Vat vyf, Wannie Carstens: Nuutverkose voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Wannie, om as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verkies te word, is ‘n enorme prestasie. Presies hoe werk so ‘n verkiesing en hoeveelste voorsitter is jy van dié invloedryke organisasie?

Volgens terugvoer uit die Akademiekantoor in Pretoria is ek die 40ste voorsitter. Ja, dit is werklik ‘n besondere eer en voorreg om voor te kan loop vir die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.  Ek is reeds sedert 1992 ‘n lid van die SA Akademie en het mettertyd as sekundus by die Raad betrokke geraak en het later ‘n volle lid van die Raad geword. Ek was die afgelope twee jaar die ondervoorsitter en het toe op 23 Junie vir dr Van Zyl de Villiers as voorsitter opgevolg.

Die Raad se verkiesingsprosedure het die afgelope nege jaar verander. Hiervolgens het daar telkens ‘n verkiesing plaasgevind nadat lede genomineer moes word as kandidate vir die Raad. Die Akademielede het dan per pos aan die stemming deelgeneem en daarvolgens is die dertien lede van die Raad verkies. Die lede van die Raad wys dan uit eie geledere ‘n voorsitter aan, wel gewoonlik op ‘n rotasiebasis – een termyn iemand uit die Natuurwetenskappe en die volgende termyn dan weer iemand uit die Geesteswetenskappe en die Kunste (soos nou met my die geval is). My opvolger sal iemand uit die Natuurwetenskappe wees.

Die akademie is uiteraard ‘n multidissiplinêre organisasie met vele projekte. Is daar spesifieke projekte waarna jy uitsien ten tye van jou ampstermyn?

Ek het drie belangrike doelwitte wat ek graag in my termyn sal wil deurvoer.

  •  Ek streef daarna dat die samestelling van die lede van die SA Akademie asook van die Raad die profiel van die inklusiewe Afrikaanse gemeenskap moet probeer weerspieël. Ons het nog baie werk te doen in hierdie verband, maar ons vorder wel stadig daarmee, dikwels te stadig na my sin. Die werk van die Afrikaanse Taalraad (ATR), waarvan ek die huidige voorsitter is, sal meehelp om hierdie doelwit te probeer bereik. Ek bly positief hieroor.
  • Ek wil hê dat die SA Akademie se internasionale rol as akademie onder akademies wêreldwyd uitgebrei en gevestig moet word. Ons werk tans aan die skep van formele bande met van die akademies in België en ek hoop ons kan dit in my termyn finaliseer. Daarna al die akademie in Nederland aan die beurt kom. SA akademici is internasionaal betrokke op baie terreine en ons moet die SA Akademie as vername internasionale handelsmerk vestig. Ons kan ook in Afrikaans prestasies van internasionale gehalte lewer en via hierdie akademies kan ons dit regkry.
  • Ek wil hê dat die ‘stem van die Akademie’ weer hard en duidelik in SA gehoor word. Ons het baie kundigheid in die SA Akademie versamel en daarom is ons uniek geposisioneer om te sê hoe ons oor sake – van watter aard ook al – in die land voel. Mense kan ons kom vra end dan sal ons dit gee. Ek wil ook hê dat ons gereeld ons eie goed oorwoë standpunte oor kontensieuse sake stel.

Wannie, jy is ook ten nouste gemoeid met die Afrikaanse poësieversameling by die Poëziecentrum in Gent, België. Hoe het jy hierby betrokke geraak en wat beteken dié bemoeienis op persoonlike vlak vir jou?

Ja, dit is een van die dinge in my lewe waaroor ek baie goed voel.

Ek was in 1997 op uitnodiging van die Nederlandse Taalunie (NTU) lid van ‘n groep besoekende SA taal- en letterkundiges in die Lae lande. Ons het onder meer twee weke in Gent deurgebring waar ons Nederlands moes probeer aanleer. In hierdie proses het ons een dag ook die Poëziecentrum (destyds nog in Hoornstraat) besoek en toe ons wegstap, het die digter (dr) Johann Lodewyk Marais gesê dat “dit gaaf sal wees om ook ‘n versameling Afrikaanse poësie te kon voeg by die bestaande versameling Nederlandse poësie”. Johann, ekself, prof Dorothea van Zyl (ons destydse toerleier) en Anton Basson (destyds van Vista, vandag van AFDA) het saam gaan koffie drink in ‘n restaurant daar naby en daar is die plan gebore, veral toe Johann ook gemeld het dat ons heel moontlik die digter Ernst van Heerden se persoonlike versameling in die hande sou kon kry by sy erfgenaam, dr Lucas Malan. Alles het goed uitgewerk en danksy finansiering (wat ek kon kry by Die PUK-Kanselierstrust), kon die bokse bundels (wat deur Anton Basson en sy ouers verpak is) met die hulp van Dorothea van Zyl (wat ‘n reëling met Grindrod aangegaan het) verstuur word. Ek en Dorothea het die amptelike bekendstelling op 26 November 1998 in Gent bygewoon in die toringgebou op die historiese Vrijdagmarkt (waarheen die Poëziecentrum toe al verhuis het en waar dit vandag steeds is) en ons was altwee bevoorreg om die tiende herdenking van die versameling ook op 26 November 2008 by te woon.

