Die lewe tussen pikkewyne

Jasper van Zyl. 2011. Die lewe tussen pikkewyne.  Kaapstad: Tafelberg. ISBN 978-0-624-04681-3

Resensent: Heilna du Plooy

 

Die lewe  tussen pikkewyne

Die lewe tussen pikkewyne

Die lewe tussen pikkewyne  is Jasper van Zyl se debuutdigbundel, maar hy skryf reeds vanaf sy skooldae. In  2005 is daar in Nuwe stemme 3 van sy verse gepubliseer en hy het ook al aan Versindaba deelgeneem. Dit blyk duidelik uit die bundel dat mens hier te make het met ‘n digter wat al ‘n hele tyd met sy digterskap saamlewe. Die gedigte is noukeurig afgerond en weldeurdag, daar is nie los draadjies wat rondhang nie. Die opvallendste eienskap is die verrassende wendinge in die gedigte, sowel metafories as “narratief”, maar die wendinge is boeiend en misterieus,  nie lukraak of toevallig nie en veral nié daar vir die blote effek nie.

Die bundel het ‘n interessante buiteblad. Getekende mansfigure in swart en wit is in ‘n sirkel gerangskik. Die figure nie almal dieselfde is nie – sommiges dra ‘n baadjie en das, ander ‘n onderbaadjie, nog ander ‘n jas en die liggaamshoudings verskil ook. Maar hulle val as’t ware in ‘n patroon en daar is ‘n voorspelbaarheid in hulle voorkoms en houding: hulle is meer of minder ernstige, saaklik geklede mansfigure. Aan die bokant van die sirkel is daar ‘n figuur van ‘n jong man in kleur. Sy bolyf is kaal en hy het ‘n hippie-agtige geblomde broek met uitklokpype aan. Hy is kaalvoet, staan gemaklik met gevoude arms en glimlag breed. Hy verskil dus in bykans alle opsigte van die figure in die tekening en daar word duidelik gesuggereer dat dit gaan om die uitsondering, die een wat nié soos die ander lyk nie, wat nié soos net nog ‘n pikkewyn tussen al die ander ononderskeibaar is nie (buitendien lyk die gebaadjiede en gedasde figure ook nogal soos pikkewyne).

Die titel van die bundel kom uit ‘n gedig met die titel ” dit is nes jy daar sê, ja” (p. 20). Hierdie gedig gaan oor ‘n spreker en ‘n “jy” wat saam in ‘n bootjie is en “silwer vissies” uit die see trek. Aanvanklik is die boot staties, rustend, “in utero”, waarmee ‘n periode voorafgaande aan ‘n nuwe fase of die werklike lewe gesuggereer word.  Veral belangrik is dat die gedig begin met die reëls “soms is dit só dat een mens/deur ‘n ander kan praat” en gou besef die leser dat die “jy” in die gedig waarskynlik verwys na ‘n alter ego of ‘n ander persona van die self wat die boot met die spreker deel. Hierdie “jy” wat die “taal van meeue” praat, is die een wat droom dat hulle strand en dit gebeur dan ook inderdaad, maar onverwags. Die afloop en verloop van die boottog is nie beplan nie, dit gebeur, dit is ‘n verrassing maar nogtans onontkombaar. Dan moet die “jy” ‘n lewe in nuwe omstandighede voortsit en uiteindelik word dit ‘n manier van bestaan, hierdie yslewe tussen pikkewyne. Die “jy” wat ook soos ‘n geliefde uitgebeeld word, is “pragtig” en “yslik mooi”, lieflik en koud, maar ook groot, vir my dus onder meer ook in die sin van ysingwekkend. Die buikspreektaal van die geliefde is geheimsinnig en versluierend soos vaal rook.

Dit is vir my ‘n poëtikale gedig wat verwys na die onvermydelikheid van die poëtiese aktiwiteit, van die digterskap wat sigself soos ‘n ysberg aanmeld, wat aandring en sigself selfs opdring, wat alles in ‘n ander rigting stuur, iets wat pragtig is, maar ook ietwat skrikwekkend en waarteen die digter styf slaap totdat die koue warm word.

Hierdie bewustheid van digterskap en die implikasies van die poëtiese representasie van belewenis en van gedagtes, het my die gedigte laat lees op soek na verbande, patrone en voortgaande gedagtegange wat wel duidelik daar is, maar wat nogtans baie subtiel aangebied word.

