Hein Viljoen. Groot avonture in die (onlangse) Afrikaanse poësie

Groot avonture in die (onlangse) Afrikaanse poësie

Hein Viljoen

Bron van hierdie artikel, met vergunning: Stilet, nr 22(2), September 2010

ABSTRACT

In this article I propose that the metaphor of an adventure, a bigger story or project, can be a productive cognitive construct for mapping the landscape of recent Afrikaans poetry. I first survey a number of metaphors of South African literature, including the scrapyard, the archipelago, the colonial apartheid castle as well as the national literature, and then present two arguments for the existence and importance of the proposed adventures, namely the ideas of narrative schemas and of superstructures. I then briefly explore the 14 adventures that I propose, taking examples mainly from Poskaarte (Post cards) – the collection of postmodern poetry in Afrikaans edited by Foster and Viljoen (1997). Finally, I outline the importance of one of the adventures, the modern pilgrim’s progress, in the case of George Louw’s collection Kraai (Crow, 2006).

1. Inleiding

 

Leon de Kock (2005) het onlangs die metafore en analogieë wat die Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing onderlê – trouens die hele projek van die skryf van ‘n Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis – ironies betrag. Sy punt was dat ‘n analogie of kognitiewe model die skryf van so ‘n geskiedenis bepaal, omdat die metafore wat ‘n mens kies die vorm en emosionele waarde van so ‘n veld help konstrueer. “Cognitive assemblage is the shaping process”, skryf hy (De Kock, 2005:9). Met ander woorde, die analogie skep die persepsies wat die literêre veld tot stand bring.

De Kock demonstreer hierdie opvatting aan die hand van die analogieë wat tot dusver gebruik is om die veld van die Suid-Afrikaanse letterkunde in ‘n transdissiplinêre sin te verstaan. Die eerste is I. Pinchuk se metafoor uit die 1930’s, naamlik die metafoor van die skrootwerf. Pinchuk het die letterkunde in Suid-Afrika beskryf as

a scrapyard where the only seeming relationship between the scattered arrangements of metal, wood, soil and grass is that they are all contained within the same area (aangehaal deur De Kock, 2005:9).

De Kock se argument is dat Stephen Gray hierdie persepsie van die Suid-Afrikaanse letterkunde as tweedehands, koloniaal, afgelei en sonder enige samehang dramaties verander het deur ‘n nuwe metafoor in te voer, naamlik die metafoor van die eilandgroep (of argipel). Die verskillende Suid-Afrikaanse letterkundes is soos eilande wat onder die see aan mekaar en aan nabygeleë landmassas verbind is. Die taak van hierdie soort literatuurgeskiedenis is dan “to chart the internal interconnections” (Gray 1979) tussen oënskynlik geïsoleerde entiteite. Gray se metafoor skakel op ‘n baie interessante wyse met Eduard Glissant se Poetics of relation (2006), wat juis eilandgroepdenke (“archipelagic thought”) as uitgangspunt het.

Derdens haal De Kock Graham Stewart en Johan van Wyk (2000) se siening aan dat die Suid-Afrikaanse literêre veld as ‘n hiperteks beskou moet word. Hy noem dit ‘n seminale nuwe metafoor en ‘n deurbraak, want ‘n hiperteks is nie-geslote, nie-liniêr en multidimensioneel. De Kock meen dit is ‘n model wat reg sal kan laat geskied aan die “linguistic disparateness, the incommensurability of forms, the blinding diversity of topics” (De Kock, 2005:12) op die gebied van die Suid-Afrikaanse letterkunde.

Ongelukkig het hierdie briljante kognitiewe herkartering van die veld tot dusver weinig praktiese gevolge gehad, hoewel die beoogde hiperteks-ensiklopedie van die Suid-Afrikaanse letterkunde tans deel uitmaak van die Encyclopaedia of South African, Arts, Culture and Heritage (vergelyk www.esaach.org) en stadigaan verder ontwikkel word. Denke oor die Suid-Afrikaanse letterkunde bly egter nog steeds vasgevang in wat De Kock (2005:3), in ‘n  metafoor van sy eie, die “colonial-apartheid castle” noem. Hierdie kasteel se voorkamers en deftige ontvangskamers word nog steeds oorheers deur Afrikaanse en Engelse letterkunde. Letterkundes in die Afrikatale bly nog verban tot besemkaste en bediendekamers. Die orale tradisie van die Khoi en die San word nog steeds opgeberg in “musty basement stores” (De Kock, 2005:3). Hierdie toestand duur steeds voort. Ons bly steeds vasgevang in hierdie pseudo-koloniale gebou. En ons tydskrifte, akademiese departemente, letterkunde-verenigings en uitgewerye weerspieël nie net hierdie stand van sake nie, maar versterk dit daagliks.

Daar is natuurlik ‘n ander baie belangrike en meestal stilswyend-aanvaarde kognitiewe metafoor vir die Suid-Afrikaanse literêre terrein, naamlik die idee van ‘n nasionale letterkunde – die letterkunde van ‘n unieke volk wat voortkom uit ‘n unieke grondgebied in ‘n unieke nasionale taal. Hierdie analogie het nog altyd sleg gepas by die Suid-Afrikaanse werklikheid van verskillende tale en mense wat geografiese en politieke grense van allerlei slag oorskry.

 Dat die idee van ‘n veeltalige staat met talle kulture en ‘n koherente veeltalige “republiek van die lettere” in Suid-Afrika nog vir die meeste mense ondenkbaar bly, kan toegeskryf word aan die hegemonie van die idee van die nasiestaat en die idee van ‘n nasionale letterkunde wat daarmee saamhang.

2. Die nasionale narratief as voorbeeld van ‘n omvattende projek of avontuur

‘n Mens sou kon argumenteer dat om oor die nasie te skryf nog steeds ‘n dominante manier is om ‘n digterlike persona en ‘n self te vorm. Dit was natuurlik die geval in die protespoësie van die onlangse verlede – poësie wat eksplisiet ‘n wapen in die struggle moes wees. Die uitputting van protespoësie volg’n ontwikkeling wat reeds in die Afrikaanse letterkunde plaasgevind het. Die heftige volkspoësie (of wat as heftige volkspoësie beskou is) van die eerste generasie soos Cilliers en Totius is gevolg deur Van Wyk Louw se “lojale verset”. Eers in die 1960’s en 1970’s het Afrikaanse skrywers soos Jan Rabie, André Brink en Breyten Breytenbach teen die Afrikaners se nasionale projek gedraai en dit fel begin kritiseer.

Die Afrikaanse grensliteratuur van die 1980’s was ook sterk antinasionaal. In talle opsigte is die Soweto-poësie van dieselfde tydperk die ander kant van dieselfde munt. Dit is ook ‘n soort oorlogspoësie met dieselfde generiese merkers, dieselfde verpligte tonele en dieselfde oorvereenvoudigde teenstelling van “ons” teenoor “hulle”, maar dan as dalk ewe dubbelsinnige uitings van swart nasionalisme. Uiteindelik kan ‘n breër blik ons dalk laat besef dat dinge veel ingewikkelder is as wat dit dikwels lyk.

Antjie Krog se onlangse loopbaan bewys hoe kompleks die skryf van die nasie, die omskrywing van wat “swart” beteken, verweef is met die kritiek op die eensydig Westerse manier van dink. In Kleur kom nooit alleen nie (2000: 47) skryf sy sarkasties oor die “die ou prostate met die gekroonde tande en die bifocals” wat nog steeds probeer voorskryf wie waar hoort. By die “nuwe barcounter van identities” soos sy dit noem, lyk dit eerder of sy kies om te identifiseer met ‘n taal van “menslikheid en berou” en met die stilswyende meerderheid van werkersvroue in die land. Anders as Max du Preez (2009) dink ek nie haar boek Begging to be Black (Krog 2009) kom neer op identiteit-selfmoord nie. Dit is eerder ‘n ernstige poging om die moontlikheid te oorweeg dat die dominante denkraamwerk in Afrika dalk nie Westers kan wees nie. Dat sy stuit op ‘n aporia as sy die xenofobiese aanvalle ook uit ubuntu (as verbondenheid, “interconnectedness”) probeer verklaar (vergelyk Krog 2009: 235-239), doen nie afbreek aan die eerlikheid van haar poging nie.

