Braille-briewe

Braille-briewe. M.M. Walters. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-420-8. Prys: R150.  80 bladsye. Sagteband.

Resensent: Zandra Bezuidenhout

 

Die waarheid het net kans op lewe

as dit daagliks onbevrees krities gedaag word.

                                                              M.M. Walters

 

 

Braille-briewe

Braille-briewe

Die ou Romeine het hul Juvenalis gehad; die Afrikaanse letterkunde het as teenhanger die satirikus M.M. Walters. Dit verbaas nie Walters sy jongste bundel aan sy vermaarde voorganger opdra nie, want Braille-briewe lewer dieselfde soort snydende dog komiese kommentaar op die samelewing as dié waarvoor Juvenalis in die tweede eeu na Christus bekend was. Die woorde “ter afskeid” wat Walters by die bundelopdrag invoeg, is moontlik `n aanduiding dat hy hier klaarspeel met sy voorganger én die satiriese versvorm, maar hopelik nie met sy rol as skrywer nie. `n Mens kan jou kwalik voorstel dat die literêre mantel van hierdie digter, dramaturg, essayis, bloemleser en vertaler aanstons op iemand anders se skouers kan val.

Getrou aan die aard van die satirikus gaan Walters hiperbolies en brutaal te werk. Hy stel “ongeskikte vrae”, soos Johann Degenaar na die aard van die filosofiese vraagstelling verwys het, want Walters is ten diepste `n denker eerder as bloot `n eietydse spotvoël soos dit op die oog af mag voorkom. Dit is die “manewales van die mens”, sy praktyke (of wanpraktyke) en sy gode (of afgode) wat hier ondersoek en bedink word, maar dan deur `n werkwyse wat daarop gerig is om te ontbloot, te skok, te vermaak en desnoods te vervreem. Deur hierdie berekende retoriese truuk word die aandag vir die boodskap opgeëis, want soos die kabaretgenre wil die satiriese vers die toehoorder uitlok en uiteindelik tot nadenke stem.

Die beeldende titel Braille-briewe kan geïnterpreteer word as persoonlike geskrifte aan `n ontvanger wie se sig of insig by implikasie aangetas is. Die sender gee dus voor dat die opgehewe tekens van `n kodetaal (`n metafoor vir die satire) nodig is om die boodskap in te skerp sodat dit letterlik aan die lyf gevoel word. Daarby is die briefvorm met sy informele toon by uitstek geskik om die distansie tussen die sender en ontvanger op te hef, en die leser by die argument te betrek.

Elkeen van die dertien lang briefgedigte word onderteken deur skertsname soos “Jy weet wie” of “Boetie van die Boe-kaap”, en gevolg deur `n veelseggende naskrif. Hierdie patroonmatigheid van die bundel word verder versterk deurdat `n spesifieke tema in die onderskeie briewe aan bod kom, en kontensieuse kwessies van die verlede na dié van vandag getransponeer word. Oorgelewerde godsdienstige praktyke en geloofsienings, asook prominente kerkfigure – van Augustinus met sy “soektog na salwende sakrale saligheid” tot by Calvyn en die stoere dr. Koot Vorster – kom onder skoot. Ewe skerp is die besinning oor die huidige taalsituasie, weereens met verwysing na roemryke persoonlikhede soos die Paarlse taalstryder Pannevis, maar ook na eietydse brandpunte soos die Maties se T-opsie. Een van die moedswillige strofes uit die “Ope Brief: aan die ontslape Heer Arnoldus” lui:

 

Ek weet egter nie wat tans

lingua franca in die hemel is nie.

Niemand het nog teruggekeer

met die verlangde informasie.

Miskien Hebreeus?

Die Grootbaas se boekagente sê

hy praat nog steeds geen ander taal nie.

En wat sy agente sê is nog steeds amptelik:

Maak nie saak uit watter aardse koninkryk

die nuwe gevleuelde arriveer nie –

hy moet Hebreeus praat soos die Jahwe van die Jode

of swyg in alle tale.

 

Op `n soortgelyke wyse word “onheilige kritiek” uitgespreek teen die “ydele vertoon” van akademiese geleerdheid en “die omhaal van baie woorde” (“Ope Brief: aan die nuwe Doktorandus”); asook op Afrikaners wat die land verlaat (“Ope Brief: aan die Boertjies in die Buiteland”) en op aspekte van die plaaslike maatskaplike en politieke bestel. Voorbeelde soos die volgende sal vir ingeligte lesers herkenbaar wees:

 

Julle Boetmans is natuurlik steeds die moer in,

maar nou nie meer oor ou pyn en skryn,

maar oor die omswaai-Antjies op die nuwe soustrein.

