Marlies Taljard: Sprokies

In moderne tye geniet outeurs soms byna goddelike status. Daarvan getuig die eerbied en waardering waarmee allerweë na die werk  verwys word van bekende skrywers soos Shakespeare, Pablo Neruda, T.S. Elliot en duisende ander. Maar hoe gemaak met literêre produkte soos sprokies, mites en legendes waarvan die skeppers onbekend is? Kan dit ook as letterkunde gereken word en word dié genres (vorme) steeds beoefen? In sy boek Einfache Formen (1965, Niemeyer Verlag: Tübingen) probeer André Jolles ‘n beskrywing en verklaring bied van dié literêre verskynsels wat hy eenvoudige vorme noem.

Jolles voer aan dat daar in die letterkunde, in teenstelling tot die “kunsvorm” ook ‘n primitiewe “eenvoudige vorm” bestaan wat uit die volk ontstaan sonder dat ‘n enkele outeur nagespeur kan word. Hierdie kuns word streng wetmatig geskep volgens spesifieke genre-reëls. Volgens hom is die “kunsvorm”, soos die roman, die novelle ens. wat aspireer om kuns te wees en wat enkelouteurs later begin beoefen het, in ‘n sekere sin ‘n nabootsing van die primitiewe vorm, wat die oorspronklike vorm is. Hy klassifiseer die volgende genres onder primitiewe of eenvoudige vorme, naamlik legende, sage, mite, raaisel, spreuk, staaltjie, memorabile, sprokie en grap.

Omdat hierdie vorme ook vir die poësie belangrik is en volgens my mening kreatiewe energie aan enige skeppende kunstenaar verleen, gaan ek vandag ‘n ietsie sê oor die sprokie.

Koerantopskrifte soos “Sangeres se Sprokiestroue” kom byna daagliks voor, en wanneer twee geliefdes mekaar in die slot van ‘n roman vind, is die veronderstelling dat hulle, soos in ‘n sprokie, lank en gelukkig sal saamleef. Maar wat is ‘n sprokie presies? Is alle verhale met ‘n gelukkige einde sprokies, en het alle sprokies werklik ‘n gelukkige einde?

Jolles se definisie van “sprokie” berus op die versameling Kinder- und Hausmärchen van die Grimm-broers wat in 1812 verskyn het. Alles wat op die lees van dié vertellings geskoei is, beskou Jolles as “sprokies”. Enkele jare voor die verskyning van die Grimms se boek, verskyn Clemens Brentano se versameling Des Knaben Wunderhorn waarin die samesteller egter uiters onsensitief met sy stof omgegaan het deur byvoegings, weglatings en selfs blote navertelling van die verhale wat hy versamel het. Gevolglik het die oorspronklike styl van die volksverhale in die proses verlore gegaan. Die Grimm-broers het hulle stof baie nader aan die verhale probeer hou wat in die volksmond geleef het en aan hulle oorvertel is. Jacob Grimm skryf in dié verband aan Brentano se medewerker, Arnim: “… my hele navorsing berus daarop om te leer en aan te toon hoe ‘n groot epiese letterkunde oor die hele wêreld heen geleef en gefunksioneer het, hoe dit al hoe meer deur die mens vergeet en verloor is, of indien dit nog nie heeltemal verlore is nie, hoe die mens steeds daarvan leef en daarop teer.  (…) Soos die paradys verlore gegaan het, so is ook die tuin van die ou letterkunde vir ons toegesluit, alhoewel elkeen nog ‘n klein stukkie paradys in sy binneste ronddra.”

