Breyten Breytenbach. klein reis as stippelkoei van ‘n jaar…

            klein reis as stippelkoei van ‘n jaar se weggaan fragmente

                               en hoe die pampoen vrot geword het

                                                   (‘n nostos)

 

                                                “The poetic fact pre-exists”

                                                                                   -Ezra Pound

 

*

Ons het die koerante gelees. Baie.

Elke oggend het gekom met ‘n lading

geweld, verlies, droefenis, verwondering,

magswellus, paniek, intriges, bloed (baie bloed),

ekstase, leuens, oorloë en gerugte van oorloë,

dooie bergies en dooie dassies –

die neerslag van ou-ou verbranding

            en van donker chemikalieë

het ons hande met nuus bevlek

 

 

*

agter ruite buig die wind

wolke en see se wit fronsnate

na ‘n ander diskoers

 

die tyd van vye het gekom

en toe druiwe, en gegaan

 

‘n afskeidsvers as koei in die sloot

waar ons om die tafel sit

om saam die vis en die brood te eet

en die wynglas in ‘n ritueel van vertrek te lig

sodat son soos die bloed van tye nog glans

 

en ons weerkaatsings in die ruite sien

dansgebare maak

 

tot siens, tot siens

(goodbye Koos, goodbye)

 

*

lettergrepe wat mekaar te lyf gaan

met die kapmesse van wanhoop

 

*

ons sal vlieg: trekganse

in die ryspapierruimte

van ‘n ou skilder op die knieë

 

in die nag

wat ‘n verbeeldingsvlug is

sal ek aan julle dink

 

 

*

want om so oor Afrika te vlieg…

hierdie droewe smeulende landmassa

hang ‘n goiter aan die hart

met ver benede die geflikker

waar vlieënde metaaldrake

dood spuug

en ander gepantserde gedrogte

                        mure verpulwer

en dooies op straat bewegingloos dans

in verspotte posture en met

                        opgeblase pense

 

klein is hulle soos karakters in reistonele

van die ou Chinese meester

onbenullig soos daardie miere

                        wat die ontbindende vlees

woord vir woord sleep

                        na enklawes van verorbering

                        onder die soetdonker aarde

 

*

o die lewe is onvoorstelbaar

alhoewel dit al hoe meer voorspelbaar word

hoe langer jy lewe

(verby die die-by datum)

totdat jy die stel en die spel verloor

oorstelp deur die duiseling

van dansende engele op die speldekop

 

*

(this desert country / where every shadow / is a bird of comfort / for the unhinged poet)

 

*

die dood van jou vader

hy is lankal oorlede

sy dood bly jou by

as ‘n onderhuidse hede

‘n voortdurendheid onder lede

 

is soos ‘n smeersel diepkennis

wat lankal in jou brood

gesyg het

en soek jy nou ‘n soetigheid

van woorde

om daardie smaak

onsigbaar in die mond te maak

 

die lewe is

sluk vir sluk

‘n skryfoefening

 

*

(“Since his pet potbellied pig

wandered away from home,

Aiken Hart slumps into a depressive

dolour every time he smells bacon.”)

 

 

*

weg van hier waar die Suiderkruis se knypers

soos passers die oneindigheid

van die ewige nag afmeet

na ‘n ander halfrond

na die versteende denke van grys stede

 

na ‘n ander hemel

waar die môrester ‘n bakenvlam is

wanneer die ganse werf

swymel van jasmyn

en in die verte pieke wit rook

 

bekots met hoogte-asem

 

*

die dralende geur van lindebome

wat reeds hul bloeisels afgewerp het

oor die sypaadjies

verleë ligte leë ooglede

en in ander strate lilatakke in blom

ligpers oor mure getros

om af te loer

 

 

*

all is well

the moon in well

swelling a wet baby

 

moon is round

I shit a pound

talk to the hound

tomorrow sound

s’truth

 

*

daardie rookpilare oordag

en die vuurkolom in die nag

van die woestyn

dui die krematorium aan

 

dis goed dat alles wat ooit lewe was

nou die medegeleefdes se roet en as

is in die woestyn

om die soete weg te verlig

 

mens wil immers nie afdwaal nie

 

*

(“Corruption was correlated with earthquake deaths, haze was correlated with Shangainese deaths, and flipper banding by scientists was correlated with king-penguin deaths. Colombian officials seized a narco-pigeon, and Saudi Arabia detained a vulture affiliated with Tel Aviv University. Police in Phorzheim, Germany, detained an owl who was drunk on schnapps. Dozens of Romanian starlings drank themselves to death. One thousand Italian turtle doves fell from the sky with blue-stained beaks; 500 starlings and red-winged blackbirds were found dead on a road in Pointe Coupee Parish, Louisiana; and 4,500 Arkansas blackbirds were thought to have been killed by fireworks.” Findings, Harper’s Magazine)

 

*

 

 

