Andries Bezuidenhout. Onderhoud met Ronelda S. Kamfer

Mense van die dorpie Skipskop is in 1985 deur die regering uit hul dorp verskuif – baie na Kassiesbaai by Waenhuiskrans, ander na Bredasdorp en Struisbaai toe – om plek te maak vir Krygkor se missieltoetsgrond by De Hoop. Die dorp se naam kom van die wrak van die Maid of the Thames, wat rondom 1848 in die omgewing gestrand het en waarvan die “kop” vir ʼn lang tyd nog sigbaar was bo die golwe. Volgens die Surplus People Project, wat gedwonge verskuiwings in Suid-Afrika bestudeer het, was die meeste van Skipskop se inwoners nasate van drenkelinge van ʼn skip wat in 1860 in die omgewing op die rotse geloop het. Die kwessie van die verskuiwing het in die 1980s redelik dekking in die pers ontvang en David Kramer het “So long Skipskop” daaroor geskryf. Die lied is o.a. deur Sonja Herold opgeneem en dis te betwyfel of haar deursnit aanhanger besef het dat die hartseer storie oor gedwonge verskuiwings handel.

Nou het Ronelda S. Kamfer haar tweede digbundel gepubliseer – grond/Santekraam – wat met hierdie gegewens werk. Verskillende stemme word gebruik om dit te doen en om te kyk na die afstammelinge van die inwoners van Skipskop, waarvan Ronelda een is. Sy het in die omgewing gaan navorsing doen en met familielede gesels, van die gedigte rondom hul stories gebou. Die bundel sny egter ʼn veel breër tematiek aan; dit werk op vele vlakke – bo en onder die water – en word by tye heel surrealisties. Dis baie moeilik om met Ronelda onderhoude te voer, omdat sy so min weggee – ʼn bietjie soos Bob Dylan of Tom Waits. Die vrae is tipies veel langer as haar antwoorde, wat ook hier die geval is.

Andries: Ronelda, baie geluk met grond/Santekraam. Dit het reeds ʼn paar golwe veroorsaak, ook hier op Versindaba. Eers iets oor die titel. Ek sien uit een van die onderhoude met jou dat die woord “Santekraam”  ʼn Nederlandse woord is wat jou ma ook herken het – dit beteken “die res”. Die bundel se titel sê m.a.w. dat dit hier gaan oor “grond en die res”. Enige opmerkings oor die titel? (En moet ASB. nie net sê “nee” nie!)

Ronelda: Nee… Ek wou nie ʼn boek skryf net oor grond of verskuiwings nie, dis waar die santekraam inkom. Ek was ook besig met my honneurskursus en het baie Nederlandse poësie gelees. Dit was vreemd toe ek my ma vra of sy weet wat santekraam beteken en sy sê, ja sure dis ʼn baie outydse woord.

Andries: Die omslag is werklik treffend. Die illustrasie is deur André en Nathan Trantraal. Dit het my aan “stille waters, diepe grond” laat dink. Dalk iets oor hoe die omslag met die gedigte praat?

Ronelda: Ek haat die vraag Andries.

Andries: Goed, volgende een. Die eerste gedig (“gaan i”) lees amper soos ʼn raaisel – “moet ons gaan” word “gaan ons moet”. Dit lees soos ʼn tipe refrein wat subtiel verander, maar die subtiele verandering gee ʼn hele nuwe betekenis. Hoe kies jy ʼn bundel se eerste gedig?

Ronelda: Met die bundel was dit maklik om ʼn eerste gedig te kies omdat dit ʼn begin en ʼn einde het, dit was die struktuur waarop ek vooraf besluit het. Ek het geweet watter gedigte kom waar nog voordat ek begin skryf het.

