Vat vyf, Melt Myburgh: Wenner van die Ingrid Jonker-prys vir 2011

Melt, veels geluk met die welverdiende bekroning van jou debuutbundel, oewerbestaan (Protea Boekhuis, 2009). Jy is sekerlik opgewonde daaroor, is jy nie? Wat beteken hierdie prestigeryke erkenning van jou digwerk vir jou op persoonlike vlak?

Baie dankie, Louis. Ek is baie dankbaar vir die prys, want dit is ʼn groot eer om op dié wyse met die nagedagtenis van ʼn kultusfiguur in Afrikaans geassosieer te word. Ek dink die Ingrid Jonker is sekerlik vir elke digter die mees prestigeryke debuutprys in Afrikaans. Ek voel ook gevlei omdat die prys toegeken word deur mededigters. Ek glo ook die prys verleng die raklewe van die bundel, waarvoor ek eweneens dankbaar is.

Elsa Joubert het my pas geskakel om geluk te wens, en sy vertel my van haar ervarings toe die prys in die sestigerjare na Ingrid Jonker se dood ingestel is. Sy sê dit was ʼn geweldige emosionele tyd vir Jonker se vriende (Uys krige, Jan Rabie, Jack Cope ens.) en dat die instelling van die prys hulle gehelp het om sin te probeer maak van haar dood. Elsa vertel dat die vriende elkeen ʼn kontantbydrae gelewer het tot die prysgeld; daarom is dit so miniskuul. Maar juis daarom is die prestige van die prys vir my nog soveel meer. As mens dié geskiedenis hoor, kan jy anders as om ontroer te wees nie.

Op persoonlike vlak dra ek die prys op aan alle digters wat in Afrikaans gedebuteer het die afgelope twee jaar.

Interessant genoeg het jy reeds met Nuwe Stemme 2 (Tafelberg, 2001) as digter na vore getree. Jou debuut as solo-digter kan dus as ʼn “laat” debuut beskou word. Is jy derhalwe van mening dat jong, aspirant-digters verkieslik nie oorhaastig moet wees met daardie eerste publikasie nie?

Vir my was die “laat” debuut die aangewese ding; Oewerbestaan sou anders (en waarskynlik minder) daar uitgesien het as dit 10 of 15 jaar vroeër verskyn het. Magte buite my beheer het bepaal dat ek eers op 42 volwasse genoeg kon wees om die bundel te laat gaan. Ek dink egter nie mens moet voorskriftelik wees oor wanneer ʼn digter behoort te debuteer nie; met elke individu is dit anders gesteld. Kyk byvoorbeeld hoe jonk was Antjie Krog, Annesu de Vos, Loftus Marais en Ronelda Kamfer toe hul debute verskyn het. Jasper van Zyl is ʼn onlangse voorbeeld. Fourie Botha lyk baie jonk!

Jy is ook dosent in resensiekunde aan die Universiteit Stellenbosch. Is jy bereid om ʼn persoonlike mening te gee oor hoe jou bundel deur die resensente hanteer was? Het jy hul kommentare as aanmoediging of belemmering ervaar?

Ek het die resensies van my bundel deurgaans as positief en opbouend ervaar en het baie geleer uit wat kritici te sê gehad het. Ek is hulle dankbaar. Wat my wel opgeval het, is hoe sommige resensente die fiksionele aard van poësie ontken en die bundel in alle opsigte streng biografies gelees het. Vir my is die proses van Media24 se boekeblaaie (boekeblad?) om resensies meer toeganklik vir die breë leserspubliek aan te bied, en die reaksies van skrywers en ander rolspelers soos wat dit onlangs hier op Versindaba uitgespeel het, ʼn interessante verskynsel wat ek deurgaans monitor. Ek het simpatie met die dilemmas waarin almal hulle bedink. Verwikkelinge op die internet om resensies te ontwikkel is opwindend. LitNet Akademies se resensie-essay-projek is iets om beslis dop te hou. Vir my lyk dit onafwendbaar dat die kloof tussen die dikwels hoogs akademiese boekeblad-inhoud en die populêr-georiënteerde algemene koerantleser op die een of ander manier oorbrug gáán word.

Die afgelope aantal jare is ons beslis geseënd met ʼn hele aantal sterk debute. Ook bestaan daar nogal konsensus dat die verskeidenheid van tema en verstegniek ʼn opwindende faktor is by die meerderheid van hierdie nuwelinge. Stem jy saam met so ʼn stelling?

Absoluut. As ek kyk na die werk van die digters wie se stemme die afgelope paar jaar opgeklink het, is die verskeidenheid in tema en tegniek heerlik! Daar is beslis nog skop in die Afrikaanse poësie! Antjie Krog sê onlangs vir my sy is jaloers oor die jong digters wat deesdae so oor allerhande goed skryf.

Uiteraard is jy tans besig met die finale reëlings rondom vanjaar se Versindaba wat volgende maand op 23 en 24 September in Stellenbosch gaan plaasvind. Wil jy nie dalk solank, by wyse van lusmaker, ietsie daaromtrent sê nie?

Die Versindaba-program sal in die laaste week van Augustus beskikbaar wees. Ons bied onder meer ʼn huldigingsgeleentheid vir Adam Small aan – ʼn pragtige idee wat deur Iris Bester geïnisieer is. Tot op datum het nie minder nie as 21 digters aangedui dat hulle verse vir dié geleentheid op 24 September sal lewer. Chris Chameleon kom gesels ook met Louise Viljoen oor sy jongste Ingrid Jonker-album. Ek is besig om die finale drade bymekaar te knoop vir die res van die program.

*** 

Let wel:

  • Luister môre-oggend, 12 Augustus, om 07h45 op RSG na Cobus Bester se onderhoud met Melt Myburgh.

 

  • Volgende Woensdag, 17 Augustus, sal Mariëtta Kruger tussen 12h00 en 13h00 tydens RSG Kuns op RSG met Melt Myburg in gesprek wees.

 

Ten slotte, vir jou leesplesier, die volgende vers:

 

upington

 

tussen rietbevlekte oewers, geliefde stad,

sny die gariep jou middeldeur,

sodat jou fasade, sonverskroei,

‘n trae refleksie op die water bly:

 

mirador van ‘n oewerbestaan,

hawe vir woestynskepe in sandstorms verdwaal,

in die siedendste vloed staan jou palms onverstoord

terwyl vlermuise onderstebo tussen dadels skuilte soek.

 

reisigers wat in u koelte vertoef, verkwiklike stad,

moet vooraf weet: Die roete wat huiswaarts

deur die naelstring knoop, word gerig deur ‘n kompas

sonder naald.

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert, [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

 

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Vat vyf, Melt Myburgh: Wenner van die Ingrid Jonker-prys vir 2011”

  1. viva melt!