Vir my doel is dit egter besonder interessant dat Krog se gespreksgenoot, die filosoof uit Australië, Homi Bhabha se pleidooi vir ‘n mens se reg om jou storie te vertel, aanhaal as getuienis van “the unequal and uneven forces of cultural representation”. Op ‘n baie komplekse manier verweef Krog in Begging to be Black die “relaas van ‘n moord”, die geskiedenis van Moshoeshoe en haar eie wedervarings, briewe en gesprekke in Berlyn met mekaar in ‘n kritiek op apartheid, die koloniale manier van dink en wat sy noem die gebrek aan koherensie in Suid-Afrika. Haar ander werk is ook dikwels ‘n komplekse weefsel van verskillende ander verhale behalwe die nasionale avontuur of die storie van die struggle. Sy neem ook deel aan ander avonture: vrouebevryding, die Afrika-renaissance, die queeste na die Orgasme met ‘n hoofletter; die storie van die lewe en die liefde van die individu. Dit illustreer onder andere Bhabha (1990: 4) se opvatting dat die nasie ‘n Janus-konstruksie is, omdat dit een van die maniere is om moderniteit te regverdig, nes die idee van vooruitgang. In die naam van die nasie word die outoritêre en normaliserende tendense in kulture gerasionaliseer.

Die idee van ‘n nasionale letterkunde is ‘n manifestasie van die nasionale avontuur – wat sy eie helde en spesiale gebeurtenisse het. Die nasionale avontuur interpelleer ons byvoorbeeld om goeie nasionaliste te wees (nie rassiste nie) deur deel te neem aan inhuldigings van presidente, jeugdagvierings of sokkerwêreldbekers – al is daar in Suid-Afrika nie danig sprake van ‘n saambindende nasionale gevoel nie. In Europa was die nasionale avontuur die afgelope 150 tot 200 jaar, sedert dit tydens die Verligting deel geword het van die “selfverstaan van die burgerlike klas” (Böhmer 1976: 349), ‘n uiters suksesvolle projek. Volgens Kloek (1997:7) het daar reeds in die loop van die 18de eeu ‘n sterk proses aan die gang gekom om nasionale identiteite en nasionale karakters te definieer. Dit het die beskrywing en profilering van die eie kultuur en letterkunde ingesluit. In Suid-Afrika dateer die verskillende nasionalismes (met al hulle teenstrydighede) hoofsaaklik uit die laat negentiende eeu.

Die punt is egter dat die nasionale verhaal lank dominant was – en nog dominant is, onder andere in die wyse waarop die letterkunde, musiek en kuns georganiseer (gerasionaliseer, eenders gemaak) word rondom nasies, nasiestate, nasionale tale en nasionale instellings, soos nasionale biblioteke en kunsgalerye en museums. Die punt is ook dat die verhaal van die nasie een van die bekendste omvattende verhale is wat mense gebruik om hulleself en hulle wêreld mee te verstaan. Krog se werk suggereer egter ook dat daar ‘n hele paar ander sulke omvattende verhale bestaan wat as verset teenoor die hegemoniële idee van die nasie verstaan kan word. Die verset teen ‘n enkele verhaal blyk ook uit die onlangse Afrikaanse poësie – en uit die wyse waarop die terrein van die onlangse Afrikaanse poësie gekarteer word.

3. Onlangse karterings van tendense in die Afrikaanse poësie

 

Daar is ‘n hele paar karterings van die onlangse Afrikaanse poësie (onder andere Foster, 2000), waarvan drie waarskynlik die prominentste is, naamlik Ronel Forster en Louise Viljoen se (1997) inleiding tot Poskaarte (1997), J.C. Kannemeyer (2005) se uitgebreide weergawe van sy korter geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde en derdens Bernard Odendaal (2005) se oorsig oor tendense in die Afrikaanse poësie sedert 1998 in deel drie van die nuwe Perspektief en profiel.

3.1 Postmoderne tendense

In hulle bloemlesing toon Foster en Viljoen die verskeidenheid van die Afrikaanse poësie sedert 1960 en karteer die veld hoofsaaklik as ‘n versameling van postmoderne tendense wat insig bied in die komplekse “kulturele, artistieke, sosio-politieke, tegnologiese en filosofiese ontwikkelinge van die afgelope tyd” (Foster & Viljoen, 1997: xxiv). In hulle inleiding bespreek hulle elf sulke postmoderne tendense:

  • Die afwys van ‘n finale, afsluitende betekenis. Dit is in ooreenstemming met Lyotard se ongeloof in metanarratiewe en in die oortuiging dat finale waarhede mensgemaakte konstrukte is.
  • Selfrefleksiwiteit. Dit sluit in ‘n soms obsessiewe “gemoeidheid met die self”, die skryfhandeling en met metapoëtiese spekulasie.
  • ‘n Veranderde rol vir die leser. Die leser het die taak om die teks te verwerk en te voltooi – onder andere deur die beroemde gapings te vul – en nie net meer te verbruik nie.
  • Intertekstualiteit. Dit vang byvoorbeeld die neiging vas dat digters van mekaar steel en die outeur neig om bloot ‘n  vertaler, tolk of selfs net ‘n skriba te word, omdat alles eintlik alreeds gesê is.
  • Ontginning van die hedendaagse massakultuur. Populêre tekste, pop- en rock-kultuur, film, advertensies en die ikoniese figure daarvan soos Marilyn Monroe of James Dean word doelbewus gebruik en misbruik in die poësie. Hierdie tendens word byvoorbeeld saamgevat in die titel van E.W.S. Hammond se eerste bundel, Hamburgers en hotdogs (1980).
  • Bevraagtekening van die grens tussen feit en fiksie. Hierdie tendens stel enersyds die fiksionaliteit van die werk voorop, maar trek andersyds ook feite en dokumente in die fiksionele konstruk in.
  • In gesprek tree met die geskiedenis. Hiermee word bedoel die herinterpretasie van die verlede of die herskryf van die geskiedenis in ‘n ander trant.
  • Verwysings na moderne elektroniese tegnologie. Dit strek verder as die gebruik van woorde soos “kamera”, “TV”, of “komper” en sluit ook in die benutting van die kennisontploffing en die bevraagtekening van tradisionele opvattings van oorspronklikheid en die skrywer as sentrum van kreatiwiteit.
  • Belangstelling in randgebiede. Hierby sluit Foster en Viljoen poësie deur vroue, feministiese, gay en struggle-poësie in – poësie wat die belangrikheid van die sentrum bevraagteken en daarheen terugskryf.
  • Laastens wys die skrywers op die prosodiese verskeidenheid en die speelse en karnavaleske aard van baie poësie sedert 1960.

Poskaarte toon die rykdom en verskeidenheid van die Afrikaanse poësie sedert 1960 oortuigend aan. Die bloemlesers merk op dat talle postmoderne tendense hulle opgeval het met die lees van die meer as 500 digbundels wat tussen 1960 en 1995 gepubliseer is. Poskaarte is enersyds ‘n tydsdokument en andersyds ‘n kanonisering van postmodernisme in die Afrikaanse poësie. Dit is op die ou end ‘n boeiende en veelfasettige bloemlesing, ryk en divers – onder die leid-ster van weerstand teen meesterverhale.

3.2 ʼn Meer tradisionele siening

In die uitgebreide uitgawe van sy kort literatuurgeskiedenis neem J.C. Kannemeyer (2005: 559-565) rondom 1976 genoeg formele en tematiese vernuwing – en genoeg “verhewigde verset” – waar om ‘n nuwe periode te kan postuleer. Hy toon nege sulke tendense in die letterkunde (ook die poësie) sedert 1976 aan, wat ek kortliks sal noem:

  • Poësie gebaseer op dokumente en “optekeninge”, soos in Komas uit ‘n bamboesstok of in Krog se Lady Anne
  • Strydpoësie in bundels soos Aankoms uit die skemer (1988) of I Qabane Labantu (1989) – ook protes teen die Nuwe Suid-Afrika (wat ook vir hom meer sosiologiese as literêre betekenis het)
  • Straatpoësie wat aansluit by die Beat-generasie, soos in die werk van Koos Kombuis
  • Poësie wat spruit uit die bewoë aktualiteit van 70 en 80, byvoorbeeld die werk van Krog en Breytenbach
  • Poësie van egodokumente en ‘n “emigrasie na binne”
  • Grensliteratuur (ook grenspoësie) in verskillende sinne van die woord
  • Gay poësie, vleeslik en wellustig, byvoorbeeld die werk van Johann de Lange
  • ‘n Duidelike toename in vroueskrywers
  •  Die mens en sy eksistensiële problematiek, sy angste en vrese
  •  ‘n Groter openheid vir invloede soos blyk uit ‘n toename in vertalings

In die afdelings oor die mees resente poësie lyk dit of Kannemeyer sy taak as literatuur-historikus abdikeer. Dit is nie baie duidelik waar hy vernuwing sien nie en hy bly ook vaag oor nuwe tendense. Hy maak glad nie skakels met breër nasionale en internasionale literêre en sosiale bewegings soos postmodernisme, groen poësie of die invloed van elektroniese tegnologie of hiperteks nie en skyn nouliks ‘n teoretiese greep op die materiaal te hê. Die boek verwater uiteindelik tot ‘n kroniek van name en titels met enkele evaluerende opmerkings daartussen.