Andries: Die woord “Santekraam” het jy uit die verlede gaan opdiep. Ek kry die indruk dat die gedigte die verlede deels deur taal na die oppervlak bring, maar nie ʼn verlede met net een storie nie. Die briefwisseling tussen Jan van Riebeeck en Autshumao lees vir my soos kabaret (met Autshumao wat Eliot quote) – dis skreeusnaaks, maar dit tref jou ter selfde tyd soos ʼn vuishou tussen die oë. Ek is nuuskierig oor die verskillende stemme in die bundel. Daar is historiese karakters, soms mense waarmee jy gesprekke gevoer het, soms is dit jy (of die digter se eie stem, ten minste) – soos as jy oor jou oupa se dood skryf. Lang aanloop, maar my vraag gaan oor die klank van hierdie stemme. Jy gebruik verkillende aksente – van iemand wat met sy “mô” praat, tot Autshumao, wat jy met ʼn eietydse aksent laat praat. As jy sulke gedigte skryf, hoe gaan jy te werk om ʼn stem te ontwikkel, veral in gevalle wanneer jy in karakter dig?

Ronelda: Ek skep karakters wat vir my geloofwaardig is, in my kop lees Autshumao Eliot en Van Riebeeck is ʼn gangster. Beide soort gedigte persoonlik en karakter gebeur op dieselfde manier. Ek dink nie te veel aan hoe ek goed doen nie, dit gebeur net.

Andries: Met die “oorvertel” reeks vertel jy letterlik oor wat ander mense sê – met datums waarop jy gesprekke met hulle gevoer het. Jy bind daarmee as’t ware hulle stemme aan ʼn plek en ʼn datum en gee vir hulle erkenning. Hoe gaan jy te werk om ander mense se woorde in gedigte om te sit?

Ronelda: Ek kom uit ʼn familie/gemeenskap  van storievertellers, my ma kon goed vertel oor haar kinderjare wat my verbeelding dae lank op hol kon sit. Daar is nie ʼn metode of proses van hoe om dit te doen nie, jy volg jou ‘onthou’ en jy haal daaruit die gedig.

Andries: Musiek speel ʼn groot rol in die bundel. Reeds in noudat slapende honde het jy byvoorbeeld met Radiohead en Tupac Shakur gepraat. In grond/Santekraam lees baie van die gedigte soos musiek – refreine, herhaling – daar’s selfs een gedig met rymende koeplette en ʼn vaste metrum. Dan tree jy in gesprek met van Koos du Plessis tot Die Stem. Hoe sien jy die gesprek tussen jou eie werk en musiek? Gaan jy ʼn album opneem, soos byvoorbeeld Breyten Breytenbach?

Ronelda: Musiek is my grootste invloed, ek luister meer musiek as wat ek lees, die musiek in die bundel was heeltemal onbeplan, as jy aan Skipskop dink, dink jy aan David Kramer se song, wanneer ek skryf dink ek aan musiek, meer aan die emosie wat gewek word deur die song. Ek het nie geweet Breytenbach het ʼn album opgeneem nie. Ek sal as die musiek reg is.

Andries: ʼn Vraag oor invloede. Bukowski, die dirty old man, is steeds baie sterk. Maar wie anders lees jou op die oomblik?

Ronelda: Ek lees steeds net Bukowski.

Andries: Laaste vraag: Volgende bundel?

Ronelda: Sodra iets my lank genoeg pla, skryf ek daaroor.

Verwysing:

Laurine Platzky en Cherryl Walker, The Surplus People: Forced Removals in South Africa (Ravan Press, 1985), p. 47.

Bookmark and Share

14 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Onderhoud met Ronelda S. Kamfer”

  1. Johann :

    Mense, dit is Eliot met een ‘l’. Hy is darem nie ‘n obskure digter nie.

  2. Andries Bezuidenhout :

    Dankie Johann. En ook nie familie van Este Elliot nie. Ek sal dit gaan regmaak. Interessante gesprek oor Amy Winehouse elders.

  3. Andries Bezuidenhout :
  4. Breyten Breytenbach :

    Goeie onderhoud, Andries. En ek dink Ronelda Kamfer se antwoorde maak baie sin. Ek is al hoe nuuskieriger om die bundel te lees!

