Johann Lodewyk Marais. Geskiedenis en literatuur in N.P. van Wyk Louw se Germanicus (1956)

 

 

 

 

 

Geskiedenis en literatuur in N.P. van Wyk Louw se Germanicus (1956)

 Johann Lodewyk Marais

ABSTRACT

Since his youth, the Afrikaans poet and intellectual N.P. van Wyk Louw (1906-1970) was interested in Roman history, which resulted in a number of literary works. In his verse drama Germanicus (1956) Louw utilises historical evidence to portray central events during the life of the cultivated young Roman general Germanicus Julius Caesar (16/15 B.C.-19 A.D.) during a restless era. According to the classical scholar P.J. Conradie, Louw used three sources to write his drama, namely the first two books of the Annales of Tacitus, the biographies of Tiberius and Caligula, the son of Germanicus, by Suetonius and the fifty-seventh book of Dio Cassius’s Roman history. Louw also utilises, to a lesser extent, other sources to colour in the world of his characters as convincingly as possible. By using methods that are applied by present-day historians, this article looks critically at the way in which Louw applies historical material in his drama and the value of a literary text such as this for our understanding of Roman history.

 

1. Inleiding

 

N.P. van Wyk Louw (1906-1970) se Germanicus (1956) het verskyn in ‘n tyd toe die versdrama wêreldwyd, en ook in Afrikaans, ‘n “nuwe opkoms” beleef het (Dekker, 1974:413). Veral T.S. Eliot (1947:156) was partydig vir die versdrama en sy invloed het tot by die werk van die hooffigure in die Afrikaanse letterkunde deurgewerk. Die vroegste voorbeelde van hierdie soort drama in Afrikaans is C. Louis Leipoldt se Die laaste aand (1930), oor die Kaapse goewerneur Van Noodt en sy eertydse Javaanse minnares Martha, waarin die versvorm benut word om die dramatiese impak van die teks te versterk, en ‘n aantal van D.F. Malherbe se dramas waarin hy Bybelse stof gebruik.

Die belangrikste bydrae tot die Afrikaanse versdrama het egter gekom van die twee figure wat as die taal se grootste digters beskou kan word, naamlik N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman, wie se Germanicus (1956) en Periandros van Korinthe (1954) onderskeidelik die hoogtepunte is. Sowel Louw as Opperman het ook voor en na die skryf van hierdie sleutelwerke ander versdramas en tekste met ‘n dramatiese karakter tot hulle oeuvres toegevoeg, terwyl Germanicus die inspirasie vir André P. Brink se Caesar (1961) was. Die laaste versdrama in Afrikaans was Pieter Fourie se Tsjaka (1976), oor die laaste tydperk in dié vroeg negentiende-eeuse Zoeloekoning se lewe. Opvallend genoeg het die skrywers van al hierdie dramas historiese figure as onderwerp gekies en probeer om die tyd waarin die gebeure afgespeel het, te rekonstrueer en oortuigend voor te stel.

In hierdie artikel gaan ek inleidend aandag gee aan die letterkunde as ‘n bron vir die bestudering van die geskiedenis en besin oor die betekenis van ‘n teks soos Germanicus vir ons begrip van ‘n bepaalde era in die Romeinse geskiedenis. Louw het hom immers deeglik vergewis van wat oor Germanicus en sy tyd bekend is en ‘n baie getroue rekonstruksie van die gebeure gemaak. Sy “hele oeuvre is deurtrek van geskiedskennis, geskiedenisvoorbeelde en verwysings na die geskiedenis, wat strek van die Klassieke Oudheid tot die eietydse gebeure, en is boonop gedra deur sy onmiskenbare kultuur-historiese ingesteldheid” (Van Schoor, 2006:145). Naas die Suid-Afrikaanse geskiedenis het hy ‘n vurige belangstelling in die Romeinse geskiedenis gehad, wat in ‘n aantal van sy skeppende werke neerslag gevind het en veral in Germanicus breedvoerig uitgewerk is.

 

2. Geskiedenis en letterkunde

In hulle hoofstuk oor die bronne vir die bestudering van die geskiedenis in The pursuit of history: Aims, methods and new directions in the study of modern history skryf John Tosh en Seán Lang (2006:57) dat dit wat die historikus “can actually achieve is determined in the first instance by the extent and character of the surviving sources. Accordingly it is with the sources that any account of the historian’s work must begin”. Volgens hulle (2006:58) omvat historiese bronne elke soort getuienis, that human beings have left of their past activities – the written word and the spoken word, the shape of the landscape and the material artefact, the fine arts as well as photography and film. Among the humanities and social sciences history is unique in the variety of its source materials, each calling for specialist expertise.

Die eerste toets waaraan ‘n historiese werk onderwerp moet word, is gevolglik “how far its interpretation of the past is consistent with all the available evidence” (Tosh & Lang, 2006:60).

Die letterkunde as ‘n bron vir die bestudering van die geskiedenis noem Tosh en Lang (2006:67) “a special case”. Romans en dramas kan nie as feitelike verslae beskou word nie, “however great the element of autobiography or social observation may be”. Selfs historiese romans en William Shakespeare se historiese dramas slaag nie die toets nie. Hulle beskik nie oor “any authority as historical statements about the periods to which they refer” nie. Tosh en Lang (2006:68) het wel waardering vir skeppende skryfwerk wat insig bied in die sosiale en intellektuele lewensklimaat waarin die skrywer geleef het en “often vivid descriptions of the physical setting as well”. Gevolglik is dit sinvol om ‘n, let wel, tydgenootlike skrywer soos Geoffrey Chaucer aan te haal “as a spokesman for the attitudes of the fourteenth-century laity to abuses in the Church, or Dickens as evidence of the frame of mind in which middle-class Victorians considered the ‘condition of England’ question”.

