Lize Viljoen. Seoul; Suid Korea: Stad van kontraste en vele skakerings

DIE BERG EN DIE TORING

 

Ek woon al reeds drie jaar in Seoul, en die stad word nou my tuisdorp, soos wat ek die paaie uitsorteer in my kop, en die landmerke bymekaarmaak. Selfs die Suid Afrikaanse Ambassade, met sy beperkte dienste se drempel het ek ook al deurgedraf.  Op my “Alien Residence” kaart pronk drie verskillende addresse, soos ek mettertyd van Haebangchon, na Itaewan, en nou na Hoamdong verhuis het. Drie verskillende woonbuurte in ‘n klein omtrek, almal gegroepeer rondom Namsan Berg.

Wat my die meeste fassineer van hierdie stad is die groot kontraste tussen ryk en arm, kollosse van geboue en piepklein winkels en koffieplekke ingemessel in die mure. Die geboue is ook soms vreemd, driehoekig selfs, met paaie wat kruis op die smal kant.

DIE KAT EN DIE UITSIG

DIE KAT EN DIE UITSIG

Seoul is ‘n groot stad, maar as jy eers die paaie ken, dan voel dit klein. Konsentriese sirkels vorm rondom NamSan toring. Die berg in die hart van die stad met die toring daarop. Volgens gerugte was daar eens shamans op die berg, wat een van die oorspronklike gelowe van Korea was. Die berg is magies, met sy groot park, en groen wolk waarom dit voel alles draai in hierdie stad.

Dan is daar ook die rivier, die Han. Dit kronkel al langs die stad en word gekruis deur ‘n stuk of twintig brue,  en al langs die rivier aan albei kante is daar die Olympic Express Highway ‘n Plek waar jy nooit met jou scooter gevang wil wees nie.

Die Koreaanse kultuur is gefokus rondom lekker eet en lekker kuier. Daarom is daar ‘n rykdom van restaurante en kroee, en selfs onwettige straatrestaurante wat snags oopbly tot vyf uur in die oggend. Daar word ge-eet en gedrink tot die byle huil. En dan gaan dit steeds voort. Benewens kos en klere wat in groot maat verbruik en verkoop word, is die Koreane ook lief vir kuns en word daar in die groot kunsgallery gereeld bekende kunstenaars uitgestal.

uitsig oor die han rivier vanuit die KTX hoogspoed trein

uitsig oor die han rivier vanuit die KTX hoogspoed trein

Seoul Stasie is een van die plekke waar die kontras tussen die alledaagse, die verbruiker van luukse moltreinvervoer en telekommunikase en die haweloses van die stad daagliks gesien kan word. ‘n Reeks restaurante bied goedkoop etes aan die straatmense. Anders as in Suid Afrika bedel nie een van hulle nie. Hulle is skaduwees wat prontuit geignoreer word deur die gewone mense. In groepe van vier of bendes van twee daag hulle hul dakloosheid uit soos nuwerwetse Robin Hoods. Op die uitlaat konstruksies van die stasie bondel vier mans saam, hulle is gehawend, en lyk hoog op iets.  Twee tipes realiteit bestaan neffens mekaar. Die harde gemors van die straat teenoor die blink advertensieborde en die groot stasiegebou met sy twee verdieping roltrappe en konneksies met hoogspoedtrein en slakkepasmodule met die res van die land. Die Suid-Oostelike hawestad van Busan kan bereik word in minder as drie ure.

DIE UISTIG VANAF DIE SES EN DERTIGSTE VERDIEPING

DIE UISTIG VANAF DIE SES EN DERTIGSTE VERDIEPING

Alhoewel Korea ‘n klein oppervlak beslaan, is die populasie omtrent dieselfde as in Suid Afrika.  In die omgewing van vyftig miljoen siele. Dit is een van die hoogs bevolkte lande ter wereld. In plaas van aparte wooneenhede, bewoon Koreane groot woonstelbloktorings, en is dit glad nie ongewoon om ‘n familie van vyf in ‘n tweeslaapkamer woonstel aan te tref nie. Maatskappye soos Samsung bou steeds meer en meer woonsteltorings en die rivierwalle is bebou met wit bergagtige geboue wat almal dieselfde lyk en die stad omring. Ouer woonbuurte, soos die een waarin ek woon, is ‘n string van smal straatjies wat net een rigting verkeer kan hanteer, en motors geparkeer maak dit interressant om deur die smal openinge met mure aan weerskante te beweeg. Soms voel dit skoon of mens binne in ‘n gebou bestuur, met neentig grade draaie en aankomende verkeer in die vorm van voetgangers, kinders in prams, lorries, karre, fietse en bromponies. Dis ‘n mengelmoes wat nooit stilstaan nie. Die mark is ‘n ry van klein stalletjies wat klere en kos en huishoudelike benodighede verkwansel. Dit alles het ‘n tydelike gevoel, aangesien meeste van hierdie ou buurte ge-oormerk is om in die nabye toekoms gesloop te word in die pad van groot woonstelblokke. Die nuwe woonstelblokke reserveer ‘n deel van die grond vir openbare parke en kommunale oefen areas wat allerhande oefen instrumente tot die beskikking van die verbyganger stel. Die oefen aparaat is selfaangedrewe en nie die tipe wat mens in Suid Afrika sal raakloop nie. Soms is daar tennisbane of badminton bane.

In die somer is daar ses swembaddens langs die Han Rivier wat oop is vir die publiek. Die somerhitte dryf die gemiddelde Seoulliet om met swemkap en swemgewaad die uit tog uit die huis te maak tot in die openbare swembad. Die swembad word elke halfuur leeg gemaak van mense wanneer die lewensredders op hulle fluite blaas en almal uit die water begelei vir ‘n kort breuk.

swemmers

swemmers

Ten spyte van die enorme geboue en die geraas en geskarrel is dit nie moeilik om te leef in Seoul nie. Die ouwereldse sjarme van goeie maniere is oral en die meeste gesprekke met vreemdes is beleefd. Koffiewinkels bied ‘n welkome lafenis tussen die getoet van karre en die gedruis van verkeer. Die afgelope somerseisoen was die meeste reent aangeteken in ‘n eeu. Die strate het vir ‘n week geskitter of hul gepolitoer was.

reent in die strate

reent in die strate

Seoul is by uitstek ‘n wereldstad met elke gerief wat ‘n reisiger sou verwag. Van kultuur tot kuns tot kos en inkopies. Ek voel voorwaard gelukkig om hierdie stad my tuiste te kan noem vir die moment.

Groen; ‘n Gedig oor Seoul deur Lize Viljoen

Die stad met sy sement
en teer en geluide van
motors en mense, hier en
daar ‘n hond wat blaf,
swaar verkeer gedemp,
miskien ‘n sirene wat loei.
Die begrensdheid van trappe
van vergelyking in beton
Onverwags, vanoggend te midde
van die stil chaos van die stad,
‘n greep lewe wat in my neusgate
opgroei, soos die koel reenwind
deur die venster waai, belaaid met
groen geure van bome en klimplante,

“Iets hier leef nog!” het ek gedink
en telkens diep ingeasem die vars
verkwikkende geure van grond en groei
verwikkeld in die ryk aroma van groen.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.