Andries Bezuidenhout. Ritrympie

Dít het ek nooit kon dink nie –
dat ek begin September Pretoria toe sou terugkeer,
na losbandige witstinkhoute, groen gefuif
teen knoppiesdoringvaal, koorsbome nog kaal
van ʼn toegeeflike, dog ferm winterrasperryp;
tóg iets blymoedigs onder bas te bespeur,
in die kwas, aan doringlatte se stekelpunte.
Inwoners, onbewus van die nuwe blus,
poog om hakskene met trollies te mis –
vol visvingers, kinders en sintetiese frokkies
uit China, Lesotho, Kambodja of Vietnam.

Wat beteken dit alles, is alles tevergeefs,
of is dit bloot goed om in Augustus
van Pretoria af weg te wees?

Nooit het gedink dat ek begin September
Pretoria toe sou terugkeer nie,
na koraalbome wat winterrowe afkrap
en die lug met nuwe bloed snoet.
Koraal, o koraal, jou naam proe die kleur,
koraler as die kleed van ʼn Roomse kardinaal,
mooier as die titels van laasmaand se taal.
Die wring van wortel om rots en aar
bepaal waarna takke bogronds snuif.
Deesdae eet Goewermentsdienders
roosterbrood in pleks van koolstoofpap.

Wat beteken dit alles, kom alles dan tot niks,
of is dit maar net dat jy Pretoria
liefs in Augustusmaand moet mis?

Nooit ʼn terugkeer na Pretoria voorsien nie,
ook nie in maand September nie.
Jasmyn wat van soet tot bloot rank hiberneer,
Oktober binnekort weer en gepeulde jakarandas
wat longe volmaak vir die uitspattige genies.
Dan volg klokkies, denne teen die koppies,
nagemaakte sneeu en ʼn aangemaakte tyding
wat by monde van poppe in glashokke skreeu.
Is alles tevergeefs, kom alles dan tot niks?
Alles afgesaag, alles geyk. Hang alles hier af
van amptelike bepaling, die jaarring van vertaling?

Dít dan, die edik, deur beproewing getemper –
dis goed is om van Pretoria af weg te wees,
beslis in Augustus, moontlik ook September.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.