Hoewel die waarde van literêre tekste as bronne vir die bestudering van die geskiedenis dus erken word, maak historici in die praktyk selde van poësie, prosa en drama as die vernaamste materiaal vir hulle navorsing gebruik (Jordanova, 2000:83). Die verbande tussen letterkunde en goed geskrewe geskiedkundige werke (soos dié van Edward Gibbon en Jules Michelet) bestaan egter lank reeds en die verskynsel kan so ver terug as klassieke en historiese geskrifte gevoer word (Jordanova, 2000:84). Sommige skrywers het selfs sover gegaan om die skryf van die geskiedenis as in wese dieselfde as die skryf van ‘n roman te beskou (Ricoeur, 1980). Hierdie standpunt word egter hewig teengestaan deur Arthur Marwick (2001:262-263), wat klem lê op “the absolutely fundamental distinction between history (a scholarly matter) and the writing of novels, plays, poetry, and other forms of fiction (a creative matter), the fallacies and conceits of what I have called the auteur theory of history” (sy kursivering). Anders as die romanskrywer (en skrywer van enige ander literêre genre, wil ek byvoeg) in wie se werk die voltooide produk baie kan verskil van die oorspronklike idee, moet die historikus ‘n struktuur ontwikkel voordat hy ernstig aan die werk spring. Marwick (2001:263) vervolg:

 

Often the structure will prove inadequate, but the answer is to revise the structure, not to keep writing in the hope of writing one’s way out of trouble. This structure is devised, and revised, by the historian in order to produce an account, incorporating narrative, analysis and description, different topics and themes, different aspects of the past (economic, cultural, and so on), which best conveys to the reader what actually was happening, what interactions there were, what changed, and what did not, as perceived by the historian. This is not the way novelists work.

 

Vroeër in sy werk lê Marwick (2001:12) klem op die wyse waarop romanskrywers, digters en dramaturge taal op ‘n ander manier as historici gebruik. Van skeppende skrywers word verwag om die dubbelsinnighede en resonansies van taal te ontgin en om selfs die ingewings van die onbewuste, wat nie altyd logies in woorde uitgedruk kan word nie, te verwoord. Historici, daarenteen, moet hulle bevindings so helder en duidelik moontlik aan die leser oordra. Marwick se standpunt is ‘n poging om die identiteit van die professionele historikus duidelik te stel en aan hom ‘n unieke rol teenoor dié van die skeppende skrywer toe te ken. Sy afsydigheid teenoor die skeppende skrywer laat ‘n mens weliswaar dink aan Leopold von Ranke (1795-1886), die grondlegger van die wetenskaplike geskiedskrywing, se reaksie op sir Walter Scott se historiese romans. As jongman het Ranke dit geniet om dié skrywer se werk te lees, maar ook aanstoot geneem omdat Scott se uitbeelding van historiese figure strydig met die historiese getuienis was. Ranke (aangehaal in Arnold, 2000:34) het die volgende bygevoeg:

 

The comparison convinced me that the historical sources themselves were more beautiful and in any case more interesting than romantic fiction. I turned away completely from fiction and resolved to avoid any invention and imagination in my work and to keep strictly to the facts.

 

3. Die ontstaan van Germanicus

Louw het vroeg in sy lewe in die Romeinse geskiedenis begin belangstel en volgens Opperman (1953:164) as kind veral van ‘n alleenspel gehou wat hy nog gespeel het tot hy dertig jaar oud was! Met stokkies in die grond het hy die ou veldslae van die Grieke en Romeine weer ten tonele gevoer en deur die gooi van klippies opnuut besluit wie oorwinnaar en oorwonnene is, as ‘ongesiene’ heerser oor ryke en koninkryke beslis.

Hy het Latyn as leerling op Sutherland in die Karoo, aan die South African College Schools in Newlands en as hoofvak vir sy B.A.-graad aan die Universiteit van Kaapstad geneem (Steyn, 1998:43). Hoewel Louw dus van vroeg af ‘n besondere belangstelling in Latyn getoon en mettertyd oor ‘n wye belesenheid beskik het wat later in talle van sy gedigte neerslag gevind het, het hy die figuur van Germanicus eers leer ken “nadat hy afgestudeer het” (Steyn, 1998:404).

Die omvang van Van Wyk Louw se belangstelling in die Klassieke Tydperk blyk onder meer uit sy boekeversameling wat in die Argief van die Universiteit van Johannesburg bewaar word. In hierdie versameling is daar talle “tekste van die Griekse en Romeinse geskiedskrywers sowel as die filosowe en digters van daardie tydperk. Met ander woorde hy bestudeer nie net die werke óór die tydvak nie, maar ook die oorspronklike geskrifte” (Van Schoor, 2006:145-146). Sy boekversameling toon duidelik “hoe uitgebreid sy belangstelling was, en, binne dié kader, hoe intens hy in die geskiedenis belang gestel het” (Van Schoor, 2006:147).