  5. Desmond :

    Daardie artikel oor Amy Winehouse was vir my erg interessant. Dit laat my wonder oor die verskil tussen outentisiteit en egtheid. Outentisiteit is deesdae self diwels ‘n produk, ‘n verkoopstrategie – “Authenticity, Inc”. En iets kan seker ook ‘eg’ wees sonder om outentiek te wees. Soos Kramer se aksent wanneer hy Skipskop sing? 🙂

  6. Andries Bezuidenhout :

    Dankie Breyten. Dis werklik ‘n uitstekende bundel. Ek moes terughou met die vrae, want ek het geweet Ronelda antwoord met ‘n emmer koue water. Desmond, oor of Kramer se aksent eg is of nie, kan ek nie oordeel nie. ‘n Kollega van my, Sakhela Buhlungu, het ‘n artikel geskryf oor wit intellektuele in die vakbonde in die 1980s (FOSATU, en COSATU later). Die titel is “Rebels without a cause of their own.” Hy’s ‘n bietjie aspris daar, maar vir my bly die punt egter dat hulle (en Kramer) oor dinge gepraat het toe dit baie gevaarlik was om dit te doen. Mense soos Neil Aggett en Rick Turner is dood daaroor. So of dit nou outentiek of eg is, as jy jou lyf op die spel plaas om grense oor te steek, is daar iets besonders aan die gang. Altans, ek dink so.

  7. Desmond :

    Andries, ek bedoel ‘eg’ juis in terme van die politieke en menslike intensies en die moed van oortuiging, eerder as die ‘outentisiteit’ van die aksent of die stem self — die vraag oor of hy ‘reg’ klink, of die kwessie van praat in ander mense se naam.

    Kramer se fan base op daardie stadium was grootliks wit en Afrikaans. Die Baboondogs album, waarop ‘So long, Skipskop’ verskyn het, was nie juis ‘n goeie loopbaanskuif wat kommersiele sukses betref nie. Afrikaners wou nie hoor van mambas in the gutters nie!

    Oor die musicals uit die 1990’s kan ek nie heeltemal oordeel nie — hulle was entertainments, ja, maar ek voel tog nie daar is bloot opportunisties geld gemaak op ander mense se pyn en stories nie. Anders moes Bernstein ook nie West Side Story geskryf het nie. Ek voel Kramer se bydrae tot ‘n nie-rassige verbeelding van Afrikaans (en van Kaapstad) is belangriker as die kritiek wat mens sou kon uitspreek — en niemand is natuurlik verhewe bo kritiek nie.

    Maar goed, ek dwaal nou af van die tema van die bespreking. grond/Santekraam is tot dusver myns insiens die ‘must have’ bundel van die jaar. En dan is sy boonop nie vervelig, voorspelbaar en maklik tembaar in onderhoude nie!

  8. Andries Bezuidenhout :

    Stem saam, Desmond. Daar is die kwessie van meer skade aanrig deur goed te wil doen. Irma praat baie daaroor, ek skat, deels omdat sy Melanie Klein lees. Maar dis net iets waaroor ek wonder en nie sterk opinies het nie. Ek bly ‘n groot fan van David Kramer.

  9. Daniel Hugo :

    Andries, dis ‘n baie goeie artikel deur Charles Leonard oor Amy Winehouse. Maar met ‘n naam soos Winehouse …

  10. Desmond :

    Andries, daardie kwessie van meer skade aanrig deur ‘do-gooding’ sou vir my (en dis maar opinie, ek het nie eintlik filosofiese redes nie) meer geld vir iets soos Peter Gabriel se Biko as Kramer se Skipskop. Maar dalk is dit omdat ek ook ‘n wit SA’ner is, en omdat ek ‘n groter fan van Kramer as van Gabriel is. (Die voorbeeld van Gabriel is arbitrer nie: ‘n vriend van my het onlangs ‘n goeie artikel geskryf, White narcissism and black consciousness, waarin hy dit het oor ‘n sekere soort liberale ‘charitable anti-racism’ na aanleiding van ‘n analise van die Gabriel song en ook aanhoudende ‘declarations of white guilt’ deur wit mense self.)

  11. Andries Bezuidenhout :

    Daniel, darem was dit nie Whinehouse nie! Desmond, terug na Ronelda se bundel: Ek hou van die feit dat sy ook die idee van een, outentieke stem so met al die verskillende stemme in haar boek ondermyn.

