Marlies Taljard. Beeld en teks 3: Onderhoud met Heilna du Plooy

Heilna du Plooy

Heilna du Plooy

Vir die derde artikel in die reeks Beeld en teks het Heilna du Plooy, van wie reeds twee digbundels verskyn het, ingestem om te praat oor die gedig “Chiaroscuro” uit haar eerste bundel Die donker is nooit leeg nie. Heilna, baie dankie dat jy bereid was om iets te rep oor jou werk, vir ons so ‘n kykie te gee op jou interpretasie van ‘n bekende skildery – ek weet dat digters dit nie graag doen nie. Tog is dit beslis so dat baie gedigliefhebbers juis iets oor die ontstaansgeskiedenis en die onderliggende dryfvere agter ‘n gedig “uit die perd se bek” wil hoor …

 

 

 

 

 

 Chiaroscuro

By Die Nagwag van Rembrandt

 

Die luitenant en die klein meisie

gloei soos goud in hulle helder klere

op die weelderige donker doek.

 

Kyk jy verby die lig die donker in

is daar soveel vorms en gesigte wat sagter

lig van iewers uit die donker vang.

 

Uiteindelik is dit die diepste donkerte

wat alles met mekaar laat saamhang

in ‘n mistieke spel van duisternis en lig.

 

 Die donker is nooit leeg nie

maar jy moet déúr die donker kyk

vir die dwaallig se geheim.

 

Die donker is nooit stil nie

maar jy moet déúr die donker luister

vir al die vreemde fyn vibrasies.

 

 As jy donker rondtas, naarstig uitreik

in die angs en misterie óm jou, glo jy

die donker is altyd daar.

 

Hoe kosbaar is die rakelingse lig

op vorms wat soos newels glim

in min en reeds weerkaatste gloed.

 

As ek volhardend deur die donker dink

móét ek iewers weerskyn vind –

 

die donker is nooit leeg nie

 

al is die donker altyd daar.

 

Marlies: Heilna, wat beteken die titel “Chiaroscuro”?

Heilna: Die woord kom van die Italiaans chiaro wat lig of helder beteken en oscuro wat donker of obskuur beteken. Die term word sedert die laat sewentiende eeu in die skilderkuns gebruik en verwys gewoonlik na die kontrasterende gebruik van lig en donker in ‘n skildery. Dit verwys ook na die sestiende-eeuse tegniek in houtsneekuns waar verskillende blokke gebruik word om verskillende tonaliteite van dieselfde kleur af te druk. Hoewel Da Vinci chiaroscuro al gebruik het, word dit oor die algemeen geassosieer met die werk van Carravaggio en Rembrandt omdat dit in die skilderye van hierdie twee kunstenaars baie eksplisiet voorkom. Rembrandt het die tegniek om lig en donker in kontras te gebruik so verfyn dat hy daardeur nie net sy skilderye gestruktureer het nie, maar ook dramatiese intensiteit en psigologiese kompleksiteit kon bewerkstellig.

 

Marlies: “Die Nagwag” is ‘n besondere groot en komplekse skildery. Jy sonder in jou gedig egter slegs enkele aspekte van dié skildery uit. Watter aspekte is vir jou gedig belangrik en waarom?

Heilna: Dit is seker nie geïsoleerde eienskappe van die skildery wat by my bly spook het nie, maar juis die imposantheid van die geheel. By nadenke en weer en weer kyk, het ek besef dat die skildery vir my sowel kompleks as eenvoudig is, dit is, eenvoudig in die sin van die ferm manier waarop dit betekenis genereer. Die helder figure trek die onmiddellike aandag, maar is nie die belangrikste figure in die skildery nie, wat die verwagting van die kyker ondermyn en vrae oproep.

Die skildery se volle titel is De compagnie van kapitein Frans Banning Cocq en luitenant Willem van Ruytenburgh en is ‘n tipiese sewentiende-eeuse skildery waarin ‘n skutterskompanjie uitgebeeld word. Ander skilderye in die genre toon al die gesigte van die lede van die kompanjie ewe helder en duidelik, maar Rembrandt skilder hierdie “groepsportret” nie primêr volgens die verwagting van die opdraggewers nie, maar volgens die estetiese beginsels wat sy werk kenmerk en uitsonder. Daarom bewerkstellig hy klem deur twee figure in gloeiende helder kleur te laat uitstaan. Dit is egter luitenant van Ruytenburgh en nie Banning Cocq, die leier van die korps, nie wat die aandag trek met sy helder klere. Die ander helder figuur is ‘n klein meisietjie wat tussen die mans beweeg. Daar hang, vreemd genoeg, ‘n hoender aan haar sy. Wat soek die kind tussen die groep mans met hulle gewere en baniere? Dit is asof sy gestuur is om iets te gaan doen of te gaan haal en toe toevallig tussen die mans van die kompanjie beland het.

