Resensie: Kodeks (Nini Bennett)

Kodeks. Nini Bennettt. Cordis Trust Publikasies. ISBN 978-0-620-50030-2. Prys: R80. 68 bladye. Sagteband.

Resensent: Zandra Bezuidenhout 

Die digbundel van `n debutant benader jy soos ‘n verrassingspakkie; sonder aangekorste verwagtinge omtrent ‘n digter se aanslag, tematiek of vermoëns, en gretig om te sien hoe ‘n nuweling die kaal tablet beskryf. Al weet jy dat Bennett reeds vir haar kortverhaalbundel (Stoornis, 2002) bekroon is, bly die poësie tog ‘n spel van ‘n gans ander aard.

Die geoefende leser kom binne die bestek van die eerste paar bladsye agter of die bundel die aankoms van `n ware digter sinjaleer; en of jy by wyse van spreke “die seep in die gastekamer hoor kraak”, om by die digter Wessel Pretorius te leen. Jy vergeef aanvanklik die opvallende tegniese steurnisse; dit is immers ‘n nuweling wat hier aan die woord is. En jy behou deurgaans ‘n oop gemoed, omdat daar in die loop van die bundel ‘n treffer of twee  mag opduik.

Met die vergrootglas van die literêre kritiek in die hand, en ‘n gawe skoot mededoë in die glas, soek die resensent na blyke van vakmanskap. Maar wat is dit wat aan ‘n gedig sy toorkrag gee? Die antwoord(e) hierop sou ‘n lywige handleiding in beslag neem, maar opsommenderwys kan ‘n mens sê dat ‘n gedig slaag wanneer die digter jou lei (nee, verlei) om ‘n stuk werklikheid as onthutsend, boeiend of ontroerend te beleef; en dat dit gebeur wanneer die gedagte-inhoud so gestileer en gestruktureer is dat die gedig jou hoendervleis gee, of hartkloppens, of ‘n knop in die keel. Hierdie proses slaag alleenlik wanneer die digter sekere oorbekende slaggate vermy en ‘n hele reeks digterlike tegnieke en kunsgrepe bemeester het.  

Nie alle debutante is sterre nie, al het daar in die afgelope tyd heelwat van hulle aan die digterlike trans verskyn. ‘n Mens dink aan Melt Myburgh, Martina Klopper, Andries Samuel en ‘n hele paar satelliete in hul nabyheid. Tog is daar onder beginnerdigters ook dié wat wel hier en daar flikker, maar nog nie durend en helder skyn nie. So iemand is Nini Bennettt. Baie van haar gedigte gee blyke van woordgevoeligheid en/of raak beelde, moedige taaleksperimente en/of boeiende temas. Dit help haar om met gedeeltes van `n vers die mas op te kom. Ek het byvoorbeeld gehou van die gemaak-naïewe styl en die inhoud van “Motorwag” (26), maar ‘n paar vraagtekens oor die vloei en ritmiek, woordordening en herhalings in die kantlyn geplaas. Dit was trouens my reaksie op elke vers in die bundel. Die bogenoemde gedig word hier aangehaal:

 

my oupa is ‘n motorwag

sy maer lyf weerhaak in die verte

 

eens op ‘n tyd

was hy ‘n taalpraktisyn

 

het julle hom gesien,

my oupa, die motorwag?

 

hy is oral

hy is die ou man wat woordeloos

 

naby jou motor ronddool

met sy hande agter sy rug, gebuk vooroor

 

die wind ruk aan sy baadjie

sypel deur die dun takelwerk van sy lyf

 

sy kantpaadjie zig-zag oor sy kop

en verwese hang sy keelvel

 

oor sy kraag

soos sagte slaaiblare

 

alles aan hom druk

die kunstande   die skoene   die klein pensioen  –

 

sy bene word reguit

sy hele lyf word hande:

 

sy klim hoog uit haar vier-by-vier

draai weg en sê: kyk maar

 

dalk gaan sy munte gee, die mooi blinkes

of miskien ‘n noot

 

maar dit maak nie saak

my oupa is terminaal

 

eens dokter-van-die-woord,

taalpuris en -praktisyn

 

nou praat hy die broodlyn van die taal

‘n dankie tot die dood

 