3.3 ʼn Perspektief op die poësie sedert 1998

In sy oorsig in die derde deel van Perspektief & Profiel dui Bernard Odendaal (2005) ʼn verskuiwing aan in die publikasie van Afrikaanse poësie van hoofstroom- na kleiner uitgewers. Ondanks ‘n sterker marginalisering van poësie sien hy ook tekens van sterker populêre energieë raak, soos podiumpoësie, poësie op kompakskyf, ‘n ontploffing van Afrikaanse popmusiek en die opkoms van populêre versvorme. Soos sedertdien duideliker geword het, beleef Afrikaanse poësie ‘n bloeitydperk.

Hierdie tendens bevraagteken ook die skeiding tussen die literêre en die populêre. Odendaal (2010) noem dit later ‘n demokratiseringstendens en haal André P. Brink se Groot verseboek van 2008 aan as ‘n voorbeeld daarvan.

Odendaal sien tweedens ‘n opvallende toename in die gebruik van niestandaardvariëteite van Afrikaans, met ‘n stuk of drie funksies: om groepsidentiteit te merk, om weerstand teen die standaardvorm uit te druk en om nuwe vryhede te vier. Hierdie toename in die gebruik van “Loslitafrikaans”, hierdie “spreektaligheid”, vorm ook deel van ‘n strewe na dit wat gewoon, plaaslik en outentiek is. Odendaal (2010) noem in sy latere bydrae dat die debat tussen die voorstanders van praatpoësie en die verdedigers van meer formele, gestruktureerde poësie sedert die Versindaba van 2006 hewiger geword het en dat kritici die digters van praatpoësie verwyt het dat hulle die kollig soek en bly steek in die prosaïese en anekdotiese.

Vir Odendaal is ‘n belangrike tema derdens die bemoeienis met die probleme van (Suid-Afrikaanse) identiteit, alhoewel dit meestal vanuit ‘n verskeidenheid van perspektiewe gedoen word, wat die ambivalensie en die relatiwiteit van behoort in Suid-Afrika onderstreep. Nou verwant aan hierdie tendens is die toename in die poësie van reis en romanties swerf (‘n soort rondreisende troebadoerspoësie verteenwoordig deur die werk van Koos Kombuis en Gert Vlok Nel). Odendaal sien ‘n toenemende pessimisme oor Afrikaans en die Afrikaanse kultuur as nog ‘n tendens, wat in sommige gevalle (soos in Ilse van Staden se bundel Watervlerk, 2003) ook lei tot ‘n nuwe kreatiewe ervaring van die gewone wêreld. Namate die digters ouers word, is daar ook ‘n opvallende toename in poësie oor oudword en ouderdom. Odendaal merk verder ‘n nuwe weerstand teen die uitwasse van die jong Suid-Afrikaanse demokrasie op – in sommige opsigte ʼn voortsetting van die versetpoësie van die 70’s en 80’s. Die sosio-politieke implikasies van genderkwessies word in ‘n hele paar bundels ondersoek, beide vanuit ‘n vroulike en ‘n manlike perspektief. Daar is ook ‘n sterk outobiografiese tendens in ‘n hele aantal bundels. Odendaal dui verder aan dat die liefdespoësie, erotiese poësie, groen poësie en religieuse poësie tematies belangrik is in hierdie tydperk.

As ‘n mens na hierdie drie karterings van die terrein kyk, is dit duidelik dat net Foster en Viljoen s’n berus op ‘n sterk vormende kognitiewe metafoor. Odendaal se rigtende metafoor is die sisteem, maar hy het die sistematiek van die jongste poësie nog nie volledig uitgewerk nie. Belangriker vir my argument is egter dat genoemde skrywers ook aandui dat die digters baie verskillende stories op verskillende maniere vertel – nie net die stories van nasiebou of van weerstand teen die bestaande hegemonie nie. Ek meen ook dat selfs die mees hermetiese poësie binne ‘n intensionele verhaalkader verstaan word, sy dit dan, volgens A.P. Grové (s.j.: 12 e.v.) se opvatting, die verhaal van die botsings en spannings tussen die elemente van die gedig self. Die punt is egter ook, soos die voorbeelde van Foster en Viljoen, Odendaal en Kannemeyer illustreer, dat die jongste Afrikaanse poësie kognitief nog nie goed genoeg gekarteer is nie.

4. ʼn Alternatiewe voorstel: Die groot avonture

 

My alternatiewe voorstel is dat ons die Suid-Afrikaanse letterkunde in ʼn breë, veeltalige sin as ‘n storieskap moet beskou – ‘n landskap wat uit sowat 14 verskillende vervlegte en mededingende maar nogtans onderskeibare avonture bestaan.

Hierdie avonture is vergelykbaar met meesterverhale (hoewel minder omvattend) en diskoerse. Ek omskryf hulle as fundamentele stelsels om verhoudings te bepaal tussen agense en aksies in tyd en ruimte, betekenissisteme, gedeelde ervaring en openbare gedrag. Hulle is botsende betekenisskeppende ondernemings of projekte, elk met sy unieke stel karakters, identiteite, betekenisvolle gebeurtenisse, geliefkoosde ruimtes, verpligte tonele en sleutelmetafore, asook distinktiewe woorde, waardes en houdings.

Teoreties wil ek twee redes aanvoer waarom hierdie soort verhale erken en onderskei behoort te word. Die eerste is die (nou reeds algemeen aanvaarde) opvatting dat menslike kennis onder andere georganiseer word in rame (“frames”) en skripte (“scripts”) (vergelyk Minsky, 1975; Schank & Abelson, 1977). Van Dijk en Kintsch (1983), wat skynbaar die enigste erkende model van teksbegrip tot dusver ontwikkel het, praat van skematiese strategieë en superstrukture, wat hulle omskryf as konvensionele strukture op ‘n hoër vlak as grammatika, soos die vyf bedrywe van ‘n tragedie met hulle konvensionele funksies van eksposisie, krisis, klimaks, ensovoorts. Tegnies bestaan hierdie strukture uit konvensionele kategorieë wat verdere struktuur toeken aan die verskillende vlakke van ‘n teks of diskoers (Van Dijk & Kintsch, 1983: 236). Van Dijk en Kintsch onderskei ook metriese, retoriese, argumentatiewe en narratiewe superstrukture. My argument is dat die groot avonture sulke narratiewe superstrukture is wat ons in staat stel om ‘n gedig in ‘n groter singewende narratiewe raamwerk (projek of avontuur) in te pas en daardeur die intensie en betekenis van die gedig beter te verstaan.

Die tweede rede is die idee dat ‘n verhaal ‘n  primêre wyse is waarop kennis georganiseer word. Bundgaard (2007: 248) argumenteer byvoorbeeld dat die skema van ‘n narratief ‘n belangrike kognitiewe skema en beginsel van betekeniskonstruksie is. Hy omskryf ‘n kognitiewe skema as “an internally organized semantic gestalt in terms of which partial significations can be combined into a coherent whole” en meen dat dit op persepsie gegrond is. In sy mees primitiewe vorm bestaan die narratiewe skema uit die verhouding tussen ‘n subjek en die doel van die subjek se handelings. Vir die waarde en bestaan van die narratiewe skema voer Bundgaard veral twee argumente aan. Enersyds bou hy voort op Lévi-Strauss se analise van die mite, wat die semantiese wêreld van die mite verdeel in samehangende stelle opposisies, soos natuur:kultuur, hemel:aarde, manlik:vroulik. Die mite het egter ook ‘n sintaksis nodig wat hierdie teenstellings in konfrontasie bring en die konflik oplos. Daarom is gebeurtenisse waarin hierdie radikaal teenstellende kragte saamgetrek word, soos ploeg, oes of trou, ook van kardinale belang in die alledaagse lewe en word die artikulasie van hierdie “fatally contrary sets of meanings and values” (Bundgaard, 2007: 250) simbolies in die vertel van stories en in rituele uitgedruk. Daarom beskou Bundgaard die narratiewe skema as die natuurlike teenhanger van die mities-teenstellende semantiese organisasie.