Die sprokie as primitiewe vorm

Gemeet aan die romanvorm, wat volgens die Grimms ‘n sogenaamde skaduvorm vir die sprokie is, is dit duidelik dat die twee genres struktureel diepgaande van mekaar verskil. Die roman poog, volgens ‘n literêre teorie van die vroeë twintigste eeu, om die wêreld op kunsmatige wyse tot ‘n kunswerk om te orden. Dit beeld ‘n deel van die wêreld of die “rasionele werklikheid” uit deur van wetmatighede gebruik te maak wat algemeen in die wêreld, of wat ons as die “werklikheid” aanvaar, geld. In teenstelling daarmee beeld die sprokie ‘n werklikheid uit wat nie eie is aan die natuurlike wêreld nie. Dit skep ‘n nuwe wêreld met sy eie wetmatighede wat slegs in die sprokie geld – dit beeld dus ‘n sprokies-werklikheid uit, terwyl die roman die lewe, die wêreld en die werklikheid so lewensgetrou moontlik probeer weergee. Die sprokie is van so ‘n aard dat die werklikheid kan deel word van die sprokie, maar die sprokie kan nooit deel word van die werklikheid nie. (Vandag weet ons natuurlik dat begrippe soos “wêreld”, “werklikheid” en “lewe” relatief is en nie ‘n enkele, agterhaalbare gegewe verteenwoordig nie. Ook poog postmodernistiese romans nie meer om “die werklikheid” uit te beeld nie.)

Omdat die sprokie dus nie skeppend ten opsigte van die werklikheid/wêreld optree nie (nie die werklikheid tot kuns omvorm nie),  is dit nie ‘n kunsvorm nie, maar ‘n primitiewe vorm.  Die verskil lê in die ontstaanswyse van die twee vorme: die kunsvorm beeld ‘n deel van die lewe uit – dit word “gemaak”; by die primitiewe vorm word die wêreld ingetrek in ‘n sisteem wat slegs sy eie wetmatighede gehoorsaam en die wêreld moet by hierdie wetmatighede inval – hier praat Jolles van “ontstaan”. Waar die kunsvorm poog om uniek te wees, is dit ‘n kenmerk van die primitiewe vorm om die algemene uit te beeld, om telkens weer dieselfde vorm en dieselfde wetmatighede te benut.

Geistesbeschäftigung (gerigtheid) van die sprokie

Aanvanklik is die sprokie as ‘n soort moraliteitsverhaal beskou, en Perrault sluit, teen die einde van die sewentiende eeu, inderdaad ook elkeen van sy sprokies met ‘n lewensles af. In welke mate daar in die sprokie egter sprake is van deug wat beloon word en ondeug wat gestraf word, is beredeneerbaar. Neem byvoorbeeld die sprokie van die gestewelde kat: niks sê vir ons dat die jongste seun deugsaam was en sy ouer broers nié. Die jongste seun is ook net gehoorsaam in die sin dat hy doen wat die kat hom beveel.  Die kat self lieg en bedrieg van begin tot end. Hy vreet ‘n towenaar op wat hom geen leed aangedoen het nie.  Ook Doringrosie is nie besonder deugsaam nie; trouens, sy oortree willens en wetens die verbod van haar ouers.  Die prins wat haar red is nie deugsamer as sy voorgangers nie …

Kyk ons na die sprokie van die gestewelde kat, lyk die aanvanklike opset vir ons onregverdig: die jongste seun word as’t ware deur sy pa onterf, terwyl die twee ouer broers waardevolle items erf. Hierdie gegewe gaan teen die grein van die leser se sin vir regverdigheid en ons wil hê dat dié toestand so gou moontlik opgehef word. In die loop van die verhaal gebeur presies die verwagte: die leser se sin vir regverdigheid word bevredig deurdat die jongste seun baie meer rykdom as sy broers bekom. Die bevrediging is daarin geleë dat die verwagting van die leser in vervulling gaan, dat die einde in ooreenstemming is met die mens se aangebore sin vir regverdigheid.