 

Met betrekking tot die bundel in die algemeen is dit die opbou van die gedigte wat die meeste  hinder; of eenvoudig gestel, hoe die gedigte aanmekaar gesit is. Die digter moet woorde met die grootste omsigtigheid kies en kombineer, niks ongemotiveerd herhaal nie, nie geforseerde woordsamestellings uitdink nie, wegbly van oorbekende “digterlike” woorde of ander clichés, en abstraksies spaarsaam gebruik. Die gekose woorde moet sinvol ingespan word sodat die reëls nie ‘n lomp, aanmekaargelaste of onbeholpe indruk maak nie.

Die bundel se volgehoue mineurtoon, tesame met die terugkerende motiewe van dood, lyding en verlies, bring op die duur ‘n moeisame leeservaring mee. Dit sou ‘n eenheidskeppende procedé kon wees, maar te veel verse word geskaad deur herhaalde verwysings na dinge soos trane, brandende kerse, spieëls, verlange en verdriet – waarvan die laaste twee (en meer) telkens by die naam genoem word, instede daarvan om die emosie slegs te suggereer. ‘n Mens wonder ook waarom die digter nie meer selfkritiek toegepas het deur die oormaat aan beskrywende woorde te skrap nie, omdat woordoortolligheid die indruk wek dat die digter nie geloof het in die krag van haar kernwoorde nie.

Bennett het nietemin`n interessante titel vir haar bundel gekies. Die HAT se woordverklaring vir “kodeks” lui: “Ou handskrif of manuskrip, veral van die Bybel of geskrifte uit die oudheid op papirus en later perkament geskryf”. Volgens die WAT is die Latynse woord cōdex ‘n variant van caudex, `n boomstomp waaraan oortreders in die antieke Rome vasgebind is. Die titel skep dus die verwagting dat die digter haar verse, en die dinge wat daarin gebeur, as so ‘n geskrif of “kodeks” aanbied. Die woord “kode” klink ook hierin mee, en waarskynlik word die lewensverdriet hier gesien as kodes met ‘n dieperliggende betekenis, wat die digter dikwels laat aansluit by die Christelike geloof. Die ligpers omslag roep reeds ‘n gevoel van rou en verlies op, terwyl die skets van ‘n kop met neergeslane oë omswagtel is met iets soos verbande waarop die woord “kodeks” op drie plekke leesbaar is. Dit kom voor of die twee hande besig is om die verbande af te haal – moontlik ‘n metafoor vir heling deur die skryfproses, (waarvan daar trouens meermale in die bundel gewag gemaak word) – en asof die halfoop en gekweste oog die kodeks en kodes van naby  probeer lees. Die gedeeltes van die brein wat aan die bokant van die afbeelding uitsteek is onderskeidelik lig en donkerpers gekleur, en kan geïnterpreteer word as ‘n emosionele teenoor ‘n rasionele instelling, of ‘n botsing van een of ander aard waarvoor daar versoening gesoek word.

Die titel van die eerste afdeling, “Indeks”, het ‘n klankverband met die bundeltitel Kodeks, terwyl die openingsgedig (“Weduweeskof” ) beide die woorde “kodeks” en “indeks” bevat, en die inhoud origens ook na die digterlike arbeid verwys. Die gedig en die situasie wat beskryf word, wil waarskynlik `n aanset tot die bundel as “geskrif” wees. Daarby herken die spreker haarself in die vrou (en moontlik as die skrywende instansie) wat oor die gehawende figuur (haarself?) buk, wat op sigself ‘n interessante gegewe is. Ook die gebeurtenis word herken as `n teks in eie reg; `n stel tekens (of kodes) wat deur iemand (God?) geskryf of “gedig” is, en soos die rillende aandrang van die selfoon uitwys na iets anders. Die woord “kouevuur” resoneer in “die vuurdoop het pas begin” in die losstaande slotreël – en sluit aan by die terugkerende motief van vuur in die res van die bundel. Belangrike elemente word dus in hierdie gedig saamgetrek, en die digter verdien krediet vir haar poging om ‘n bepaalde eenheid van gedagte te konstrueer terwyl sy tog die leser aan die raai hou. Ten spyte van treffende beelde soos die “wintergras” op die ongeskeerde ken en die “ritssluiter [wat] soos ‘n treinspoor/ dwars oor jou lyf geloop [het]”, sou ‘n bietjie skaaf- en snoeiwerk aan die versstruktuur ‘n sterker gedig uit die klip verlos het.