Vir Bundgaard gaan die kognitiewe belang van die skema van die narratief nog verder. Uit eksperimente met hoe mense die beweging van geometriese vorms soos driehoeke en sirkels in ‘n video as ‘n storie met botsende karakters verstaan en interpreteer, lei hy af dat die narratiewe skema berus op die direkte waarneming (persepsie) van intensie en as sodanig dus ‘n soort kognitiewe dieptestruktuur uitmaak. As bewys hiervan voer Bundgaard (2007: 253) aan dat “recognizing movements as intentional is tantamount to recognizing basic narrative programs”. Dit stel mens in staat om te onderskei tussen die bewegings van ‘n roofdier of ‘n tak wat val. Basiese narratiewe programme soos vlug, veg, of wegkruip kan dan geaktiveer word. Bundgaard (2007: 253) skryf dat die narratiewe skema op sigself ‘n uiters belangrike betekenis-gestalt is. Narratiewe beweging is op sigself betekenisvol “by virtue of the counterfactual representation it triggers (S is moving with the purpose of obtaining X)”.

My argument is dat sulke intensionele skemas ewe noodsaaklik is vir die verstaan van gedigte en dat verskillende intensies, programme of projekte – avonture of singewende narratiewe skemas – onderskei kan word. Hierdie strukture lê vir my tussen die heel abstrak-logiese narratiewe struktuur van ‘n gedig en die wyse waarop die storie in ‘n spesifieke gedig funksioneer. Dit lê dus tussen verhaal (discours) en storie (récit) en kan ook as ‘n onderliggende en dikwels onbewuste mite beskou word. Die metafoor van die avontuur gebruik ek doelbewus om iets van die meesleurende krag van hierdie skemas mee uit te druk.

Die avonture is afgelei uit die tien meesterverhale van die self wat ons, na aanleiding van Lyotard se idee van meesterverhale, onderskei het in ‘n ondersoek na selfrepresentasie in Suid-Afrikaanse romans, literêr sowel as populêr, in Afrikaans en Engels tussen 1980 en 1985 (vergelyk Viljoen, 1992: 48-53). As oorsig oor die avonture gee ek hieronder ‘n kort beskrywing van hierdie tien meesterverhale met bondige verwysings na bekende romans.

Die verhaal van die selfverwesenliking van ‘n volk (die nasionale avontuur) vorm die sentrale projek in romans soos Blaaskans (1983) van John Miles, To Every Birth its Blood (1981) van Wally Serote of Die laaste Sondag (1983) van Elsa Joubert, hetsy dan as identifikasie daarmee of as verwerping daarvan. Die postkoloniale avontuur, of die ontsnapping uit die Manicheaanse allegorie, maak enersyds deel uit van ‘n (anti-)nasionale avontuur, soos in Sitate om ‘n revolusie (1885) van Jeanette Ferreira of A State of Fear (1985) van Menán du Plessis, maar raak ook dieperliggende opvattings oor self en ander, die dekolonisering van die denke en die verhouding tussen sentrum en periferie, soos in Coetzee se Waiting for the Barbarians (1981) of Nadine Gordimer se July’s People van dieselfde jaar. Die avontuur van die selfverwesenliking van die outonome individu is dominant in hierdie korpus, al staan dit onder druk van die postkoloniale en postmoderne avonture. Selfverwesenliking geskied dikwels deur beproewing en belydenis heen. Voorbeelde daarvan is Brink se Houd-den-Bek (1982), Op die rug van die tier (1981) van Anna M. Louw en Jan Rabie se roman Johanna se storie (1981). Athol Fugard se Tsotsi (1983) as roman van selfontdekking pas ook in hierdie kategorie. Hierdie avontuur is opvallend dominant in populêre romans.

Dikwels gaan selfverwesenliking gepaard met selfontkenning en askese, soos uit Op die rug van die tier blyk, maar ook uit Klaas Steytler se meer populêre roman, Die leeukuil (1982) of uit Louis Krüger se grensroman ‘n Basis oorkant die grens (1984). In hierdie roman is die eksterne gebeure van die operasie anderkant die grens die omraming vir ‘n  intense religieuse avontuur. Die noue verband tussen die religieuse en die nasionale avontuur word in Die laaste Sondag tot gruwelike hoogtes gevoer en gesatiriseer. Die postmoderne avontuur van die fragmentering van die subjek, die spel met figurasies van die ek, staan sentraal in Mourior (1983) van Breytenbach en Sonneskyn en Chevrolet (1980) van Dan Roodt, maar ook in Somer II van André Letoit (1985) en Father Come Home (1984) van Es’kia Mphahlele. Die eksistensiële avontuur, dit is die soeke van die self na ‘n subjektiewe ervaring van eie outentieke bestaan en van die syn van dinge, vorm onder andere die agtergrond in Houd-den-Bek (1982) van Brink. Daarin is die bevrydingstryd en outentieke seksuele ervaring innig vervleg. Selfverwesenliking vind ook plaas deur regeneratiewe of subversiewe seks, wat dui op die vervlegtheid daarvan met die avontuur van die Orgasme-met-‘n-hoofletter, soos by Letoit, Rabie, Brink en Coetzee (in wie se roman seks egter nie hergeboorte beteken nie).

Opvallende voorbeelde van die semiotiese avontuur, die spel met tekens en nie-realistiese karakters wat eerder simbole of self teks is, is onder andere die genoemde romans van Breytenbach, Miles, Roodt en Serote. Speel met name is ‘n belangrike faset van hierdie avontuur. ‘n Ander belangrike fasette is die opvallende gebruik van montage en intertekstualiteit. Die ekologiese avontuur, die reis met ruimteskip Gaia of Aarde, ontbreek in die korpus romans, maar vorm wel die sentrale lyn in Peter Wilhelm se jeugroman Summer’s End (1984). In hierdie roman is die ekologiese avontuur ‘n middel om uit die impasse in rasseverhoudinge te ontsnap in ‘n soort fantasie (wat ook die wyse is waarop Gordimer en Miles se romans eindig).

Vervolgens sal ek hierdie groot avonture in die onlangse Afrikaanse poësie kortliks uitstippel met voorbeelde hoofsaaklik uit Poskaarte (aangedui met die outeur se naam en die bladsynommer). In die korpus gedigte na 1980 kan myns insiens vyf verdere avonture onderskei word, naamlik die asketiese avontuur, die feministiese avontuur, die avontuur van lewenstyl, die avontuur van liggaamlike stilering en sport en die avontuur van moderniteit.

5. Die groot avonture

 

5.1 Die nasionale avontuur

Dit is die avontuur van die bou van ‘n nasie, die selfverwesenliking van ‘n volk. Drie sub-avonture kan onderskei word:

  • Identifikasie met die nasie (wat satire insluit) – “‘n Nuwe liedjie…” (Joan Hambidge, 461).
  • Kontra-identifikasie met die nasie (protes, weerstand, stryd) – “hasejag, September 1984” (Breyten Breytenbach, 531); “Wraakgedagte” (Willie Adams, 476).
  •  Disidentifikasie (transformasie) – “Vlugtelinge” (Charl-Pierre Naudé, 587). Daniel Hugo, Leon Rousseau en Phil du Plessis (reds). 2000. Nuwe verset. (Hugo et al., 2000).

Naudé se “Vlugtelinge” vertel die verhaal van ‘n vriend se besoek aan ‘n spookdorp in Turkye, ‘n “leë geraamte-dorpie, versaak deur vlugtelinge/ van 1922 wat uit hulle nedersettings verjaag/ en uitgemoor is deur die Turke, omdat hulle Grieke was”. Die vriend beskryf hoedat “die rollende bord van [sy] stamgeheue” “met die keerkant na bo tot rus gekom het”, en op daardie keerkant is die verhaal van die Hugenote geverf. In die loop van die gedig kry hierdie gevoel dan geleidelik naam: dit is ‘n verplaas-wees, wat al sterker word en uiteindelik ‘n universele “vlugteling-geheue” in hom wakker maak:

….
Die taaierige kuswind wat klap in my broekspype
was die soebattende hande van kinders,
meer teenwoordig as enigiets wat ek voorheen ervaar het.
Met die kleur van skaduwee. Met die kleur van die kinders
van Sophiatown, Distrik Ses, die Winterveld.
Elk met ‘n naam en ‘n gesig. Die vlugteling-geheue
so orent in my nekhare, was nie meer my eie nie.
Ek het uit daardie dorp van murasies gevlug:
Slegte dinge het al gebeur in Turkye.

Die sterk identifikasie met universele vlugtelinge is ook ‘n ervaring van disidentifikasie met maghebbers en ‘n vrees vir eie vlugtelingskap. Dit bevat ‘n  implisiete kritiek op die nasie en die onregte wat in naam van die nasie gepleeg word, maar dit is ook ‘n tema in ‘n ander avontuur wat ‘n mens dalk moet erken, naamlik die avontuur van migrasie en vervreemding.