Dit lyk dus asof hierdie verwagting van hoe die lewe eintlik behoort te verloop die norm is waarvolgens die sprokie funksioneer – dit is die “Geistesbeschäftigung” van die sprokie (dit waarop die sprokie gerig is). Tereg merk Perrault en ander op dat dit hier gaan om ‘n tipe moraliteitsverhaal, maar die moraliteit is nie ‘n filosofiese (moderne) moraliteit nie. Dit gaan in die sprokie nie oor “Wat moet ek doen?” en ‘n gevolglike waardebepaling na aanleiding van gemeenskapsnorme nie, maar wel om “Hoe behoort die lewe eintlik te wees?” Die etiek wat hier ter sprake kom, is nie die etiek van handeling nie, maar die etiek van gebeure, of – soos Jolles dit noem – die etiek van primitiewe (voor-religieuse) sedes. Die “etiek van handeling” is ‘n aangeleerde stel normes en waardes wat nie inherent in die mens aanwesig is nie en wat dikwles sy oorsprong in die religie het. Daarteenoor is primitiewe sedes (soos ‘n sin vir regverdigheid) inherent in die mens aanwesig – dit hoef nie aangeleer te word nie en geld vir alle mense en alle tye.

Hierdie naïef-etiese oordeel is ‘n suiwer gevoelsoordeel. Dit staan buite die godsdiens, want dit is nie dogmaties of afhanklik van goddelike beskikking nie. Dit is ‘n absolute oordeel, suiwer op primitief-etiese gronde gebasseer. Hieruit kan ons die afleiding maak dat die verloop van die sprokie só georden is dat dit volkome beantwoord aan die eise van die naïewe/primitiewe etiek; dus, dat dit verloop  volgens ons gevoel van wat “goed” en “regverdig” is. Die ware lewe staan in skrille kontras tot die sprokie omdat dit selde in lyn met die die sprokie verloop deur die naïewe etiese gevoel van wat “regverdig” is, te bevredig!

Jolles noem die wêreld waarin ons leef ‘n tragiese werklikheid, want een definisie van “tragiek” lui: “iets wat moet wees maar nie kan wees nie” of: “iets wat nie kan wees nie, maar wat moet wees”. Die sprokie is ‘n vorm waarin die tragiese erken word, maar ten doel het om dit op te hef.  Die aanvangsituasie is gewoonlik ‘n “tragiese” situasie wat in die alledaagse lewe sou “pas”, terwyl die oplossing dan kom op die vlak van die sprokie – dit wat behoort te wees!

Die wonderbare as vanselfsprekend

Wanneer ons die wêreld van die sprokie betree, verlaat ons die “onregverdige wêreld”, meestal deur bemiddeling van die wonderbare. Sodoende ontstaan die paradoks wat een van die basiese bestanddele van die sprokie is: die wonderbare is in die sprokie nie wonderbaar nie, maar vanselfsprekend. Dit is die enigste wyse waarop die wêreld en sy onregverdigheid besweer en opgehef kan word.

Ruimteplasing in die sprokie is altyd “in ‘n land ver hiervandaan”; tydplasing is “lank, lank gelede”. Sodra die sprokie trekke van historiese tys- en plekplasings sou bykry, soos dikwels in hibriede-vorme gebeur, boet dit iets van sy trefkrag in. Daardeur verwerf dit eienskappe van die onregverdige ware lewe. Omdat dit in die werklikheid gesitueer word, verloor die wonder sy trefkrag, want in die lewe is wonders ongeloofwaardig.

Ook die personasies wat in die sprokie optree, moet voldoen aan die eise wat die primitiewe etiek stel. As die prins die naam van ‘n geskiedkundige figuur sou dra, sou onmiddellik oorbeweeg word van gebeure-etiek na handelingsetiek. Die leser sou nie meer vra: “Wat het toe met die prins gebeur?” nie, maar “Wat het die prins toe gedoen?” Die bose karakters soos hekse, trolle, monsters en dergelikes verteenwoordig in die sprokie die deurgang na die werklikheid, terwyl goeie feetjies en hulle helpers ‘n weg bied om aan die werklikheid te ontvlug. Beide soorte karakters besit wondergawes en is vlak karakters wat óf die gang van gebeure verhinder óf dit aanhelp. So verkeer die gestewelde kat in stryd met ‘n wese wat volgens sy aard in die pad staan van geregtigheid en die jongste erfgenaam se geluk. Die skatte van die towenaar behoort nie aan homself nie, maar aan die persoon wat eerste te min gekry het.

