Andries Bezuidenhout. Maanverduistering

           Foto: Ewan Dressel

 

Donker daar bo vanaand

sodat jy ʼn fakkel sou benodig om daai man

vir ʼn high-five te vind. Seker koud ook.

ʼn Vuiloranje diskus uit ʼn boksie Smarties

wat een of ander kind vir te lank gesuig het –

dit wil laat aanhou en aanhou en nie kan sluk nie.

Maar niks hou aan nie, ook nie die maan nie;

stil onder jou tong of gloeiend in jou kop.

Dit verduister en dan hou woorde op. Myne altans.

So, ek vertel maar net wat gebeur het.

Woensdagaand het ek die maan van die balkon af dopgehou,

gesien hoe ver die aarde se skadu deur die ruim val

en wat gebeur as die maan dit binneswenk.

Dit neem lank, maar toe als eers donker is

was daar sterre wat rég langs die maan spioeneer.

Toe, met die maan nog duister, het ek gaan slaap,

want ek wou hê die donkernis moet aanhou.

Donderdagoggend kom die son op:

iemand word gebore,

iemand verjaar,

iemand gaan dood.

Son, aarde, maan – al drie in ʼn reguit lyn,

maar dis die wrede uitsondering.

Toe ek omdraai sien ek weer die maan

op die horison, oorkant die son –

vol, maar oplaas gereed om onder te gaan.

(16 Junie 2011, vir Ronelda)

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.