Die voorbereiding vir die skryf van Germanicus het op 24 November 1941 begin en die skryf self op 21 Februarie 1944 (Steyn, 1998:403&405). Louw was danksy sy studie en leesywer voorberei vir die taak, want die belangrikste werke oor die tydperk het hy “lank tevore al gelees en geken, Tacitus, Suetonius en ander, maar natuurlik, dit was nie ‘n bronnestudie nie want vir ‘n drama skryf ‘n mens nie ‘n historiese werk nie, af en toe wyk jy selfs van die geskiedenis af” (Louw, s.a.). Volgens P.J. Conradie (1966a:325) het Louw veral van drie Latynse werke gebruik gemaak, naamlik die eerste twee boeke van die Annales van Tacitus, die lewensbeskrywings van Tiberius en Caligula, die seun van Germanicus, deur Suetonius en die sewe-en-vyftigste boek van Dio Cassius se Romeinse geskiedenis, ‘n werk wat in Grieks geskryf is. Tacitus het verreweg die meeste gegewens aan Louw verskaf en enkele punte is uit Suetonius gehaal, maar sover [hy kon] vasstel, is daar geen gegewens wat spesifiek uit Dio Cassius ontleen is nie.

Louw het in ‘n mindere mate ook bronne oor die “gebruike en sedes van daardie tyd” benut om die wêreld van sy karakters oortuigend in te kleur.

In die lig van Conradie (1966a en 1990:5-8) se omvattende ondersoek na die wyse waarop Louw in Germanicus die gegewens verwerk wat die antieke historici hom bied, is dit nie nodig om verder daaraan aandag te gee nie. Louw self het later verklaar dat Conradie se werk ‘n “baie juiste studie” was (Steyn, 1998:404). Betekenisvol om verder by te voeg, is Louw (s.a.) se eie woorde oor waarom hy hom daartoe aangetrokke gevoel het om oor ‘n figuur soos Germanicus te skryf:

 

Wat my getref het in hom, dink ek was die persoon wat in ‘n tyd geleef het toe sy volk nie meer heeltemal ‘n volk was nie, en dit hang seker baie saam met die gevoel wat ‘n mens in dié jare gehad het. Die Afrikanervolk was verskriklik in homself geskeur, eintlik asof hy homself wil vernietig met ‘n groter haat tussen Afrikaner en Afrikaner as ooit in ons geskiedenis, dink ek. En die man wat in so ‘n omstandigheid nie wil regeer, eintlik nie aan die politiek wil deelneem nie, het vir my waarskynlik uit daardie tyd se omstandighede voortgevloei.

 

Volgens J.C. Steyn (1998:406) sou Louw ook gesê het daar was uitdrukkings in Germanicus wat hy “eintlik op een man bedoel het, maar nie kon sê nie. Die man was genl. Smuts”. Die skryf van die drama het sporadies en met lang onderbrekings voortgegaan tot in Desember 1944 toe dit uiteindelik voltooi is (1998:414). Die werk het dus beslag gekry tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) in ‘n tyd toe daar groot verdeeldheid onder Afrikaners oor genl. Smuts se besluit oor Suid-Afrika se deelname aan die oorlog bestaan het. Dit het in “1947 of 1948 ‘n vorm […] bereik […] wat nie noemenswaardig van die gepubliseerde teks verskil nie” (Kannemeyer, 1984:414).

Fragmente uit Germanicus het in Standpunte (jg. 1, nr. 2, April 1946 en jg. 6, nr. 2, Desember 1951) verskyn en die drama is die eerste keer in 1956 in boekvorm gepubliseer. Die werk is in Junie 1957 deur die destydse Nasionale Toneelorganisasie, in samewerking met die B.A.T., met die ingebruikneming van Bellville se stadskouburg en burgersentrum op die planke gebring (Cloete, 1974:foto 54 en byskrif). Germanicus is ook opgevoer as die openingstuk deur onderskeidelik die Nasionale Toneelorganisasie tydens die ingebruikneming van die Aula van die Universiteit van Pretoria van in Oktober 1958 en deur die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste tydens die ingebruikneming van die Staatsteater in Pretoria in Mei 1981. Ten spyte van suksesvolle opvoerings is heelparty negatiewe opmerkings oor die opvoerbaarheid van die drama oor die jare heen gemaak (vergelyk byvoorbeeld Brink, 1962:149).

 

Germanicus is in 1960 met die Hertzogprys vir Drama bekroon en is tot op hede ten minste veertien keer herdruk en meermale vir hoёrskoolleerlinge en universiteitstudente in Suid-Afrika en Namibië voorgeskryf.

 

4. Geskiedenis in Germanicus

Van die agt historiese dramas wat Louw geskryf het, is Germanicus die enigste een wat “nie aan ‘n bepaalde Afrikaanse historiese situasie gekoppel is nie” (Van Schoor, 2006:150). Dié werk handel oor die “fyn jong veldheer” (p. 2), die Romeinse generaal Germanicus Julius Caesar (16/15 v.C.-19 n.C.) in die polities ontaarde en onstuimige tydperk tussen die dood van keiser Augustus op 19 Augustus 14 n.C. en Germanicus se dood op 10 Oktober 19 n.C. In hierdie tyd het die opvolging van Augustus tot groot onstabiliteit in die Romeinse Ryk gelei (vergelyk Shotter, 1991:71-77), wat ook as “die periode van oorgang tussen die heidense Romeinse beskawing en die koms van die Christendom” (Pretorius, 1972:23) beskou word. In ruimtelike verband speel die gebeure in die moerassige Noord-Frankryk, Rome en Asiё af.