Die helder figure bewerkstellig die fokus van die skildery as skildery en het meer met die estetiese struktuur te make as met die onderwerp van die skildery. Die werkwyse sluit aan by Rembrandt se vermoë om in ‘n skildery allerlei ander dinge te suggereer sodat sy werk telkens ‘n beweeglike en dramatiese kwaliteit verkry. Die ligvlakke trek die aandag en daar is baie ander komposisionele lyne wat hierdie fokus verder beklemtoon, maar in die donkerder gedeeltes van die skildery gebeur daar baie dinge. Dit donker is dus nie onbelangrik nie, dit is net meer misterieus en boeiend omdat dit nie so duidelik is nie. Daar is byvoorbeeld een skutter wat ‘n skoot aftrek, daar is ‘n dwerg links voor in die skemer, die trommer lyk asof hy begin slaan op die tamboer, van die mans staan en gesels. Al hierdie aktiwiteite, die kind wat tussen die mans beweeg, verskillende soorte houdinge en gesigsuitdrukkings, die feit dat daar beweging in verskillende rigtings gesuggereer word, is daarop gerig om ‘n lewendige en byna rumoerige atmosfeer te skep. Die skildery word dus veel meer as ‘n afbeelding van ‘n statiese groep mense.

Die skutters was natuurlik nie baie gediend daarmee om so dowwerig op die skildery te lyk nie en daar is inderdaad ‘n akwarel van dieselfde toneel deur iemand anders geskilder waarop die naam van elke belangrike Amsterdamse heer in die skutterykorps duidelik aangeteken is.

Die skildery het my opnuut laat begryp dat in ‘n kunswerk die estetiese bewerking van die materiaal, die strukturering, die komposisionele strategieë en die transformasie van die gegewens binne die moontlikhede van die skildersmedium van uiterste belang is, veel meer as die onderwerpe self. Maar dit het my ook laat besef dat alles in die skildery esteties van belang is, nie net dit wat in die fokus van die skildery is nie. Die drama van die skildery lê juis in die veelvoud van die gebeure wat daar in die agtergrond plaasvind, hoewel hierdie dinge nie die fokus van die skildery as skildery verplaas nie. Rembrandt se meesterskap lê dan ook deels daarin dat hy al hierdie stelsels, referensie, betekenis, gesuggereerde tematiek, skilderlike bewerkings van alle soorte en veral sy eiesoortige en unieke aanpak, kan laat saamsmelt tot so ‘n grootse geheel.

Wat my dus boei van die skildery is die hantering van die onderwerp, die tematiek en veral ook die estetiese hantering van die geheel, d.w.s. die onderliggende skilderlike poëtika.

Terloops, ‘n baie interessante aspek van hierdie skildery is dat die kleur in die werk aanvanklik nie heeltemal so donker was nie. Dit is weens die verdonkering van die vernis dat die agtergrond so donker geword het en dat die skildery die populêre titel “Die Nagwag” gekry het, terwyl dit glad nie ‘n nagtoneel uitbeeld nie. Dit wil egter nie sê dat die kontras tussen lig en donker minder treffend was nie.

 

Marlies: Die gedig “Chiaroscuro” het ‘n interessante vorm waarin verskillende aspekte van die donker-metafoor in ‘n bepaalde orde belig word. Waarvan word die donker wat in Rembrandt se skildery oorheers in die gedig simbolies/metafories gemaak?

Heilna: As ek nou my vergange gedagtes reg herroep, het die skildery verskillende fases in my gedagtegang bewerkstellig. Dit gaan primêr om die skildery self en wel spesifiek oor wat die skilder deur sy tegniek bereik − die fokus wat die aantreklikheid verhoog, maar die veel groter aanbod van betekenis deur middel van verskeie vorme van estetiese bewerking en skilderlike suggestie.

Vir my het dit egter ook beteken dat daar op die beskouer van ‘n kunswerk ‘n etiese appél gemaak word om dieper te kyk as die aantreklike oppervlak.

