Onderhoud met Marlise Joubert

Splintervlerk: Die saamvlug van woord en visuele beeld

Marlise Joubert in gesprek met Amanda Lourens.

 

Marlise Joubert. Foto: Philip de Vos

Marlise Joubert is op Elim naby Levubu gebore. Sy voltooi haar skoolloopbaan op Warmbad (Bela Bela) in die Waterberge en verwerf ‘n B.A. (Bibl.)- en Honneursgraad in Filosofie aan die Universiteit van Pretoria. Sy word bibliotekaresse by verskeie instansies. Na 16 jaar by die Departement Beeldende Kunste van die Universteit van Stellenbosch, werk sy vir vyf jaar in Protea Boekwinkel op Stellenbosch. In 1971 debuteer Joubert met die digbundel ‘n Boot in die woestyn. Daarna volg nog ses digbundels waarvan die jongste, ‘splintervlerk’  in 2011 by Protea Boekhuis verskyn het. Sy het drie romans gepubliseer, te wete Klipkus, Oranje Meraai en Ateljee van glas. Klipkus het in Nederlands verskyn as Rode granaat (1981). Sy skryf ook verskeie radiodramas en is vier keer bekroon in die RSG/Sanlam-radiodramakompetisie. Van haar kortverhale het in verskeie tydskrifte verskyn. Sy skryf en skilder voltyds.

 

Marlise, baie geluk met jou sewende bundel. Nog voor ‘n mens die bundel oopslaan, val die lieflike omslag  (jou eie kunswerk) op.  Marthinus Beukes verwys juis ook op die agterblad na “pen en penseel (wat) in samespraak […] kommunikeer”. Ook word elk van die drie afdelings in die bundel vergesel deur een van jou kunswerke. Vertel ons ‘n bietjie meer van hierdie besondere wisselwerking tussen die twee kunsvorme? Byvoorbeeld, of die gedig die visuele kunswerk voorafgaan of andersom? Of kom hulle dalk in ‘n soort simbiose tot stand?

Baie dankie, Amanda. Miskien is jy reg dat hierdie twee kunsvorme ʼn simbiotiese aard het. Miskien omdat beide op papier/doek plaasvind? Ek was nog altyd geïnteresseerd in albei as ‘n vorm/uiting van skepping. Om die waarheid te sê, ek sou liewer graag slegs die een wou bedryf, nl. skilder. Maar nou ja, woorde op papier loop ook al ‘n lang pad saam met my. Sommige woordkunstenaars wat ook skilder, kan albei saam doen – die oggend skilder en die middag/aand skryf! As ek egter skilder, neem dit my geheel en al in besit, bestaan die ‘skryflus’ nie eintlik nie. En andersom. Tog is daar gedurig ʼn beduidende wisselwerking. As die moment ontroer, of die idee ontstaan, is die keuse daar om dit óf te skilder óf daaroor te skryf.

Dikwels gebeur die gedig, en eers op ʼn veel later stadium ʼn skildery, of andersom. Ek het bv. ʼn skildery van flaminke gemaak, (voor die ingreep op die lyf) en heelwat later weer ʼn gedig daaroor geskryf, as ‘n soort ‘nabetragting’ (waterdans, p. 55). In ‘watervalskildery’ (p. 58) het ek ʼn skildery gevisualiseer, en geskryf daaroor asof ek besig is om dit te maak, maar ek het die waterval nog steeds nie werklik geskilder nie. Miskien volg die skildery eendag wel, wie weet. Skielik onthou ek wel ‘n klein akwarel van twee meisies wat op ‘n klipwal langs ‘n waterpoel sit en dat ek daardie spesifieke waterval uit my jeugjare in gedagte gehad het. Ek het die verfie toe vir iemand gegee. Daar is ook die gedig ‘balspel. ‘n akwarel’ (p. 56) wat ek geskryf het nadat ek die skildery gemaak het en intussen verkoop het. Ek vermoed my ingesteldheid is dus baie visueel, en dat die landskap van emosie ook meestal visuele elemente en metafore bevat, aangesien ons tog met waarneming die landskap ‘verbeel’ of ‘verbeeld’.