 

In die briewe aan die “Nuwe Gode” en “Bartholomeus die Seevaarder” word die veelgeroemde skoonheid van die Kaap genadeloos ontmasker, en `n mens sou Wilma Stockenström se bundel Aan die Kaap geskryf hiermee kon saamlees. In Walters se voorstelling van `n verworde landskap buit die digter die moontlike dubbele betekenisse uit:

 

Die eens groen vleierige vlakte

is nou een grys gerookte plakkerskamp –

van Tafelbaai tot Valsbaai se eens wit strande.

 

En deur die melodieuse refrein “Cabo Tormentoso” wat telkens in die brief aan Bartholomeus opklink, word die gedig ‘n roerende weeklaag oor die “donker skadu’s” wat oor die land toesak.

Vir sensitiewe lesers mag die brief aan Lucifer, om maar een te noem, ontstellend wees, maar hierdie gedigte moet met `n oop gemoed benader word, nie alleen ter wille van besinning en vraagstelling nie, maar om die genot aan die woordspel en vindingryke beelde soos die “Disney World van gode en gelowe” wat “stadig … ontbind”. Sommige lesers mag die komiese segging en siniese instelling vermaaklik vind; andere mag aanstoot neem en die boek toeslaan – en later nuuskierig verder lees. Dit is presies wat die satirikus beoog, want hy is per definisie `n polemikus, maar ook `n stilis wat sake so voorstel dat dit die leser ongemaklik of wrokkig laat.

Walters se taalaanwending was nog altyd vernuwend, prikkelend en gedurf. Afgesien van neologismes soos “ketterkanker” en “skeppelinge”, gebruik hy graag woordpare of -groepe met ooreenstemmende klank- en/of betekenisverbande soos “ikone wat gekantel het”; “preskriberende profete”; “klomp bomplant-Palestyne”; en “getoga getoor”. Daarby lei die alliterasie en onverwagte naasmekaarstelling van woorde en gedagtes tot verrassend komiese effekte. Onthutsende geringstellings kom voor, hoë en lae spreekwyses sowel as plegtige en alledaagse sake word vermeng (“die hemelse Bishop’s Court”; “`n bielie van `n biskop” of “politieke gode” afgesmelt “tot pispotte en panne”). Letterlik niks en niemand word ontsien nie en `n mens wil jou verstout om te sê dat selfs die “gode” op plekke hul lag nie sal kan hou nie. Die digter loop egter gevaar om in woordpatrone te verval wat op die duur voorspelbaar of geforseerd voorkom, waardeur die sardoniese kommentaar ontkrag word.

In meerdere opsigte is die bundel tipies postmodernisties. Afgesien van die vermenging van hoë en lae stylregisters en situasies word intertekste mildelik maar funksioneel aangewend, grense word oorskry en niks is heilig nie, selfs nie die ou, gevestigde verhale of narratiewe waarvolgens die mens nog altyd sy lewe gerig het nie. Die subteks is dat mensgemaakte gebruike, gode en konstruksies opnuut bekyk en desnoods gedekonstrueer moet word. Hierdeur verkry die bundel `n sterk intellektuele lading. Die erns waarmee die bundel open, rig `n waarskuwende vinger dat “die mens se manewales” `n geheimenis bly waarvoor die spreker antwoorde soek en waarvoor hy hom tog met piëteit tot die “Groot Onbekende” rig. Die krag van die bundel lê in hierdie wisseling tussen wete en nie-wete; tussen sekerhede en onsekerhede, lag en erns.

