Digstring. Andries Samuel. “all god’s children took their toll”

 

 

Let wel: Die gedig wat betrekking het op hierdie digstring volg heelonder.

Andries, Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

dit was na die israeli veldtog in ghaza aan die begin van 2009. ek was toe net daar om te kuier by my kind. ek was oorweldig deur die arrogansie en wellustigheid waarmee die israeli media die gebeure gevolg het. ek was redelik ver weg gemeet in reikafstand van vuurpyle, maar dit was nogtans gerusstellend om elke nou en dan verby die bomskuiling (elke huis het een) te loop en weer te kyk hoe dik die staal hortjies voor die venster nou eintlik is. terselfdertyd was ek geskok oor die totale (skynbare) gebrek aan enige publieke verantwoordelik vir burgerlike veiligheid onder die palestyne self, wat ook wel verstaanbaar sou wees. maar as buitestaander het dit soos ‘n absolute makabere passie vir gemeenskaplike selfuitwissing gelyk en ek het hierdie vreeslike bevliegings/ visioene begin kry daaroor. dit was moeilik om nie iets te probeer skryf nie, alhoewel ek nie ‘n politiek punt wou maak nie. dit was meer net oor’n gevoel van hopeloosheid.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

die bomskuiling deel voel nog steeds asof dit so ‘n beweginglose stuk vleis is waarmee mens niks kan doen nie – net sit en los dat dit stadig vergaan. die waarheid is dat ten spyte van hierdie gevoel, het die gedig baie verander sedert die eerste vorm. aan die begin was dit heeltemal vrye vers, of dalk minder vers en meer drama. dit het baie lank gevat voor ek genoeg van die melodrama kon wegsny om dit ernstig te begin opneem. ek het altyd aanvaar dis nie publiseerbaar nie en was verbaas dat ek aanhou karring daarmee. uiteindelik het ek die idee gekry om dit te laat saamwerk met ‘n ander gedig. dit sou ‘n soort implikasie van ‘n gesprek skep tussen twee wêrelde met gedeelde ervarings van meegesleep word in geweld en konflik.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

ek dink die helfte van elkeen van die twee gedigte het in die slag gebly. eers net deur verwerking en toe as gevolg van die samevoeging wat ander eise gestel het. die swoeg en sweet was met die uitwerk van wat weggelaat moet word en die verwerking van die impak van die weglatings. in hierdie spesifieke geval het daar baiekeer gate oorgebly, wat op die ou end doelbewus nie reggemaak is nie. ek dink uiteindelik was ook die idee van die gesprek tussen die twee dele iets wat gegee is en waarmee ek moes werk, al het dit eers baie later ontwikkel.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

dit was eers geheel en al vormloos vir die bomskuilingdeel. die skoolkind deel was meer tradisioneel met strofes en effense rym – hierde deel het ek eers teen die einde van 2009 geskryf toe ek besig was om die manuskrip saam te stel. die ordeningsbeginsel het gekom toe ek besef die twee kon praat met mekaar op ‘n direkte wyse, maar ek was nog nie seker hoe nie. dit was eers na die keurdersverslae teruggekom het dat ek die idee probeer het. daar was ook idees wat gehandel het oor die gesplete bladsy, een kant ingedruk en een kant met ‘n lukrake gevoel van vatkry maar tog los ronddryf. toe moes ek begin dink aan watter tegnieke hierdie idees van ingedruk- en afgekaptheid sal bevorder, sonder om weer te dramatiseer. 

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

ek het ‘n engelse vertaling (of dalk is dit oorspronklik in engels geskryf, ek onthou nie meer nie) gaan lees by ‘n eksperimentele teatergroep in observatory wat rare optredes het. ek het toe besef hoe problematies die stuk is en dat dit iets meer gaan nodig hê om dit vir myself aanvaarbaar te maak. van die terugvoer was dat ek meer dramaties moet wees met my voorlees en meer moes “op voer”. ek het besef uit watter oogpunt die advies kom en die teenoorgestelde probeer doen – ek sien myself nie as ‘n performance poet nie. nietemin lees ek altyd alle ernstige pogings tot gedigte minstens een keer voor in die openbaar. ek dink die klankbord is ek self en nie die gehoor nie, maar hulle teenwoordigheid verseker ‘n erns en eerlikheid in myself wat baie goed is vir my sintuie.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

die gedig is ses maande na die finale vorm gepubliseer in my debuutbundel wanpraktyk. gedurende die afronding van die manuskrip het ek baie gewerk aan die grafiese vorm ook. hoeveel afkappingstekens is te veel? hoeveel wou ek hê? is daar spasies tussen die /-tekens en die woorde langs hulle? hoe wyd is die ingedrukte kolom? is daar enige verborge boodskappe wat ek nie van bewus is nie? ek moes uiteindelik my eie uitleg doen en dit in pdf formaat na die uitlegkunstenaar stuur omdat ons nie dieselfde fonts gehad op ons rekenaars nie en dus nooit dieselfde resultate gekry het nie. hy moes dit waarskynlik kroek om dit soos myne te kry.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