Reeds in die visuele kunswerke in die bundel val die vooropstelling van die (vroulike) liggaam op. Dit is ook boeiend om te let op die ontwikkeling wat op hierdie vlak waarneembaar is. In die kunswerk wat die eerste afdeling (“winterklou”) vergesel, is die liggaam nie sigbaar nie, terwyl dit in die tweede afdeling (“rugkaatsing”) die fokuspunt vorm. In die derde afdeling (“dryfgoed”) skuif die liggaam na regs, en word die waskom die fokuspunt. Het jy dit doelbewus so beplan – byvoorbeeld om die beweging uit siekte na herstel en die uiteindelike hervatting van kunstenaarskap te suggereer?

 

splintervlerk

splintervlerk

Die eerste watertekening in die boek, (wat slegs ‘n spesifieke gedeelte is van ‘n groter skildery) het ontstaan toe ek weer begin skilder het nadat ek op die been was na die operasie, ek dink sowat 4 of 5 maande daarna. Dit was ʼn vermoeiende proses, want dit was te gou. (As jy in ag neem dat ek waterverf hoofsaaklik op baie nat papier op ‘n tafel doen, staande en vooroor buk). Ek wou gestalte gee aan my ervaring, hoewel die bundel toe nog nie voltooi was nie, of eintlik nog nie eens in my gedagtes bestaan het nie. Dinge gebeur mos soms in die onbewuste, sonder dat jy dus altyd besef dat dit op ‘n simbool mag dui, soos byvoorbeeld die klein stil voëltjie wat ek geskilder het op die heupbeen. In hierdie geval het ek die gedig ‘lumbale mikrodiskektomie’ geskilder. Ook die gedig op die verf neergeskryf. Die ander twee het weer ingepas by die sfeer van die gedigte wat later gevolg het. Die waskom was vir my ʼn simbool van heelheid, van uitreiking na elemente wat vorige emosies ‘afwas’, en ‘n vroeër leefwyse in my huis wat vir my betekenisvol is. Die venster na die buitewêreld is ook beduidend. Heelwat later het die omslagskildery gevolg, wat spesifiek vir die bundel bedoel is, en het ek maar gehoop dit sou aanvaar word.

Die pasiënt se ervarings na ‘n groot operasie vorm natuurlik die spilpunt van die eerste afdeling. Die subjek se besef van sterflikheid word dan treffend verbeeld in die openingsgedig “die aarde weet dit”.Nietemin is dit ‘n gedig sonder oordrewe emosie, pretensie of selfbejammering. Is daar enige strategieë wat jy ingespan het om hierdie resultaat te verkry?

 

Nee, ek dink nie ek het enige spesifieke strategie gevolg nie. Daardie gedig was maar bloot ʼn ‘reality check’ om juis nie te verval in totale depressie nie maar om onder andere die liggaam se beperkinge en potensiaal uit te lig. In my verbeelding reken ek dus af met die ‘monster’ van sterflikheid, probeer ek te glo dat die ‘bouval’ (liggaam) nog van nut kan en wil wees. Maar miskien is die benoeming van medikasie (strofes 4 en 8 ) en ook die Engelse frases (strofe 8 ) ‘n poging  tot debunking en humor as strategie…?

Dis eintlik nie so groot operasie nie; dis baie algemeen. Daar is erger gevalle as die een wat ek gehad het – maar ja, die herstelfase is seker vir almal baie langsaam en pynlik.

Die feit dat baie gedigte in die bundel juis aan siekte en herstel gewy word, kan heel moontlik tot gevolg hê dat die bundel binne ‘n tradisie van Afrikaanse “siektepoësie” (dink byvoorbeeld aan Opperman, Van Heerden, Cussons, Hammond) geplaas word. Hoe voel jy oor sulke etiketterings (as ek dit so mag noem) – dink jy byvoorbeeld dat dit beperkend op ‘n bundel kan inwerk; die moontlike lesings mag verskraal?