In hierdie tyd was daar groot ongelukkigheid tussen die gewone mense en die aristokrasie oor die bestuur van die Ryk. Veral die “gewone kleinboere, wat die kern van die leёr gevorm het, is deur die langdurige oorloё so verarm dat hulle uit hul grond geraak het” (Conradie, 1990:5). Gedurende sy bewind het Augustus (ook Octavianus en Octavius genoem) aanvanklik “meer diplomaties te werk gegaan”, maar geen werklike mag in die hande van sy senatore gelaat nie en uiteindelik min verdraagsaamheid en geduld getoon. Augustus het nie self ‘n nakomeling gehad om hom op te volg nie en moes hom wend tot Tiberius, die seun van sy tweede vrou Livia by Tiberius Claudius Nero. Hy het Tiberius gedwing om met sy dogter Julia te trou om sodoende ‘n nakomeling as keiser te hê. As gevolg van “Julia, die hoer” (p. 14) se losbandigheid en verbanning is Augustus Tiberius vervolgens gedwing om sy broerskind Germanicus aan te neem. Germanicus was met sy kleindogter Agrippina getroud en Augustus se nakomelinge sou op hierdie manier op die troon kon sit (Conradie, 1990:6).

Ná Augustus se dood was Tiberius die nuwe keiser, maar “in twee van die provinsies was daar moeilikheid omdat die soldate allerlei griewe oor hul diensvoorwaardes gehad het” (Conradie, 1990:7). Bowendien was Tiberius ten spyte van sy administratiewe en leierseienskappe nie gewild by die bevolking nie. Hy is selfs van onbehoorlike gedrag verdink: “Tiberius sit in Rome, slu en vieslik, / en speel met kinders – watter speletjies!” (p. 8). In “Noord-Frankryk naby die huidige Nederlande” (p. 1) wou die soldate hê dat Germanicus saam met hulle na Rome opruk om die mag oor te neem: “Met die legioene van Germaniё / róndom, só moet hy trek, Italiё, Rome toe / en Imperator wees” (p. 5).

Germanicus, die hooffiguur van Louw se drama, beskik oor verskeie uitsonderlike eienskappe wat hom vir sy onderdane te velde die ideale opvolger in Rome gemaak het. Hy het egter ook digterlike belangstellings gehad: Wanneer sy offisiere “die marsplan in sy tent moes opstel”, vertaal hy die werk van die Griekse skrywer Aratus (p. 23), wat daartoe bydra om hom as ‘n intellektueel te kenmerk (vergelyk Pretorius, 1972:23-65). Hy wil nie aan die wens voldoen om die mag oor te neem nie, want hy wil “sélf skoon bly in die vuil” (p. 51). Sy standpunt bring hom in konflik met Gnaeus Calpurnicus Piso en Tiberius. Piso se ideaal was om die republiek in Rome te herstel en Germanicus was volgens hom die geskikte persoon om dit te doen. Germanicus se “ses groot oorwinnings in Germaniё” het egter nie werklik “die Noorde stil gemaak en onderdanig” (p. 72) nie en Tiberius het Germanicus (waarskynlik ook uit jaloesie) na Rome teruggeroep. Daar het Germanicus Tiberius gesmeek om hom van sy pligte te onthef en toe te laat om net ‘n gewone burger te wees. Hy word uiteindelik as mede-Caesar na die Ooste gestuur. Die verskille tussen Piso, wat goewerneur in Siriё geword het, en Germanicus het al groter geword en Piso is uiteindelik daarvan verdink dat hy Germanicus vergiftig het. Plancina kry dan ook van Livia die opdrag om Germanicus te vergiftig. In die drama is Germanicus se sterfwoorde: “En dalk gaan niks verlore nie” (p. 116).

Conradie (1966a) se studie toon hoedat Louw in sy dramatisering van die geskiedkundige gebeurtenisse veral op die beskrywings in die werke van Tacitus en Suetonius steun. Louw het hom, soos ander skrywers van historiese dramas, egter nie verplig gevoel “om hom te hou aan die kleiner besonderhede wat die historici vermeld nie. In diens van ‘n dieper waarheid behou hy hom die reg voor om af te wyk van die oppervlakkiger waarheid van die objektiewe feite. Hy veroorloof hom dit dus om uit die gegewens wat die historici hom verskaf, weg te laat wat hy nie kan gebruik nie, en om selfs besonderhede by te fantaseer as hy dit nodig ag” (Conradie, 1990:324). In Germanicus word byvoorbeeld karakters “geskep” wat nie in een van Louw se bronne vermeld word nie of wat slegs terloops daarin genoem word. In die geheel gesien, hou hy óf byna woordeliks by die woorde in sy bronne óf bring hy “verskuiwings” aan ten opsigte van waar en wanneer gebeure plaasgevind het. So skep hy ‘n teks wat ‘n outentieke herskepping van die betrokke tydperk gee.

Die inkleding van die leefwyse, bevelstruktuur en gewoontes van die Romeinse soldate wat onder Germanicus se leierskap in Germaniё gestaan het, is histories besonder goed nageteken (vergelyk byvoorbeeld Petrie, 1963:87-101). Dit strook met die volgende uitspraak van M.C.E. van Schoor (2006:133) dat Louw “nêrens met historici in debat oor hul bevindinge [getree het] nie”. Hy vervolg:

Ten spyte van hierdie oёnskynlike kritieklose aanvaarding van die bevindinge en stof in historiese werke, is op geen bladsy van sy geskrifte blatante of selfs onopsigtelike historiese onjuistheid aan te dui nie. Geskiedkundiges mag van hom verskil oor hoe hy byvoorbeeld in sy historiese dramas die geskiedenis ‘n ander baadjie aangetrek het, maar verkragting van die historiese waarheid in sy wese is dit nie.

