Breyten Breytenbach. digters neem afskeid reël vir reël*

digters neem afskeid reël vir reël

 

met die hitte van die dag in die sokkerveld se sand
het twee honde gepaar en hul luste en lieste verstrik –
die kinders het klippers na hulle gegooi

my vriend het gesê: wanneer die Harmattan ophou tog en teug
is die son die vloeibare lood waarop jy peil kan trek
want dit word dood se skulpruimte van skadu

die hart is ‘n winterdier

jy sal aan boord moet gaan: wanneer stof tot vergestalting transformeer
word ‘n ruimte geskep en hierdie spasie maak plek
vir die sinkronisering van werklikheidsverbeelding

geknoop in woordlusse. dis die beweging van gaan.
jy het deur die nag gereis soos ‘n slapende dier
het my vriend gesê, geskulp in die Melkweg

maar hierdie eiland behoort aan stemme
die mense is nie joune nie en lug is nóg water
en hulle sal nie sien wanneer jy opstaan om te vertrek nie

die hart is ‘n winterdier

digters neem altyd afskeid reël vir reël.
dis soos grondboontjies kou om die smaak te vergeet
of om dooie salmanders uit die watertenk te vis

het my vriend gesê: die pad vorentoe is vir seker onbekend
en waar is die lanterns op die bergpieke,
waar die honderd moerbeibome, waar die krisantblare

om die wyn te geur? waar is die vissies soos munte
uit die see se gebarste beurs? jy pak klippe
op die droom wat van woorde gemaak is

die hart is ‘n winterdier

een vir een word die digters oud, het my vriend gesê –
soos monnikke in rooi klede sal ons vergaan tot stilte
maar niemand gaan ons daarvan weerhou

om nog ‘n paar bottels oop te maak
wanneer asem uit die noorde die nagte bloukoel spoel
en geheuelose minnaresse met die tande verslyt van grondboontjies kou

in binneplase waar frangipani’s bot
hurksit oor kleipotte vol kole se gesmeulde soet
om hulle dye met die aai van illusie te verhit –

hulle het vergeet dat hulle tog nog onthou
van reël tot reël soos die sterretuin ontvou
dat die hart ‘n winterdier is

wie is ek? het my vriend gevra. ek is die aarsenaar
wat jou skaduwee en die hangstilte van aasvoëls bewaar
ek is die een wat jy van vers tot vers agterlaat

van droom tot ontwaking – my naam is Saadi Joesef.
my naam is Ko Un. my naam is Ch’u Chu’ang I.
ek is die wind wat klip geword het

want kyk, wanneer jy loop het die signare reeds ‘n sakkie
so groot soos ‘n hart aan die katelstyl gehang
met die sand van jou laaste voetspore

o jy het die wind met woorde probeer stenig
maar kyk, in donker seile bol ‘n maan.
en die hart, die hart is die winterdiersterfte

 

© Breyten Breytenbach, Mei 2011

 

 

 Bogenoemde gedig het verskyn op Boekeblok, Die Burger 30 Mei 2011

Bookmark and Share

Comments are closed.