splintervlerk

Splintervlerk. Marlise Joubert. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-472-7. Prys: R140.  96 bladsye. Prys: R140. Sagteband.

Resensent: Zandra Bezuidenhout

splintervlerk

splintervlerk

Hier is ‘n digbundel wat groot byval onder die algemene leserspubliek behoort te vind en selfs kritikasters onder die kennebak mag kielie. Diegene wat hul vooroordele en voorbehoude oor die poësie vir die duur opskort, sal ontroer word deur die gevoeligheid en veral die teerheid van Marlise Joubert se nuwe versameling.

Sedert haar debuut met ‘n Boot in die woestyn (1970) geniet Joubert bekendheid as digter en prosaïs, en meer onlangs ook as ‘n skrywer van radiodramas waarvoor sy etlike kere bekroon is. Daarby is sy ook ‘n skilder, wat die sterk visuele inslag en die tematiese ontginning van dié medium in haar digkuns verklaar. Haar poësie kan tydsgewys in vier vroeëre (voor 2000) en drie latere bundels ingedeel word, met Splintervlerk (2011) as haar sewende publikasie in dié genre. Haar jongste verse skep egter nie die indruk dat `n “ouer” stem aan die woord is nie, en ook jonger lesers sal genot put uit die wyse waarop die spreker haar met groot intensiteit in- én uitleef in die lewe en die liefde. Soos voorheen konsentreer sy op die intiem persoonlike ervaring van die liggaam en die natuur, asook op bepaalde plekke, van Cambridge tot Stilbaai, wat in fyn besonderhede beskryf word.

Terwyl die titel Splintervlerk te kenne gee dat die heelheid op een of ander wyse geskend is, bevestig die aanvang van die bundelinhoud dat die spreker ‘n fisieke aantasting ervaar. Voorlopig gaan dit gepaard met ‘n verlies aan die vermoë om voluit te funksioneer en vryelik te beweeg, of by wyse van spreke te vlieg, omdat die “vlerk” deur `n mediese ingreep “versplinter” is. Hierdie metafoor kry ook op die bundel se voorplat beslag as ‘n vrouefiguur met ‘n verwonde rug en ‘n arm wat uitreik na ‘n voël met ‘n bloeiende vlerk – ‘n toepaslike en kleurvolle kunswerk van die digter se eie hand. Hoewel die vlerkmotief reeds telkemale in Joubert se oeuvre hanteer is en deurlopend in hierdie bundel sirkuleer, word nuwe dimensies daaraan toegevoeg. Deur die liggaamlike gekwetsheid en die daaropvolgende herstelproses as boustof te benut (maar dit nie daartoe te beperk nie), verbreed die digter die tematiese register van haar oeuvre.

Die titel van die openingsafdeling “winterklou” is ‘n knap woordskepping waarin die wrede greep en die ontberinge van ‘n bepaalde seisoen saamgetrek word – ‘n sinspeling dat die spreker haar in die kloue van `n bedreigende situasie bevind. In die inleidende gedig “Die aarde weet dit” word die pasiënt gekonfronteer met trauma en sterflikheid, gepersonifieer in ‘n skrikwekkende gestalte wat vroeër slegs as ‘n vae vermoede in haar onderbewuste bestaan het:

 

nou sien ek hom: bek gesper

die gifgroen spleet in die vuurpyltong

hy was maar altyd daar [.]

 

Maar “in hierdie intensiewe folterkamer” van `n hoësorgeenheid waar die dreiging “genadeloos deur mure grinnik”, groei die gedagte “dat ek so breekbaar is”, soos dit pertinent in die gedig “besoek” gestel word. Aan die positiewe kant word die fase van broosheid gevolg deur `n langsame proses van heling, totdat die lewe van die spreker as mens, reisiger en kunstenaar uiteindelik weer sy loop neem. Die slotgedig van die bundel kondig by wyse van terugskouing ook nuwe groei in die liefdesverbintenis aan:

 

sagter glip

ons nou oor mekaar

 

sagter ons hande

oor die mos

 

in die lyf skryf ons

weer alle verledes af [.]