Dat talle onjuiste of hoogs twyfelagtige historiese “feite” en “bronne” in ‘n literêre werk skerp kritiek van ‘n historikus kan ontlok, blyk onder meer uit Fransjohan Pretorius (1999) se indringende vrae vanuit ‘n historiese oogpunt oor die historisiteit van Christoffel Coetzee se roman Op soek na generaal Mannetjies Mentz (1998). Aan die einde van die 1990’s (vergelyk byvoorbeeld Brink, 1998; Nel, 1998: Van Zyl, 1998; en Burger, 1999) en in Petrus de Kock (2005) se artikel is daar nogal hoog opgegee oor hierdie roman waarmee die outeur terugskouend vergrype wat tydens die sittings van die Waarheid-en-Versoeningskommissie aan die lig gekom het, op die optrede van ‘n (fiktiewe) generaal en sy volgelinge tydens die Anglo-Boereoorlog in die Brandwaterkom in die Oos-Vrystaat geprojekteer het. Pretorius se indringende artikel het as ‘t ware die historiese geloofwaardigheid van hierdie roman se doppie geklink, hoewel ‘n mens vanuit ‘n literêre oogpunt waardering kan hê vir die verdagmakery van en die uitgebreide spel met die (fiktiewe) historiese “feite”.

Germanicus se voorstelling van historiese figure, gebeure en die leefwêreld van die betrokke rolspelers is ongetwyfeld “a meeting ground for different disciplines” (Marwick, 1989:18) waarin ‘n kreatiewe seleksie van gegewens gemaak word. Dit is immers die historikus (en dus ook die skrywer van ‘n historiese drama) se taak “to make a selection” (Bloch, 1992:19), en uit onder meer Conradie se indringende navorsing kry ons ‘n goeie aanduiding van hoe hierdie seleksie gemaak is. Louw plaas Germanicus in die denkwêreld van ‘n heeltemal ander era en stel hom voor uitdagings en keuses wat baie van sy eie tydsgewrig verskil. Volgens Marc Bloch (1992:36) is hierdie vermoё “of understanding the living […], in very truth, the master quality of the historian”. Met hierdie bifokale blik op die literatuur en die geskiedenis het ons waarskynlik reeds iets van ‘n pleidooi vir die groter erkenning van die literêre teks in die bestudering van die geskiedenis gelewer.

 

5. Samevatting

Volgens Conradie (1966a:323-324) sien Louw met Germanicus in die gebeurtenisse van die verlede ‘n raamwerk waarbinne hy uiting kan gee aan die gevoelens en gedagtes wat hom in sy eie tyd besig hou. ‘n Mens kan byna sê dat die historiese gebeurtenisse op sigself nie vir hom belangrik is nie maar alleen as voorwendsel dien om iets anders tot uitdrukking te bring.

Hoewel Conradie (1996a:324) van mening is dat die dramaturg se “vryheid om die geskiedenis te ‘verkrag'” grense het, is dit “moeilik om hul nader te omskryf”. Of ‘n mens wel kan aanvoer dat die historiese gebeurtenisse in Germanicus nie in eie reg van belang is nie, lyk helaas nie vir my wys nie. Ontken so ‘n benadering nie die rol wat die werklike geskiedenis wat hier ter sprake gebring word in die werk speel nie?

Die invloedryke Franse Annalesskool het onder meer in opstand gekom teen Ranke vir wie “[d]ie staat en politiek, staatsmanne en buitelandse verhoudinge […] in die sentrum van sy navorsing” (Van Jaarsveld, 1980:7) was. Beskou binne die konteks van hierdie twee benaderings is heelwat van die Rankeaanse benadering in Louw se drama te vinde, wat ongetwyfeld baie bied oor “staat en politiek, staatsmanne en buitelandse verhoudinge”. Die wyse waarop Louw ook aandag gee aan die bestaan en optrede van mindere figure in die Romeinse Ryk (byvoorbeeld die soldate) kom selfs meer in hierdie werk na vore. Heelwat aandag word tewens aan die lewensomstandighede van die soldate en die nat landskap gegee waarin hulle hul bevind. Sodoende maak Louw ‘n meer geskakeerde voorstelling van die betrokke era en is daar ‘n duidelike gevoeligheid by hom om ‘n geїntegreerde geskiedenis voor te stel.

Ten slotte keer ek terug na Tosh en Lang wat so afwysend oor die letterkunde as bron vir die bestudering van die geskiedenis geskryf het. Hul hoofstuk oor die historiese bewussyn (“Historical awareness”) bied veel om oor na te dink. Hulle (2006:6) toon byvoorbeeld aan hoedat sedert die eerste helfte van die 19de eeu “all the elements of historical awareness were brought together in a historical practice which was widely recognized as the proper way to study the past”. Historici “must strive to understand each age in its own terms, to take on its own values and priorities, instead of imposing ours” (Tosh & Lang, 2006:7). Ons moet bewus wees van “the gulf which separates our own age from all previous ages” (Tosh & Lang, 2006:9), die verskil verduidelik, “and that means placing it in its historical setting” (Tosh & Lang, 2006:10), en “we must place everything we know about the past in its contemporary context” (Tosh & Lang, 2006:10).