5.2 Die asketiese avontuur (of: Die monnik se reis)

Dit is die avontuur van die toets en die vind van die self deur opsluiting, askese, blootstelling, toetsing, insluitend gevangeneskap en bevryding (tronkpoësie). Die asketisme van die self – ‘n masochistiese reis – word soms deur omstandighede afgedwing. “Uitsig op die kade” (Elisabeth Eybers, 544); “herfsmeditasie” (Marlene van Niekerk, Versindaba 2008 (Joubert, 2008: 74) is voorbeelde daarvan.

In haar gedig lê Marlene van Niekerk eksplisiet ‘n verband tussen haar tuin en die Boeddhistiese tegnieke van meditasie. Die tuin word metafories ‘n monnik waarin die insig in die samehang van alle dinge tot in die fynste besonderhede gestalte kry. Die afstand tussen waarnemende self en tuin raak opgeskort in ‘n wedersydse identifikasie, tegelyk verdingliking en personifikasie, waarin die mistieke ervaring van selfopskorting en selfverlies uitgedruk word. Die laaste strofe is redelik eksplisiet daaroor:

In die binneste van my tuin hoog en geel
agter die grys borsbeen van die vyeboom
maak ‘n  laaste blaar hom reg om te ontheg
onder die sitvlak van my tuin
berei molle en erdwurms die grond vir die ontvangenis
van ‘n hart lig en droog genoeg om te val.

Die self word tuin; die tuin word self. Die blaar word hart (of omgekeerd), “gereed om te ontheg”, “lig en droog genoeg om te val”. Dit is effekte wat begryp kan word binne die raamwerk van die monnik se asketiese reis na ‘n toestand van selfloosheid in totale identifikasie met die Al.

5.3 Die postkoloniale avontuur

Dit is die avontuur van die dekolonisering van die self, die denke: bevryding uit onderdrukking, uit die Manicheaanse allegorie; toe-eiening en doodtrek van die Westerse tradisie; ontslae raak van die “wit mitologie” (Westerse etnosentrisme) maar ook die voortsetting daarvan. “Apollo Smintheus” (Pirow Bekker, 529) en Marius Crous se Brief uit die kolonies (2003) is voorbeelde daarvan.

In haar analise van “Apollo Smintheus” as historiografiese metagedig, toon Ronel Foster (2000) ook die postkoloniale trekke van hierdie gedig aan. De la Guerre se avontuur van koloniale ontdekking en drome van Vigiti Magna en Monomotapa word opgestuur. Sy menslike waan en fantasie word genadeloos blootgelê en Apollo, as die god wat plae en epidemies bestry, tree ironies in die slot na vore om “die veldmuise op hul bliksem [te] speel” – en met die postkoloniale avontuur af te reken.

5.4 Die ekologiese avontuur (of: Weg, breek weg).

Dit is die verhaal van Gaia, Ruimteskip Aarde. Vandag word hierdie avontuur dikwels nie beskryf as ‘n jagekspedisie nie, maar as ‘n Afrika-avontuur – nie meer op safari gaan nie, maar ‘n  fotografie-, bos-en-boendoe- ekologiese of toeristereis (of sport) onderneem om verre en eksotiese plekke te verken. Voorbeelde hiervan is Johann Lodewyk Marais se “Afrika” (523), Johann de Lange se “Koos Prinsloo” (572) en Ilse van Staden se bundel Watervlerk (Van Staden, 2003). Ook Krog se reeks “van litteken tot rivier” (Krog, 2000), “Fantasie van die dame met die verkyker” (Martjie Bosman, 477) of die streekspoësie van Jacob Oerson (537 e.v.) kan hier genoem word.

Martjie Bosman se spreker treur oor die verbygaan van tyd toe daar nog eenhorings was, maar ontdek dan in die voëls om haar, en in hulle kleurryke name en geluide, “ringduif en blouvalk, hadida en witkruisarend”, ‘n ander rykdom – een wat sy nie hoef te besit nie. In die slot mitologiseer sy die voëls tot mistieke ekologiese tekens van goedheid en seker ook waarheid:

Gegroet! Julle wat ons vereer met onverwagte besoeke,
julle wat ons ontglip, julle wat ons nie ken nie,
julle wat leef in die grasse, die blare, die hemel,
gegroet! Julle tekens van onuitputlike bronne
van goedheid en rykdom, gegroet!

5.5 “Agter die woord aan reis”

Dit is die semiotiese of taalavontuur: om die tekens te herrangskik en te permuteer (in die poësie self, advertensies of grafiese ontwerp). Die betekenaars raak aan die dans, soos in die advertensie “Met eish”. Gedigte waarin hierdie avontuur opvallend is, is “Twis”, “Jan” (Ina Rousseau, 590-1) of “Taalles” (Daniel Hugo, 580).

Ina Rousseau speel heerlik met die s’e van is en issie en ses en Sis Genis, maar gaan ook op soek na die betekenis van twis en haar assosiasies daarmee:

Twis, twis, twis-twis. En toe ‘n hele
swetterjoel: duisende deursigtige
sappige waterbessies
wat piets en bots teen vensterglas
en sissend oopbars: twis-twis-twis-twis-twis-twis…

Sy ontdek so die heerlike “lispelklanke” van reën in die woordjie twis, wat “blinknuut en sappig/ my lewe binnegespat het/ op die dag van my twis met Sis Genis”. Die reis agter die tekens aan, op die woord af, lewer skitterende digterlike resultate op.

5.6 Die liberale avontuur

Hierdie projek gaan oor die selfverwesenliking van die bevryde, outonome individu met sy of haar regte (die avontuur van “liberal humanism”). Tony Leon of dr. Phil is verteenwoordigers daarvan en die Suid-Afrikaanse Grondwet ‘n eietydse formulering daarvan. Dit is ‘n projek wat met die Verligting begin het en ook nou verwant is aan die avontuur van moderniteit en vooruitgang (nr. 9). Die bekendste manifestasie daarvan vandag is waarskynlik die verhaal van die bevryding van vroue, oftewel die feministiese avontuur.

Die oorheersende belang van die ek en die self blyk byvoorbeeld uit M.M. Walters se gedig “By Sutherland volg die grootoog” (Joubert, 2007: 54). In kontras met die godsdiens, wat hom al eeue lank aanraai om ‘n tuiste in die hemel te soek, raai die spreker die mens aan om eerder binne-toe te kyk:

Soek binnetoe, diep in die éie oog
se donker onbekende agterin:
dis waar die mens se heimwee
en sy sterredroom begin.

As ‘n manifestasie van die projek van die Verligting en van moderniteit is die liberale avontuur wat onder andere krities teenoor religie. Dit kry ons ook by Walters. In hierdie gedig word die ideaal van selfverwesenliking direk teenoor die religieuse avontuur geplaas.

5.7 Die feministiese avontuur

Die avontuur van bevryding en emansipasie van die vrou en die omkering van die patriargie is sterk aanwesig in die jongste Afrikaanse poësie. Dit hang ook saam met avontuur nr. 6 en nr. 14. “ek staan op ‘n moerse rots langs die see by paternoster” (Antjie Krog, 585) is een van die duidelikste voorbeelde daarvan.

Krog se gedig is ‘n uitdaging van die gesag van Onse Vader (Pater Noster) en ʼn verwerping van die patriargie in ‘n sterk identifikasie met die natuur. “Se moer”, skryf sy, “ek is rots ek is klip ek is duin”. Die ironie is egter dat hierdie bevrydingsverklaring van die vrou net in sterk, manlike en selfs gewelddadige taal uitgedruk word – en met moer: die sterk vloek oor vroue:

helder sing my tiete ‘n koperklepgeluid
my hande pak Moordbaai en Bekbaai
my arms skeur ekstaties bo my kop:
ek is
ek is
die here hoor my
‘n vry fokken vrou

Die triomfantlike geskal van koperblaasinstrumente begelei hierdie oorlogsverklaring, en dit is skynbaar net met gelyke geweld dat die uitgelewerde posisie van die vrou, gesuggereer in die name Moordbaai en Bekbaai, omgekeer sal kan word.

Deesdae kry ‘n mens ‘n sterk manlike teenhanger van hierdie avontuur, naamlik die aartappelboer se reis na tradisionele definisies van manlikheid en die reis van die self na ‘n manlike identiteit met manlike avonture en drifte. Dit skakel onder andere met die jag-deel van die ekologiese avontuur, maar andersyds – en weer as teenpool – uiteraard ook met gay reise en vaarte soos in die werk van Johann de Lange (vergelyk nr. 14).

