Egonne Roth. Vanessa Fogel

 

Ek onthou die eerste klas van ons M-program in Kreatiewe Skryfkuns. Daar was elf van ons – nommer twaalf se pa het op sterwe in Ierland gelê – hy’t nooit opgedaag nie. Ek was spyt want ek is baie lief vir die Ierse stem en humor. Ek was nie die oudste student in die klas nie, maar die meeste was wel so jonk soos my kinders. Ek het hulle versigtig bestudeer. ‘n Paar het uitgestaan, een omdat sy so klein en maer was dat dit moeilik was om te glo sy’s oud genoeg om daar te wees. Sy’s ‘n geslypte koerantredakteur ontdek ek later. Die ander ding wat uitgestaan het is dat sy ‘n Duitse dirndl rok in rooi en wit aangehad het en toe sê sy wil ‘n roman skryf. Almal wil ‘n roman skryf! Wel, ek het toe al geweet dat ek nie ‘n roman wil skryf nie, maar dit is soort van die doel van sulke programme, nie waar nie?! So my nie-fiksie drome was my geheim … vir eers.
Maar Vanessa, die meisie in die rooi en wit dirndl rok wat dit duidelik gemaak het sy gaan ʼn roman skryf , het stil haar droom, haar opdrag gevolg. Haar kortverhale wat sy onder protes geskryf het, was anders, nes haar klere anders was – een dag uiters modern en sexy, die volgende dag outyds Duits en effe preuts, maar sy het altyd mooi gelyk want sy is mooi. As groep ontwikkel ons vinnig ‘n groepsgebondenheid: ons eet saam op die gras tussen ons klasse, elke dan en wan gaan drink ons ‘n bier  êrens in Tel Aviv saam. Die enigste man in die klas woon nes ek in die noorde van Israel. Ons ry dus elke Dinsdag 45 minute bus en dan ‘n uur en ‘n half trein saam en al die pad huis toe bespreek ons klasse, klasmaats, lektore en wat ons wil skryf. Sy eerste kortverhaal het geëindig met die woorde: “He looked into the mirror and saw the face of a man who had killed another man.” Daaroor het ons ook lank gesels.
 
En toe’s dit alles verby. Ons het graad gevang en spat uitmekaar.
 
Eendag kry ek ‘n brief van Vanessa – haar roman is in Duits vertaal en word in Duitsland uitgegee. Dis ‘n reuse sukses – baie van die groot Duitse dagblaaie wei hele bladsye aan haar en sy praat hier en daar en oral oor haar boek. Ons ontmoet mekaar nog soms in Tel Aviv en gesels oor haar sukses, oor haar nuwe roman, oor my Olga Kirsch biografie. My Judy lees haar boek in Duits en is baie beïndruk. Ek gaan luister as sy by die Internasionale Boekfees in Jerusalem praat.
 

Vanessa lees voor

Vanessa lees voor

Sy stuur vir my die oorspronklike wat in Engels geskryf is en as tesis vir haar MA gedien het – ek lees dit dwarsdeur die nag. Vroeg in die teks is daar ‘n stukkie digkuns…

 

From between my shutting and opening eyelids, I see his eyes fixed on me.

He takes my hands, I let him take my hands.

He leads, I let him lead, I want him to lead. I take control, guide him.

I take his hands, he lets me take his hands.

 

I lead, he lets me lead, he wants me to lead. He takes control, guides me.

I search, he searches, we search.

 

From between my shutting and opening eyelids, I see his shutting and opening eyelids.

Our eyes fix on the ceiling. On my ceiling. On the lines of my ceiling.

 

The sex, just like the rest of the night, felt like a flashback and a flashforward at once.

 

Op ander plekke in die boek sou mens die teks as ‘n gedig kon oor tik. Dit sou net so goed werk.  
Ek onthou dat ek dit een maal met Mongwane Wally Serote gedoen het: in ‘n digkuns werkswinkel het ek ‘n Serote gedig en ‘n stukkie van sy prosa, getik soos ‘n gedig, voorgelê en die deelnemers gevra watter die gedig en watter die prosa was. Die helfte het verkeerd geraai. So sou mens met Vanessa se skryfwerk ook kon maak.

Vanessa, na die voorlesing

Vanessa, na die voorlesing

Sy vertel my dat die storie van haar boek gedeeltelik waar is en die res fiksie – soos so dikwels met  eerste novelles gebeur. Omdat ons teen die tyd al baie ure gesels het, kan ek raai watter gebeure in die boek werklik plaasgevind het en watter nie. Net voor ons mekaar die eerste keer ontmoet het, was sy in Poland saam met haar Oupa. Hy het haar soontoe gevat sodat sy kon sien vanwaar haar grootouers kom, wat hulle as gevolg van die Nazi’s alles verloor het; sodat sy kan verstaan hoekom haar ma is soos wat sy is en waarom haar ouma nooit stories uit die ‘goeie ou dae’ vertel nie. Hulle was nie goed nie. Hy vra haar om sy storie te boek te stel.

Vanessa se roman dra by tot ʼn nuwe aspek in die Holocaust genre – “third generation survivors.” Dit het te make met dood en verlies, met leiding en oorlewing, maar die grootste van alles is die verlies aan onskuld – the loss of innocence. Die verlies van onskuld tot in die derde en dalk nog die vierde geslag.
 
Ek besef dat almal van ons in die klas oor ʼn soort verlies geskryf het. Dis die realiteit van in Israel skryf – oorlog, verlies, oorlewing is altyd sentraal tot waaroor hier geskryf word, want dis deel van hoe ons hier leef. Miskien is dit maar waaroor geskryf word. Punt!

 

Frank Kermode in sy pragtige aangrypende outobiografie, Not Entitled: A Memoir, stel dit so duidelik: “The story of  life must, insofar as it is truthful, be at least in part a story of loss and desertion inflicted and received.” Ja, ek dink dis waaroor alle skrywes gaan – ook Vanessa se pragtige debuutroman.

 

Vanessa se boek
Bookmark and Share

2 Kommentare op “Egonne Roth. Vanessa Fogel”

  1. Pieter Wolmarans :

    Wat ‘n wonderlike stuk! Dankie vir jou insiggewende bydrae, Egonne.

  2. Mooi stuk, Egonne.