*

hoe ek vorentoe leun in die kompartement met my hand op haar knieg so asof ek haar sou ken om my ganse lewensverhaal vir haar te vertel, dringend, wie ek is waar ek vandaan kom hoe ek tot hier gekom het ek weet nie, hoe die woorde uit my tuimel en stort terwyl die reis se onverbiddellike onsamehangendheid buite verby die donker nagtreinvenster swiep – gloeilampe soos smeertrane, bosse, klosse dorpies, ‘n peillose nag, die stofmaan, duisternis vol lewe, alles wat wieg en skree soos ‘n trein se fluit ; hoe sy toe ek niks meer oor het om te sê nie en vorentoe leun in die kompartement met my hand op haar knieg so asof ek haar sou ken, nou leeg gebieg met ‘n tong wat te veel geword het in die mond en reeds nie meer weet wat was lieg en wat verbeeldingsklanke met die verhemelte en wat die onsamehangende onverbiddellikheid van ‘n nag wat verskiet in die niet nie, hoe sy wegdraai van haar afbeelding in die ruit die kombers opgetrek tot aan die skouers van haar knopperige lyf so asof sy bang is ek sal die vere sien, om haar oë so groot dié van ‘n uil agter die blinde brillense na my te draai en te sê: I’m sorry. You’ll have to come again.

 

*

 

*

nou dit reeds laat is

onthou ek dat ek ‘n paar indrukke

wou skryf –

hoe die maan gekantel het

en paddas kraak in die vywer

en hase en muise en wildeswyne

en geeste skarrel in die bos

en nou ek dronk van whisky is

onthou ek dat ek iets van hierdie dag

wou onthou om nie te vergeet nie –

 

dat die dag lig en vol kleur was

dat ek geskilder het

dat my hart gebrand het

van vreugde oor die lewe

van Mikis Theodorakis –

 

dat ek trots was op die verdraagsaamheid

wat dit vir my moontlik maak

om myself waar te neem en vergesel

en te geniet

deur die lied van ‘n paar indrukke

 

 

*

ken jy die stil vreugde

en eerbiediging

van ‘n ronde ou-heuningkleur

koekie seep

in ‘n vaalwit bakkie

met net genoeg groenerige skaduwee?

 

ken jy die nederige geskiedenis van son

en wind

van die skille onder die tafel

op die meester se doek

wat vertel van geloofsdade en wonderwerke?

 

weet jy dat speserye gebruik is

die naeltjie, die kaneel

om die vleeslike teen verderf te bewaar

en binneplaas en stoepkoelte daar is

om te oorleef teen hemel en woestyn?

 

*

niks saliger as dit

middernag verby

die maan byna vol

skerp reliëf van donker bosse

swaar en stil met voëls

en werf gebaai

in helder lighoofdige sluimermymeringe

van die ewig bestaande afwesigheid van son

die geur van jasmyn

groen sterre

en skielik weer

iewers uit die heuwel

jakkals se rillende tjank 

 

*

my mense, nou dit aand word

oor die wye land,

nou die geritsel van vlerke soos die klik-klik

                       van ‘n droë rugstring is,

nou soek ek julle wat name gehad het

en gesigte en hande en die warmte van tonge

 

ek het julle so lank in die woorde gelê,

voorgelê en vasgemaak,

dat die smaak van grond en son vervlieg het

en net die versuikering van beweging oorbly

 

verskoon my, julle wat nou skoon is

                       van alle vlees en tekstuur

en vergun my om oplaas saam

                       met julle te vergaan,

één en afwesig te word gestroop

                       van geheue

in die skuur van ewige reise

 

 

*

elke dag is toegooimooi

 

*

eers dán

by volmaanhelderheid

as onthulsel van stof

se stilte oor die werf

wéét jy vlees is pampoen

 

Blackface Buiteblaf

15-16 September, 2011

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Breyten Breytenbach. klein reis as stippelkoei van ‘n jaar…”

  1. Pieter Wolmarans :

    Wat ‘n gedig! Van harte geluk met die jarigheid, mnr. Buiteblaf … En dankie vir die besonderse geskenk aan ons as lesers.

  2. Braam de Vries :

    Breyten, voor die sestiende verdwyn in die nag,
    pampoen in die pens, geluk, baie daarvan,
    santé, mulchas pesetas (e tetas, en als wat Uys jou ook toe sou wens.) Ek hou dit maar kort want daar’s ander wat ook die lyn wil gebruik. ( Wat kraak so? Ons moet ondersoek gelas na dié skandaal, die jare steel ons rot en kaal!) Braam

  3. Johann :

    Baie geluk, Breyten, & dankie ook vir die geskenk hierbo. So spring jy ons nogmaals (& altoos) voor.