5.8 Die avontuur van lewenstyl (of: Feng Shui jou lewe)

Hierdie avontuur omvat die drif om jou lewe en jou omgewing te stileer. Dit is ‘n reis na innerlike waardes, innerlike sekuriteit, terugtrek in jou veilige, pragtig gestileerde kokon, soos in die talle huisgedigte uit die 70-erjare. Dit word skrynend geïroniseer in “Prys van armoede” van Peter Snyders in Versindaba 2008 (Joubert, 2008: 66) (ek haal die twee slotstrofes aan):

‘n Halwe bruinbrood is nou skielik twie rand –
Nei man! Daai’s ‘n lae, gemiëne hou!
Wat wil djy my na ‘n maerplaas toe stuur?
            You see, my dear lady … daai’s ‘n baie goeie vraag
            maar daar’s geen antwoord daarop nie.
Maar niemand werk in die hys!
Waar moet ons die geld kry”
Ag, betaal maar, Joanie.

Sjoe! Na sukke bloederige werklikheid
makeer ‘n mens ‘n sigaret –
Wat! Tien rand vir ‘n pakkie!
Moet ek nog boenop soe duur betaal
om myself dood te maak met ‘n bietjie plesier?!
            Ag, betaal maar, Joanie.

 Verskillende stemme van gewone mense stel hier harde ekonomiese werklikhede ligweg aan die orde, maar by implikasie word ‘n ander variant van hierdie avontuur, naamlik die verbruikers­avontuur (die idee dat jy is wat jy koop; dat jy deur wat jy koop jou outentieke self demonstreer), skerp gekritiseer.

5.9 Die avontuur van moderniteit

‘n Mens kan dit ook die avontuur van vooruitgang noem, en dit het raakpunte met die liberale avontuur. Vandag ken ons dit veral as die opmars van die managers, of die “(computer) hack’s progress”. Dit vergestalt die ideaal van vooruitgang deur die rede en die wetenskap, veral deur tegnologie en tegnologiese ontwikkeling. (Kry die nuutste 3G-kameraselfoon.) Sukses word gewaarborg deur alles te bestuur. Dit word byvoorbeeld gesatiriseer in “Lanseerprogram: Apollo 1” (Carl Mischke, 347).

Hierdie gedig ontmasker die oormoedige vertroue in tegnologie as die lanseerprogram aan die einde ontspoor en oorgaan in ‘n onlogiese gebrabbel waaruit net enkele smeekbedes om bevryding nog verstaan kan word:

Bhatara Kala vang
 die son &£&£&£&
 tussen atoom(U235)klein tande vas

 VerMetel wonder Ons !??
waarvandaan hierdie sonsverduistering
 so onverwags . . . – – – . . . . . . – – – . . .
 te voorskyn kom
50 FORMAT (1X,’
                                     libera me /
                                     libera me /
                                     libera me /)
STOP
END

Die rede het sy einde bereik; vooruitgang het uitgeloop op vernietiging; die program bereik sy voorafbepaalde einde. Die gedig het as subtitel “6 & 9 Augustus 1945” – die datums waarop die atoombomme op Hirosjima en Nagasaki gegooi is. In die figuur van Batara Kala, die god van die onderwêreld in tradisionele Balinese mitologie, maar ook die skepper van die aarde en van lig, vang die digter skepping en tegelyk vernietiging vas – maar dan in Oosterse en nie Westerse terme nie.

5.10 Op pad na die werkersutopie

Die klassestryd (of die histories-materialistiese avontuur). Dit kan beskryf word as die “proletariat’s progress”, histories-materialisties gesien, of as die reis van die gemeenskap, die verhaal van heropbou en ontwikkeling. SA in poësie/SA in poetry (Van Wyk et al., 1988) is eksplisiet ‘n versameling van Suid-Afrikaanse werkerspoësie. Die opmars van die laer klas misluk telkens in Ronelda Kamfer se bundel Noudat slapende honde (Kamfer, 2009), byvoorbeeld in die gedig “goeie meisies” (p. 43):

goeie meisies join nie gangs nie

hulle raakie pregnant op dertien nie

hulle dra nie tjappies nie

hulle roekie weed nie

hulle tik nie
hulle djol nie saam met onderwysers nie
hulle speen nie saam met taxi drivers nie
hulle werk nie vir Shoprite nie
hulle is nie die cleaners nie

goeie meisies bly nie oppie Cape Flats nie

Die meisies se omstandighede keer hulle onvermydelik vas en maak enige vooruitgang na ‘n  beter lewe onmoontlik.

5.11 Die postmoderne avontuur

Kerneienskappe van hierdie avontuur is die splitsing en fragmentering van die self en die bevraagtekening van vooruitgang en die idee van moderniteit. “Curriculum vitae” (André Letoit, 436) is ‘n sprekende voorbeeld van die disintegrasie van die moderne Westerse rassuiwere burgerlike self en tewens ‘n guitige portret van die postmoderne kondisie:

My nooi is in ‘n nartjie
My ouma in die tronk
My oupa is ‘n try-for-white
My pa is altyd dronk

My oom is in die Broederbond
My boetie saag net meter maids
My neef studeer nog vrugteloos
En my beste vriend het AIDS

Die freaks dink ek is plastic
Die fuzz meen: skisofreen
My predikant voel ek’s ‘n bietjie regs
Maar in my hart ‘n goeie seun

My nooi is in ‘n nartjie
My ma vrees elke kommunis
My oom het ‘n jacuzzi
En ek weet nie wie de fok ek is.

Die ek plaas homself teenoor die avonture van die nasie (“Broederbond”), van die “goeie seun” (die religie), van welvaart en verbruik (“Jacuzzi”), die digterlike avontuur (“my nooi is in ‘n  nartjie”) en nog ‘n hele paar ander, maar kan homself nie ken of verstaan nie. Met enkele woorde roep die spreker hier dus ‘n hele rits selwe op – saam met die avonture waarbinne hulle gevorm word – maar verwerp hulle almal.

5.12 Vinniger, hoër, verder (of, Chariots of the Gods)

Hiermee bedoel ek die avontuur van spel en sport, die stilering van die liggaam en die self deur dieselfde proses byvoorbeeld in die gimnasium. Dit sluit aan by die avontuur van lewenstyl. Krog se gedig “Lady Ann by die mikrogolfoond” (1989: 73) vang hierdie strewe goed vas:

o my susters in kombi’s en stasiewaens
met stylvolle donkerbrille en hare teen die grys getint
liggame wat soggens in fleurige leotards
jog en gym en joga
verbete klou aan soepelheid en Pil

Hier gee Krog aan hierdie avontuur ‘n desperate toon deur die onsekerheid en die vermoede dat hierdie leefstyl aan die verbygaan is binne die konteks van Suid-Afrika in die 1970’s en 1980’s, sterk voorop te stel. Dit is inteendeel egter aan die floreer, soos ʼn mens daagliks in Men’s Health of Longevity kan lees of in die gimnasium kan ervaar.

5.13 Die pelgrim se reis (of, die religieuse avontuur)

Hier is die self op pad na die hemelstad of na ‘n mistieke eenwording met God. Voorbeelde is “Tale”; “Digter”, (Sheila Cussons, 482, 428); Ps. “121” (Hans du Plessis, 346), Fransi Phillips se bundel, My lied van die niet (2002) of Kraai van George Louw (2006), wat ek hieronder verder sal bespreek.

5.14 Die avontuur van begeerte

Die soeke na Orgasme-met-‘n-hooflettter, die Big O, die erotiese avontuur (seks, verlange, vervulling) is ‘n avontuur waaroor die onlangse digters baie openhartig skryf. Kyk byvoorbeeld na “Cruise I” (De Lange, 508); “man ek lus ‘n twakkie” (Krog, 583); “Writing as fucking” (Hambidge, 578); of “Voël” (Barend Toerien, 516).

Barend Toerien spreek sy voël openhartig aan, onthul sy “onbeskaamlike” en “onbetaamlike” aspekte, maar hou vol dat hy nie net lyflik ingestel was nie, maar “daardie tergende wolkskadu Liefde/ sonder ophou na gebéúr [het]”. Woorde soos “rondtastinge” en frases soos “jou kop aanhou bly stamp”, is aanduidings van die primitiewe krag van hierdie avontuur.

Hierdie avontuur, en die geweld en vernietiging waartoe dit kan lei, is die oerpatroon in Hennie Aucamp se gedigreeks “Die wederkoms: variasies op temas uit Raka” (Joubert 2006:16 e.v.). Nr. 5, “Orgie op die plein”, druk dit so uit:

Wie gesteld is op kermisattraksies
en alles wat fun is en queer,
kan ‘n vanghok besoek op die markplein
waar Raka vir Koki onteer.

Die Bees spuit geil oor die blaaie
van Koki wat bloei op die grond:
ook skree is dié teenstem geweier –
sy tong is geruk uit sy mond.