 

Dis iets waaraan ek hoegenaamd nie dink of gedink het nie. Ek skryf altyd wat ek op daardie spesifieke tydstip in my eie lewe ervaar of aan dink of raaksien. Temas soos die liefde of dood sal mos maar immer in die poësie deur digters vergestalt word, herhaaldelik die gesigte en moontlik nuwe kante weer wys. En seker so ook die ingrepe op die liggaam. Waar die poësie geplaas word in die letterkunde, is iets wat helaas nie vir my belangrik is nie. Dis ʼn terrein waarmee ek my nie bemoei nie. Ek kan maar net hoop dat die hospitaal-gegewe nie die hooffokus van resensente of kommentators sal word nie, aangesien dit nie filosofies gesien moet word nie, maar bloot ‘n vertrekpunt is tot heling en ‘hersetting’ van ‘n eie leefwêreld.

Die aantal verse oor die operasie self is eintlik maar min in die eerste afdeling. Dit is die tydperk daarna, die herstelproses, wat vir my eintlik belangriker is, die afwisselende en dikwels teenstrydige emosies wat verwerk word, die ‘terugkeer’ om weer te begin skilder en om te gaan met woorde in digvorm. Herinneringe aan reis, aan kinders en besoeke aan plekke bevat ook heelwat van hierdie rekonstruktiewe elemente.

Die titels van jou werke slaag dikwels daarin om ‘n veelheid van betekenisse te omvat, soos Hennie van Coller byvoorbeeld oor Ateljee van glas opgemerk het.Die titel “splintervlerk” is veral intrigerend. In “lumbale mikrodiskektomie” kom die “vier ontsteekte vlerkies” as bron van die pyn ter sprake.Ook in “tuis” lees ons dat “die splinters vlerk” (dus die bron van die pyn) verwyder is.In ‘stil’is daar “blomvlerke” wat  “terug(vou)” as aanduiding van hulle verwelking.  Hierdie meer negatiewe konnotasies word skynbaar getransformeer in “sin” waar daar ‘n soektog is na “‘n woord / wat wegkruip onder vlerke”, terwyl “waterdans” sluit met die beeld van die kunstenaar wat haar opnuut kan verloor in haar kuns, met ” haar verlange geprojekteer/ soos flaminke wat op dun / grafietbene dans, / met gelapte vlerke / gehoorsaam teruggevou”. Nog later in “waterverfskildery” lees ons van die meisie wie se bewegings “die vlerke van ‘n visarend” naboots, terwyl die geliefde se koestering in “in die koel lug” met die “vlerke van ‘n duif” vergelyk word. Uiteindelik, in die gedig “splinters” is daar sprake van woorde wat losskiet “uit die binnevlerk” van die boek” wanneer ‘n haas vergete gedig herontdek word. Dit wil dus lyk asof “vlerk” verskeie betekenisse omvat, en in kombinasie met “splinter” nóg meer. Wil jy dalk help om die titel beter te begryp?

 

Jy het reeds hier die betekenisse van die titel baie goed uitgelig! As toevoeging sou ek ook graag wil noem dat ‘vlerke’ altyd beelde oproep soos ‘n ‘vlug’ of ‘om te vlieg’, en om ‘vry’ te wees, maar vir my het dit om ʼn ander betekenis gegaan, nl. beweging. ‘n Gedig en/of skildery is immers ook “verbeeldingsvlug” wat hier kontrasteer met die onbeweeglikheid van die liggaam. Vir die voël is sy vlerke niks anders as ‘n ledemaat wat hom in staat stel om deur die lug te kan beweeg nie. Vir die mens het dit juis simboliese betekenis, omdat ons ‘vlieg’ ook in verband bring met vryheid. Of ‘vlug’ soos in ontvlugting.