Juvenalis het natuurlik in Latyn geskryf en volgens die stylgebruike van sy tyd `n strenger versvorm hanteer. Walters skryf losser en gemakliker en die praattoon is in pas met hedendaagse ontwikkelinge in die digkuns. Daarby dien die gemeensame geselstrant in hierdie geval om die intieme aard van die brief na te boots. Lesers sal maar hul verwagtinge van die poësie moet aanpas by eietydse digters se voorkeur vir die prosagedig waar struktuur en binding nie altyd afhang van bekende digpatrone nie. Soos in die denke, word daar in die vormgewing van die gedig wegbeweeg van “rigoreuse rituele, reëls en reglemente”. Die hedendaagse vers, mits dit noukeurig gekonstrueer word, verkry `n eiesoortige struktuur wat gebaseer is op die inherente klank, ritme en melodie van taal, en op goedgekose sleutelwoorde en beelde wat met mekaar verband hou. Dit is juis deur die manier waarop die digter die taal hanteer dat die informele styl `n poëtiese kwaliteit verkry. By tye laat Walters egter die spanning verslap en gaan hy te direk en betogend te werk. Ook steur hy hom opsetlik en opsigtelik min aan politieke korrektheid, waarteen daar op sigself geen literêre besware is nie, maar die fasiele rym en gebrek aan subtiliteit, hoe speels ook al, pas na my mening nie by sy statuur as digter nie. Maar ook hierin wou hy waarskynlik die grense van die elitistiese poësie oorskry. Uit daardie oogpunt slaag hy wel, en die onderstaande (en ander) strofes sou byvoorbeeld gepas wees as `n kabaret-song:

 

Almal wat aansluit by ons nuwe weermag

word ge-promote tot hoë offisiere.

Ons het al meer gemedaljeerde generaals

as enige ander army korporaals.

 

Of kom sluit aan by ons nuwe navy

kom skep van al die oorsese sous en gravy.

Ons kyter selfs vir gewillige dames

wat nagtelik matrooslik bekwaam is,

met spesiale uniforms vir die bosgeboude

Saartjies met die Baartman-boude.

 

Lesers wat die meer tradisionele versvorm verkies en bowendien nie soveel aanklank vind by satiriese verse nie, sal hou van die gevoelige slotgedig “Ope Brief: oor die Ou Gode”. By wyse van parallelle met ou Noorse legendes (“vertelling wat homself herhaal”) gee die gedig `n liriese maar skrikwekkende (voor-)beeld van die situasie in Suid-Afrika waar die “reënboogbrug” mag breek:

 

Toe het Balder, die goeie god van die sagte suide

geweet dat die sterfte in die wolke hang.

Die suidelike horing van sy land wat ver

uitsteek, omspoel word deur warm strome,

waar berge, vangnet van klam winde,

blink watervalle maak wat pêrel, stort

in groen valleie diep en vrugbaar, sy land

sou ys word, ongenaakbaar hard en dood.

 

In die loop van die bundel neem die spreker `n hele wêreld in oënskou en die beginsel van “toe” en “nou” kom telkens aan die orde; van die vroegste tye tot die hede. Deur die digter se belesenheid en vernuf het hy `n ryk en geskakeerde bundel tot stand gebring wat lesers om verskillende redes sal laat asem ophou. Die sirkulerende “vrae en vraagtekens” bied ryke stof tot nadenke en is goeie medisyne vir dié wat in `n groef verkeer – en dit nie weet (of wil weet) nie. Of die leser met die inhoud kan identifiseer en daarmee genoeë neem dat dinge so onverskrokke aan die orde gestel word, is by die beoordeling en genot van poësie nie ter sake nie. Dit gaan om hoe effektief en verbeeldingryk die digter sy taalarsenaal ontplooi om `n teks te skep wat die aandag vasvang en die leser se bewussyn verruim. In Apocrypha het Walters hom reeds teen die veiligheid van gevestigde denke verset, hoewel toe nog in `n meer besadigde toonaard:

 

Ons lig bly maar vetkers,

en hoe veilig klink die teks wat sê

dat ons liewer agter ou beproefde skerms

van die denke moet bly lê.

 

Dit sal sinvol wees om Walters se jongste bundel saam met sy hele oeuvre te lees of herlees, met inbegrip van sy meevoerende vertalings van Chinese en Japannese gedigte. Lesers sal nie koudgelaat word deur hierdie digter se werk nie. En diegene wat al saliger is (indien wel!), sal by tye in die graf omdraai, warm of koud, met permissie gesê.

 

Verwysings:

Stockenström, Wilma. Aan die Kaap geskryf. Kaapstad: Human & Rousseau. 1994.

Walters, M.M. Apocrypha. Kaapstad: Nasionale Boekhandel. 1969.

Walters, M.M. Shih-Ching. Liedereboek. Chinese gedigte in Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis. 2003.

Walters, M.M. Aki no kure: Herfsskemering. `n Bloemlesing Japannese gedigte in Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis. 2006.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.