Die rym en die afgemete ritme suggereer hier dat die afloop onafwendbaar is; dat almal moet swyg voor die geweld van ongebreidelde lus.

6. ʼn Moderne pelgrim se reis

 

Die idee van groot avonture kan ‘n bepaalde bundel, soos George Louw se bundel Kraai (2006), baie verhelder. Die bundel is as geheel (en heel letterlik) ‘n voorbeeld van die religieuse avontuur van die pelgrim se reis, maar dit kry resonansie teen die agtergrond van ander verhale soos die verhale van die kraai in die ark, Jakkals en Wolf en meer eietydse verhale soos dié van Marat, Mozart of Maria Callas. Soos die kritici tereg aandui, vorm die verhaal van die Florentynse bedelmonnik Savonarola wat die digter in die laaste afdeling verwerk, die hoogtepunt in die bundel. Joan Hambidge (2006) noem die bundel “‘n verrassing” en “‘n uitmuntende bundel deur ‘n beleë digter”. Sy stel veral die komplekse verhouding tussen die spreker en Savonarola aan die orde, en sien daarin ‘n parallel met Krog en Lady Anne. Die figuur van Savonarola en die vrae wat die digter oproep, is vir haar boeiend – was hy skisofreen, diabolies of werklik in staat om die onsienlike te sien? Sy bewonder egter ook Louw se korter verse, soos die openingsgedig “Marat”, vir hulle helderheid en ekonomie.

Etienne Britz (2006) wy byna sy hele bespreking aan Savonarola, wat hy as die een hoofmotief in die bundel beskou. Die ander hoofmotief is die kraai, wat hy beskryf as die boodskapper en krassende verkondiger van God, maar ook as simbool van “die innerlike donkerheid van die siel”. As molesmaker en vergaarder kan hy ook toor met woorde. Britz sien Louw se verwerking van die verhaal van Savonarola as “betreklik onmodern”, sonder die moderne weersin in wat sommiges beskou as die monnik se “patologiese manlikheid”. Die versvorm en woordeskat is vir hom ook onmodern, hoewel hy die bundel beskryf as “goed afgewerk, eerlik, volwasse, wys, soms satiries, maar dikwels gelate of bewoë”. Die digter is dus, kan ‘n mens aflei, nie soseer geïnteresseerd in die verhaal van manlike selfverwesenliking nie, maar in iets anders.

Fanie Olivier (2006) het veral waardering vir die verskillende gesprekke en verskuiwende perspektiewe in die laaste afdeling. Soms spreek die digterstem vir Savonarola aan. Dan is die monnik weer in ‘n openhartige gesprek met God of met sy moeder oor sy persoonlike worsteling. Hy tree selfs na sy dood nog in gesprek met die mense van die blommestad.

Olivier beskou die mistieke afdeling 2 as suiwerder as die Savonarola-siklus, omdat die gesprek met God vir hom ligter, maar ook beduidend en ryk aan Bybelse verwysings en die Afrikaanse taalwêreld is. Die digter se subtiele gebruik van binnerym is verstegnies ook vir hom knap.

Van die gedigte ondersteun inderdaad my siening dat gedigte geweef word uit verskillende groot avonture of storieskappe. Olivier dui tereg ook verskillende stories aan waaruit die bundel ontwikkel, en haal die gedig “Koeksisters” (p. 43) aan, wat stel dat ons (die digter en sy lesers) gevleg word uit verskillende ineengestrengelde verhale:

Koeksister

 Uit stories moes ons leer, gelykenisse,
nie weens gebrek aan verhewe
of vername woorde – nee,
gewoon omdat ons self storie is:
verhale, koeksisters ineengestrengel,
die een op die ander aangewese,
diachronies afgestem op die verbale.

Vir Olivier bestryk die stories ‘n wye reeks ruimtes: van Sutherland en die Kaap tot by “die dorbeenvlaktes van Afganistan”. Daar is heelwat ander verhale wat ‘n mens kan byvoeg, soms baie subtiel opgeroep. Televisieverhale soos “Touched by an angel” (bl. 23) of “Amazing race” (bl. 25) word omvorm tot gedigte oor die reis van die lyf en van geboorte tot by “grysland”. Die verhale van Hans en Grietjie en Adam en Eva is ingeweef in jeugherinneringe (“Had ek maar”, bl. 29). Simson word al pratende met homself ten tonele gevoer (bl. 50). Deel van Savonarola se verhaal is ook die historiese verhaal van die korrupsie en praalsug van die Florentyne, hulle bekering en deemoed, maar ook hulle opstand. Natuurlik is die bundel ook ‘n avontuur van woorde, ‘n getoor met woorde. Die spel met woorde is byvoorbeeld opvallend in die inkantasie en die spel met verskillende benoemings – “my bleskop-oom van Sitterland”, “oum Japie-kopsku”, “oum Japie-van-passede jaar – in “Rympie vir oum Japie” (bl. 14). Selfs die koloniale avontuur word ironies betrag, en wel in “Beleg” (bl. 38), wat die wit slak beskryf as “verbete, volhardend,/ soos dit ‘n wit kolonis met dryf/ betaam”.

Olivier noem verder die verhale van Mozart en Marat, maar dui ook ‘n groter, omvattender religieuse verhaal aan wat vir hom reeds voorop staan in afdeling 2, naamlik dat die mens ‘n  “skerf van God” is.

Dit is hierdie groter verhaal wat Hans Ester (2007) in sy resensie uitspel. Hy sien naamlik in die bundel (weliswaar “met enige goede wil”) ‘n beweging vanaf die aarde en al haar geweld en probleme na die goddelike wêreld en sy gesante toe, waarna dit spesifiek op Suid-Afrika fokus voordat dit eindig by die hoogtepunt van die individu Savonarola en sy pogings om die wêreld te herskep deur sy woord.

In die voorafgaande afdelings wys Ester egter ook “indrukwekkende gedigte” uit, soos “Kompos” of die eerste gedig van afdeling twee, waarin God “vanuit het verborgene” spreek:

In diep stilte
sal jy My vind:
tussen sterre,
gehul in wit

 in ragfyn vesel,
omgewe deur
mistieke stof,
distillaat
van lewe

nader as asem,
verder as vervloë
tyd, verborge
in my self
is Ek.

 

Ester beskou dit as ‘n soort motto vir die tweede afdeling, en tereg, want die tweede afdeling beskryf ‘n nuwe religieuse avontuur – ‘n soeke na die God wat aktief weggesteek is in die hele skepping, verborge soos hier, maar wat hom ook in talle klein natuurdinge binne groter gehele openbaar. Mens en natuur is “deel van die Proses” (“Wie sou kon dink”, bl. 39) of is selfs in hulle verskeidenheid “karakters in ‘n baie ou verhaal”. Selfs dan bly God “meer as julle alte arrogante somtotaal” (“Oor verskeidenheid”, bl. 52). Alles en almal raak uiteindelik, soos in die gedig “Involusie” (bl. 54) verklaar, “in die geheime hart van God vergader”. Die ek is “nié in sonde ontvang” (bl. 53)

maar in liefde, ekstaties,
Karoolangs met die eerste
reëns, oor platklip,
noorsdoring, katstert
en kambro

 

as resultaat van u
verbeelding, uitbundig
op hierdie knersvlak
losgelaat.

Die mens is saam met die diere in die vierde afdeling – kraai, jakkals, dikkop, seeperdjie, kameelperd, strandloper of paradysvoël – “sterstof” of “sigbare skerf van u geheiligde liggaam” (“Die verloop van sake”, bl. 51). Die Skepper moet hom dus, soos In “Hokslaan” (bl. 56), op sy beperkinge en sy plek in die groter bestel wys; op hok slaan soos ‘n lastige kalf. God is die ewig onbegryplike wat ontsnap uit al die mens se jakkalsdraaie en bedenksels. Die bundel vertel kortom die groot verhaal van die mens as deel van God in ‘n omvattende verband – as ‘t ware die reis van kraai tot by paradysvoël wat eindig in mistieke lig.