Die struktuur van die sprokie

Een van die mees opmerklike eienskappe van sprokies is die sogenaamde motiewe waaruit dit aaneengeskakel is.  (Bv. Onregpleging – held vertrek na ‘n ver land – held word getoets – held seëvier – beloning – terugkeer). Sprokies word soms volgens motiewe in verskillende kategorieë verdeel. Sommige teoretici soos Vladimir Propp gaan selfs so ver om te beweer dat die sprokie niks meer is as ‘n aaneenskakeling van sekere motiewe nie: ‘n mens kan dus die sprokiesmotiewe wat algemeen voorkom willekeurig aanmekaarryg om ‘n oneindige aantal sprokies te genereer. Hierdie stelling is egter effens vergesog, want die sprokie is niks anders as gebeure nie – gebeure in die vorm van die primitiewe etiek.  As ons die tipiese struktuur van tragiese begin, ontwikkeling in die rigting van die etiese slot met sy tragiese beletsels sou wegneem, sou daar geen sprokie oorbly nie. Hierdie streng wetmatige verloop van gebeure is die basiese struktuur van die sprokie, en nie die motief nie.

Wat interessant is, is dat sprokies eenvoudig nie deur enkelouteurs geskep kan word nie – selfs die bekende sprokies van Hans Christiaan Andersen is kunssprokies. Dit lyk dus asof hierdie eenvoudige vorm, veral omdat dit met identiese motiewe en al dwarsoor die wêreld voorkom, ‘n vorm is wat so oud is soos die mens self en uit die kollektiewe onbewuste van die mens ontspring. ‘n Moderne sprokie soos dié van Diana, Prinses van Wallis, wat wel al die trekke van ‘n egte sprokie bevat, is byvoorbeeld kollektief geskep deur die media en die leserspubliek deur elemente van die “regte” lewe te ignoreer en te omskep in iets waaraan die moderne mens steeds ‘n diep behoefte het. In moderne tye bevat gewilde liefdesromans dikwels nog kenmerke van die sprokie deurdat dit op lesersbevrediging gemik is, maar egte sprokies is dit nie meer nie, omdat dit die “regte” wêreld probeer representeer en voorhou in plaas daarvan dat dit ‘n eie wetmatigheid skep wat nie in ooreenstemming met die “werklikheid” is nie. Ook die verabsolutering van mediasterre neig in die rigting van die sprokie, maar die global-village-sindroom verseker dat elemente van die “regte” wêreld die sprokie bly binnedring.

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Marlies Taljard: Sprokies”

  1. Baie lekker artikel. Waar pas Die Klein Prinsie in? Ek vind kinders van 9 verstaan nie die ironie en word nie ingetrek nie? Hoekon nie? Tog kyk hulle na animasies op TV wat ver weg van daaglikse realiteite is. As mens na Winnie the Pooh kyk leer die ‘sprokie’klein Britse kinders baie van ironie. Dit word hulle werklikheid. Wat is ons Afrikaanse sprokies? Dalk Antjie Somers of selfs Honnibal se adoonshulle. Dan is die grap/sprokie genres verwant soos jy hier noem. Wat van magiese realisme as ‘n sprokie matriks wat deurgesypel het in die werklikhede van die roman skrywer?