  12. Breyten Breytenbach :

    Fassinerend – en ‘n bietjie treurig – dat mens aanmekaar terugkom na die ou gewolt rondom posisionering. M.i. kan dit ook uitgedruk word in terme van ‘legitimiteit’. Hoe ‘legitiem’ is ‘n Turner (of ‘n Kasrils of ‘n Slovo of ‘n Jensma of ‘n Gorka) se vereenselwiging wanneer hulle uit ‘n ideologies gekondisioneerde hoek kom (uit vrye wil) maar nié verteenwoordigend van ‘n beduidende kulturele groep is nie en wanneer puntjie by paaltjie kom nie deur die vereenselwigdes (h)erken gaan word nie? (Marx was ‘n bourgeois intellektueel, Lenin middelklas, Che ‘n wit Argentynse dokter, Mbeki ‘n swart Engelsman, Fanon… so kan mens aangaan.) Dis nou soos teenoor die makkakkers (my woord vir die PCs) soos ‘n Geldoff of ‘n Bono. Miskien wil mens dink in terme van raakruimtes: dat ons all-sorts oorvleuelende en gedeeltelik gedeelde strydgeskiedenisse en betrokkenhede het – ook wanneer vanuit aparte hoeke en met verskillende trajekte – en dat dit nie die dialektiek saam/anders ophef nie. Maar dit behels (o gotta, hie’s ons weer by die hals) dat ons byna altyd onkant, ongemaklik en awelinks gaan wees, behalwe nou wanneer ons af en toe ape-aansprake maak soos die versoolde bandehandelaar Miyeni. Die gelol kom wanneer ‘ons’ (die groot pond) hierdie (kreatiewe) teenstrydighede probeer reg moer, soos Abel met Kaiings gemaak het.
    Glo my, hier in Wes-Afrika is dit nie juis anders nie.
    Sing, manne – sing!

  13. Andries Bezuidenhout :

    Sing sal ons sing,
    Breyten. Vals of ingestem
    of tussenin.
    Groete eers van die lughawe. Ek hoop hierdie gesprek hou aan en draai wyd. Dis ‘n bundel wat dit verdien.

  14. maria :

    Breyten sê, “o gatta hie’s ons weer by die hals” kort na sy gebruik van “behels” – hals, die galg, die halssnoermoord, … Ek lees Ronelda se titel ook: “Grond – skuinsstreep/”slash” – santekraam (die res, en ook heilige kraam, lees ook Derrida se différance). D.w.s. die grond – daardie ding wat ons so aan die gang sit, en so deur-mekaar maak. Skuinsstreep het altyd vir my ‘n erotiese (en humoristiese) ondertoon, en “slash” dra weer ‘n spoor van geweld. Ons leef, ons lewens is, vir my daardie “die res” na grond, ‘die res’ wat ook ‘n soort ‘heilige kraam’ is, ‘n vreemde gebeurtenis, geweld en geboorte gelyktydig. Die lewe is ‘n geheim, van geweld en erotiek gelyktydig. ‘n Geheim wat sommige mense mal en dom maak, ander kreatief juis a.g.v. hul besef van daardie buitensporige, onberekenbare, onbeheerbare aard van ons lewens. Grond is een van die mees fundamentele dinge wat die mens so deur-mekaar maak … Ek wonder of die mens ooit gaan kan kom by ‘n punt waar mense nie dom en wreed gaan word uit frustrasie met hierdie geheim van ons lewens nie, ek wonder of dit gaan kan gebeur voor die grond onder ons voete gaan meegee of iets … ek wonder wat mens hieraan kan doen. Hoe moedig mens mense aan om ‘n smaak vir die geheim te ontwikkel, soos Derrida dit êrens uiter. Ek kan nie wag om Ronelda se bundel te lees nie! Dankie vir die wonderlike resensie Andries, en Breyten ook weer vir jou woorde – dit maak mens altyd lus vir iets – die hals is natuurlik ook iets wat oop en aantreklik kan wees … mens wil dit soms sommer net soen …