Resensie: Ghoera (Hennie Aucamp)

Ghoera. Hennie Aucamp. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-453-6. Prys: R135.00;

70 bladsye. Sagteband.

Resensent: Zandra Bezuidenhout

Soms slaan `n digbundel in al sy oënskynlike eenvoud jou voete onder jou uit. Só een is Hennie Aucamp se Ghoera, kompleet met sy singende titel, sy omslag met `n musiserende figuur en sy meesleurende inhoud. `n Bundel sonder literêre pretensies, maar nie sonder literêre meriete nie. Een vir oud én jonk, vir die leek én die kenner, vir leesplesier én vir diep-dink. 

Aucamp het die Afrikaanse taal `n guns bewys, nee, `n eer aangedoen, om `n skat van oorgelewerde inheemse verhale te berym – met al die vakmanskap, speelsheid, integriteit, kennis en beeldende vermoë van `n kunstenaar wat sy liefde vir die woord laat versmelt met stof wat so aan jou sintuie en verbeelding vat dat jy een na die ander vers met oorgawe verslind.

Hier kry `n mens nie sommer `n klompie gediggies voorgeskottel wat goedsmoeds saamgeflans is vir die oomblik se genot nie. Dit is behoorlik gestruktureerde verse; kortes sowel as langes, almal netjies verdig in strofes wat elk vier reëls beslaan. En hoe lekker trek die oertaal van rym en ritme jou nie by die stories in nie; annerlike stories uit `n leefwêreld wat prikkel en jou ontvanklik maak vir kosbare stukkies droom en werklikheid wat deur die gedruis van ons tyd verdring word. Deur die genade van die vers word jy in vyf bundelafdelings deel van wonderbaarlike dinge waarmee die eietydse mens beswaarlik  kontak het; van mites en legendes wat die “beskaafdes” nie ken nie, of al byna vergeet het.

Dit is aan Aucamp se kennis, navorsing en oorgawe aan die woordkuns dat ons hierdie versameling te danke het. Maar veral ook aan sy wete dat die kind in elkeen van ons behoefte het aan spel en verwondering. `n Mens moet jou dus nie laat mislei deur die newetitel  Afrika-verse vir kinders nie. Aucamp beskik oor `n fyn digterlike aanvoeling wat die kooltjies baie diep in jou laat smeul – met die lag en erns wat hoeka so naby mekaar om die vuur sit.

Ghoera
Ghoera

Die bundel word opgedra aan die digter se suster Rina, as “`n herinnering aan ons kindertyd toe ons elkeen ons eie ghoeratjie gehad het”. Die “ghoera” is `n primitiewe musiekinstrument wat bestaan uit `n krom stok met `n seningsnaar wat tussen die ente gespan is. `n Plat stukkie veerpen word naby die een ent ingelas, en deur die mond op die veer te hou en saggies te blaas, laat die speler `n klompie sagte klanke van verskillende toonhoogtes ontstaan. Die woord ghoera kan teruggevoer word na kŏ // hā of kŭ // hā uit die San- en Khoi-taal, terwyl gora-b in Nama “kraai”, of “spel van Khoi met `n veer” beteken. Die welluidende Ghoera as bundeltitel is dus `n nommerpas keuse wat die leser meteens na sfeer van die inheemse, maar ook na die towerwêreld van die musiek of klank verplaas.

Die eerste afdeling, soos die Bybelse Genesis, maak `n bewustheid van die kosmos wakker, wat naatloos skakel met die die titel van Peter Webber se skildery op die voorplat, Kan jy die musiek van die maan en die sterre nie hoor nie. Hoe tekenend is die openingsvers “Son en Maan” (geskoei op `n Boesman-mite) nie in sy eenvoud nie:

 

Die Son is vol en rond

en deur die jaar gesond,

die Maan is bleek en sieklik

en is net somtyds rond.

 

Die Son is bitterlik jaloers

en hol die volmaan uit,

tot later net `n ietsie oorbly:

`n silwer platboomskuit.

 

Die maan pleit met benoude stem:

“Ag, laat één ribstuk bly!”

Son sê “ja” en wat gebeur?

Die Maan begin opnuut gedy.

 

Hierby wil ek my egter verstout om `n kanttekening te maak: per geleentheid stem ek nie met Aucamp se woordkeuses saam nie. Ek sou byvoorbeeld “olik” liewer as “sieklik” voorstel (ter wille van die klank en betekenis) , en “knypstem” in plaas van “benoude stem”, lg. ter wille van die ritmiese vloei, en ook in aansluiting by die y-klank in “bly” en “gedy”. Maar die digter se woordkeuses bly sy prerogatief, en Aucamp is meestal vol in die kol, soos met die onverwagte klankspel in die daaropvolgende gedig (“`n Storie oor die son”) waar hy van die “ligman van die voortyd” sê: “hy dra die ligbol in sy oksel”. En hoe raak word die voormense se beeldende vermoë nie omgedig in “Die melkweg” nie:

 

Die vrou maak toe `n slim plan,

sy gryp `n handvol as

en gooi dit in die lug op

wat eers so donker was.