  4. Johann :

    En hier is vir jou ‘n vertaling wat ek gemaak het in 1979 & onlangs op my rekenaar gekry het:

    EXPULSION
    Breyten Breytenbach

    Somewhere nearby in a hollow room an old man coughs and the night trembles. Night after night it is the same hoarse coughing like the last water running from the bathtub. He lies powerless between the corroding bed sheets. Every time he opens his mouth he vomits forth a dry, black crow from his throat. He cannot see the crow, but hears only the whimsical scratch of wings against the walls and ceiling. Sometimes the crow lands underneath the bed and then booms under the mattress for hours. He knows that the crow touches the sagged shape of his body under the mattress with dirty little claws. Sometimes the crow sits in the corner and taps wisely with its beak against the walls and whispers the most dreadful secrets and then the old man struggles upward trying to hear something. He never sees anything, except sometimes a fleeting shadow leaping up against the walls like a mouse. And that’s my cough, he then thinks, afraid. He knows the crow will fly away someday with his slimy ticking tomato-red heart in its beak. Sometimes, in the morning, he imagines that he perceives drops of blood on the window-sill. O my God, he then says. During the day it is better and he sometimes only spits out a black bun of guano in the wash-basin or dig an old feather like a fishbone from his palate or from behind the uvula. But at night when he can feel the crazy bird trampling down his lungs, he contracts his ribs together spasmodically so that I can hear the flutter of wings of his dry cough.

  5. Breyten Breytenbach :

    Beste Johann: Groot baie dankie vir die wense (alhoewel mens dit ‘n ou man eintlik nie te behoort toewens dat hy nog lank moet lewe nie – sy sondes word net al swaarder), en veral besonder dankie vir die vertaling. Mag ek maar daarvan steel? Ek is self tans besig met die vertaal van Katastrofes, sukkel-sukkel. Dis ‘n opdrag. Daarom dubbeldankie vir die keper wat jy daar stel.
    En ek wens ek kon ook daarin slaag om nie ou goed op my rekenaar sommer net te laat verdwyn nie!
    Hartlike groete,
    Breyten

  6. Desmond :

    Magties, hier word verjaardagpartyjie gehou dat dit klap op die webblad! Baie geluk, Breyten Breytenbach. Maar luister, speel julle ouens maar pampoen; ek gaan vir Mevrou Mafarsikos deur die sleutelgat beloer. Sien ek al ‘n bietjie grys in die hare? Ugge-um.

  7. Johann :

    Breyten –

    Uit dieselfde legger, nog dié twee. Dis al waarvoor ek in my jeugdige oormoed kans gesien het.

    THE DUNG-BEETLE
    Breyten Breytenbach

    Has anyone ever seen a white beetle?

    Neither have I

    But it is a dreadful creature
    Like a missionary in Africa
    With sun-helmet and sunglasses

    White beetles live in light chambers: camouflage
    And rummage nuggets sun against the wall
    Up,
    Beware the white beetle carries his sting/little flask of poison

    Watch me, also look
    Carefully under your bed every night

    ***

    OPEN
    Breyten Breytenbach

    At last everything can come to rest in a whirlpool of silence. The sounds of the day become faint. The late sun shines against the window pane, and then into the room where the specks of dust move through the golden beam like dancers in limelight. A wind rustles the typewritten sheets of paper. Now one can relax in the cockpit of the chair. One directs the eye of one’s brain high up above the city with a kite. So that the mooned eye can watch the horizons. How far is the purple vineyards and thrashed coasts of my country? Are the outlines of the hills not the Pure Body of Buddha? Probably not. Or it can just as well be Jan Smit’s.
    I knock my eyes up to the mountains with rackets. Let them go prey on their own and watch rags then carry back to the nest of my intestines. Slash the inner belly open yourself. Nothing belongs to you until you’ve eaten it. Here then is the contents of my stomach. Here they are in line now, each with a name, I count the heads two by two. They come from far behind the blue mountains. What news do you bring from home, Tokoloshe?
    We are here to pass life. It is the month of May, the curdled blood of the trees expands in greener-growing flat leaves. A dog gallops across the road. From the far end of the park twilight thrusts up against the trees. The wind quietens, but the flowers are still falling; a bird sings, and the mountain holds more mystery. Tonight, when the moon is full, Gautama will die again, be born again, dig out the soft snail’s flesh from the shell of the subconscious, die again. This night Buddha entered Nirvana; it was like wood completely burnt up.
    My wife has just celebrated her birthday and still doesn’t understand any Afrikaans at all. A friend of mine recently sat crying on his bed without any reason for three days until his eyes in their sockets were like little domestic fishes in glass bowls.
    I am only a spy, sent out on a new reconnoitring expedition everyday, disguised under hat and beard and pipe and ideas and reasons and skin.
    And so I hope to construct a waterproof case against life. Thus perhaps there will come an end later.
    Therefore, to add to the foot is a supplement of flesh; to add to the hand is to plant a useless finger there.
    The light petals fall everywhere with loud explosions. Cry like a violin. Cry, cry, cry, cry, cry.

  8. Melanie Grobler :

    ‘n Stil dankie van my kant af. Soos altyd, Melanie

  9. Evette Weyers :

    Breyten ek het nou eers hierdie WONDERLIKE gedig en kunswerk van jou raakgelees en -gekyk. Manjifiek dat jy op jou verjaarsdag aan ons almal so ‘n kosbare geskenk gee. Ons sal ‘n sterrestelsel na jou vernoem en jou gedigte deel van die Melkweg maak vir die ewigheid.