Francis Galloway. Die verskyning en ontvangs van Voetskrif deur Breyten Breytenbach

 Die verskyning en ontvangs van Voetskrif

(Uittreksel uit Hoofstuk 6 van Breyten Breytenbach as openbare figuur. 1990. HAUM-Literêr)

Francis Galloway

Vroeg in 1976 verskyn Voetskrif, die bundel  wat Breytenbach in aanhouding geskryf het. Later die jaar word ‘n Seisoen in die paradys, wat reeds in 1973 geskryf is, gepubliseer. Die reaksie op hierdie tekste staan in die teken van Breytenbach se “bekering” tydens die hofsaak. “Wat Perskor betref, is Breyten Breytenbach die verlore seun wat teruggekom het”, het mnr. Schalk van der Merwe, hoof van Perskor Boeke op 20 Februarie 1976 in Johannesburg gesê toe hy Voetskrif, wat opgedra is aan Yolande en die ondersoekbeampte Kolonel Broodryk, aan sowat twintig mense bekendgestel het (Hoofst., 21.2.76).

Terwyl die verskyning van Voetskrif by die uitgewery Perskor, die opdrag aan Kolonel Broodryk en die bundel se bekroning met die Perskorprys Breytenbach in diskrediet bring by sy (radikale) vriende wat reeds verwar is deur sy belydenis van “opregte berou” (sien hieroor Ena Jansen in De Volkskrant, 6.12.82 en Adriaan van Dis in NRC Handelsblad, 7.12.82), word die bundel as’t ware met trompetgeskal verwelkom in die Afrikaanse pers en geloof deur kritici.

Die Transvaler (16.2.76) glo dat “‘n nuwe Breyten Breytenbach gebore is uit die skokervaring wat (hom) te beurt geval het met sy inhegtenisneming, aanhouding, verhoor en vonnis van nege jaar tronkstraf” en gee sy lesers “‘n kykie in die diepste en teerste emosie” van die skrywer in aanhouding deur van die verse uit Voetskrif te plaas (dit val saam met ‘n reeks artikels oor Breytenbach waarin sy broer Cloete sê dat “‘n opregte bekering” by die digter plaasgevind het – Tv., 16-23.2.76). In hierdie tyd hef die SAUK ook sy verbod op Breytenbach op nadat sy naam vir jare nie gebruik is of sy werk nie genoem is nie – en dit met ‘n bespreking deur F.I.J. van Rensburg wat Voetskrif aanprys as “nie net een van die mees besondere bundels in Breytenbach se poësie nie, maar in Afrikaans” (Rap., 29.2.76).

Die verskyning van Voetskrif lok ook kommentaar uit van die publiek. Mees omstrede hiervan was die reaksie van dr. Koot Vorster, assessor van die Algemene Sinode van die NG Kerk en broer van die eerste minister, by die opening van ‘n vrouediensbyeenkoms van die NG Kerk vir Noord- en Wes-Kaapland. Hy beskou dit naamlik as ‘n “tragedie” dat, “terwyl ons seuns aan ons grense sterf”, Breytenbach in die gevangenis sit en skryf. “Die ink is skaars droog dan word dit deur die pers gejaag en terwyl die drukkersink nog nat is, word hierdie onsin deur groot letterkundiges as kuns uit die boonste rakke opgehemel” (Beeld, 11.3.76). Vir Vorster is die feit dat ‘n “volksvyand” se “snert” aan “ons seuns en meisies aan ons universiteite” opgedis word as goeie letterkunde, deel van die “stryd om ons bloed”: Op maatskaplike gebied en letterkundige terrein, op politieke vlak en op kerklike erf, word alles in die stryd gewerp om ons van ons eiendom te beroof en ons tot een groot vaalgrys massa slawe, volgens die resep van die Kommunisme ‘een volk, een kerk en een wêreldregering’ te maak” (ibid). Teenoor Rapport (14.3.76) erken Vorster dat hy nie self Voetskrif gelees het nie en ook nie van plan is om dit te doen nie; hy grond sy aanval op die resensie van F.I.J. van Rensburg wat hy oor die radio gehoor het. In ‘n brief in Rapport (21.2.76) verdedig Vorster sy sienswyses verder en stel hy dit dat hy die boek nie hóéf te lees nie, maar kan beoordeel “in die lig van die getuienis wat in die hof uitgekom het”; hy wil hom immers nie uitspreek oor “letterkundige gehalte” nie.

