Lize Viljoen. Itaewon, Seoul: waar die Ooste en die Weste ontmoet

Covered alleyway

Covered alleyway

Itawon is die Westerling se wegkomplek in Korea.  Dis hier waar jy klere en kos kan koop wat jou groote en smaak pas. “Big Size” tekens pronk op baie winkels en Richard Copycat se American Diner is die plek om jou hongerte na ‘n burger en chips, of selfs net ‘n spek en eier ontbyt met toast te versadig.  Dan is daar die WolfHound, ‘n Ierse Pub wat ordentlike vis en chips bedien. Klerewinkels, skoenwinkels en koffieshops van alle pryse en style asook juwelierswinkels is knap ingepas al langs die hoofstraat en selfs in die klein stegies wat uitloop uit die hoofstraat.  As jy ‘n bierdrinker is en ‘n rugbyspeler sal jy jou ook hier tuis vind met die Iere en hul soortgelyke passies.  Saans word Itaewon ‘n groot partytjieplek in die en bly alles oop tot laat in die nag, met clubs en pubs vir elke moontlike voorkeur.

JAnis Joplin

JAnis Joplin

Geskiedkundig is Itaewon se ontstaan nou gekoppel aan die Amerikaanse weermagbasis in Yongsan.  Dit was maar eers ‘n rowwe plek, waar prostitusie en drank saamgevloei het in een groot rivier van menslike ontsnapping van die realiteit.  Mettertyd het hierdie industrie gekrimp en bestaan tans as toerisme/bedrywende besigheid nog op homo hill waar jy saans na nege die dames en here in hul rokkies kan raakloop, waar hul gewoonlik voor hul “winkels” sit en skinder en die verbygangers kritiseer.  Itaewon word al meer ‘upmarket’ deesdae met opgegradeerde motelle en boetiekwinkels wat duur name in die klerebesigheid verkoop.  Die kunste word ook verteenwoordig met die Leeum kunsmuseum (http://leeum.samsungfoundation.org/html/intro.asp) en ander gallerye soos die Gallery Golmok hieronder, of selfs ‘n prettige plek soos die Photo taking Zone, letterlik ‘n platform wat mense uitnooi om fotos van hulleself te neem met die agtergrond, “The Photo taking Zone”; almal tekens van veranderende tye.

Mees opvallend vir my is die Oosterse benutting van spasie vir die verkoop en bemarking van besliste Westerse goedere, al is meeste in China gemaak. Itaewon is ‘n wêreld van kontras, met die straatkarakters vanaf die stalletjie verkopers, tot die sambreelman, of die vrou wat ‘n vlag dra vir ‘n romp en elke dag by die moltreinstasie se uitgang sit, tot die bekende hewige verkeer wat gewoonlik bumper tot bumper van een rooi verkeerslig na die ander jou basies forseer om die gesig wat Itaewon is in te neem, oomblik vir oomblik, in sonskyn en reent.

Vir die boekeliefhebber is daar die ongelooflike “What the Book,” waar jy nuwe en tweedehandse boeke kan koop en selfs bestel as hulle dit nie in voorraad het nie.

Om af te sluit, Itaewon is ‘n tussenin wêreld, terselfëertyd smerig en splinternuut, waar jy mense van elke stratosfeer van die lewe kan raakloop en van baie verskillende lande.  Definitief ‘n plek om te besoek as jy jouself in Seoul, Suid Korea sou bevind.

Itaewon is die plek


By die moltreinstraathoek loop ‘n transvestiet my holderstebolder

terwyl die man wat onwettig internet afgelaaide flieks verkwansel

op sy hurke sit en sporadies skree vir hoeveel sy ware verkoop

“Starbucks”en “What the Book” waar ek intellektueel my kan verbeel

ek weet iets van hierdie wêreld en sy wonderlike bewoners se maak en breek

wat op twee bene loop en dit lyk sowaar  met elke trap alles ondervoet vergruis


sonskyndae stroom die mense saam en uiteen, daar is altyd dié wat uit

hotelle kom, of uit die kroeg, of iets gaan eet, Sondaemiddae veral

is al wat leef op straat, in elke soort van taal word op straat gepraat


Skielik voel ek minder volksvreemd, of ek nie meer soos ‘n seer duim

uitstaan, selde voel ek so, nie eens by die huis in Suid Afrika,

want hier aan die voet van Namsan, gooi almal hul paspoorte in die vergeetboks


Hier word jou land die wêreld en jou mense die wêreld se mense

sonder artifisiële grense wat bewaak moet word deur mans met gewere

sonder vrese van ons en julle/hulle is almal hier kosmopolitaans en gelyk.

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Lize Viljoen. Itaewon, Seoul: waar die Ooste en die Weste ontmoet”

  1. juna :

    Hey jy, dit geniet! De Rust is beautiful gekleur, jou natuurtuin stunning in Tom se hand. Hoop jy goed.