‘n Ander poging tot heling, is daarom die digterlike woord self. My ervaringswêreld na die operasie waar ek vir etlike weke bedlêend was en dus geen of min beweging kon ervaar, het my gekonfronteer met mobiliteit- iets wat alle mense daagliks sommerso aanvaar en nie eens aan dink nie. Ek het vir die eerste keer moeisaam beweeg, met pyn en inspanning. Ek kon nie lank sit nie. Trouens, my man moes later ‘n spesiale toonbank op my lessenaar bou sodat ek voor die rekenaar kon staan om aan te gaan met my webbladwerk!

Omdat die senuwees wat na die een been aflei, weke lank vasgeknyp was, het ek gevrees dat ek die gebruik daarvan gaan verloor en dalk nooit weer behoorlik sal kan loop nie. Dus het my eie mobiliteit skielik die sentrale tema (korrektief) geword waarop ek vanselfsprekend gefokus het in die tyd van herstel, en was ‘vlerk’ die simbool van hierdie vryheid van beweging waarna ek gestreef het. Daar was dus ʼn baie skielike en drastiese ‘versplintering’ van my normale beweeglikheid, en dan natuurlik letterlik ook die afsplintering (verbrokkeling) van been.

Jou opmerking dat die digterlike woord as ‘n ander poging tot heling gesien kan word, is baie verhelderend. Dit sal die leser waarskynlik help met die interpretasie van die vele verwysings na taal en poësie. Ek veronderstel dit is wat “kladboek 2” aan die leser probeer kommunikeer – dat die poësie as ‘n stropings- of suiweringsproses gesien word (wat weer skakel met die bundelmotto), maar dan ook bedeel met ‘n soort kinetiese energie? Of sien jy dit anders?

 

Ja, ek moet egter daardie stelling net kwalifiseer – die soeke na sintese en segging om ‘n ander perspektief te gee kan seker in verskeie kunsvorme tot uiting kom. Sou ek kon skilder in daardie tyd, was daar seker meer skilderye! Maar ek kon nie. Tot my groot ontsteltenis. Dus het ek my verlaat op pen en notaboekie. (En eintlik wou ek nooit weer verse skryf nie!) Gedigte is mos maar ‘n manier om ons werklikheid mee te konfronteer en ervarings sinvol te probeer weergee/orden.  Dus, so vermoed ek, is die digproses dan ook helend, omdat enige ingrypende gebeure op die fisieke ook na ‘beheer’ en ‘heling’ of ‘afrekening’ vra. Hoewel persepsies verskil, onthou ek ook vaagweg dat ‘n digter eenkeer verwys het daarna dat ‘n gedig oor verlies nie die verlies heelmaak nie. Dat niks gebeur nie. Gedigte is maar ‘n herskepping of groter bewuswording van, in my geval, die langsame herstel. Ja, die poësie is ‘n soort stropingsproses, maar die realiteit is dat ek nooit ‘n gedig tussen my werwels kan indruk, en siedaar, nou het ek weer rug  wat hups is soos ‘n twintigjarige nie!

Tydens die lees van die bundel het dit my opgeval dat talle beelde hulle oorsprong in die mediese sfeer het. In “blomtong” is daar byvoorbeeld die beeld van die blomstingels as “afgeknipte slagare los in die water”, terwyl ‘n gedig soos “barbituur” die beeld “my oë skuif in soos tussenwerwelkussings” gebruik. Hoe het hierdie beelde ontstaan?