Wat my betref, het Louw in Germanicus hom besig gehou met “[t]he mystery of huge subjects” (Black & MacRaild, 2000:5). Hoewel die gebeure waaroor dit hier gaan reeds afgehandel en verby is, is dit nog steeds deel van die wêreld se historiese erfenis en ons historiese bewussyn. ‘n Mens kan jou skaars voorstel dat ons sonder kennis van die verlede behoorlik kan verstaan hoe die vroeё Christendom uit hierdie tydperk na vore gekom het. Germanicus, soos die geskiedenis in die algemeen, “familiarises us with customs, thought processes, and standards different from our own, tells us about humanity and its various activities and environments and then helps us to know and understand our fellow human beings” (Marwick,1989:17).

Louw het sekerlik die gebeure tydens die Tweede Wêreldoorlog uit die hoek van sy oog dopgehou toe hy Germanicus geskryf het, maar tot dusver is nog geen ontleding gemaak waarin breedvoerig en oortuigend op hierdie faset van die werk gewys word nie. Moontlik is die rede vir die afwesigheid van hierdie soort ondersoek die byna totale afwesigheid in die werk van naastenby direkte toespelings op die tydgenootlike gebeurtenisse. Dit kom vir die leser eerder voor asof Louw se goed ontwikkelde historiese bewussyn en werklike belangstelling in die Romeinse geskiedenis hom laat probeer het om so goed moontlik in Germanicus en sy wêreld in te kyk. Dat hy ‘n letterkundige eerder as ‘n historiese teks tot stand gebring het, is alreeds uit die keuse van die versdrama (‘n hoogs artistieke vorm!) duidelik, asook uit die sterk kanonisering van die werk binne die Afrikaanse literatuur. Min twyfel hoef te bestaan oor die bydrae van ‘n teks soos hierdie (of byvoorbeeld Shakespeare se Julius Caesar) tot die skepping van ‘n historiese bewussyn by die publiek. Dit laat ons iets sien van die waarde wat die literatuur en die geskiedenis vir mekaar het.

Universiteit van Pretoria

 

AANTEKENING

1.  Eliot het hom soos volg uitgelaat: “I believe that poetry is the natural and complete medium for drama; that the prose play is a kind of abstraction capable of giving you only a part of what the theatre can give; and that the verse play is capable of something much more intense and exciting” (Eliot in Matthiessen, 1947:156). Die sin vir die dramatiese in Eliot se werk was so sterk dat Peter Ackroyd (1985:94) van mening is “it may emerge that Eliot’s poetry was the real English drama of the early twentieth century”.

 

VERWYSINGS

Ackroyd, P. 1985 (1984). T.S. Eliot. London: Abacus.

Arnold, J.H. 2000. History: A very short introduction. Oxford: Oxford University

Press.

Black, J. & MacRaild, D.D. 2000. Studying history. Hampshire and New

York: Palgrave.

Bloch, M. 1992. The historian’s craft. Manchester: Manchester University Press.

(Tanslated from French by Peter Putnam.)

Brink, A.P. 1961. Caesar: ‘n Drama. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Brink, A.P. 1962. Orde en chaos: ‘n Studie oor Germanicus en die tragedies van

Shakespeare. Kaapstad, Bloemfontein en Johannesburg: Nasionale Boekhandel.

Brink, A.P. 1998. Anglo-Boer War spawns milestone in new fiction. The Sunday

            Independent, 2 Augustus.

Burger, W. 1999. Yster Swart, Mannetjies Mentz en Eugène de Kock:

            Tekstualisering van die Afrikaanse booswig. Stilet 11(2), September: 99-111.

Cloete, T.T. 1974. N.P. van Wyk Louw: 11 Junie-18 Junie 1970. Kaapstad: Tafelberg.

            (Skrywers in beeld nr. 1.)

Coetzee, C. 1998. Op soek na generaal Mannetjies Mentz. Kaapstad:

Queillerie.

Conradie, P.J. 1966a. Die gebruik van antieke bronne in Van Wyk Louw se

Germanicus. In: Nienaber, P.J. (samest.). Beeld van ‘n digter: N.P. van Wyk Louw: Aangebied aan N.P. van Wyk Louw by sy sestigste verjaardag deur Nasionale Boekhandel. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Conradie, P.J. 1966b. Die siening van die Romeinse Ryk in Germanicus van N.P. van

Wyk Louw. In: Nienaber, P.J. (samest.). Beeld van ‘n digter: N.P. van Wyk Louw: Aangebied aan N.P. van Wyk Louw by sy sestigste verjaardag deur Nasionale Boekhandel. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Conradie, P.J. 1990 (1966). Germanicus: N.P. van Wyk Louw. Derde uitgawe.

Kaapstad: Human & Rousseau.

De Kock, P. 2005. Who do the Boers think they are? Mannetjies Mentz:

Becoming-Boer, becoming-animal, becoming-Afrikaner. In: Ramose, M.

et al. A century is a short time: New perspectives on the Anglo-Boer War. Clydesdale: Nexus.

Dekker, G. 1974 (1935). Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Twaalfde om- en

bygewerkte druk. Goodwood: Nasou.

De Villiers, A. 1976. Die sawel van jou stilsit: Beskouings oor Van Wyk Louw se

Germanicus. Johannesburg: McGraw-Hill.

Eliot, T.S. 1947. Quoted from a radio talk. In: Matthiessen, F.O. The achievement of

T.S. Eliot. Oxford: Oxford University Press.

Fourie, P. 1976. Tsjaka. Johannesburg: Perskor.

Jordanova, L. 2000. History in practice. London: Arnold.

Kannemeyer, J.C. 1984 (1978). Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur: Band I.