 

Joubert skryf uit `n tradisioneel vroulike perspektief wat merkbaar is in die verwysings na kinders, geboorte en ‘n kleinkind; in die bewustheid van ‘n eie vroulike liggaamlikheid as dogter, minnares en eggenote; en in die kuns-gedig “waterverfskildery” waar ‘n “meisie as vrou” gestalte kry. Hierdie opstelling word gesteun deur die dromerige, liriese kwaliteit en sensuele aard van haar verse wat deur die Franse teoretikus Hélène Cixous as tekenend van die vloeibare vroulike stem beskou word en na my mening die watermerk van Joubert se digterskap vorm. Oor die jare is haar werk gekenmerk deur `n hunkering na en vervulling in die liefdesgenoot, dikwels met `n swaar erotiese lading (vergelyk die “lyfskrif” in Lyfsange van 2001 en die hartstog in Passies en passasies van 2007), hoewel hierdie keer minder eksplisiet verwoord. Tydens die hospitaalverblyf, “ver verby die gloed/ van warm huise”, bly die versugting na die geliefde (“ingreep”):

 

in steriele kamers

wat gordyne laat sak

wil ek glo móét ek glo

dat jy iewers op my wag[.]

 

Daarby word Joubert se sterk visuele ingesteldheid as kunstenaar voortgesit. Onvermydelik kom die natuur met haar rykdom aan vorm en kleur ter sprake, onder andere waar die aangesprokene buite die siekekamer waak: “ek weet van son wat oor jou hand vlek/ soms kyk jy op na die stilte van wolke// soms kyk jy weg na blouer bome/ na langbeenpalms die kiepersol die den/ dalk ook die eende in die dam”. In die gedig “besoek” bring die moeder “die mandjie blommegeel/ soos taai turksvye hier aangekom/ met pakkies vrugtelekkers met Oros/ en `n glimlag van lemoen”. Hierdie vers is een van die gaafstes in die bundel vanweë die vermenging van erns, deernis en humor, tesame met die refreinmatige “hoe is dit” in sleutelposisies binne die gedig.

`n Mens sou dus kon sê dat die digter “skilder-agtig” te werk gaan – met ‘n swaarder hand as haar voorganger Sheila Cussons, en meer soos die kunstenaar Louis Jansen van Vuuren in sy robuuste digdebuut Tempermes (2011), wat eweneens balanseer op die mespunt tussen visuele en woordkuns. Joubert se werk, soos dié van Jansen van Vuuren, is oorwegend beskrywend, direk en toeganklik, en in die segging byna naïef, hoewel Joubert se verse uiteraard tegnies meer afgerond is. Om die visuele aspek verder te versterk, word elk van die drie afdelings In Splintervlerk voorafgegaan deur ‘n kleiner afbeelding van ‘n kunswerk deur die digter. Dit bewerkstellig eenheid tussen die voorplat en die inhoud, tussen die onderskeie afdelings, en tussen die woord en beeld as uitdrukkingsvorme.

`n Interessante verstegniese strategie is die gebruik van mediesverwante terme om gewone dinge te benoem – ‘n procédé wat ook deur die medikus en digter Gilbert Gibson gevolg word. In Joubert se geval illustreer dit hoe die spreker se gedagtewêreld en die “morfienbelaaide droom” deurweek was met beelde van are, organe en mediese hulpmiddels, sodat sy allerlei sake sou opteken en benoem in terme van dit wat haar bestaan op dié tydstip oorheers het. Sprekende voorbeelde is  “die dun rugstring van `n trein” op `n muurprent in die hospitaalkamer; en die beeld van blomme in `n vaas “na vier steriele dae”:

 

agter pers vlinders bloei die trauma

van `n week, nee twee of drie tevore

toe purpertange my rug vasgeknyp het –

die kraakbeen voos soos `n neut laat bars,

weefsel soos saffraan kon kneus

en oranje meeldrade van `n vlegsel

senuwees laat knak.