 

`n Newelstreep lê oor die lug

wat die jagters vuur toe lei:

só het die Melkweg dan onstaan,

en só het dit gebly.

 

Ewe treffend is die Windvoël wat as `n “vaalflits” verskyn (“Die wind”), of die “vere van gevogeltes” wat ná hul dood ook wolke word; en as dit nie reën bring nie, deur die Grootvoël in sy mantel gewikkel en weggewaai word (“Die wolke”).

“Weerklank in die klowe” vertel hoe eggo’s ontstaan het. Dit is ook gebaseer op `n Boesmansprokie, en een van die mooiste beeld-en-klankverse van Afdeling 2. Die slotstrofe klink so:

 

`n Speelman lig sy horing,

blaas note teen die lug,

en uit die rooi ravyne

kom wysies na hom terug.

 

As mens die woord “chacma-kese” teëkom (sou “Kaapse Kese” nie deug nie?) begin jy wonder of daar nie ter wille van die kinderlesers en ander onkundiges `n lys met verklarings ingesluit kon word om minder bekende woorde toe te lig nie. Mens sou kon redeneer dat dit maklik genoeg is om woordeboeke of die internet te raadpleeg, maar bronne is nie altyd (en vir almal) byderhand nie, en boonop bederf dit die leesplesier as jy kort-kort die bundel moet neersit om te gaan naslaan.

`n Stewige storielyn vol diere en dinge is te vinde in “Sankaambe, die skilpad-towenaar” waarin die Venda-fabel `n gedig word. Kostelik is die beskrywings van “Wolf wat lelik lag” en “die hiëna/ [wat] koers kry met sy afdraandlyf/ na waar die aasvoëls flap en sirkel:/ Want steel is sy bedryf.” Net die woord “byeenkoms” lyk hier effens uit sy plek, en sou dalk deur “makietie” vervang kon word (afgelei van mokete, Sosotho vir “fees”). Dit sou nie die versrym versteur nie en weerklank vind in “dankie” in die daaropvolgende reël. In “Die eerste eland” is daar `n mooi spel met klank en ritme in “sy seun volg Kaggen deur kanette”, maar weereens sou lesers dalk `n verklaring van sowel die sprokiesfiguur Kaggen as die woord “kanette” (`n soort rietagtige plant) verwelkom het, soos ook van die “Heikum-vrou” in “Die eerste mens”. Die skuinsdruk in die teks gee te kenne dat dit `n vreemde woord is, en dit sou handig wees om die betekenis dadelik in `n voetnoot of woordelys te vind. Dieselfde geld vir `n woord soos ubutshwala wat in kalbasse bruis (“Hasie se bierfees”), al kan `n mens uit die konteks en herkoms aflei dat dit `n soort bier moet wees. Die internet se Google-soekenjin gee net die woord ushwala aan en verklaar dit as `n voedsame sorghumbier wat in kleipotte bewaar en daagliks of op feesdae deur Zoeloes gedrink word om die voorvadergeeste te eer.

In “Heiseb en Mamba” (Afdeling 3) is daar etlike woordvondste wat groot plesier verskaf, soos die mamba wat “sislag”, en die melk wat “in potte en kalbasse sing”, maar ook hier weet die algemene leser nie wie Heiseb is nie. Die gebruik van hierdie name uit die folklore is gepas en voeg outentisiteit en plaaslike kleur aan die poësieteks toe, maar toeligting is nodig ter wille van kontekstualisering en die uitbreiding van lesers se kennis. Dit is nie die digter se eerste taak nie, maar `n redakteur sou hiermee kon help, aangesien hierdie verse deels as `n bekendstelling aan ander kulture kan dien.

Die gedigte verkry `n toegevoegde waarde deurdat die herkoms van die boustof bo-aan elke gedig verskyn. So kom jy byvoorbeeld te wete dat “Olifant en Reën” ingegee is deur `n Boesman-sprokie, soos vertel deur Gaira en opgeteken deur E.W. Thomas. Boonop dra die gedigte toevallige kennis van die natuur en ekologie oor, wat veral by jonger lesers `n belangstelling in die natuur en ekologie mag aanwakker. Ander gedigte bied weer volkekundige en geografiese kennis, en dien so tot vermaak en lering – `n kombinasie wat van die vroegste tye af as `n belangrike element in die literatuur gegeld het. Die bogenoemde gedig se welluidende openingstrofe is een so `n voorbeeld:

 

Olifant dog hy is sterker

as die lawende, lieflike Reën,

hy verniel en verdelg al wat groen is

tot die aarde so bar is as been.