In “Droom” word die gesprek met dieselfde figuur voortgesit en die situasie verder uitgebrei, maar ook hier tree meer digterlike sondes in: “vingers” wat “strengel” en “arms” wat om mekaar “sirkel” is clichés, terwyl die dooie ster wat “witdwerg” (as werkwoord) en die nuutskepping “duisterwyke” gesog voorkom, veral in samehang met die alleenstaande slotwoord “binnestraal”. Daarna volg die gedig getiteld “(met apologie aan Breyten)”, waarvan die hakies myns insiens nie funksioneel is nie, maar waar die woorde moontlik kan sinspeel op Breytenbach se beklemtoning van die rol van die  skrywersgeheue. Die vermoede ontstaan dat die digter ook in die daaropvolgende verse te doelbewus poëties gaan probeer skryf, wat reeds in die res van die gedig bevestig word deur ‘n kwasi-digterlikheid soos “verlange wat nie genees nie”, “sieloue verlange” en bybelblaaie wat “fladder”. Die gedig word verder ontsier deur reëloorgange wat begin met “en” (vyf keer), “ook”, “tog”, “maar” en “want”. Sulke woorde is nie per se taboe in die digkuns nie, maar verraai meesal `n onbehendigheid met die opbou van die vers, soos dit ook blyk uit die woordorde wat vernuftiger aangewend sou kon word. Daarby is dit erg steurend om ook die woord “verlange” vyf keer in dieselfde gedig raak te lees.

Hinderlike omskrywings (‘n kwaal van menige beginnerdigter) kelder telkens die leesplesier. Weereens is daar in die bostaande gedig talle adjektiewe wat liefs sou kon bly: “rukkerige beelde”, “beseerde vlerke”, “gedweë ghoeroes”, “sieloue verlange”, “stowwerige boek”, “leë juwelekis”, “rooi  malvas”, “gekalkte potte”, “bloeiende  monde”, “tenger vreugdes”, “huilende tjello”, “bruin blomme”, “heilig onvolmaak”, “skitterende juwele” – alles binne ‘n een vers). Ook skuil daar pretensie in frases soos “vlieg krysend”; “van opstand roes ons harte vuur in yster”; en in feitlik die hele “Gelykenis” (15), een van die verse wat oor die spreker se moeder handel, en waarvan die laaste gedeelte as volg lui:

 

[…] Nou skêr die voëls deur haar

laaste vrugte: pienk vlees die oop-

gevlerde wonde en uit die stempel bloei

die melk die vermolmde vrugte

dood,

die stempel die definisie van honderde

vruggies wat wring soos maaiers deur

die bleker bloedvrug.

Haar vrugbeginsel is beseer.

 

Jesus wees dié vyeboom

 

                                        genadig want dis my ma

 

 

Dit val op dat “‘n huilende tjello” (6) in ‘n ander vers (31) opduik in die oorlaaide beeld van ‘n “tjello tremolando huilnoot”, terwyl “mondig” (6) weer later voorkom as “in die dood het sy mondig geword” (31), en tref jy in een gedig beide “kinderoë” en “baba-oë” aan (5, 7). Daar is etlike gedigte sprake van oë, lense, glas, spieëls en weerkaatsings, om maar ‘n paar te noem. Dit is op sigself geen doodsonde nie, maar ‘n volgehoue oorbenutting van bepaalde woorde en beelde binne een gedig of bundel kan dui op ‘n beperkte digterlike leksikon en ‘n gebrekkige beeldarsenaal. Hieraan sou dit digter kon werk – die oordeelkundige benutting van woord en beeld is een van die basiese beginsels van digterskap. Ewe belangrik is die ritmiek, en die soms onbevredigende versbeweging of vloei sou maklik reggestel kon word deur wysigings in die woordorde of -keuse.

