Miskien is dit ʼn weer-klank van die gedagte wat verwoord is in die PS van Satire 1.

Mnr. Walters, u digkuns word uiteraard gereken as ʼn volgehoue satiriese (selfs ironiese) kyk na bepaalde aktualiteite. Is u van mening dat die digkuns (steeds) ʼn belangrike rol het om in dié verband te speel?

Sekerlik. As ʼn mens kyk na die positiewe rol wat die satire deur die eeue gespeel het, dan kan ʼn mens slegs hoop dat die satirikus en die satire nooit sal verdwyn nie. Die satire was natuurlik nooit gewild nie. Juvenalis is vir sy satires 7 jaar uit Rome verban na Egipte. Ook ek is al vergelyk met die magte van die hel!

ʼn Laaste vraag: Is dit moontlik om ʼn vers onder die dertiental “briewe” uit te sonder as een wat aan u as digter ʼn besonderse gevoel van tevredenheid verskaf het? Indien wel, hoekom juis dié vers?

Moontlik Satire 11, gerig aan die Nuwe Gode. En dan miskien oor die sterk rol wat die ironie speel (selfs die aartsengel dra sy naam!!) en die kritiese kyk op die eietydse. As dit gade geslaan word, word die woorde van Juvenalis in sy Satire 1 na al die jare weer van toepassing:

Elke ondeug het vandag

sy vernietigende toppunt bereik. Daarom satirikus,

hys jou seile. Span elke stukkie seil!

Maar waar, mag jy wel vra, is ʼn talent wat gelyk is

aan die tema. En waar is ons uitgesproke

voorvaderlike rondborstigheid wat als geskryf het

wat deur brandende toorn gedikteer is?

 

Dankie vir die geleentheid om met u te kon gesels oor hierdie belangrike toevoeging tot ons digkuns. By wyse van groet, wil ek vriendelik vra of bereid is daartoe om vir die leesplesier van ons lesers ʼn gedeelte uit een van die briewe hieronder te plaas?

Soos u versoek, plaas ek graag hieronder “vir die plesier van die lesers” die eerste gedeelte van Satire 11.

 

Ope Brief: aan die Nuwe Gode

 

Laat ek myself bekendstel

en misverstand verhoed, reg van die begin af:

Ek is die engel Michael, aartsengel,

spesiale boodskapper en voorvegter

teen die draak van liberalisme –

Lucifer se nuwe aardse gedaante.

En ek moet nou die pen opneem en skrywe,

noodgedwonge. Goddelike boodskappers

wat gevleueld neerdaal met mondelinge tyding,

word liberaal sekulêr skuins bekyk

en nie meer ‘n preekstoel gegun nie.

 

Indien jul skepties is oor my herkoms,

gaan lees maar weer die belydenisse van Thomas,

die evangelis wat by jul gewoonweg verstoot word.

Die hemele is eerste geskape en toe die engele,

die gewones, die harpspelers en koorkorale

met ons, die aartsengele in bevel.

En ons is onsterflik.

Nie vlees en bloed, verganklik

soos julle aardse skepsels nie.

Ons het kennis en insig,

geskenk van God aan sy spesiales

en ons kan voorspel wat aan die kom is.

Ons is die dienende, versorgende wesens van die hemel,

maar ook die beskermers van julle aardbewoners.

Dus, wees dankbaar en erkentlik.

Kom met jul eerbetoon en bring jul offerande!

Net liberale Protestante dink

aartsengele word nie meer vereer nie.

 

So met die verbyvlieg oor die Kaap,

was ek verstom oor jul doen en late.

Die eens groen vleierige vlakte

is nou een groot grys gerookte plakkerskamp –

van Tafelbaai tot Valsbaai se eens wit strande.

Besef jul nie waarmee jul besig is nie?

Is daar geen keer aan julle aanwas?

Is die aanteel dan iets wat in Afrika geskied

sonder twee keer dink of kommer oor gevolge?

En is daar nie één leermeester,

tradisioneel of selfs buitelands gegradueerde

wat mond oopmaak en waarsku:

Dis nie hoe nuwe gode maak nie!

Selfs diere, julle pragtige springboktroppe,

is steriel as die weiding skaars is.

Ek is min verbaas dat Jahwe, ver vooruitsiende,

julle uitgeskop het uit sy tuin uit!

 

In die hemel word sulke surplusse nie geduld nie.

Petrus is uitsoekerig by die poort.

Die hemel is wel die plek van heerlike beloning,

maar streng reëls bestaan. Dagdrome

van sewe maagde wat gewillig wag

en bekers wat bly oorloop,

is geen paspoort vir toelating en verblyf nie.

Verkondig dit aan julle seuns en dogters

wat skaars mondig

aan die paar en baar gaan.

 

Hou dit verband met jul verbete vasklou

aan veelwywery? Die vrousiek vrate

met ‘n “kulturele” vrypas vir hul vryasies?

Of met die vrywillige vryvroue wat vou

solank ‘n loflike lobola maar betaal word?

Die gevolge is dieselfde. Op die ou end

is ‘n vragtrein nodig, altyd ‘n staatsondersteunde,

vir al die kinders van die vrate.

 

Ek bring maar net ‘n boodskap, ‘n ou bekende:

Jahwe het één vrou vir één man geskape

en toe gesien en gesê dat dit goed was.

Draai briek aan vóór die Kaap te klein word.

Voorwaar, net één ding bly goedkoop in Afrika

en dis die lewe.

Dit word geskep en dit word geneem

sonder dat twee keer gedink word.

 

© MM Walters (Uit: Braille-briewe, 2011: Protea Boekhuis)

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.