 

Gedigte karteer sekerlik maar die landskap  waarin jy leef, of ervarings wat jy beleef op ‘n bepaalde moment. Omdat ek so nou saamgeleef het vir maande aaneen met my ‘herstel’, het ek uiteraard ‘n hele arsenaal moes opbou van mediese terminologie om alles beter te verstaan, of wat gewoon rondom my plaasgevind het. Dit het sy neerslag op assosiatiewe wyse in die gedigte ook gevind. Dit sal seker enige neurochirurg of narkotiseur met afgryse vul! Tensy hy/sy ‘n sterk poëtiese streep weg het…

Jy kry dit uitstekend reg om bepaalde oomblikke of gewaarwordinge in taal vas te vang. So behels die gedig “dooievoet” ‘n liggaamlike ervaring wat vasgevang word in taal. Dieselfde gebeur in “kladboek 2” waar ons die spreker se ervaring byna aan die eie lyf ervaar, onder meer deur die treffende beeldgebruik, byvoorbeeld: “die voet duisel terug / trap steeds op sagte swamme / sleep die stomp hakskeen agterna”. Wanneer ontstaan so ‘n gedig – tydens die ervaring self of daarna?

 

Noudat jy dit noem – ek onthou hoe ek die een voetsool met sirkelbewegings eers moes oefen op ‘n muurbalballetjie…

Soos altyd skryf ek vir geen spesifieke bundel nie. Kom ons sê ek het gedigte neergestip omdat dit ‘n manier was vir my om te ‘oorleef’. Die eerste gedigte het ontstaan in die hospitaalbed. Tuis het dit voortgegaan. Ek het dus direk na ‘n betrokke ervaring daaroor geskryf, of aangeteken. Ek het mos niks anders gehad om te doen nie! Beelde en metafore het dus maklik gevloei, soos dagdrome. Ek kon nie skilder of kosmaak nie, geen huiswerk doen nie, lank nie motor bestuur nie, ek kon nie buk nie, ek kon nie eens bad nie (ek kon wel stort), ek moes voetjie vir voetjie oefen om weer te loop en die spiere sterker te maak. Ek kon darem skryf, natuurlik, in die bed. En het ook daar webwerk op ‘n skootrekenaar gedoen. My eerste uitstappie na etlike weke hiervan, toe ons net uitgery het na ‘n wynplaas toe, was oorweldigend en eufories vir my – die gedig daaroor het ek egter gelukkig uit die manuskrip weggelaat… Maar om toe ‘n laning bome en nat gras en berge en tarentale en perde te sien, was seker soos iemand voel wat lank in ‘n tronk gesit het en dan skielik vrygelaat word.

Dit wil voorkom asof die onderbewussyn en die inhoude daarvan ‘n eie stem in die bundel kry, byvoorbeeld in die gedig “vrou” waarin ons lees: “haar stem is sand in haar ore / haar lippe ‘n litteken in die hand / as sy roep: beminde o beminde / die water is blind / as ek vorentoe swem “.Ek vermoed ook ‘n teenwoordigheid van die onderbewussyn in ‘tussenspel”, met die droomkwaliteit van die slotstrofe: “ook teen die kommetjie slaap / my diepseeduikersuurstofdroom / met pyn net ‘n dowwe sonsak/ bo die watervlak”. Die droom – dus kontak met die onderbewussyn – kom ook ter sprake in ‘n gedig soos “spoorloos”. Sou ‘n mens ‘n verband kon lê tussen die ervaring van trauma en ‘n groter mate van kontak met die onderbewussyn en sy inhoude?

 

Ja, ek kan met jou saamstem: daar is beslis vir my ‘n meer gestroopte kontak met die onderbewussyn wanneer jy deur ‘n traumatiese gebeure beweeg, hetsy fisies of emosioneel. Die gedig ‘spoorloos’ was ‘n droom, ‘n angsdroom, omdat die immobiliteit ‘n skielike‘verwydering’ teweeggebring het van geliefdes. Ek het enkele werklike drome verbeeld in digvorm, hoewel die eindproduk maklik in ‘n meer of mindere mate afwyk van die oorspronklike droom.

Marlise, sal jy asseblief een van die gedigte uit die bundel vir die lesers kan plaas?

