Digstring. Anne-Ghrett Erasmus. Skilder

Anne-Ghrett Erasmus

 

Skilder

(In die oomblik van verf staan kop en tyd doodstil.)

 

Kleure smelt op die palet –

word ritme en lê sag in volle vlees.

Sabelkwasse dans en koek om die oeroue rite:

lewe te gee aan die lap.

Waaierkwasse lek oor die doek en

terpentyn versag die vloeibaarheid

met die voel en die vat van elke vorm.

Damar en roulyn verdik

en plak blink, lyf op lyf.

Nippelpuntjies verstyf onder die kielie en

sagte pienk naeltjies kruip weg in tortellinivoue.

Lywe, in en oormekaar

lewe en golf saam,

haal asem,

word taal.

 

(c) Anne Ghrett Erasmus (Uit: Die lekkerste perske is ‘n vy, 2011: Benedic Boeke)

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Anne-Ghrett? Hoe het dit ontstaan?

Ek kan nie presies onthou wanneer ek “Skilder” geskryf het nie. Dit was egter in ‘n tyd toe Magritte ‘n groot invloed gehad het oor hoe ek probeer skilder het. In daardie tyd het ek ook intens bewus geword van die proses van skep, in beide taal en beeld. Dit was sy skildery van die pyp, “Ceci n’est pas une pipe,” wat my geprikkel het. Om te sê, kyk, hier het ek ‘n pyp geskilder, maar dit is nie ‘n pyp nie. Ook Magritte se skildery, “L’empire des lumières.” Dit is steeds een van my gunsteling- skilderye, die nagtoneel in helder dag.

Die gedig het na my toe gekom terwyl ek geverf het. As mens verf en skryf, staan tyd mos stil. En dis waar die gedig begin het. Daardie vreugde van hard en stip werk en dan die terugstaan en kyk en sien of lees hoe dít waaraan jy soveel energie spandeer het, lewe kry.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Sodra ek ‘n reël kry of dit by my opkom, skryf ek alles neer. Hierdie gedig was aanvanklik taamlik lank en lomp. Ek het geweet wat ek wou sê, maar het gesukkel om die gedig tot op die die been geskaaf te kry. En lank daarna, toe ek weer begin skaaf het, het dit net gekom.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Die meeste van die gedig is aan my gegee. Soos ek sê, skryf is vir my ‘n proses van skaaf. Om die vleis van die been weg te kerf tot net die skelet oorbly.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdeningsbeginsel toegepas?

Nee, ek het geen beginsel toegepas nie. Nie by hierdie een nie. Die vry-vorm het spontaan ontstaan.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ja, ek het. Ek wys altyd eers my verse vir my man. Hy is baie gou om te sê of iets werk of nie werk nie. Omdat hy soveel kennis dra van die poësie, het hy ‘n intuïtiewe aanvoeling en as selfs die kleinste woordjie of komma pla, luister ek en gaan skaaf maar verder. Ek vertrou hom totaal en al.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Jinne Louis, ek sal jok as ek sê hoe lank, maar dit was ‘n paar jaar. Die vers het vir die eerste keer in Die lekkerste perske is ‘n vy, verskyn.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die “feit” in hierdie gedig is dat ek skilder en dat daar verwys word na die praktiese sy van verf en die gereedskap, soos “sabelkwasse, waaierkwasse, Damar, roulyn,” ens.  word ook genoem. Die ‘fiksie’ is die skep van nuwe asem of lewe aan die skildery, deur die erotiese, en dan hopelik die gedig.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Die skeppingsproses, ‘n skildery wat lewe kry, ‘n gedig wat gebore word. En dan miskien ‘n bietjie erotiek in die maak van beide.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Soos ek genoem het aan die begin, Magritte se skildery(e).

 

 

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Nee, glad nie. Reëls en beelde kondig hulself aan en word vers of skildery. Ek hou nie van geforseerdheid in enige kunsvorm nie. ‘n Mens voel mos so ‘n geforseerdheid intuïf aan en dat die kunswerk/skrywe “uitgedink” is. Spontaneïteit ontbreek in geforseerdheid. Ek dink dat mense wat vir ‘n gehoor/leser skryf, nie altyd eerlike kuns pleeg nie.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Hierdie gedig was vir my een van die eerstes waar ek gevoel het, ek my eie stem gevind het. En selfs ‘n bietjie meer vertroue in myself gekry het. Die gedigte hierna het hulle baie meer gestroop en in eenvoud begin aankondig.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nee, ek dink nie so nie.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Nee, ek het nie. As ek ‘n gedig uiteindelik versaak, gooi ek hom letterlik weg, want dan weet ek dit werk nie en was dit‘n goeie vinger-oefening.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Met hierdie gedig, ja.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Absoluut. Daar was twee wat ek baie goed onthou. Die een was oor die groot ou jakkarandaboom in ons tuin. Die ander was oor ‘n boksgeveg tussen Gerrie Coetzee en Big John Tate. My juffrou het so baie van dié gedig gehou dat sy dit laat plaas het in ons lokale koerantjie. Ai, ek was so trots!

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Digstring. Anne-Ghrett Erasmus. Skilder”

  1. Evette Weyers :

    Anne-Ghret,
    Baie lekker om saam op jou voetpad en vingerpad deur jou gedig te loop.