Louis Esterhuizen. Die metafoor as lugdrukboor

Metafoor

Metafoor

Ons weet almal dat die metafoor die lugdrukboor van die digkuns is, want dit is juis daardeur wat ‘n gewone prosateks resonansie (of is dit nou stoornis?) verkry en as iets poëties beskou word. Daarom dat ‘n artikel oor metaforiese taalgebruik en hoe dit ons denke beïnvloed op Psychology Today se webblad my aandag getrek het. David DiSalvo se artikel handel naamlik oor ‘n reeks van vyf verskillende ekspiremente wat deur Paul Thibodeau en Lera Boroditsky van die Stanford Universiteit  gedoen is:

“Researchers Paul Thibodeau and Lera Boroditsky from Stanford University demonstrated how influential metaphors can be through a series of five experiments designed to tease apart the ‘why’ and ‘when’ of a metaphor’s power.  First, the researchers asked 482 students to read one of two reports about crime in the City of Addison. Later, they had to suggest solutions for the problem. In the first report, crime was described as a ‘wild beast preying on the city’ and ‘lurking in neighborhoods’. Hierna is hulle gevra watter optrede dié misdade vereis; 75% het gestem ten gunste van swaar strawwe, met ‘n pleidooi ten gunste van meer tronke en selfs die steun van die weermag om die polisie te help om misdaad te bekamp. Net 25% was ten gunste van sosiale programme wat ‘sagter opsies’ soos onderwys en maatskaplike betrokkenheid behels.

Die tweede verslag wat die groep studente moes lees, het meer getemperde metafore bevat: “The second report was exactly the same, except it described crime as a ‘virus infecting the city’ and ‘plaguing’ communities. After reading this version, only 56% opted for great law enforcement, while 44% suggested social reforms.”

Interessant genoeg het die toetsgroep glo self nie besef in welke mate hul standpunt deur die bepaalde gebruik van metafore beïnvloed is nie. Toe hulle deur Thibodeau en Boroditsky gevra was om aan te toon watter gedeelte van die verslag hul standpunt bepaal het, het 97% na die misdaadstatistiek verwys en nié na die taalgebruik nie. Hierdie bevinding is dan glo ook deur verskeie ander eksperimente bevestig.

Maar watter gedig om hierby aan te haak? Natuurlik is daar sommer ‘n hele boekrak vol kontemporêre digters wat die metafoor met groot sukses gebruik … Myns insiens is dit egter Ernst van Heerden wat die metafoor soos min ander kon hanteer en na alle waarskynlikheid nog nooit die nodige erkenning voor gekry het nie.

Daarom, ‘n gedig van hom.

Lekker lees.

***

Vlermuis

 

Karoo-aand –

en ‘n pieper wat sy dun gil-drade

om die stoeppaal hang;

‘n klein sambreel word soos ‘n mantel

toegevou

en hou

die donserige bors-pels toegedek.

 

Sien hy deur windsels van die ewenaar

ontsaglik groot die poolstreek omgekeer

as maan,

en heel die duister- aardse meganiek

van vierkant, driehoek, sirkel,

in enkele stippelpunt gevang?

 

Hy fladder lomp

en vleg deur digte weefsels van gevaar,

en hang,

onduiselig en nugter,

waar donker warmte is

en hy met piep en kras

aan sagte tepels van die sterre drink.

 

© Ernst van Heerden (Uit: Kleur van donkerte: Verse 1942 – 1956 )

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.