 

Afgesien van die verwysings na vlerke wat in hierdie bundel `n noodwendige relevansie verkry, keer verskeie van Joubert se geliefkoosde motiewe, beelde en woordkeuses in haar jongste bundel terug. Bome, blomme, reën, wind, seisoene, wolke en landskappe kom dikwels voor, en beelde volg mekaar snel op. Die digter praat visueel en konkreet en streef nie na sober, onderbeklemtoonde segging nie. Hierin staan haar werk enersyds teenoor die strakker en soms meer kriptiese verse van `n huidige digtersgenerasie. Andersyds verskil dit tog van die heelwat losser en meer uitgesponne verse wat ook tans geskryf word. By Joubert is daar `n duidelike versstruktuur, hoe informeel ook al, en sy verdien krediet vir die wyse waarop sy die vryeversvorm gedissiplineerd en kundig hanteer.

Die enigsins bloemryke aanslag vorm nie `n belemmering vir haar posisie in die kanon nie, want die postmodernistiese viering van veelheid en verskeidenheid plaas `n vraagteken oor `n eensydige verwagting van wat digkuns “behoort” te wees. In dieselfde gees moet `n mens in ag neem dat poësielesers nie almal dieselfde behoeftes, en digters nie almal dieselfde benadering tot die woordkuns het nie.

Nietemin word `n digter se jongste werk onvermydelik met vorige bundels vergelyk. Met haar Passies en Passasies het Joubert vir haarself `n hoë standaard gestel, onder andere deur ander digters se werk as vertrekpunt gebruik en tot eie skeppings te omvorm, asook deur die musiek- en kunstema in meer diepte te ontgin. In die poësiewêreld, soos in al die kunste, is dit egter nie ongewoon as `n digter nie heeltemal dieselfde peil met `n daaropvolgende bundel ewenaar nie. Dikwels keer die flonkering van `n vorige werk later terug, of word `n nuwe weg ingeslaan wat ander hoogtepunte mag meebring. En tog is Splintervlerk met sy verskeidenheid aan temas, toonaarde en style nie sonder literêre meriete nie.

Die middelafdeling “rugkaatsing” roep beide “terugkaatsing” en “rug” op, motiewe wat telkens in die bundel figureer. Wanneer die pasiënt na haar huis terugkeer nadat die “splinters vlerk verwyder is”, reflekteer sy oor die tuiskoms en dinge van die verlede. Die “ou bekendes” soos “oogdruppels naellak en lyfroom/ die digbundels wat ons deel” skep `n gevoel van intimiteit, maar dit is ook die ruimte waar sy die moeisame proses aandurf om weer met “blinde tone”, `n “stomp hakskeen” en ‘n “jellierige kuit” te probeer loop. Dit vorm `n mooi parallel met die poging om opnuut haar digterlike en kunsbedrywighede op gang bring, want sy “klad onthoue aan mekaar” om “los te kom…uit hierdie tydelike gaasverband van taal”. Verwysings na die mediese toestand word ongemerk volgehou, tot by die herstelde samesyn met die geliefde in die slotgedig (“barbituur”):

 

my oë skuif in soos tussenwerwelkussings

ons word mekaar in greine breekbaarheid

sal alles heel soos dit was

 

en

 

ons slaap weer teen mekaar

wang teen wang: twee vliesige

blomme in `n broeikas gekweek[.]