F.I.J. van Rensburg (Rap., 28.3.76) beskou só ‘n stelling as “onhoudbaar”. Hy wys weer eens (soos ná afloop van die verhoor) daarop dat hy self nog altyd “gepleit het om nugterheid teenoor Breytenbach se werk”, in plaas van “matelose verering” of “blinde verguising”. Alhoewel die digter se politieke optrede vir Van Rensburg “van redelik vroeg af verwerplik” was en hy dit volkome aanvaarbaar vind dat hy in die tronk is, het hy waardering vir ‘n “groot deel van sy werk” – bowendien staan Voetskrif vir hom in die teken van “berou en ommekeer”. Vir Van Rensburg lê die groot verskil tussen homself en Vorster daarin dat laasgenoemde “glo dat ons op die oomblik net een taak het: om skanse op te rig”; hy self glo “dat agter daardie skanse ons geesteslewe moet voortgaan”. Die Afrikanervolk kon dit immers nie bekostig dat daar “‘n breuk in sy geestestradisie ontstaan nie”; militêre paraatheid en skeppinglewe moet in ‘n “sowel-as”-verhouding staan: “Elke goeie ding wat in Afrikaans geskryf word, is net so ‘n bevestiging van die Afrikanervolk se reg op voortbestaan in hierdie land en in die wêreld as watter ander onderneming ook al”. Van Rensburg se mikpunt is dus net soos dié van Vorster gerig op die “voortbestaan van die Afrikanervolk” – al vertrek hy vanuit ‘n ander hoek.

J.A. Loader van die departement Semitiese Tale, Universiteit van Pretoria, voel dit sy plig om op Vorster se uitlatings te reageer, veral omdat laasgenoemde se sienswyses vertolk kan word as verteenwoordigend van kerklike opinie in die algemeen – ‘n indruk wat kan bydra tot die reeds bestaande wrywing tussen kerk en kunstenaar (iets wat bevestig word deur Jeanne Goosen in die rubriek “Straat af” in Hoofst., 13.4.76). Loader meen die prinsipiële grondslag van Vorster se verdediging (in Rap., 21.3.76) skep ‘n verleentheid vir die kerk en teologie en kan nie teenoor denkende mense verantwoord word nie. Loader se kritiek is gerig teen die idee dat oordele gevorm kan word aan die hand van tweedehandse inligting en dat Vorster se redenasie stry teen die prinsipes van die eksegetiese wetenskap wat berus op die interpretasie van literêre produkte: Die gebeurtenisse en omstandighede rondom ‘n literêre werk kan nie as uitgangspunt vir beoordeling geneem word nie; die teks moet sentraal staan. Eers moet die vorm en inhoud daarvan ontleed word voordat dit in verband met historiese omstandighede gebring word. Die onaanvaarbaarheid van die persoon van die kunstenaar kan nie as kriterium vir teksoordeel gebruik word nie. Vorster se optrede is “‘n teksboekvoorbeeld van die selfgenoegsaamheid wat vervat is in ‘n geslote sisteemdenke waar die vermoë ontbreek om klanke in die wêreld rondom hom ernstig te neem en te interpreteer – dit verteenwoordig ‘ verstarde wysheid wat die betrekking met die werklikheid en aktualiteite van die wêreld verloor het” (Rap., 11.4.76).

Wat betref die ontvangs van Voetskrif deur ingeligte lesers (kyk Bibliografie C vir verwysings) is dit opvallend dat sommige lesers – wat in 1975, toe Breytenbach in diskrediet was en die Afrikaanse letterkunde daardeur “skade berokken is”, so aangedring het op die skeiding van kuns/werklikheid en kunstenaar/mens – nou die “agtergrondgeskiedenis” van die bundel en/of Breytenbach se “bekering” in berekening bring of laat meespreek in hulle waarde-oordele. (‘n “Bekeerde” Breytenbach hou immers nie gevaar in vir die status quo aan die een kant of vir die saak van “betrokke” skrywers aan die ander kant nie.)

Annari van der Merwe skryf die groot belangstelling waarmee daar op hierdie bundel gewag is, toe aan redes wat “uit die aard van die digter se oënskynlike politieke ommeswaai ten tye van die verhoor, nie suiwer literêr kan wees nie”; as lesers egter op “belydenispoësie en verduideliking gehoop het, was dit tevergeefs”. Vir sommige lesers bevestig die bundel egter wel “dat sy betuiging van berou in die hof geen leë gebaar was nie” en die bundel word gesien as ‘n geleentheid vir Breytenbach “om hom deur sy skryfwerk te rehabiliteer en te regenereer” (komende van F.I.J. van Rensburg wat, soos vroeër aangetoon, die bundel hoog aanslaan – Rap., 28.3.76). Ander lesers formuleer dit versigtiger en betrek nie soseer die skuldbelydenis nie, maar die gevangeniservaring. P.D. van der Walt meen byvoorbeeld dat die “agtergrondgeskiedenis” bydra tot die leeservaring en aan die gedigte van onthou en verlang ‘n dringendheid en intensiteit verleen wat die bestes ‘n ontroerende leesgebeurtenis maak. Gerrit Olivier beklemtoon dat die bundel méér is as ‘n “kuriositeit van biografiese belang”, maar ontken nie dat Voetskrif die “resultaat is van Breytenbach se resente ervaringe” nie. Abraham H. de Vries waarsku egter teen die “gevaar” van die gebruik van die agtergrondgeskiedenis by die beoordeling van Voetskrif.