Hierdie aandrang om dieper te kyk, is vir my waar van bykans alle aspekte van die lewe. Ek is deeglik bewus daarvan dat dit tans glad nie die aanvaarde manier is om na die lewe en die werklikheid te kyk nie. Ons leef in pragmatiese tye en jong kunstenaars en digters bely openlik dat hulle glo daar is net die oppervlak, wat jy sien is wat jy gaan kry. Ek kom egter al ‘n lang pad en daar is soveel dinge wat uiteindelik blyk anders te wees, of meer of minder te wees as wat dit aanvanklik gelyk het, dat ek geleer het daar is inderdaad veel meer agter die oppervlak as wat die oppervlak op enige manier te kenne gee. En hierdie skildery werk miskien ook met ‘n verwante siening.

So ‘n gedagtegang suggereer dan logies dat donker en donkerte, in al die manifestasies daarvan in menslike belewenis, veral psigologies, metafories in verband gebring kan word met die donkerte in Rembrandt se skildery. Donkerte is egter vir die een wat bereid is om dieper te kyk, nie noodwendig ‘n plat ondeurdringbaarheid nie, nie ‘n onveranderlike en dom swart muur nie, maar heel moontlik ‘n dinamiese, hoewel ongekende ruimte. Daar kan die vermoede bestaan dat daar dalk meer is as wat aanvanklik aangeneem is. Hoe min ook al, is daar dikwels steeds lig wat waargeneem kan word. Lig kan direk, indirek en weerkaats wees, maar dit maak sig moontlik. Selfs min en dowwe lig kan lei tot sig en dalk insig.

Nou doen ek amper ‘n onverskoonbare ding en dit is om oor ‘n eie gedig te skryf, maar ek hoop dat ek eintlik skryf oor my siening van sake, veral Rembrandt se skildery. Of die gedig aan iets van my gedagtes kon gestalte gee, is vir die lesers om self te besluit.

 

Marlies: Jy skilder self ook, soos byvoorbeeld blyk uit die “Landskapsiklus” in jou bundel In die landskap ingelyf (en die pragtige verfsels in jou huis). Watter addisionele voordele, sou jy sê, hou kennis en vaardigheid op die gebied van die skilderkuns vir jou as digter in?

 Heilna: Ek dink enige kunstenaar kan baie leer uit ander kunsvorme as die een waarmee hy of sy primêr werk.  Dit is ‘n fassinerende ding om agter te kom hoe skryf en skilder byvoorbeeld met dieselfde estetiese beginsels werk, vereenvoudiging, fokus, struktuur, sekondêre komposisionele bewerking. Skryf het egter die voordeel dat jy kan redigeer, olieverf skilderwerk ook, maar met waterverf het jy net een kans en as jy ‘n fout gemaak het, moet jy maar van voor af oor begin. Oorwerk word dan net skrop en verskillende lae waterverf oormekaar word onvermydelik modder. In skryf kan dit seker ook gebeur – ‘n oorbetimmerde of voosbedagte ding verloor soms sy sprankel of dra tekens van sy moeisame ontstaan (hoewel dit natuurlik nie noodwendig hoef te gebeur nie). Dit is egter wel so dat daar werke is wat met soveel energie en oorgawe geskryf is dat hulle hulle foute absorbeer en laat wegraak.

Verskillende mediums werk in unieke maniere met die transformasiesprosesse wat in alle kunswerke belangrik is. Die kunstenaar kan egter soms ‘n tegniek uit een medium “vertaal” na ‘n ander. ‘n Skrywer kan uit ‘n musiekstruktuur of visuele uitbeelding ‘n idee kry en dit transponeer na taal wat sy skryfwerk interessanter kan maak.

Tematiese kwessies werk ook wedersyds stimulerend.

Dit is wel ook vir sommige skrywers interessant om gewoon net meer te weet van die geskiedenis, die moontlikhede en verskyningsvorme van die kunste in die breë. Daar is skrywers wat so ‘n groot natuurlike talent het dat hulle met min ander impulse kan bly werk, maar daar is ander wat hulle werk uit die kulturele tradisie verryk en tegnies eksperimenteel en ondersoekend werk. Dit is nie ‘n hiërargiese onderskeid nie, net ‘n onderskeid wat soos in alle ander dinge die verskeidenheid van moontlikhede van bestaan, ook in die skryfbedryf, illustreer.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.