 

Dit is ook verblydend dat Aucamp woorde soos “bekoms” gebruik wat al gedeeltelik in onbruik verval het. Dieselfde gedig se slotstrofe lui:

 

Met Olifant se dood word Skilpad

`n held in sy eie oë;

hy drink hom bekoms , en die water

kring om sy bek uit in boë.

 

Dan is daar nog nie eers verwys na die die bewusmaking van orale vertellings as literatuursoort wat die leser saam met die lekkerte van die gedigte inkry nie. Hier dink `n mens aan die bekoorlike “Valk en Hen”, ‘n Afrika-sprokie wat by die bewoners van die Basaroetoe-eilandgroep aan die Ooskus van ons vasteland opgeteken is.

Die taal word gemaklik en speels aangewend, sodat lesers wat nie van ingewikkelde gedigte hou nie, moeiteloos by die woordpret ingetrek sal word. Daarby is die verse sterk visueel: beskrywings roep onder meer `n prentjie op van die tarentaal as “`n spikkelbont meneer”; Jakkals se “vlamstreep trek van stert tot kop”; en wanneer `n “spekvet perd” gevang word, sit “rooi van die bloed, [en] lippesmakkend mevrou Leeu”. Die komiese kant van sake word deeglik benut, soos in die beskrywing van die besope Hasie se niggie wat vir Skilpad volg met ‘n “trae skuilfelpas”; en van Skilpad se dors waarvoor hy na eie segging moet boet in”Hasie se bierfees”, gegrond op `n Xhosa-sprokie wat bolmakiesie na die hede:

 

[…] “Verskoon my net,

want ek word deur my blaas gepla,

en moet na die toilet.”

 

Ewe kostelik is die tekening van die uil in “Die uil en die tinktinkie”, gesteun deur `n onvoorspelbare klankspel met “ui” en “k” in strofe 5:

 

Maar Uil begin te knikkebol

ná `n nag van fuif,

sy ronde kop sak skewer,

en skuinser ook sy kuif.

 

En dan volg die vonds in die slotreëls waar klank en betekenis naatloos met die skryfwyse saamsmelt:

 

Uil koes en keer, en vra vervaard:

“Hoe-hoe? Hoe-hoe? Hoe-hoe?”

 

In Afdeling 5 is die jagstorie “Die vals volstruis” `n skerp voorstelling van “hoe die Boesman hom vermom/ en as volstruis die trop flous/ en saamwei, pik en brom”. `n Mens kan al sien hoe leerders deur hul nabootsing hiervan fisieke teater maak. Elke gedig in die bundel het meriete, en elk om sy eie bepaalde redes. Oral merk die leser Aucamp se woordvernuf, onder andere in sy ongeforseerde woordsamestellings wat pure Afrikaans klink, soos “struisnek” of vruggies wat “trosvol” aan `n bessiebos sit. Hy gee die verse lewe deur die inherente ritme en betekenis van alledaagse uitdrukkings in te span, soos “Die pa vererg hom bloedig”; “Heiseb slaan sy seun met mening”; “Kom daar `n mens te sterwe”; “die gifpyl swiep en fluit” en “stram van poot”, met laasgenoemde as `n gevatte verwysing na die lomp beweging van die krokodil. Hier en daar slaag `n versreël se ritme nie heeltemal nie, omdat die sinsbou ter wille van die strofebou en eindrym `n bepaalde vorm aanneem, waardeur die aksentuering aangetas word. `n Mens sou egter van die tekste só kon voorlees dat die ritmiese oneffenhede minder merkbaar is.

Die tekeninge van Zakkie Eloff durf nie onvermeld gelaat word nie. Die sterk, eenvoudige lyne van hierdie gevierde dierekunstenaar se werk herinner aan die rotsskilderinge van die inheemse bewoners. Waar dit telkens by en tussen die gedigte verskyn, vul dit Aucamp se tekste op die ideale manier aan – as `n visuele wit-en-swart skakelteks wat net genoeg suggereer om nie die gedigte te oorheers nie.

Met hierdie bundel laat Hennie Aucamp die ghoera sing; dit roep `n vervloë landskap en gemeenskaplike erfenis op deur die magie van klank en die evokatiewe krag van woord en beeld. Met die vier gedigte wat by die Nuwe Kinderverseboek (2009) ingesluit is, het die digter reeds sy vlot hantering van die kindervers met inheemse wortels getoon. Nou het ons amper dertig van hulle in een bundel. Mag hulle aangroei, en klein en groter sterre oor die hemelvelde strooi, ook oor dié van verre lande waar hulle gelees en voorgelees gaan word.

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.