Die bundel se titel verwys na Girolamo Savonarola (1452-1498) self, want in sy swart tuniek het sy kort gestalte met ‘n prominente neus nes ‘n kraai gelyk, soos die voorblad van die bundel ook suggereer. In die slotafdeling identifiseer die digterlike ek hom baie sterk met die 15de-eeuse hervormer, maar die bundel eindig met ‘n visioen waarin alle onderskeidings en alle kognitiewe rasters (natuurlik ook my poging tot ‘n klassifikasie van avonture) oplos in ‘n skittering van heilige lig:

 Nawoord

 Nou stap ons op handgeplooide aarde,
dongas van vergetelheid:
oerkraters skuiwe in- en oormekaar,
lewenslyne dobber in bibberson,
bewend soos wegdeinende rasters,
are in die wind, spieël op spieël
en altyd verder, tot als versmelt,
verblindend saf – terug in homogene
Wit

Deur Savonarola na Afrikaans toe te vertaal, kruis die digter dus twee vastelande en ‘n hele paar eeue en skep implisiet ‘n parallel tussen Florence en die geskiedenis van Savonarola en sy eie ervarings in die nuwe Suid-Afrika. Deur met Savonarola te identifiseer word hy as ‘t ware ʼn 21ste-eeuse pelgrim. Die pelgrim se reis eindig in mistieke eenwording met die Al, die geheel. Die bundel druk ‘n simboliese poëtika uit, wat dalk die rede is waarom Britz die bundel as onmodern ervaar.

7. Slotsom

Kraai is gevleg uit verskillende verhale, maar die pelgrim se reis is kennelik die dominante draad. Uit die bundel, en uit die ander voorbeelde wat ek genoem het, is dit duidelik dat bundels, die Afrikaanse poësie, en dalk ook die hele Suid-Afrikaanse letterkunde produktief met die metafoor van ‘n storieskap beskryf kan word. Daar is ook ander metafore vir die Suid-Afrikaanse letterkunde in omloop, onder andere die metafoor van chaos. Die metafoor van ineengestrengelde stories, soos ‘n dubbele of driedubbele koeksister, kan ons egter help om hierdie veld duideliker en oorsigteliker te verstaan.

VERWYSINGS

 

Bhabha, H.K. 1990. Introduction: Narrating the Nation. (In Bhabha, H.K. (ed.). Nation and Narration. London;

New York: Routledge. pp. 1-7

Bekker, P. 1980. Manna kommering. Kaapstad: Tafelberg.

Böhmer, H. 1976. Nationalliteratur (In: Krywalski, D. (red.). 1976. Handlexikon zur Literaturwissenschaft. 2de hersiene uitgawe. München: Ehrenwirth, pp. 349-357).

Breytenbach, B. 1983. Mourior. Emmarentia: Taurus.

Brink, A.P.1982. Houd-den-bek. Emmarentia: Taurus.

Brink, A.P.(red.). 2008. Groot verseboek. Kaapstad: Tafelberg

Britz, E. 2006. Fassinasie met bedelmonnik lewer volwasse poësie op. Burger, 12 Junie: 13.

Brümmer, W. 2006. Net ‘n ou ‘battle axe,’ Onderhoud met Antjie Krog. Beeld, Saterdag, 3 Junie, 13.

Bundgaard, P.F. 2007, The cognitive import of the narrative schema. Semiotica, 165(1/4), 247-261.

Coetzee, J.M. 1981. Waiting for the Barbarians. Johannesburg: Ravan. 2de druk.

Crous, M. 2003. Brief uit die kolonies. Pretoria: Protea Boekhuis.

De Kock, L. 2005. “Naming of parts,” or, how things shape up in transcultural literary history: Literator, 26(2), Junie:1-15.

Du Plessis, M. 1985. A State of fear. Cape Town Johannesburg: David Philip. 2nd edition. Africasouth Paperbacks.

Du Preez, M. 2009. Identiteit-selfmoord is beslis nie nodig. Rapport Internet.

http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Identiteit-selfmoord-is-beslis-nie-nodig-20091128. (Toegang: 5 September 2010).

Ester, H. 2007. Het religieuze inzicht van George Louw. Zuid-Afrika, 1 Maart: 57.

Ferreira, J. 1985. Sitate om ʼn rewolusie. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

Foster, P.H. 2000. Postmodernisme en poësie, met spesifieke verwysing na die historiografiese metagedig Die heengaanrefrein van Wilma Stockenström. Proefskrif (Ph.D.): Universiteit van Stellenbosch.

Foster, R. 2000. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960.

LitNet  http://www.litnet.co.za/poesie/09beelde.asp. (Geraadpleeg 9 Sept 2003).

Foster, R. & Viljoen, L. (reds.) 1997. Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960. Kaapstad: Tafelberg; Human & Rousseau.

Fugard, A. 1983. Tsotsi. Harmondsworth: Penguin.

Glissant, É. 2006. Poetics of relation. Vertaal deur Betsy Wing. 2de uitgawe. Ann Arbor: University of Michigan Press.

Gordimer, N. 1981. July’s People. Johannesburg: Ravan/ Taurus.

Gray, S. 1979. Southern African Literature: An Introduction. Cape Town: David Philip.

Grové, A.P. s.j. Woord en wonder. 3de uitgawe, 3de druk. Kaapstad: Nasou Beperk.

Hambidge, J. 2006. Lang Wag die Moeite Werk. Beleë Digter Lewer Uitmuntende Werk. Volksblad, 29 Mei: 8.

Hammond, E. 1980. Hamburgers en hotdogs. Kaapstad: Tafelberg.

Hugo, D., Rousseau, L., & Du Plessis, P. (reds.) 2000. Nuwe verset. Pretoria: Protea Boekhuis.

Joubert, E. 1983. Die laaste Sondag. Kaapstad: Tafelberg.

Joubert, M. (red.) 2006. Versindaba 2006. Pretoria: Protea Boekhuis.

2007. Versindaba 2007. Pretoria: Protea Boekhuis.

2008. Versindaba 2008. Pretoria: Protea Boekhuis.

Kamfer, R.S. 2009. Noudat slapende honde. Kaapstad: Kwela Boeke.

Kannemeyer, J.C. 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652-2004. Kaapstad: Tafelberg; Human & Rousseau.

Kloek, J.J. 1997. Een begrensd vaderland. Amsterdam: Koninklijke Nederlandse Akademie van Wetenschappen. http://www.dbnl.org/tekst/kloe003begr01_01/colofon.php. [Toegang: 30 Augustus 2010]

Krog, A. 1989. Lady Anne. Bramley: Taurus.

  2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.

  2009. Begging to be Black. Cape Town: Random House Struik.

Krüger, L. 1984. ʼn Basis oorkant die grens. Kaapstad: Tafelberg.

Letoit, A. 1985. Somer II. Johannesburg: Perskor.

Louw, A.M. 1981. Op die rug van die tier. Kaapstad: Tafelberg.

Louw, G. 2006. Kraai. Kaapstad: Human & Rousseau.

Miles, J. 1983. Blaaskans. Emmarentia: Taurus.

Minsky, M. 1975. A framework for representing knowledge. (In: Haugeland, J. ed. 1981. Mind design. Philosophy, Psychology, Artificial Intelligence. Cambridge, Mass.: The MIT Press).

Mphahlele, E. 1984. Father Come Home. Johannesburg: Ravan.

Odendaal, B. 2005. Tendense in die Afrikaanse poësie in die tydperk 1998 tot 2003 (In Van Coller, H. (red.). Perspektief en Profiel. Pretoria: Van Schaik. Dl. III: 105-148). 2010. Afrikaanse digkunsontwikkelinge die afgelope dekade.

Versindaba    http://versindaba.co.za/2010/04/17/afrikaanse-digkunsontwikkelinge-die-afgelope– dekade/ [Toegang: 2 Augustus 2010]

Olivier, F. 2006. Ryp en Ryk Bundel. Louw Steek Nuwe Kleim in die Poësie Af. Beeld, 5 Junie: 15.

Phillips, F. 2002. My lied van die niet. Pretoria: Protea Boekhuis.

Rabie, J. 1981. Johanna se storie. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

Roodt, D. 1980. Sonneskyn en Chevrolet. Emmarentia: Taurus.

Schank, R. & Abelson, R. 1977. Scripts, Plans, Goals and Understanding. Hillsdale, N.J.: Erlbaum.

Serote, M. 1981. To Every Birth its Blood. Johannesburg: Ravan.

Steytler, K. 1982. Die leeukuil. Kaapstad: Human & Rousseau.

Stewart, G.D.J. & Van WYK, A.J. 2000. The SALit CD-ROM: A virtual library of South African literature. Conference Paper. CITTE 2000 – Conference on Information Technology in Tertiary Education. 28 Junie.

Van Dijk, T.A. & Kintsch, W. 1983. Strategies of discourse comprehension. Orlando: Academic Press.

Van Staden, I. 2003. Watervlerk. Kaapstad: Tafelberg.

Van Wyk, J., Conradie, P. & Constandaras, N., (reds.). 1988. SA in poësie/SA in poetry. Pinetown: Owen Burgess Publishers.

Viljoen, H. 1992. Selfrepresentasie in die Suid-Afrikaanse roman, 1980-1985. Ongepubliseerde navorsingsverslag vir die RGN.

Wilhelm, P. 1984. Summer’s End. Johannesburg: Ravan

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.