 

Hoewel lesers waarskynlik deur Joubert se kleur- en beeldryke aanpak meegevoer sal word en met die tematiek sal kan identifiseer, kan sekere vrae uit ‘n literêr-akademiese oogpunt nie verontagsaam word nie, soos of die gedetailleerde ervaring van die persoonlike nie in `n sterker mate tot `n universele beginsel kon uitgroei om van hierdie bundel iets groters te maak nie. Die gegewe van lyding, heling en oorlewing is teenwoordig, maar `n geoefende poësieleser sou moontlik `n sterker bewustheid wou sien van hoe die aantasting van die liggaam ons na iets buite onsself neem; na `n verhewigde staat van hierwees en menswees, van afhanklikheid, en hoe die “splintervlerk” van `n individu by die groter raamwerk van bestaan inpas.

Hiervoor is tekens van besinning nodig, asook innoverende maar oorwoë taalgebruik met verrassende invalle en wendinge ten opsigte van die versaanbod. So ‘n benadering sou genoegsaam boei om die werklikheid oop te breek en lesers na nuwe insigte te lei. Dit is nie Joubert se styl nie, maar `n sterker filosofiese onderbou kon ‘n mens te staan bring voor welke toestand van geskondenheid dan ook al. Die persoonlike bieg is dus nog nie voldoende omgewerk om `n algemene perspektief op die menslike kondisie te gee en tot poësie gemaak nie. Aan die ander kant is dit ook lesers se taak om die produk van `n digter se ervaringe by wyse van die verbeelding op hul eie belewenis oor te dra en self by `n vraagstelling (of antwoord) uit te kom.

Joubert se nuutskeppinge is prominent en die kreatiewe omgang met taal word verwelkom, mits dit nie gesog of geforseerd voorkom nie. Lesers kan self besluit hoe samestellings soos “skuimsleep”, “brokkelrots”, “kussingkoud”, “diepseeduikersuurstofdroom”, “sirkelslang” (as werkwoord), “marmerdroom”, “eendjieweggooidoek” op die oor val; en ook of die lang ritse indrukke en herhalings nie mettertyd vermoeiend inwerk nie. Vir my staan die digter sterker waar sy spaarsamer met woord en beeld omgaan, en meer suggereer as uitsê, soos in “geboorteplek”, “poskaart” en “kerberos”. Die titel “dryfgoed” is `n raak benaming vir die slotafdeling met sy gevarieerde versameling verse wat grootliks afwyk van die tematiese stof waarmee die bundel open. Van die beste gedigte staan in hierdie afdeling en tref vanweë die verbeeldingrykheid en groter afstand (“balspel. ‘n akwarel”, “waterdans”), maar die potensiaal word in die meeste gevalle deur oortollige woorde en ‘n neiging tot sentimentaliteit gekortwiek.

Splintervlerk neem die leser op `n interessante en dikwels ontroerende reis. As die bundelafdelings van agter na voor herlees word, bied dit weer `n ander visie op die inhoud. Daarby is dit  verrykend om te sien hoe ‘n digter-kunstenaar haar in die sigbare wêreld indompel en dit met haar gevoelslewe verweef. Dit is binne hierdie kader dat Marlise Joubert se jongste bundel waardeer en geniet moet word.

 Lees meer

Bookmark and Share

4 Kommentare op “splintervlerk”

  1. Wonderlike mooi omslag, nog mooier verse!

  2. sebra :

    Dankie tog dat ek een van die algemene leserspubliek is wat my kan verlustig in Joubert se virtuositeit as woordkunstenaar. Sy gaan nie alleen skildermatig te werk nie, maar eintlik sinistesies want al die sinne sing saam in hierdie poësie en resoneer by hierdie leser op ‘n wyse wat deure open na nuwe maniere van kyk, hoor, proe en tas en ja, ruik.
    Dig voort Marlise Joubert, kritici is lankal vergete dan leef die digkuns nog voort.