Vandag is daar reeds ongeveer 1 400 bundels Afrikaanse poësie daarin opgeneem en dit is die grootste versameling Afrikaanse poësie buite SA.  Dit is ‘n plek wat gereeld deur studente, akademici en lede van die publiek besoek word. Stefaan Goossen hou ‘n waaksame oog oor die versameling en hy vertroetel elke versending wat daar danksy Louis Esterhuizen (wat sedert 2006 die versending van die bundels hanteer) aankom. Ons is ook groot dank verskuldig aan ons borge: Die PUK-Kanselierstrust, Protea Uitgewers (dankie aan dr Nicol Stassen!) en NB Uitgewers.  Gaan kyk gerus op die webblad van die Poëziecentrum vir verdere inligting oor die versameling – www.poeziecentrum.be 

Elke keer as ek in België kom, gaan besoek ek die sentrum en dit gee my telkens groot plesier om saam met Stefaan ‘n koppie koffie te drink en te kyk na die versameling. My uitdaging is daarom aan diegene wat graag na die Lae lande reis: gaan besoek self die Poëziecentrum en ervaar Afrikaans ver van die huis af. En teken ook die besoekersboek as jy daar is.

In wese is jy bekend as taalkundige en jou prestasies op jou vakgebied is welbekend. Wat egter minder bekend is, is die werk wat jy agter die skerms vermag – soos bogenoemde ook van getuig – om die digkuns te bevorder. Vertel ons ietsie meer aangaande hierdie passie van jou vir die digkuns?

Ek is inderdaad taalkundige van nering (en publiseer ook daarin – koop gerus my boeke!) en het die letterkunde maar altyd as belangrike onderdeel van opleiding in die Afrikaanse taal- en letterkunde beskou. Dit was totdat die Poëziecentrum oor my pad gekom het. Ek was bloot op die regte tyd op die regte plek om hierdie gaping vir Afrikaans te neem. My groot passie is Afrikaans en dit wat daarmee verband hou en die vestiging van die Ernst van Heerden-versameling van Afrikaanse poësie in die Poëziecentrum was iets wat net langs die pad gebeur het. Toe ek in Junie 20011 daar besoek afgelê het, het drie bokse boeke met bundels uit die versameling van wyle Lucas Malan (danksy die inisiatief van prof Wium van Zyl van UWK) pas daar aangekom en ek kon weer die gevoel kry van “Jislaaik, dis lekker om hierby betrokke te wees en te wéét dat soveel ander baat vind by die versameling”. Mense het al gesê ek het die vermoë om sake aan te pak en deur te voer. Nou ja, as die uitbrei van die Afrikaanse poësie hierby gebaat het, is ek baie bly!

Ek het die voorreg gehad om in my studentejare klas te hê by DJ Opperman asook by WEG Louw en al het ek nie altyd veel verstaan nie, was die wêreld van die poësie iets wat hulle op ‘n manier vir my oopgemaak het. Ek het die voorreg gehad om onlangs (17-19 Junie 2011) die eerste Festival voor het Afrikaans in Amsterdam by te woon en daar kon ek my weer verluister in die prag van Breyten Breytenbach se besondere poësie op die eerste aand van die fees.

Een van die uitgespelde doelwitte van die Akademie is die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans. Hoe voel jy oor die stand (en toekoms) van Afrikaans; gesien die negatiewe kommentare hieromtrent wat van tyd tot tyd in die media verwoord word?

Ek voel baie positief oor Afrikaans, soos my intense betrokkenheid by Afrikaans en Afrikaanse organisasies seker getuig. Ek sou beslis nie my tyd verkwis het as ek nie geglo het in die toekoms van die taal in SA nie. Ons moet wel weet die politieke omgewing waarin ons tans verkeer in SA, is nie altyd Afrikaans-vriendelik nie en dat ons as gemeenskap hard sal moet werk vir Afrikaans en dat ons geleenthede sal moet skep vir Afrikaans en die sprekers van Afrikaans. Dit is wel ‘n voldonge feit dat daar geen toekoms vir Afrikaans is as dit nie die totale Afrikaanse gemeenskap, dus die inklusiewe Afrikaanse gemeenskap, insluit nie. Daarvoor beywer ek my via die Afrikaanse Taalraad se aktiwiteite en doelwitte. In hierdie proses speel die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ‘n kernrol omdat dié liggaam direk gemoeid is met Afrikaans as hoëfunksietaal en as taal van die wetenskap – en hierdeur hoop ek om nog meer te doen as wat ek tans doen.

Breytenbach het verlede jaar aangedui dat hy pessimisties is oor Afrikaans se toekoms en dat Afrikaans dalk in sy leeftyd sal uitsterf. So iets is vir my ondenkbaar en ek werk hard om seker te maak so ‘n pessimistiese siening word nie aanvaar nie. Afrikaans is vir my ‘n taal van hoop, van die uitleef van die drome en verwagtinge van ‘n bepaalde sprekersgemeenskap in sy volle verskeidenheid. As my vriende Jacques van Keymeulen en Annelies Verdoolage (in Gent), Kris van de Poel (in Antwerpen), Luc Renders (in Hasselt), Eep Francken (in Leiden), Hans Ester (in Nijmegen), Ena Jansen (in Amsterdam), Bob Kirsner (in Los Angeles), Andrei Ignatenko (in Moskou) en ook nog ander in ander wêrelddele in Afrikaans glo, wie is ek om hulle vertroue te betwyfel en terug te sit en te kyk dat Afrikaans ondergaan? Nooit nie. En ek hoop as ek omkyk, is daar ‘n hele skare mense wat my volg.

16/08/2011

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Vat vyf, Wannie Carstens: Nuutverkose voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns”

  1. Breyten Breytenbach :

    Sterkte, Dr, Carstens! Ek wens daar was nog ‘n duisend soos jy. Mag jou geesdrif en toewyding en energie en gulhartigheid nie net ons doemprofete op die neus laat kyk nie maar ook nuwe bakens en vlae plant. Dankie vir wat jy doen. (En die gees waarin jy dit doen.)
    Viva Afrikaans, viva!