Clinton du Plessis. Aan die gatkant van die maan

Aan die gatkant van die maan*

 

Etienne praat in die Victoria Manor oor vergeet & onthou & hy laat my dink:

om te onthou is om selektief & nostalgies te vergeet,

ek onthou;

die Bruce Lee movies, no chinese & dogs allowed,

aan die rand van die dorp – die draak wat wag met skrefies-oë 

om sy tentakels verder uit te strek,

om besit te neem, soos wyle Dirk Opperman:

edms bpk; “dis my gebied” “alles…alles my eiendom,”

iswe lethu, die grond is myne, het Sobukwe se kaders vergeefs gechant,

maar die dice van die bank was klaar geskommel & loaded,

ek onthou,

skrywers in Cradock oor ‘n naweek,

ek die minor poet met geen major literary ambitions,

soos die dromskrapers in vodde flenters krap ons in die vullisdromme rond na oorskiet

vir ‘n storie, gedig of meer,

Olive was hot vertel die skrywer, jagsmaakmateriaal…

& skynbaar gewillig

Gannahoek se eie Paris Hilton, minus die sextape,

altyd op medikasie,

ek wonder of sy ooit ‘n joint sou rook, op die seilkoppie, of teen oukop?

ek onthou,

Goniwe in sy Honda,

Calata in die pop band in Lynleystraat,

te oud om te droom, te jonk om op te gee,

lokasie & dorp,

rook van oop vure, Goodyear tyres & tuine met swart outas & pissende beeldjies

& hoofman oom opperste PW in sy hoed & die vryheid van die dorp geketting om sy nek,

ek onthou,

in wat eens heilig katoliek & kerk was

lees & luister ons, dissipels van die woord, kyk ons na 101 kerke,

‘n vervalle Bantu Dutch Reformed Church word ‘n skrif aan die muur, 

maar die res van die dorp

bly afstandelik eenkant,

afvallig sit mense op stoepe in die son,

iewers braai iemand op maat van Michael learns to rock,

kyk families op plasma-skerms super-something rugby,

iewers verkrag iemand ‘n vrou of ‘n kind of ‘n hond,

die taverns is oop tot vroeg in die oggend,

& ons skryf gedigte & romans & probeer tot ons sinne kom,

rondom lang glase rooiwyn & sop & brood verwek ons karakters,

onthou ons & vergeet ons,

maar niemand van ons hier glo meer in wonderwerke nie,

wie kan uit hierdie vyf brode & die Visrivier

die menigtes voed?

om te vergeet is om selektief & nostalgies te onthou.

 

*na Heather Parker Lewis se “Olive Schreiner – the other side of the moon.”

10/07/2011, geskryf na die Karoo Writer’s festival in Cradock

 

© Clinton du Plessis. 2011

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Clinton du Plessis. Aan die gatkant van die maan”

  1. Natascha Heinlein :

    Dit is vir my so baie mooi!

  2. Natascha Heinlein :

    Dis vir my so baie mooi!