            Tweede, hersiene en bygewerkte uitgawe. Pretoria en Kaapstad: Academica.

Leipoldt, C.L. 1930. Die laaste aand: ‘n Toneelstuk in drie bedrywe. Kaapstad:

Nasionale Pers.

Louw, N.P. van Wyk. s.a. SAUK-klankargief ACC 81403.

Louw, N.P. van Wyk. 1975 (1956). Germanicus. Veertiende druk. Kaapstad

Tafelberg.

Marwick, A. 1989 (1970). The nature of history. Third edition. Hampshire and

London: MacMillan,

Marwick, A. 2001. The new nature of history: Knowledge, evidence, language.

Hampshire: Palgrave.

Matthiessen, F.O. 1947. The achievement of T.S. Eliot. Oxford: Oxford University

Press.

Nel, A. 1998. Kragtige debuutroman wat meesleurend lees. Beeld, 11 Mei: 8.

Nienaber, P.J. (samest.). 1966. Beeld van ‘n digter: N.P. van Wyk Louw: Aangebied

aan N.P. van Wyk Louw by sy sestigste verjaardag deur Nasionale Boekhandel. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Olivier, G. 1998. N.P. van Wyk Louw (1906-1970). In: Van Coller, H.P. (red.).

Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis: Deel 1. Pretoria: J.L. van Schaik.

Opperman, D.J. 1978 (1954). Periandros van Korinthe. Vierde uitgawe, eerste druk.

            Kaapstad: Tafelberg.

Opperman, D.J. 1973 (1953). Digters van Dertig. Vierde druk. Kaapstad: Nasou.

Opperman, D.J. 1975 (1959). Wiggelstok. Kaapstad: Tafelberg.

Petrie, A. 1963 (1918). An introduction to Roman history, literature, and antiquities.

Third edition. Westport, Connecticut: Greenwood.

Pretorius, F. 1999. Op soek na Generaal Mannetjies Mentz histories

betrag. Tydskrif vir Letterkunde 27(3/4), Augustus/November: 1-17.

Pretorius, R. 1972. Die begrip Intellektueel by N.P. van Wyk Louw. Pretoria: J.L.

van Schaik.

Ramose, M. et al. 2005. A century is a short time: New perspectives on the

Anglo-Boer War. Clydesdale: Nexus.

Ricoeur, P. 1980. The contribution of French historiography to the theory of

history. Oxford: Oxford Uniersity Press.

Shotter, D. 1991. Augustus Caesar. London and New York: Routledge.

Steyn, J.C. 1998. N.P. van Wyk Louw: ‘n Lewensverhaal: Deel I en II. Kaapstad:

            Tafelberg.

Tosh, J. & Lang, S. 2006. The pursuit of history: Aims, methods and new

directions in the study of modern history. Fourth edition. Harlow: Pearson

Education.

Van Coller, H.P. (red.) 1998. Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse

literatuurgeskiedenis: Deel 1. Pretoria: J.L. van Schaik.

Van Jaarsveld, F.A. 1980. Westerse historiografie en geskiedenisfilosofie. Pretoria

en Kaapstad: HAUM .

Van Schoor, M.C.E. 2006. Die “historiese” in N.P. van Wyk Louw. In: Burger, W.

(red.). Die oop gesprek: N.P. van Wyk Louw-gedenklesings. Pretoria: LAPA.

Van Zyl, W. 1998. Dalk eerste klassieke roman oor die Anglo-Boereoorlog.

Rapport, 9 Augustus: 18.

 

 (Bron van hierdie artikel, met vergunning: Stilet, nr 22(1), Maart 2010)

 

Bookmark and Share

11 Kommentare op “Johann Lodewyk Marais. Geskiedenis en literatuur in N.P. van Wyk Louw se Germanicus (1956)”

  1. Baie dankie vir ‘n magdom inligting oor een van die interessantste werke deur my geliefkoosde woordkunstenaar in Afrikaans.
    Ek het al baie gewonder oor N.P. Van Wyk Louw as fenomeen – was daar ‘n doelbewuste poging om ‘n skrywer te ontgin wat vir Afrikaans op dieselfde vlak kon wees as wat Shakespeare vir Engels is, of is dit bloot toevallig dat daar een so ‘n skrywer was.
    Of het dit te doen met Afrikaans as fenomeen – sal elke nuwe taal wat oorleef, so ‘n skrywer koester in sy vestigingstydperk, om ‘n respektabele verwysingsraamwerk daar te stel ter wille van bestaansreg?
    Ek het hierdie artikel terdeë geniet. My filosofiese vrae hieroor gaan sekerlik lewenslank interessant maar onopgelos bly staan.

  2. Louis :

    Pieter, dankie vir hierdie kommentaar. Vir my is die toets van grootsheid (genialiteit) nog altyd om iets te kan skryf wat 50 jaar later nog steeds ter sake en relevant is. En “Germanicus” is vir my persoonlik nog altyd ‘n seminale werk.
    Neem byvoorbeeld die volgende reëls wat net sowel vandag geskryf kon gewees het:
    “Ek sterf aan hierdie tyd. / Dis beter dat ek sterwe want die wil / het in my stil gaan staan, sodat ek alles / sien agter glas … of in die glas / en mateloos en ver en nie om aan te raak / maar om te sien gebeur soos voor ‘n god.” (p.113)
    En by die volgende reëls moet ek suutjies trap sodat Kannemeyer dit nie sien nie, want ek het dit al in vele reëls van my eie ge-eggo:
    “Nou word dit sterftyd, liefste. Ek was lief / vir jou. Laat hul my dra, na binne. / En dalk gaan niks verlore nie.” (p.115)
    Sug. Wat ‘n gedagte! Wat ‘n studie …

  3. Daniel Hugo :

    Toe N.P. van Wyk Louw in die 1930’s begin publiseer het, was Afrikaans darem al goed gevestig as skryftaal. Die soort fenomeen uit die vestigingstydperk waarna jy verwys, Pieter, sou eerder iemand soos C.Louis Leipoldt wees.

