Frances Lubbe. Reën en Wimbledon

Dis reënerig in Londen en die winkels bied eienaardige vars aarbei en room toebroodjies te koop aan.  Dit kan net een ding beteken: dis tyd vir tennis!  Ek het vanjaar die kans gehad om die eerste dag se verrigtinge op Wimbledon by te woon. Nadat ek en my metgesel die verkeersophoping om die bane trotseer en deur die hekke gestap het, is ons in ‘n ander wêreld, ver verwyderd van die gewone stad. Selfs die sekuriteitsbeamptes is deftig aangetrek, en lyk veel vriendeliker as gewoonlik. Daar is allerhande tipe mense wat kom tennis kyk – van grootoog toeriste tot ouer Britse paartjies wat elke jaar seker dieselfde sitplekke op Centre Court nuttig, maar dit is opmerklik dat almal wat deur die hekke stap, onmiddelik kalm raak. Dis nie maklik om kaartjies vir die tennis in die hande te kry nie, dus kan die mense wat die paal gehaal het Wimbledon toe seker maar daar rondstap met ‘n gevoel van selfvoldaanheid!

Wimbledon: die eerste dag se spelrooster

Die kleiner Wimbledon tennisbane is dig teen mekaar, met net ‘n dun spasie vir toeskouers om te staan en kyk. Die nabyheid van die spelers is verassend, asook die krag en vaart waarmee hulle speel – dit is werklik ‘n ander ervaring om dit in lewende lywe te sien as om dit op televisie te volg.

Een van die kleiner Wimbledon bane

...en een van die spelers

Toeskouers kyk na wedstryde, met Centre Court in die agtergrond

Die groot skerm by Henman (oftewel Murray) Heuwel

Ons kaartjies het vir ons toegang gegee tot Baan 1, naas Centre Court die grootste baan in die kompleks. Baan 1 is omring deur ‘n doolhof van gangetjies, en dié neem mens om uit te kom by die verskillende vlakke en ingange wat na die pawiljoen lei. Elke ingang het een of twee sekuriteitswagte wat die weg versper terwyl spel aan die gang is. Toeskouers mag slegs na hul sitplekke toe gaan tussen potte. Op die pawiljoen self, wat duisende mense kan inpas, is dit opmerkend stil, alhoewel daar ‘n goeie gees heers onder die toeskouers.  Dit word selfs stiller as die spelers aan die gang kom.

Ons het twee volle wedstryde gesien:  eerstens ‘n goeie vroue wedstryd tussen Alison Riske en die tweede gekeurde vrouespeler Vera Zvonareva. Riske het uitstekend teruggeveg teen die sterker speler, wat ‘n vermaaklike wedstryd tot gevolg gehad het, alhoewel Zvonareva uiteindelik geseëvier het.

Baan 1

Die tweede wedstryd was ‘n manswedstryd tussen ‘n Italianer, Phillipo Volandri, en die Tjeg Tomas Berdych. Hier wen Berdych maklik as gevolg van Volandri wat speel met ‘n besering. Ons was besig om te kyk hoe Andy Roddick voorberei vir die derde wedstryd van die dag, toe die wolke wat al heeldag saampak oor suid-wes Londen kritieke massa bereik en die hemele oopgemaak het. Ons sitplekke was net-net onder die kort dakkie, maar die arme toeskouers wat nader aan die spel sit, het onmiddelik papnat geword.

Hier kom die sambrele...

Dit sal seker nie ‘n volkome Wimbledon ervaring gewees het sonder die reën nie. Die Wimbledon werkers het die baan vinnig met ‘n seil bedek en toe met ‘n gekompliseerde klomp hyskraantjies en toue die middel gedeelte van die seil opgelig, sodat die water kon afloop langs die kante. Dit het dus gelyk asof daar ‘n groot tent op die baan opgerig is, wat een van die toeskouers langs ons hardop laat wonder het of die wedstryd nie dalk nog aangaan onder die beskutte seil nie!

Die baan is droog, en die toeskouers is nat!

Ons het nog lank by die baan gewag, net om seker te maak dat die reën nie van plan verander en ons ‘n kans gee om nog ‘n bietjie tennis te sien nie. Maar dit het aangehou vir die volgende uur en ‘n half, wat enige verdere spel onmoontlik gemaak het. Dit was ‘n kwaai stadsreen, deurtrek met geure van rook en uitlaatpype. Ek sluit liewers af met ‘n gedig oor aromatiese, atmosferiese reën.

Morning Rain

deur Tu Fu

A slight rain comes, bathed in dawn light.

I hear it among treetop leaves before mist

Arrives. Soon it sprinkles the soil and,

Windblown, follows clouds away. Deepened

Colours grace thatch homes for a moment.

Flocks and herds of things wild glisten

Faintly. Then the scent of musk opens across

Half a mountain – and lingers on past noon.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Frances Lubbe. Reën en Wimbledon”

  1. sebra :

    Vir tennisgeesdriftiges is daar alte lekker leesstof in die heruitgawe van Gordon Forbes
    se Handful of Summers wat aanvanklik in 1978 uitgegee is. Wie onthou nog hoe Forbes en sy sustertjie Jeannie, die bane aan die brand gespeel het? Die boek is ‘n heerlike terugblik op ‘n vergange era in groot tennis, met ‘n voorwoord deur Peter Ustinov.