  3. Leon Retief :

    Hoor hoor! Niemand het nog ‘n standbeeld vir ‘n kritikus opgerig nie…

  4. Cas Vos :

    Hierdie bundel (splintervlerk)bevestig ‘n digterskap van hoë kwaliteit. Sonder pretensie vloei die een reël, die een strofe, die een gedig oor na die ander.
    Daar is nie vernuwing in die sin dat die digter nuwe patrone skep of oues nuut gebruik nie. Wat wel nuut is, is die segging en die poëtiese net wat uitgegooi word. Oral uit die see van gedigte duik nuwe woordskeppings op, en ontglip die leser weer so behendig. Dis beeld op beeld, sonder om mekaar te verwar of in wanbalans te verval. Elke woord, elke beeld het sy holte.
    Die titel is ‘n vernuftige vinding. Onder splintervlerk kan al die gedigte skuil.
    Die buitebland is aangrypend. Dit vloei visueel in die stroom gedigte in. Dit skep ook ruimte vir die verbeelding. Knap gedaan, Marlise. Die bundel is ook die verhaal van ‘n lewe wat moeiliker en moeisaam verloop. Daarom is daar soveel deernis, liefde, pyn, verlange en egtheid.
    Die sketse by die verskillende afdelings maak die gedigte visueel. Dit wys hoe woord en skets elkeen op sy eie manier oor splintervlerk dink en voel.
    Die drie afdelings is gevoelig en vernuftig georganiseer. Siekte en pyn tril deur die bundel. Die openingsgedig beskryf die ervaring pynlik en akkuraat. Dit is eintlik ‘n ontroerende gedig om die stryd teen siekte te verwoord. Maar alles verval nie in wanhoop nie. Hierdie eerste gedig open ook ‘n gleufie lig. Lumbale mikrodiskektomie is ‘n uitmuntende gedig. ‘n Ganse lewensloop word verbeeld. Enkelkamer is as verlossing en met humor geskryf. Die teenstelling tussen die siek digter en haar ma is ontroerend. Ma wen al weer! O, dis mooi en eg. Ook die kleinkind kom in verskeie gedigte voor. Die verlange, die verdriet. Vir die digter is die bed onhaalbaar ver en kussingkoud haar toeverlaat. Dis treffend gesê. Ook die geliefde word in talle gedigte onthou en liefdevol opgeroep. Die beminde wat ‘as dit groen en oggend is’, by haar sal wees.
    In die tweede afdeling is die sieke tuis. Hier in die vertroude omgewing wag alles en almal op haar – veral die beminde. Die verbysterende gesig van die liefde. Sy verklaar ook haar liefde aan haar beminde. Die heup vind rus in die hawe van sy hand. ‘n Mooi beeld! Kamerjas is vol spel en humor. Reisherinneringe speel ook ‘n belangrike rol in die bundel en word nou-keurig aangeteken. Fragment stel ikonies die slingergang van Praag voor. Die kleinkind kom op elke hoek voor (spoorloos). Want bloed is dikker as water.
    Dryfgoed is ‘n heg geweefde afdeling. Die belang van die woord en waterverf kom hier dikwels voor (sin, meer as een keer, waterverf, ens). Hier staan die skeppingsproses voorop. Al is dit met gelapte vlerke. Die pyn van ‘n gekneusde verhouding kom ook voor. Pyn het vele kante. Poskaart is ‘n besonder eenvoudige en treffende gedig. Juis vanweë sy eenvoud en egtheid. Die verlange na die kleinkind klop aan baie gedigte se deure. Ek hou baie van Stilbaai. “uitgedoofde sterre” is miskien bietjie geyk (dryfgoed, 3). Die waansin van die lewensverwoester word treffend in Kerberos verdig. Die koning van sy bende beendere – uitstekend. Die e-posgesprek is vars en nuut. Ag, die gesels oor land en sand. Die slotgedig, mos, is ‘n wonderskone liefdesgedig met ‘n onverwagte slot.
    Die bundel is so toeganklik en vars soos die seebries. Dit het my hart goed gedoen. Dis so menslik. Marlise, welgedaan! En uit die hart uit geluk!