 

 

in die koel lug

 

en wat van die lyf die hunkeringe van die lyf

die invou die vat die toemaakpalms van jou hande

soos die vlerke van ‘n duif

 

 

in die koel lug van die kamer

word ons hande droog,

word ons dors met mekaar,

maak jy my vingers weer klam.

een vir een in jou mond,

room jy met die tong.

in die koel lug van die kamer

vlieg ons die oerleegte in, gebeur

daar vreemde ritmes in die lyf.

ons sal geen kinders hiervan maak nie.

dis ook van minder belang –

ons plant ‘n boom in die graf

in plaas van ‘n kraaiende kind. in

die koel lug befluister ons mekaar

jaar in en jaar uit

met die nag se skroeiende wind.

(Uit: splintervlerk, marlise joubert; Protea Boekhuis, 2011)

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Onderhoud met Marlise Joubert”

  1. Johlene van Wyk :

    Wat ‘n lekker onderhoud om te lees! Dankie vir die hartskos. Marlise, ek het al jou digbundels (behalwe “Boot in die woestyn”) en jou gedigte is vir my sommer baie kosbaar. Ek verjaar volgende week en “Splintervlerk” is beslis op my verjaarsdaglysie. 🙂

  2. Melanie Grobler :

    so ‘n goeie onderhoud, Marlise! geluk.

  3. Marie B :

    Heerlik het ek gelees aan hierdie onderhoud – jou sommer weer so opgetower voor my soos toe ons nog soveel jonger was (Durban-Westvilledae!!) Gebruik nog altyd aanhalings uit jou ‘Klipkus’, en lees sommer net vir lekkerkry dikwels uit jou ‘Lyfsange’… sal sodra ek kans het Splintervlerk gaan soek (dink ek moes daarvoor geskimp het vir my 70ste – pas verby!) Groete

  4. Marlise :

    Marie, Melanie & Johlene, baie dankie vir julle kommentare – ek hoop die boek vind ook sy pad na julle toe.
    Marie, my rekolleksie van daardie tyd (tot 1982) in Westville is maar vaag en dof …miskien het ek te veel in die studio onder die huis deurgebring en kleipotte gegooi.

  5. Marie B :

    Marlise! Lekker laat jy my nou lag: maar vir ons ou Westvillers bly jy lewendig omdat jy ons ‘verewig’ het in jou Ontruiming se Tuisteskeppers! En dan ys ek nou nog as ek onthou hoe ek eendag deur my kombuisvenster kyk en vir Pierre daar hoog bo in die lug, bo in my ‘Pierneefboom’ op die punt van ‘n tak gewaar … en hoe die koerantopskrifte deur my hart en gemoed geangs het: AS daai tak sou breek….!! En eendag by Grahamstad Kunstefees, hoe Marcelle aan Pieter Dirk Uys vra: “Ons het 11 amptelike tale, wat van Portugees vir ‘n 12de, want in elke dorp is soveel vis-en-skyfieswinkels, groentewinkels, kafees…?” En P se verstarrende antwoord oor die verwarring van ‘n venter as hy by ‘n tuinhekke kom en in 12 tale moet lees: Pasop vir die hond, Beware of the dog …… ……. ….. tot hy by ‘n moontlike Portugese vertaling gekom het!!! Terloops, ek het ‘n wyle gelede jou probeer kontak oor internet oor ‘n skildery wat jy êrens in Europa geskilder het, wat ek wou bekom … maar die e-pos het aanmekaar teruggekom….Groete,MB

  6. Marlise :

    Marie, jou geheue is veel beter as myne! Pierre in die ‘Pierneefboom’? Kan dit nie onthou nie, maar dit klink beslis moontlik…
    ‘Tuisteskeppers’ het ek geskryf na aanleiding van ‘n modeparade in Westville deur die plaaslike vrouens. Dit onthou ek wel. Maar wag, ek skryf liewer vir jou ‘n persoonlike e-pos. Groete.

  7. MarieB :

    Ekskuus Marlise: ek kry nie my persoonlike epos na jou toe weg met die inligting nie – weet nie het ek dalk die adres uitgevee/verloor nie .. wees so gaaf en stuur asb net weer na my epos! Dankie byvoorbaat!