Resensie: grond/Santekraam (Ronelda S. Kamfer)

grond/Santekraam. Gedigte. Deur Ronelda S. Kamfer. Kwela Boeke. Prys: R160. Aantal bladsye: 64. ISBN 978-0-7957-0365-2.

grond/Santekraam

grond/Santekraam

Ronelda S. Kamfer se Noudat slapende honde van drie jaar gelede het ‘n rimpeling van opwinding deur die Afrikaanse poësiewêreld gestuur.

Haar fraaiinglose, gelade uitbeelding van spesifiek die vroulike belewing van bruinmenswees in Suid-Afrika het die tonge los gehad – en tereg. Die eis wat Van Wyk Louw aangaande digterlike taal gestel het, naamlik dat dit die dringendheid van “sterfbedwoorde” moet hê, is in hierdie debuut gehoor vanuit die situasie van iemand wat al as ‘t ware by haar eie begrafnis was (soos in die gedig “Droom” verwoord is).

Die “Happy Hotnot-mentality” is onherroeplik deur haar “opgebom” (titelgedig van Noudat slapende honde).

Terselfdertyd het die bundel uitgegroei tot veel meer as die uitbeelding van die bruinmenslot. Iets van alle vervreemdes en noodlydendes se belewenis is daarin vertolk.

In grond/Santekraam word die universele geldigheid van die betrokke bestaanservaring nóg opvallender gemaak. Een van die verskeie gedigreekse in hierdie tweede bundel van haar het byvoorbeeld “gaan” (verganklikheid) as tema. Vergelyk “gaan i”, met sy knap benutting van die spanninge tussen reëlbreuke en enjambemente, tussen vers- en sinsbou, om die huiwering tussen “gaan” en “terughou” te help suggereer:

 

ons moet gaan

die heeltyd ons

moet gaan

teenwinde hou

ons trug

maar gaan

is wat

ons moet

gaan weer

en weer

mettertyd gaan

ons moet[.]

 

Die sentrale gegewe in die bundel is dié van die verskuiwing, oftewel ontheemding en resulterende vernietiging, van die Skipskop-gemeenskap (hoofsaaklik gedek in die “Klippenkust”- en “oorvertel”-reekse, maar ook in gedigte met die name van die karakters waarvan die leser die eerste keer in die gedig “Klippenkust” verneem, as titels). Dié voorbeeld van polities-gemotiveerde, gedwonge verskuiwing van nie-blanke mense tydens die apartheidsera het besonder bekend geword vanweë David Kramer se trefferlied daaroor.

In “oorvertel i” is “oom grootvis Visser”, oud-Skipskopper, minder onder die indruk van Kramer se lied:

                    

daai fokken Kramer-jong het mos

daai song gesing so long Skipskop

met ‘n Kaapse aksent nogals pure

djasgeit wit mens se sad en onse sad

is different hulle huil oor die plek

oor dit mooi was

onse mense huil oor hulle

net moet maak soos gesê was[.]

 

Van tradisionele grondbewoners en -besitters is die betrokkenes eensklaps gereduseer tot ‘n “santekraam” van ontheemdes met “afkop-kopaf-stories” (bladsy 46).

En dit kom al van ver af: van Jan van Riebeeck en Herrie die Strandloper (oftewel “Autshumao”) se tyd af, soos vertolk in ‘n reeks dokumentagtige tekste wat voorgee om korrespondensie tussen Van Riebeeck en Autshumao te verteenwoordig.

En dis waarskynlik ook in hierdie konteks dat wat ek heel rofweg ‘n Kaapse Vlakte-reeks van gedigte wil noem (bladsye 30-39; ook bladsy 49), verstaan moet word. Gevoelens van verontregting, wanhoop, vernedering en opstandigheid staan daarin verwoord. Van die treffendste gedigte in die bundel verskyn op hierdie bladsye. Vergelyk:

           

  Martha

 

 my ma se naam is Martha as

iemand my eendag vra hoe baie ek

haar liefhet sal ek net sê dat toe

ek vier jaar oud was het ek saam

met haar in die donker trug huis toe

gestap van ‘n biduur af waar my

pa gewag het om haar te slaan

sodra sy instap my ma het altyd

vinnig gestap huis toe na haar

ander kinders en man toe

ek moes sukkel om by te bly

toe skielik toe begin ek te huil

 

alleen in die donker omdat al my

liefde vir haar niks beteken nie[.]