in hierdie konteks is daar nie so iets soos feit en fiksie nie, die narratiewe is te gefragmenteer en onderhewig aan allerhande geweld. dit is my storie en my perspektief en in daardie sin niks meer as fiksie nie. ek probeer wel so ver as moontlik uit persoonlike ervaring skryf of uit beelde wat gebaseer is op dit wat ek ken.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

daar is nie ‘n maklike antwoord nie. ek het nog nooit gevoel ek wil iets sê oor die midde ooste en die probleme daar nie – ek sou nie sê dit handel uitsluitlik daaroor nie. my persoonlike ervaring van vasgevang wees in ‘n geweldige betwiste spasie, waar weerloosheid uiters gevaarlik is en mag geen logiese voordeel bring nie, het aanklank gevind in ander situasies waar hierdie ervaring verhoog is. dit gaan oor marginalisasie, die ooreenkoms in die bedreiging van die wat jou naaste is met die wat hou vyande is. die blindheid wat mense se stories en lewens vir mekaar het. dat jy jou kop kan stamp en stamp teen iets en al wat verander is die skuld wat jy dra. ek dink ek kyk hier van buite sowel as van binne na iets, wat dit ook al mag wees. die iets is so vreeslik dat ek nie direk daarna kan kyk nie maar daar rondom moet probeer praat. ten spyte van die onbeweeglikheid van die oorspronklike materiaal en die gevoel dat ek niks daarmee kan maak nie, het ek tog besef ek het iets wat ek wil uitwys met hierdie spesifieke agtergrond as voertuig.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

niks wat ek onthou nie, in terme van ‘n skeppende werk. net die meedoënlose televisienuusbeelde en die masjiengeweer gehamer van die nuuslesers en hulle korrespondente en ontleders. die titel was wel ‘n buite-invloed: dit kom uit ‘n lied van tanita tikaram – twist in my sobriety. ek onthou die musiekvideo het tonele gewys in so ‘n troostelose windverwaaide woestynlandskap en die lirieke en die musiek is baie beklemmend maar sonder dramatiese gewig. ek dink die verwysing was net soveel na dit as na die “all god’s children”, wat ironies mag voorkom.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

omtrent nooit. daar is eerder ‘n vreesaanjaende gedaante wat mens kan noem: “die oor”. partykeer is dit meer my eie sintuig en minder bedreigend, maar gewoonlik is dit iets met meer mag en outoriteit as wat ek teen opgewasse is. met daai oor in aksie kan ek al voor die tyd hoor dat iets nie gaan werk nie en dan skryf ek dit nie eers nie.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

die vorm is spesifiek vir hierdie gedig en ek dink dit leen baie uit my werk as argitek met diagramme en konsep-ontwerpe. mens kan maar sê form follows function op ‘n tipografiese manier. dit is baie moeiliker as wat ek gedink het, en ek hou gewoonlik by meer tradisionele poëtiese verbande tussen vorm en inhoud.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

behalwe dat dit ‘n lang storie is wat nie rêrig ‘n punt het nie? ek dink nie so nie, maar ek is seker mens kan iets miskyk in hierdie geval.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

die enigste rede hoekom ek dit nie uitgelaat het nie, is omdat ek dink dit vir my persoonlike narratief essensieel was om dit deel te maak van die bundel. die gedig voel soos iets wat nog baie werk nodig het, dis nie nog die laaste een of twee persent voor perfeksie nie. ek dink die verbetering van hierdie gedig lê nie binne my vermoë nie, maar ek het besluit dis goed genoeg, met ‘n genoegsaam ongewone vorm, binne die konteks van wat die bundel nodig het. ‘n goeie eksperiment.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

ek kan nie sê ek het al enige reaksie gekry wat my bygebly het nie. dit kom voor of meeste mense ongemaklik is hiermee maar dit oorsien. ek weet nie of dit die inhoud of die vorm is nie. ek hoop hierdie digstring bring dalk genoeg van ‘n reaksie om die eksperiment te laat uitloop.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

ek kan dit onthou ja, maar ek het geen kopie daarvan nie en die inhoud het ek nou geen idee meer van nie; waarskynlik was dit ‘n liefdesgedig. ek het in die hoërskool ‘n kompetisie uitgereik deur jong dames dinamiek daarmee gewen, so ek is seker dis nie iets waarmee ek gekonfronteer wil wees nie.

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.

 

 

 

 

 

(c) Andries Samuel (Uit: wanpraktyk, 2011: Human & Rousseau)

 

Bookmark and Share

Comments are closed.