Die digter moet ook versigtig wees vir segswyses soos “bibber soos `n vlam”  en “hand wat die rose pluk”, omdat dit maklik boekerig en ouderwets aandoen. Die alliterasie in “winterwrak” en “niks van nood” lyk bedag; die geïmpliseerde uitroep “o” moet met omsigtigheid aangewend word om nog nuut te klink; en “verlange wat nooit sal vergaan” nie, is darem te blatant en oorbekend.

Die titel van Afdeling 2, “Vuurdoop”, sit die “vuur”-gedagte voort wat in die eerste en en derde gedig in die vorige afdeling gefigureer het. “Voetpad” begin met woorde uit die gedig “Bitterbessie dagbreek” van Ingrid Jonker, wat nie erkenning geniet nie, ten spyte daarvan dat aanhalings so `n kontensieuse kwessie geword het. “Voetpad” kan ook gelees word as `n eggo van die “paadjies” en “grootpad” in die Jonker-gedig. Hier begin Bennett se werk belofte toon wat die versbou en beelding betref, maar weereens is daar hinderlikhede, soos die woord “oë” wat drie maal voorkom, met “oogholtes” en “oënskynlik” ook nog in die buurt; terwyl die “gebarste spieël” die woorde van Jonker te ooglopend herbenut. “[G]e-twyg” is `n skerp vonds, maar die koppelteken, soos op etlike ander plekke in die bundel, is onnodig; en “my skadu, sku vooruit” sou sonder die komma kon deug om  aan “sku” `n werkwoordelike funksie te gee. Ook sou “oop” in “bewe miere om haar oop mond” met sukses weggelaat kon word – om maar een voorbeeld te noem.

“[D]oods-voyeur” is ‘n mooi vonds, maar ook hier doen die bewustelike gebruik van die koppelteken afbreuk aan `n andersins knap samestelling. So ook bederf die “doodsertifikaat” en “dood” (twee maal) die varsheid van die beeld “doodsvoyeur”. En waarom word “kraai” gevolg deur “opgestopte kraai”, en later weer  deur “kraai”? Herhaling kan slegs ‘n effektiewe stylmiddel wees as dit gemotiveerd aangewend word. Die gebruik van “gles” as werkwoord en die invoer van “megapixels” is vindingryk, maar ook in hierdie gedig staan daar nog te veel byvoeglike naamwoorde (“gloeiende”, “gefossileerde”, “roerloos”, “opgestopte”, “gebarste” “leeggeloopte”). Die spel met identiteit wat reeds in die openingsgedig voorgekom het, word voortgesit in “dra my naam en identiteitsnommer…”, maar `n mens begin wonder of die “ek” nie te dikwels sentraal gestel word nie, tensy dit `n motief in die bundel wil wees. Ander kleinere besware is dat “feëtjie” met ‘n deelteken geskryf is, en die “c” in “mascara” met ‘n “k” vervang sou kon word.

Die derde en vierde afdelings, “Mespunt” en “Vlugtyd”, maak ‘n sterker indruk. “Slaggoed”, “Motorwag”, “Christmas”, “Die vleesloses” en “Ode” is verbeeldingryk en toon die digter se potensiaal om treffende, en selfs aangrypende verse te skryf – mits die gedagtegoed in ‘n bevredigende vorm gegiet word. Oor wat hierdie vorm moet wees, kan ‘n mentor, uitgewer of slypskool meer uitgebreid leiding gee.

Bennett het ‘n aanvoeling vir die poësie en ‘n goeie oog, maar vir ware digterskap is meer nodig. Ook die oor en tegniek moet ontwikkel, en elke skryfpoging moet geslyp en gesuiwer word om as gedig te glinster. Na my mening is hierdie debuut voortydig en nie besonder aantreklik uitgegee nie. Indien die digter die kritiek as ‘n leerkurwe benut, mag sy met ‘n volgende bundel haar lesers verras.

Bookmark and Share

Comments are closed.