 

Van ‘n oënskynlik ander toonaard is wat ‘n mens die “onder water”-gedigtereeks in die bundel kan noem. ‘n Fantasiesfeer van meerminne, vermenslikte visse en “afkopskepe” (skeepswrakke) oorheers, met fragmente wat aan sprokievertellings en ook populêre liedjies herinner. Maar “afkopskepe” en “afkopstories” deel nie verniet eerste woorddele nie: dié fantasiereeks weerspieël weldeeglik sommige van die maatskaplike toestande wat in die ander reekse ter sprake kom of gesuggereer word, sy dit dan op meer speels-ironiese trant.

Trouens, dit wil algaande meer lyk of dié parallelle onderwaterwêreld simbolies word “van verledes wat nooit opgediep is nie” (soos in die uitgewersbrief  aangaande die teenwoordigheid van die skeepswrakke gestel word). Vergelyk:

 

            slot Klippenkust    

 

 soos oom Grootvis Visser die sandpaadjie aanstap stop hy en staar

na die geldmense-kant hy trek sy mond skeef soos hy probeer

om kennis te wees maar sy ou gesig laat dit nie toe nie hy staar na

“hulle” “hulle” wat kom vakansie hou “hulle” wat prentjies verf en

foto’s vat “hulle” wat dink national heritage site beteken iets “hulle”

wat vis in die restrant eet en nooit sal sien hoe sy ma gehuil het nie

vir jare staar hy net na “hulle” en wonder wat sy pa besiel het om

hom te laat glo dat ons “hulle” is en dat “hulle” ons is

 

oom Grootvis Visser het “hulle” probeer haat maar een kyk na die

hemelwatersee dan sien hy die ons van sy pa

 

ons wat stuk-stuk stukkies skepe sonder koppe saam met ons dra[.]

 

Ten spyte van die antagonisering wat deur die verontregtings van die verlede meegebring is, deel ons in hierdie suidelike wêrelddeel, in hierdie verraderlike “Klippenkust”-land van ons, miskien meer as wat ons het wat ons (steeds) skei. Kamfer gee iets van laasgenoemde weer in die taalerfenisse wat sy laat opklink: Standaardafrikaans, Kaaps (met sy flardes Engels), momente van Nederlands (byvoorbeeld in “onderblijven”) en brokkies Arabies (die Islam-nalatenskap, vanuit Indies-Indonesiese oorde).

Óns, hiér, is ‘n waarlike “santekraam”.

Die vermelde reekse in hierdie bundel staan daarom onderbroke vervleg met mekaar; van bundelafdelings is daar nie sprake nie. Vandaar dat daar ‘n opstapeling van “slot”-gedigte aan die bundeleinde voorkom: “slot onder water”, “slot Klippenkust”, “slot slot” en “slot slot slot”. Laasgenoemde twee lyk soos musikale tema-en-variasie-komposisies, saamgestel uit skaars nog sinmakende woordfrases wat oorgeneem is uit, onderskeidelik, “slot Klippenkust” en “slot onder water”. So word in die kleiner formaat van enkelgedigte spieëlbeelde verskaf van die bundelopbou as geheel.

Die genoemde “onderblijven” is nog so ‘n “tema-met-variasie”-tipe gedig. Ek kon nie verhelp om by die lees daarvan te dink aan die Vlaamse digter Paul van Ostaijen se bekende “Melopee” nie – asook aan enkele van die meer eksperimenteel repetitiewe verse in Antjie Krog se Verweerskrif van enkele jare gelede nie. Enkele strofes uit Kamfer se gedig:

 

 onderblijven skip blijft onder

onder die see blijft die skip

 

die skip blijft die see

onder onderblijven blijft

 

die see die skip die onder

God blijft die see

 

blijft onder God die skip

skop die see skip

[…]

 

Myns insiens word Afrikaans en Nederlands in hierdie gedig ietwat oorhoeks gepas op mekaar; doen dit plek-plek ‘n bietjie komieklik aan. Tewens: die “santekraam”-struktuur van die deurmekaar gepakte gedigreekse, van die taal-, spreekstem-, tema- en diksieverskeidenhede, ontsnap nie aan ‘n bepaalde indruk van gemaaktheid nie. Styl- en vormlike eksperiment pas (nog) nie naatloos by die sterk polities-maatskaplik gekleurde betekenisinhoude nie, meen ek.

Kamfer bewys egter met grond/Santekraam dat haar digterskap nie ‘n statiese, nie-innoverende een gaan wees nie. En in ‘n oortuigende mate bly sy tref. Haar digkuns bly boei; die belofte van die debuut bly springlewendig.

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Bookmark and Share

Comments are closed.