Subtitliteit is een van die aantreklike eienskappe van hierdie bundel. Elke gedig het ‘n narratiewe lyn waarin en waarop diskrepante elemente vervleg word, en tog kry ‘n mens nooit die gedagte van geforseerdheid of die behoefte om ‘n effek te bereik deur bloot te skok nie. Die gedigte handel oor gewone dinge wat telkens so vervreemdend aangebied word dat die gewoonste aspekte van die lewe in hulle volle potensiële absurditeit nuut voor mens kom staan.  En dit word gedoen in ‘n speels-ernstige toon wat ‘n baie spesifieke atmosfeer in die bundel laat ontstaan.

Aan die begin van die bundel is ‘n paar gedigte wat handel oor droomgesigte of gedagtes wat soos drome aangebied word waarin ontwykende figure ‘n rol speel. In “film” sleep die meisie Anine, wat haar yskasmagnete rangskik, se arms op die vensterbank voordat  “haar lyf deur die venster breek”. Teen dagbreek ontmoet digter-spreker haar weer in die woud en dan sluit die gedig af met ‘n teruggryp na die eerste strofe.  Aanvanklik “brul paddas vir mekaar” in vlak plantegroei voor die digter se koshuisvenster, maar ten slotte word die digter se droomervaring in terme van paddagedrag beleef, met die erotiese suggestie slim verwoord in die verwysing na die opsitkers se doodblaas:

in ‘n wilde oomblik swel my keel:
ek brul vir haar en blaas
die opsitkers dood.  (p. 8 )

In die gedig “tronk” word gesuggereer dat die tronk waarin die spreker hom bevind, hom nie uiteindelik skei van die geliefde vriendin nie: sy kan op water loop, maar dit is ‘n geheim:

                                       …ek rol in my slaap
sodat niemand kan sien waar jy gaan nie. (p.11)

Op verbeeldingryke wyse word die werklikheid en droom vermeng, word die werklikheid droom en die droom werklikheid, onder meer in “wieg”. Die onheil wat die dorp bedreig, word ondersoek deur speurders maar as die inwoners self betrokke raak, sweer die verdwene mense uit die skrapnelwonde uit hulle arms tot herbestaan sodat “die dorp weer begin beweeg/ en wieg soos ‘n bloeiende boom” (p.14). ‘n Gedig soos hierdie staan oop vir ‘n spel met interpretasie. Dit kan gaan oor onheile wat in eie boesem vertroetel word, dit kan gaan oor verwonding van buite soos in ‘n oorlog, maar wat duidelik is, is dat wanneer die mense hulself as deel van die probleem sien en so optree, kom daar ‘n soort genesing, minstens ‘n nuwe toekoms. Wat egter ook belangrik is, is dat die gedig werk soos ‘n narratief sonder om lig anekdoties te wees. Die metaforiese samehang van die water en lewe bind die gedig saam: eers ruik die water sleg en die mense verdwyn en as die bose water wegsak en daar genesing kom, is die dorp soos ‘n bloeiende boom, ‘n boom wat groei uit gesonde water.  Water as metafoor figureer ook sterk in “droogtehulp” en “die nuwe winter”, albei gedigte waarin daar ‘n bepaalde onheil dreig en waarin na misterieuse verskynsels verwys word. Die droogte word deur “reën op die lagune” verbreek, maar in die winter verys die lewegewende stroom onder die gemeenskap sodat die mense “op ‘n magneetveld beweeg/ in ‘n land van ontydige weersveranderinge” (p. 17). Sulke gedigte is ten spyte van oënskynlike surrealistiese metaforiek en onwaarskynlike verhaalverloop, vir my tekenend van ‘n soeke na sin, selfs as dit nie te vinde is nie. Die gedigte vertel van vreemde moontlikhede, maar die leser besef weldeeglik dat daar ‘n probleem is wat nie met rasionele denke alleen hanteer kan of hoef te word nie. Dit gaan ook nie oor oplossings nie, maar oor ‘n poging om die ervaring van blootstelling en uitgelewerdheid, hetsy aan die eie boosheid of onheil van buite, aan die orde te stel – dink ek nou, maar soos dikwels by boeiende poësie, is ek nie seker nie en dit maak ook nie saak nie. Die gedigte laat mens anders dink en kyk terwyl jy die vreemde modulasies van die narratief geniet.