  2. Sjoe, Evette, jy vra indringend! Ek dink Die Klein Prinsie en Winnie the Pooh is nie regte sprokies nie, dis kunssprokies. Regte sprokies het dieselfde waarhede dwaroor die wêreld. Dit beteken dat jy byvoorbeeld ‘n Rooikappie-tipe verhaal by die Indiane in Noord-Amerika sou gekry het, in Rusland, in Afrika en China … Ek praat in die verlede tyd omdat ek glad nie seker is dat sprokies nog in die volksmond bestaan nie. Antjie Somers sou dalk geklassifiseer kon word as ‘n sprokie – jy is heeltemal reg daaroor. Maar die grap (soos Adoons-hulle) is ook ‘n primitiewe vorm wat in die volksmond ontstaan en volgens ander wetmatighede funksioneer as die sprokie. Ek dink ook nie dat ironie ‘n plek in die sprokie het nie – dit is eerder deel van die grap. Dalk moet ek anderdag ‘n bietjie skryf oor die grap. Dankie vir jou kommentaar. Dis baie relevant en laat mens beslis nogal dink!

  3. Nou het ek net die helfte van jou vraag beantwoord, Evette. Jy vra waarom kinders nie Die Klein Prinsie verstaan nie. Die rede mag dalk wees omdat die waarheid wat daaragter sit nog nie vir jonger kinders relevant is nie. Ook is die storielyn ‘n bietjie yl vir ons geslag van TV-kykers. Maar: sprokies is alles behalwe kinderverhale!! Die sprokies in hulle oorspronklike vorme (Jung het iewers daaroor geskryf) is ongelooflik gruwelik en het meestal eksplisiete seksuele temas en motiewe. Die Grimm-broers het die sprokies oorspronklik so probeer uitgee soos dit saans langs die haard vertel is, maar daar was geen belangstelling nie en toe het hulle dit aangepas vir kinders. Dit beteken inderwaarheid dat ons vandag met afgewaterde, gefragmenteerde verhaalstukke sit wat nie regtig sin maak nie, omdat dit gesensor is. Dink ook maar aan die skrikwekkendheid van ‘n verhaal soos Hansie en Grietjie. My kinders het van sprokies gehou omdat dit, volgens hulle, “action packed” is – ons seker ook maar … maar eintlik is sprokies van die mees antieke lewenswaarhede waarvolgens die mens sy ganse lewe rig. Dit is baie ouer as enige religie en het heel waarskynlik in antieke tye gedien as ‘n soort “verklaring” vir die lewe, as mens dit so kan stel.

  4. Baie dankie vir jou antwword wat veel tot nadenke in het.
    Dit sal lekker wees as jy oor die grap/ satire ens. kan praat.Ook interresant dat die Grieke tragedies afgewissel het met komedies. In die trgadies was daar ‘n katarsis oor essentiele en diepgrondige sake . In die komedies was die gode dalk reeds verwerp of besweer,of minder belangrik gemaak sodat jy selfs vir die gode kon lag (maar nie by hubris uitkom nie.) EEnvan die beste verduidelkings wat ek gelees het is as jy lag kan jy iets verwerp en dis ‘n ontlading. As iemand nog lag kan hy immers iets verwerp. As hy meer bedruk word en alles is ‘n aanval op hom en hy kan nooit wen nie kan hy ie meer lag nie want alles wys net sy onvermoë uit.
    Ook die rol van die hofnarre en dat die mbongis (spelling?) wel die kaptein se lof sing maar ook die enigste een is wat hom op ironiese wysw mag kritiseer. Ek het dit met John Kani uitgeklaar en hy het genoem hoe die pryssanger vir Mugabe sal prys maar dan sê maar hy kry nie altyd alles reg nie. Dan lag die mense (en kry seker bietjie mag terug van die despoot).Dink hoe Evita met apartheids politisie gespeel het dmv humor en satire, en nes die konings van ouds was die heersers meestal mal daaroor.Ook die mense want dit het iets ontlont as die hofnar die koning se verkeerde kant blootstel

  5. Johann :

    Marlies, Eliot het net een ‘l’. J

  6. Marlies Taljard :

    Baie dankie, Johann!