Louis Esterhuizen. Osama Bin Laden se afwesige kuberspoor

Osama Bin Laden

Osama Bin Laden

Ek het nou nie juis gedink om iets oor Osama Bin Laden se onlangse dood te skryf nie, maar toe lees ek die volgende berig op Yahoo.com se Nuusblad raak, wat my toe tog geïnteresseer het. Soos almal weet, het Bin Laden daarin geslaag om die Amerikaanse snuffelnetwerk vir jare suksesvol te ontduik; ten spyte daarvan dat die CIA en ander belanghebbende trawante oor waarskynlik die mees gesofistikeerde snuffeltoeristing ter wêreld beskik.

Veral die totale afwesigheid van Bin Laden se digitale voetspoor in die kuberruim het die snuffelaars jarelank dronkgeslaan, want met ‘n uitgebreide organisasie soos Al-Qaida onder lede móés daar uiteraard by tye elektroniese kommunikasie plaasgevind het. Maar nooit ooit kon hulle enige spoor hiervan vind nie …

Tot met die suksesvolle aanslag op sy lewe in sy skuilhuis. Daar het die Amerikaanse soldate op ongeveer ‘n honderd geheuepenne afgekom wat e-posse van Bin Laden aan ander, sowel as ander se e-posse aan Bin Laden, bevat het. Maar hoe het hy dan daarin geslaag om sy netwerk só lank onder die Amerikaanse se soekligte te weef?

Pas het die CIA dié eenvoudige, dog effektiewe, prosedure aan Associated Press verduidelik: “Holed up in his walled compound in northeast Pakistan with no phone or Internet capabilities, bin Laden would type a message on his computer without an Internet connection, then save it using a thumb-sized flash drive. He then passed the flash drive to a trusted courier, who would head for a distant Internet cafe. At that location, the courier would plug the memory drive into a computer, copy bin Laden’s message into an email and send it. Reversing the process, the courier would copy any incoming email to the flash drive and return to the compound, where bin Laden would read his messages offline.”

Volgens die woordvoerder bevat hierdie geheuepenne ‘n oorweldigende hoeveelheid inligting en kontakbesonderhede van Al-Qaida se lede en aktiwiteite. Hiervolgens blyk dit byvoorbeeld dat Bin Laden tot met sy dood as leier van die organisasie gefunksioneer het en nooit die mag aan sy adjudant, Ayman al-Zawahri, oorgedra het soos dit vermoed was nie. Ook kon die magdom ontleders geen aanduiding vind van enige terreur-aanvalle wat tot op daardie stadium beplan was nie: “The files seized from bin Laden’s compound not only have the potential to help the U.S. find other al-Qaida figures, they may also force terrorists to change their routines. That could make them more vulnerable to making mistakes and being discovered.”

Goed, toegegee. Eintlik het ek ten gunste van dié skryfsel besluit sodat ek die Afrikaanse woord “geheuepen” (in plaas van memory stick of flash disk) kon gebruik … En ‘n toepaslike gedig? Mmm, dis mos nou maklik: Marius Swart se manjifieke liefdes-e-pos wat in Nuwwe Stemme 4 verskyn het.

***

liefdes-e-pos

 

geliefde,

ek stuur vir jou

‘n rewritable DVD

 

daar’s ‘n paar nice songs op wat ek

op limewire afgelaai het

en ‘n show van Jeff Dunham ook

daai ou met die poppe, jy weet?

Achmed the dead terrorist en hulle?

fokkit, hy’s funny!

jy sal dit LOVE.

ek hoop jou DVD player lees die ding,

anders moet jy maar op die laptop kyk.

 

ek sit vir jou ‘n potjie fish paste ook by

ek weet dis moerse random,

maar ek weet ook jy hou daarvan

en ek is in elk geval mos nie nou daar om te keer

as jy my met ‘n visasem wil soen nie.

 

verder wil ek maar net sê

ek het vir jou ‘n gediggie probeer skryf

met woorde soos borsies en donsige perskes en hart

 

maar toe dink ek by myself:  fokkit, bra, haar pa gaan

jou mos nou totally dik bliksem

as hy dít ooit moet lees.

 

so toe los ek die perskes

jy weet tog, enige iets peach-erig maak my anyway

                                                            instantly naar

ná daai episode met die bottel Hooper’s perske-schnapps.

 

ag jirre, ek kon anyway nog nooit sentimenteel wees nie.

of minstens nie as ek nugter is nie.

 

elk geval.  die gedig was ‘n fokop, soos jy kan aflei.

 

ek sal môre weer ‘n slag foto’s

op facebook sit,

kyk maar daar.

 

o ja, die gedig, voor ek groet,

dit het so geëindig:

my wange mis jou hart wat klop

en my neus mis jou nek.

 

(c) Marius Swart (uit: Nuwe Stemme 4, 2010: Tafelberg)

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Louis Esterhuizen. Osama Bin Laden se afwesige kuberspoor”

  1. Daniel Hugo :

    Naas “geheuepen” ken ek ook die woord “datastafie”. Geheuepen is natuurlik poëtieser.

  2. Marlise :

    Die woord wat ek nog die meeste gehoor het in die omgang is ‘geheuestafie’.

  3. Daniel Hugo :

    Dan is daar nog “geheuevinger” ook. Maar dit klink nogal suggestief.