Interessant is ook die gedigte oor ouers. In die gedig “emma” word die jong meisie se eerste maandstonde verbind met geykte temas soos die vader wat niks agterkom nie en soos altyd beskermend optree waarna die dogter instinktief uitreik asof niks verander het nie, maar daar tog iets baie essensieels wel verander het. Die gewone tafereel word egter gekompliseer. Die vader beskik oor militêre kennis wat hom verlam, wat hom konfronteer met wat hy liewer nie sou wou weet nie. Die vrees vir die toekoms raak, sonder dat hy self daarvan bewus is, by implikasie ook die toekoms van sy dogter, as mens en as vrou, maar hy verberg sy vrees. Aan die ander kant is die dogter se uitreik na die vader inderwaarheid deel van haar seksuele ontwaking. In die gedig “les”  word die seun se onwetende oortreding om ‘n koi-vis te vang die aanleiding vir ‘n subtiele verwysing na religieuse insig deurdat die vader sy seun van “régte vis” leer. Hierdie gedig sou ook ironies gelees kon word (wat is ‘n ou koi-vissie nou?), maar ek dink tog dat daar ‘n positiewe vaderbeeld na vore kom omdat die seun wel erg geskok is oor wat hy onwetend gedoen het.

Dit is asof daar in die bundel ‘n chronologiese verloop is want die later gedigte handel oor meer werklik onheilspellende dinge soos ‘n motorrit waartydens die berg “‘n toevallige moordenaar” word, iemand wat leer dans in ‘n ervaring wat later deur sirenes bedreig word, ‘n vader se “ongeëwenaarde” drif, die dokter se geheime vrese wat hom uit die slaap hou en die verslaafde se besef dat “die beswyming van jare …nooit moes wees nie”. Mens sou kon sê dit gaan toenemend oor ‘n meer volwasse problematiek. Gewone mense en normale optrede word aangebied vanuit die duister onderkante daarvan – alles is nie so eenvoudig as wat dit lyk nie. Vanuit ongewone hoeke beskou, is daar ook onheilige en bedreigende aspekte wat onvermydelik deel van die gewone en normale is. Gewone sake kan ondersoek word om die verskuilde absurditeite daarin raak te sien en dit is op ‘n belewenisvlak onthutsend en poëties vervreemdend.

Al is al die gedigte in die bundel nie ewe goed nie (dit kan en hoef immers ook nie wees nie) is hierdie bundel varrassend tot aan die einde. In die voorlaaste gedig word Jona se reis in die buik van die vis omgedop. Die gedig vertel van groot dier wat uit die lug val en terwyl niemand weet wat om daaromtrent te doen nie, maak die man onder die peperboom vuur en droom gespanne drome. Die gedig sluit af:

Hy eet weke lank, elke dag ‘n ander deel,
sommer hompe, venynig aan die vis. (p. 45)

Die gebruik van die woord “venynig” in hierdie versreël toon dat die digter uitstekend in staat is om betekenis oop te slaan, om die reeds enigmatiese verhaal nog verder te kompliseer deur die taal as handlanger effektief te gebruik. Taal is immers onvermydelik die digter se instrument, sy handlanger, sy metgesel, sy alter ego, dit is die hart van die  poësie self. Met een woord wat dadelik opvallend is, word die leser in sy spore gestuit en dan begin hy of sy nadink of gewoon net dink.

Die slotvers is ‘n pragtige liefdesvers, hetsy vir ‘n geliefde van vlees en bloed, of die digkuns, of die gedig of watter geliefde saak ookal (ek vermoed wel die geliefde as sodanig is ‘n sterk moontlikheid). Die smeking van die spreker word uiteindelik beantwoord met ‘n sein en terwyl “sleg vrouens verbyvlieg op besems en warse wolke” slaap hierdie spesiale geliefde “adellik, op ‘n brandstapel van sterre” (p. 46). Dit is gewoon baie mooi beeldspraak.

Dit is duidelik dat die digter wel aansluit by die literêre tradisie – in klein frases klink daar telkens bekende woorde op, maar telkens so dat dit nie meer gaan om bekende betekenisse nie. Daar is onteenseglik ‘n werklik oortuigende eie stem hier hoorbaar. Dit is ook opvallend hoe die vervreemdende en surrealistiese gebruik van narratiewe strukture die verse saambind maar ook die betekenis oopslaan tot iets veel wyer as net die opeenvolging van insidente, juis omdat die poëtiese ontginning van taal uitgebuit word. Elke insident word ‘n poëtiese gebeurtenis.

Die lewe tussen pikkewyne illustreer dat hierdie jong digter inderdaad die transformerende werking van die poësie as poësie begryp en met ontsag hanteer.

     

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Die lewe tussen pikkewyne”

  1. Redaksie :

    Indien jy dit gemis het, kan jy gerus ook kennis neem van die onderhoud wat vroeër met Jasper van Zyl gevoer was.
    Gaan kyk by: http://versindaba.co.za/2011/05/01/onderhoud-met-jasper-van-zyl/