Digstring. Pieter Odendaal. Die eerste steen

die eerste steen

vir adam small

 

 

ek sou graag net ‘n klipgooi vêr

van jou af wou leef, meneer small

van die bankies die deure

die treine die skole die strande

die riots die klippe in hande

 

maar ek staan anderkant die storm

waar ons reënboë teen die  grys skerm

van die dag projekteer

 

‘n mens kan nie lewens

in die lug bou nie, adam

en ek weet nie hoe om

van hier vir jou te skryf nie

hier waar die blindes dans dans dans

met iPods in hul ore

en dollars in hul oë

 

‘n mens kan nie lewens

in die lug bou nie, adam

 

ek wens ek is vroeër gebore

dat ek al kon loop die dag

toe Hector gaan lê het

miskien sou ek hom optel

miskien sou ek saam

cowboys en kroeks speel

 

maar my hande is nog altyd

te klein gewees om klippe te gooi

al stoei my pa se bloed in my

en al was my oupa in die senaat

 

hy’s dood die jaar

toe my pa begin skiet het

 

my pa is ‘n goeie man, meneer small

al praat slegs sy oë oor die grens

en al drink hy soms te veel

hy’s ‘n goeie man, meneer small

al skree hy soms op taxi’s

en al was hy en sy god

maar oukei met als gewees

 

hy’s ‘n goeie man, meneer small

en ek hoop dat ek eendag skroomloos

langs sy graf kan staan en huil

 

 

© Pieter Odendaal, Augustus 2011.

 

Let wel: Hierdie vers was geskryf  as opdragvers tydens die huldiging van Adam Small tydens die pasafgelope Versindaba-fees.

 

Pieter Odendaal

Pieter Odendaal

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Pieter? Hoe het dit ontstaan?

Iewers in Augustus. Ek dink die winde het al in die Vrystaat begin waai en dit was woes reënerig in Stellenbosch. Melt Myburgh het my gevra om die gedig te skryf as deel van ‘n kollektiewe huldeblyk aan Adam Small by Versindaba.

Toe’t ek maar al Small se boeke gaan lees en besef dat ek nie weet hoe om hom te skryf nie. Ek het hom nooit ontmoet nie, net soos ek nooit die gatkant van apartheid geken het nie. Ek is in 1989 gebore, en my eerste regte herinneringe begin eers na Mandela se vrylating.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Dit het redelik lank gevat om die ding klaar te kry, maar die sperdatum het gehelp. Ek skryf baie stop-en-start, baie fragmentaries. Daar is agt drafts op my rekenaar gestoor. Die groot werk begin as ek die stukkies aan mekaar probeer stik.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Geen wit lig van bo of muse met groot buuste het neergedaal nie. Bloot met my vingers op die keyboard gaan sit, sigur ros, tumi and the volume en liszt opgesit en begin droom.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Ek het baie op ritme en klank gekonsentreer. Dis die eerste gedig wat ek geskryf het deur hoofsaaklik op die musiek van Afrikaans te fokus. Adam Small is ‘n meester van luister en hy werk so mooi met klank – die dat ek gevoel het dat ek een van sy belangrikste ordeningsbeginsels wil gebruik om die gedig te skryf. 

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ek het die gedig een of twee keer opgevoer voor my podiumdigter-vriende en hulle het baie gehelp om as klankbord te dien. Annel Pieterse het ook geluister en die regte vrae gevra. En ek het dit vir myself voor die spieël gelees. Dit help baie.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Wel, die gedig is nie gepubliseer nie, maar is by Versindaba opgevoer as deel van die huldeblyk aan Small, soos ek hierbo gesê het. Ek is nog nie seker of die gedig regtig goed op papier werk nie.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

My oupa is nie dood die jaar toe my pa begin skiet het nie. Dit was eers later, maar ek het van die reël gehou, so ja. Die res is alles waar, soort van.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Oor hoe moeilik dit vir my is om vir en oor Adam Small te skryf en hoe moeilik dit vir my is om te skryf oor ‘n geskiedenis wat ek nie self deurleef het nie. Ag, en oor wat klippe alles kan doen om mense van mekaar te skei.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Small se werke, veral sy eerste publikasie, Die eerste steen, wat in die fifties verskyn het en ‘n redelik emosionele, maar ook onthutsende en ontstellende, aanklag teen apartheid is. Hy is werklik ‘n profeet – hy’t voorspel hoe ons menswees van ons af weggevat sou word in hierdie land.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Terwyl ek in die wêreld van die halfgeboude gedig is, dink ek nie aan enige toekomstige bewoners nie. Maar as ek later weer terugkeer om verder daaraan te skaaf, dink ek gewoonlik eers aan die volgende mense: My gesin en my vriende wat Afrikaans kan verstaan. Dan dink ek aan my ander vriende wat gaan luister na die musiek in die gedig omdat hulle nie die taal verstaan nie. Ek dink ook aan Charl-Pierre Naudé se woorde oor Afrikaans: “Afrikaans’ most noticable – and most denied – facet is that it is an inherently mixed culture, coloured and white. The entire culture is pinned onto this tragic divide, like tatters on a skeleton. It will take time to heal, if it ever will. Indeed, the culture of Afrikaans is a Siamese twin that got seperated very badly, and should never have lived. For which half am I writing, then? Sometimes I fell like the shattered mother insisting to love something unlovable because it is my inalienable right to do so.” (Uit: Imagine Africa, saamgestel deur Breyten Breytenbach)

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dis die eerste opdragvers wat ek geskryf het en verskil ook in die sin dat dit die eerste gedig is waarvoor ek so baie vooraf leeswerk gedoen het.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Die taal. Die klanke. Die tematiek wat dit aanspreek. Die kern van geweld waarom dit alles draai.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Sien, dis daar waar ‘n sluitingsdatum baie handig te pas kom. Jy’s bloot ‘n surrogaatmoeder en daar’s ʼn streng delivery-tyd ter sprake.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ja. Ek het baie positiewe terugvoer en insiggewende kommentaar gekry. En die ou in die spieël het ook die vers gelike.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Dit was eintlik ‘n liriek gewees. Oor visse wat heeldag lank in die see rondswem. Die liedjie was oukei, maar die woorde het swaar op ‘n Christelike kinderliedjie-interteks gesteun en ek kan net die eerste vers onthou. Ook maar goed so.

 

Die visse swem die visse swem

o die visse swem

hulle swem na hulle gate

en hulle eet hulle kos

o die visse swem.

 

_______________________________________________________________________________

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Digstring. Pieter Odendaal. Die eerste steen”

  1. Beatrice Russo :

    Dankie Pieter, mooi stories. Ek weet ook toevallig van ‘n liriekkompetisie waarvoor jy “Die visse” kan inskryf 🙂

    Mooi loop.
    BR

  2. […] het twee jaar gelede opslae gemaak met ‘n gedig aan Adam Small wat die bekroonde digter tot so ‘n mate geroer het dat hy weer terug gekeer het na die […]