Hoewel kritici daarop wys dat Voetskrif nie soseer opvallende “vernuwing” in Breytenbach se poësie bring nie (Brink, Cloete, Olivier, Van der Merwe) word die bundel entoesiasties ontvang as ‘n “nuwe hoogtepunt” in Breytenbach se oeuvre – veral ná die “insinking in sy vorige twee bundels” (Cloete, Olivier, Johl). André P. Brink sien Voetskrif in sy geheel as ‘n “indrukwekkende toevoeging tot ‘n indrukwekkende digterskap”, maar meen dat ‘n finale oordeel teruggehou moet word tot al die feite om die publikasie daarvan opgeklaar kon word.

Twaalf jaar ná die Afrikaanse Pers-Boekhandel sy eerste omstrede prystoekenning aan Breytenbach gemaak het, sorg hy weer vir nuus deur Voetskrif te bekroon. Tydens die informele oorhandigingsgeleentheid het Elize Botha, sameroeper van die beoordelaarspaneel, wat verder bestaan het uit W.E.G. Louw en Ernst van Heerden, ‘n kort motivering gegee vir die eenparige bekroning van Voetskrif. In sy reaksie op die toekenning sê Brink dat dit bewys dat daar by die keurkomitee “slegs suiwer literêre oorwegings gegeld het en nie aan die man agter die boek gedink is nie” (Ogb., 2.3.77). Anita Lindenberg glo die werk is die bekroning absoluut werd, maar vind dit jammer dat Breytenbach “nou eers begin pryse wen, aangesien hy beslis Suid-Afrika se sterkste jong kunstenaar is” (ibid.). A.P. Grové sê die feit dat “‘n baie goeie keurkomitee die beoordeling gedoen het”, bewys dat dié werk wel die heel beste was (ibid.). Hoe “suiwer literêr” hierdie besluit egter wel was, sou moeilik vasgestel kon word; ‘n mens moet immers in ag neem dat die aanbeveling gemaak is in ‘n tyd toe die Afrikaanse literêre establishment nog diep onder die indruk was van Breytenbach se “bekering”.

Die bedenkinge wat Brink in sy 1976-resensie gelug het, word bevestig toe nuwe feite oor die publikasie van Voetskrif tydens die tweede Breytenbach-verhoor op die lappe kom. In ‘n gesmokkelde brief aan Brink, wat tydens die hofsaak as getuienis voorgelê word, noem Breytenbach Voetskrif  ‘n “slapgat” bundel wat in ‘n maand geskryf is en wat hy nie kon hersien of korrigeer nie. Die “opdrag”, afgesien van dié vir Yolande, “was op dringende” versoek (Welz, 1977:142; Viviers, 1978:103; NRC Handelsblad, 11.12.82). In Confessions skryf Breytenbach soos volg oor die aandeel van kolonel Broodryk (“Huntingdon”) in die publikasie van die bundel:

The very existence of this volume was exploited by Huntingdon.He saw herein one more way to manipulate me and simultaneously to improve his image and, he hoped, his acceptability to the literary community among the Afrikaners. He did not want to be known as a cultural barbarian, and in any event he was intuitive enough to understand that the real threat to the Afrikaner would come from within their own ranks – so, farsighted, he already had to lay the first lines of infiltration into the ranks of the Afrikaner writers from whom he suspected subversive ideas or rebellious noises in time to come. He insisted quite brazenly that the volume of verse should be dedicated to him. It was a naked instance of horsetrading: you dedicate this to me and I allow you to have it published. (1984a:138)

 

Volgens Breytenbach was die res van die bundel ook gesensor deur Broodryk self (Welz, 1977:142); Viviers, 1978:103) – die “grappigste weglating” was ‘n vers getiteld “Help” waarvan die teks bestaan het uit “help!”. Breytenbach sien dit as ironies dat “my nemesis, the man who was – however insiduously – trying to have my guts and to flip me inside out, at the same time acted as my literary agent – in fact creating or giving me the possibility of survival” (1984a:138).

“Die jaar 1976 het begin met die publikasie van Breyten Breytenbach se digbundel Voetskrif; sowat die laaste publikasie van literêre betekenis uit dieselfde jaar is sy ‘reisboek’ ‘n Seisoen in die paradys; as mens in terme van literêre pryse dink, dan het hy hier min of meer ‘n wenkombinasie soos laas in 1964 met Katastrofes en Die ysterkoei moet sweet (André P. Brink, Rap,. 23.1.77).

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Francis Galloway. Die verskyning en ontvangs van Voetskrif deur Breyten Breytenbach”

  1. Daniel Hugo :

    Frances, jou stuk is besonder insiggewend. Hoe ver is jy met die Breyten-biografie?

  2. Francis: :

    Ai, Daniel. Ek kan my dit nie aanmatig nie.

  3. Melanie Grobler :

    Bly om weer ‘n keer hierdie gedeelte van jou seminale studie te lees!