Digstring. Fourie Botha. My eerste Bybel.

My eerste Bybel

Openbaring 5

 

Wie is waardig om dié boek oop te maak?

Die verse versigtig geasterisk,

God se beloftes dat Hy oor jou waak

netjies met pen onderstreep, aangestip.

 

Wie mag die sewe seëls breek?

Die briewe van jou skoolvriend lees?

Boekmerk by ‘n vergete preek:

Die Here sou jou herder wees.

 

Wie kan na die foto’s kyk

van jou dooie troetelhond

of weet hoe het jou ma gelyk

voor sy bril gedra het?

 

Ek is die een met sewe oë

die sywurmkruis ‘n swaard in my mond.

Slaan die boek óóp; slag my lyf.

Pa het voorin my naam geskryf.

 

Uit: Donkerkamer  (2011, Queillerie: p. 72)

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Fourie. Hoe het dit ontstaan?

Die eerste weergawe van die gedig staan in ‘n dagboek by 6 Februarie 2006. Die plan was om ‘n tipe himne te skryf. Ek het deur my bybel geblaai om na die vorm van hierdie soort gedig te kyk. Ek kon die Psalms nie naboots nie. Toe blaai ek deur Openbaring. (Ek onthou hoe bang dié boek my gemaak het toe ek klein was. Om oor die vrees te kom, het ek op laerskool die hele Openbaring deurgelees en vurig kantaantekinge in pen in die kantlyne ingeskryf.) Toe sien ek die gedeelte oor die name in die boek waarvan Openbaring 5 praat en onthou dat my eie name voorin my bybel staan – in my pa se handskrif en onderstreep met die datum 5 Junie 1988. Toe het ek die begin en die einde, die beeld en die toepassing as jy wil, van die gedig.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Daar is vier erg bekrapte weergawes op papier in die dagboekie voordat ek dit op die rekenaar verder afgewerk het. Die finale vorm het hom nie onmiddelik aangemeld nie – die dagboek wys hoe ek rymskemas oorweeg het en die lettergrepe getel het. Johann de Lange het my met die finale woordorde in die laaste reël gehelp

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Baie goed wat ek in die vers noem was reeds voor my: die onderstreepte bybelverse; my naam voorin die bybel; al die dinge wat ek tussen die bladsye opgegaar het toe ek klein was en vir jare daarna nie gesien het nie. Dan was daar ook Openbaring 5 om mee te werk. Al wat ek moes doen was om dit wat voor my was in ‘n vorm te kry en dit so te rangskik dat daar ‘n soort dramatiese verloop is.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Die interteks het gehelp om goed te orden. Die klimaks lê in die slot, so ‘n mens weet waarheen jy op pad is en waar jy sterker beelde moet gebruik. Die eindryme wat ek gebruik het het ook rigting gegee.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ek het die gedig aan Joan Hambidge en my klasmaats gewys toe ek kreatiewe skryfwerk aan UK gestudeer het. Ek wys my gedigte eerste vir haar.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Vyf jaar nadat ek die gedig geskryf het, is dit in 2011 in Donkerkamer gepubliseer.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die beskrywings is van my eie bybel. Die asterisk staan langs die negende vers:

Toe sing hulle ‘n nuwe lied: “U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.

Ek het nou wel nie ‘n boekmerk wat ‘n sywurm gespin het nie, maar ek dink ek het sulke boekmerke al gesien. Die briefies en die foto’s bestaan.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dit gaan vir my oor ‘n pa se toe-eiening van sy seun. Wat dit beteken as ‘n pa sy kind uitkies – dit is ‘n ingewikkelder ding as wat ‘n mens dink.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Ek het ‘n ondersteunende, onkritiese, waarderende leser, iemand wat nooit oordeel nie, maak nie saak wat jy sê nie, in gedagte. ‘n Goeie vriend wat jy nie ken nie maar vir wie jy geheime dinge kan vertel. Dalk ook iemand met geheueverlies, sodat hy nie verveeld raak wanneer jy dieselfde storie oor en oor vertel totdat jy klaar is daarmee nie.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Nee, die gedig werk nou saam met die ander gedigte in die bundel.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nee, ek dink nie so nie. Die ingewikkelde verhouding tussen mense en die kerk en mense en hul pa’s kry ‘n mens oral, maar die manier waarop hierdie verhoudings uitgedruk word, is dalk Suid-Afrikaans. Hier is ook iets wat my herinner aan die Statebybel wat dikwels ‘n familie se stamboom voorin gee.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek het dit gelos toe die toonaard en die metrum vir my reg geklink het.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Iemand het vir my eenkeer gesê die gedig herinner hom aan ‘n kerkliedjie. So dalk het ek dit tog reggekry om ‘n tipe himne te skryf.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Dit was ‘n liedjie wat ek op my blokfluit gespeel het – oor ‘n haas wat ‘n wortel by ‘n boer steel en versigtig moet wees om nie geskiet te word nie. Die arme haas wou groentesop kook – ek vermoed die versie sou minder bloeddorstig gewees het as kop nie met sop gerym het nie.

_______________________________________________________________________

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Digstring. Fourie Botha. My eerste Bybel.”

  1. Pieter Odendaal :

    Fourie, jy’t my nou lus gemaak om weer my ou bybel te gaan uitkrap. Dit lê iewers in ‘n kas saam met biologie-notas, ‘n Graad 2 UNISA Teorie-handboek, ‘n elektrisiteitstel met stukkende LED’s en my oupa Piet se muntversameling. Ek het in ‘n stadium met highlighters verse uitgelig wat vir my uitgestaan het – Hooglied is voosbekrap.

  2. Sjoe Fourie, wat ‘n pragtige gedig.