  4. Ivan Mocke :

    Of dalk selfs Totius, Daniel? Ek meen sy “Trekkerswee” kan seker as een van die eerste werklik klassieke werke in Afrikaans gesien word. Het ook geweldige invloed op latere tekste gehad. Opperman se “Ballade van die Grysland”, byvoorbeeld. (En Mikro se “Toiings”?)

  5. Dis natuurlik net my mening, en dis maar al wat dit is:
    Vir my is N.P. van Wyk Louw in ‘n ander klas, en was Afrikaans as taal wat ‘dieselfde kan doen as Engels, net so goed’ eers as sodanig gevestig nadat hy dit bewys het. Ek verwys graag na dit wat Louis hierbo uit Germanicus aanhaal, ter ondersteuning. Nie eens Shakespeare kan meer as dit doen nie, dit is die boonste sport van taal: ‘n Drama wat ‘n magdom van idiome/frases skep wat vir altyd relevant en treffend gebruik sal kan word. Iets wat soos Salomo se Spreuke gefynkam kan word vir lewenswysheid.
    Afrikaans as skryftaal was vir my reeds gevestig met Eugene Marais, maar het eers met Engels skouers geskuur met NPVWL.
    Maar dis net my mening…

  6. MarieB :

    Vergun my om by Pieter aan te sluit mbt NP van Wyk Louw. Die vraag wat ek nog altyd binne my dra, is of daar al ooit ‘n vergelykende studie gemaak is (binne die konteks van die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde), is of daar EEN ander gesin van oorsprong is wat soveel skrywers van naam opgelewer het as dié een waaruit NP gekom het? Ek noem maar ‘n paar: NP en WEG, Anna M Louw, Charles Fryer, Rona Rupert waarskynlik George Louw, en selfs Gert Vlok Nel..Daniël, jy het eenkeer die leeskring in Durban-Westville toegespreek (ek was bloot op besoek), en jy het die invloed bespreek van ‘oues’ op ‘nuwes’ en die gesprek het gehandel oor Henriëtte Grové, Philander, NP van Wyk Louw en Gert Vlok Nel. Ek wou toe al die klip in die bos gooi oor soiets soos ‘n ‘gedeelde geen’…wat ‘n soort duplisering van spesifieke aanleg in die kunste binne ‘n bloedlyn meebring. Vir my doeleindes, met twee kleinseuns in die Britse Ryk, is dit genoeg om te sê “Daaikant het hulle Shakespear, diékant het ons vir NP!”

  7. Johann Lodewyk Marais :

    Aangesien ek twee (wonderlike en persoonlik verreikende …!)weke in Bangui, die hoofstad van die Sentraal-Afrikaanse Republiek deurgebring het, neem ek nou eers kennis van hierdie boeiende gesprek. (Johann de Lange het my darem laat weet dat die artikel geplaas is.)
    Afrikaans het ‘n aantal belangrike figure opgelewer, maar daar is iets, iets anders en méér in N.P. van Wyk Louw se werk (soos die reëls wat Louis aangehaal het). Louw is ‘n buitengewone verskynsel in die Suid-Afrikaanse literatuur. Dit is daarom belangrik dat ‘n nuwe generasie hulle ook akademies met sy werk sal bemoei. Na die swoel en tropiese Bangui torring ek weer aan my onvoltooide artikel oor “Raka” …

  8. Merle :

    Louis ek wil saam met jou sug oor dele uit Germanicus…”Dis vreemd dat woorde so ‘n kors kan maak rondom die hart. Nooit raak ‘n mens aan die lewe wat fyn en bewerig soos ‘n kindjie sit nie. Miskien is dit ook goed; ons kan nie almal kaal loop nie”.

    Oeg…”fyn en bewerig, soos ‘n kindjie”… die woorde kom so, so dikwels by my op. En soms, as ek sien hoe mense agter fasades wegkruip, kom die laaste reel uit bg. aanhaling altyd by my op.

    Verstommend hoe ver vooruit sy skryfwerk was dat dit tot op hede mens nog na jou asem laat snak en jou vir eers die boek laat neersit sodat die heerlikheid van sy woorde oor en deur jou kan spoel.

  9. Daar’s hy. DIT is Afrikaans, die prima-taal en nie maar net nog ‘n plaaslike vorm van kommunikasie nie.

  10. jammer ek doen dit hier,maar weet nie hoe of waar anders nie?
    Ek sien die Artikels oor die grootste /meeste prysgeld digkompetsie is verwyder?
    Ook die Mees geleesde digter in Afikaans artikel…
    Kan Louis op iemand my dalk se waarom?
    dit was sulke insiggewend Artikels..met baie waarde.
    ?

  11. Redaksie :

    Rudi, omrede almal wat daarvan kennis wou/moes neem dit reeds gedoen het. Die afloop van die gesprek wat daarna ontstaan het, lewer geen wesenlike bydrae tot die webblad nie aangesien dit in sirkelredenasies en verwyte verval het.
    Ek hoop jy verstaan en aanvaar dit as sulks.