Digstring: Joan Hambidge. Parys

         Joan Hambidge

Digstring:  Parys

 

Parys If you are lucky enough to have lived in Paris as a young man, then wherever you go for the rest of your life, it stays with you, for Paris is a moveable feast. Ernest Hemingway

 

Intimiderende, invloedryke, imposante Parys:

plek van bloed, opstand

en onthoofding.

Jy is my Bastille én Versailles.

Ek is jou Marie Antoinette:

“As hulle nie brood het nie,

gee hulle gedigte”. Eers vetgevoer met mites

oor die tuimelende proses genaamd, dig.

Hier staan ek,

want ek is anders,

immer op reis, soekend na ‘n kern,

‘n finale woord

en oksimoron.

Bloed vloei in bruisende are

en die klippe die rol in vele opstande, afseggings,

afleggings…

Mens haat of aanbid hier,

geen halwe hart word geduld.

Vyf keer besoek ek jou,

vyf keer spartel ek om jou af te weer,

vasgevang in ‘n obsessiewe verhouding.

Die eerste keer ruik ek jou stink knoffelasem

in die agterbuurtes,

oorhoops verlief

met my hart op my weerlose mou.

Hierna ‘n minder roekelose besoek

met wriemelende weeluise in die beddegoed

en ‘n concierge wat die deur krities toetrek.

Die derde keer is altyd skeepsreg.

In die Gare du Nord wagtend op ‘n trein na Strasbourg,

karteer ek die anatomie van melancholie

tussen stasies en netwerke van stede

wat terughunker en altyd terugkeer na jou.

“Paris je t’aime”.

Jou bogrond word presies

in jou rioolsisteem herhaal:

‘n ewebeeld van jou dreunende, druisende bo-grond.

Geguillotine deur die liefde,

verkeerde keuses,

oordeelsfoute,

keer ek in herinnering terug na jou:

“je ne regrette rien” se metriese voet.

Ondergronds in die métro verdwaal

al die digters op soek na Paul Celan

en Michel Houellebecq

in ‘n eindelose Moulin Rouge,

‘n vuurwiel wat draai en draai en draai.

Ek struikel oor jou kieselstene

die vierde keer,

kyk vanuit die Eiffel

na jou presisie, jou beheer,

elke arrondissement

in mosaïekwerk verpak

soos verse in ‘n lykbundel.

Ondraaglik toe dit stuifreën

in die Place d’Italie

met verbouings en verskuiwings:

Parys onder konstruksie.

‘n Gedig is soos foie gras

of ‘n bloedrooi glas wyn.

In die Notre Dame lui ‘n klok

met hierdie vyfde, vrygemaakte besoek.

Ek werp my gedigte op die Seine

se koue waters. Die son,

‘n vetgemaakte eend,

skryn ‘n oordeel:

daar is geen buite-teks.

 

© Joan Hambidge.

 

 

Joan, wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Ek was in Mei by ‘n kongres aan die Sorbonne, ‘n kongres ter viering van The empire writes back. Ek het gepraat oor gay-identiteite. Dit was ‘n klein kongres en daarna het ek tyd afgeknyp om weer deur Parys te beweeg, ‘n grootste stad waaroor ek ambivalent voel.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Die gedig het na my terugkeer letterlik in een sitting ontstaan. Daarna is dit afwerk, terugsnoei. Hierom die toespeling op Derrida se “daar is geen buite-teks nie” in die slot.

Ek verwys natuurlik ook na Ginsberg en Franse digwerk kom aan bod. Maar veral die stad-as-gedig. As jong mens my ekstatiese oorgawe aan die stad, wat ook ‘n oorgawe was aan die liefde en die digkuns. Tydens die skryf van Die anatomie van melancholie het ek deur Duitsland en Frankryk gereis per trein: ‘n soeke ook na my digterstem met die kritiese lesers as ‘n soort concierge.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Hierdie een is gegee. Ek het dit neergeskryf in ‘n klein skryfboek in die restaurant Arnold’s Tamboerskloof, maar agterna is dit altyd snoei en netjieser maak.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Die vers is in my bundel Lot se vrou opgeneem wat volgende jaar verskyn by Human & Rousseau. Die vers al uiteraard van nou tot Maart verander en hopelik verbeter word.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

O ja. Ek doseer kreatiewe skryfwerk en daar word verse aan kritiek blootgestel. My uitgewer, keurder en mentor het dit ook gesien. En twee geliefde ouer vriende wat gaande is oor Parys. Verder staan dit op die internet al vir weke. Dus neem ek aan vele mense het dit gesien.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

‘n Maand later.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die gedig karteer my lewensloop as reisiger en digter. Met my nou onlangse besoek het ek uiteraard terug gekyk na vorige besoeke. Ek weet nie altyd wat eerste kom nie: die gedig of die reis?

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Oor Parys as ‘n soort “back drop” vir my eie geestelike ontwikkeling. Ek het nie te uitbundig gereis nie, omdat ek in September op daardie groot om-die-aarde-reis gaan: Ooste, VSA, Istanboel. Ek het hoofsaaklik net in Parys gebly en daar het hulle ook soos hier wonderlike oop-bustoere wat die stad karteer. Verder het ek gestap en natuurlik metro gery.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Invloede gis vir jare in ‘n mens. Derrida se Of Grammatology (De la Grammatologie) en die digkuns van Michel Houellebecq wat ek onlangs ontdek het by my vriend Henning Pieterse. Natuurlik is die film Paris je t’aime met sy verskillende vinjette van Parys ‘n invloed. Gertrude Stein, Picasso, Ernest Hemingway, James Joyce en al die ander groot figure wat hierdie stad bewoon het. En die Franse filosofie het ook deur my gewerk: Sartre, Derrida, Foucault. Lacan se psigoanalise vind ek al vir soveel jare belangrik.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Elke digter is in wese haar eie Ideale Leser. Jy moet jou eie sintuie en intuïsie glo. Indien ‘n intelligente leser daarby aanklank vind of sommer net ‘n leser, is dit altyd interessant en aangenaam. ‘n Mens kwel jou gelukkig nie meer oor kaalkop proffies sonder boeke wat byltjies te slype het nie. In my boek oor De Lange wys ek o.a. op die onkunde en gemeenhede wat hierdie digter se werk ontlok het. ‘n Kritise ontvangs is egter baie handig; dit daag ‘n mens uit.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dalk langer?

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Die gedig is in Afrikaans geskryf en vele toespelings verwys na Afrikaanse idiome. Soos die derde keer is skeepsreg.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Die slot suggereer dat ‘n mens dit net versaak. I’l n’y a pas de hors-texte.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek het baie e-posse ontvang en mense kon aanklank vind by die gedig. Parys is immers soos een van my vriende opgemerk het, ‘n karaktertoets. Mens haat Parys of jy aanbid dit. By verskillende geleenthede was my reaksie anders. Ek het ‘n komplekse verhouding met die stad – soos met New York wat ek vanjaar vir die eerste keer na 9.11 gaan aandurf.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ja as jong kind het ek vyf rand gewen in ‘n poësie-wedstryd met ‘n gedig “die verlange passer vannag in my”. Ek onthou hoe opgewonde ek was toe dit in Die Transvaler verskyn het. Ek probeer altyd weer terugkeer na daardie gevoel oor die skryf van poësie: die ekstase, die opwinding.

 

 

(Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.)

Bookmark and Share

Comments are closed.