Marlies Taljard: Kollig op Hans du Plessis

 

Hans du Plessis (foto) se nuwe roman, “Die pad na Skuilhoek” het pas verskyn. Ek het die roman ‘n minimalistiese kunswerk gevind wat, veral as gevolg van die gestroopte aard van die vertelling en die streng dissipline wat die digter homself oplê om slégs die essensiële te vertel, sterk ooreenkoms met die digkuns vertoon. Hoewel die fokus deesdae sterk op die narratiewe elemente van die digkuns val, vertoon narratiewe tekste natuurlik eweneens tot ‘n meerdere of mindere mate trekke van ‘n poëtiese werkwyse. Dat Du Plessis van poëtiese strategieë gebruik maak in sy romankuns, behoort nie te verras nie – hy is immers ook die digter van vyf digbundels, waaronder “In die skylte vannie Jirre” beslis die bekendste is.

Hans du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore. Hy matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, waarna hy aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. Aanvanklik gee hy onderwys, maar studeer deeltyds. In 1975 verwerf hy `n doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde aan UNISA, en daarna volg hy `n postdoktorale kursus in die linguistiek aan die Universiteit van Harvard. In dié tyd woon hy ook skryfskole in Iowa en Oklahoma by.

Na ses jaar as hoërskoolonderwyser, word Hans by Unisa as lektor aangestel en daarna senior lektor by die RAU. In 1981 word hy professor in Afrikaanse Taalkunde aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en in 1990 Direkteur van die ATKV-skryfskool van die NWU se Potchefstroomkampus – die eerste volwaardige skryfskool aan `n Suid-Afrikaanse universiteit. Vanjaar was Hans se laaste jaar by die NWU, en daarom wy ek hierdie blog as ‘n afskeidsgeskenk aan hom.

Hans du Plessis het reeds 160 publikasies agter sy naam. In 1978 debuteer hy as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Sy akademiese publikasies sluit taalkundehandboeke en taal- en letterkunde-artikels in nasionale en internasionale tydskrifte in. Sy skeppende werk sluit vyf digbundels, drie jeugromans en vier romans in. Daarbenewens publiseer hy ook talle gedigte, rubrieke en kortverhale. Ses dramas en musiekspele uit sy pen is reeds by verskillende kunstefeeste opgevoer. Sy dertiende boek, Die pad na Skuilhoek, `n historiese roman, het pas verskyn by Lapa Uitgewers. Hy verwerf onder andere die C.R, Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, `n erepenning van die SA Akademie en die CBSA-prys vir godsdienstige werk vir die digbundel, Innie skylte vannie Jirre, waarvan daar nou reeds meer as 65 000 eksemplare verkoop is.

Ek het ‘n rukkie gelede met Hans gaan gesels en hom ‘n paar vrae gevra, hoofsaaklik oor sy digterlike oeuvre.

Marlies: Hans, jy het nou al verskeie digbundels gepubliseer, maar is ook bekend vir romans soos “Dis ‘n stukkende wêreld dié, my ou”, “Verlore Paradyse” en nou pas weer “Die Pad na Skuilhoek”. Beskou jy jouself primêr as digter of as skrywer van fiksie?

Hans: Dit is een van daardie vrae wat makliker is om te vra as om te antwoord, want ek het nog nie so daaroor gedink nie. Ek weet self nie regtig nie. Ek dink mens is nooit iets nie, jy is altyd iets aan die word. Vir my is die twee ook nie van mekaar te skei nie, omdat albei met die kuns van die woord te make het. Ek gaan sit nie en dink en besluit dan wat ek gaan skryf nie. Dit kom maar sommer vanself, of soms is daar iets soos `n opdrag. Ek dink ek is `n prosaskrywer wat nooit vergeet dat alles maar eintlik poësie is nie.

Marlies: Hoe beïnvloed jou digtalent jou fiksie? Of sou jy sê jou storietalent beïnvloed eerder jou gedigte?

Hans: Die twee beïnvloed mekaar.

Marlies: Jou bundel “In die skylte vannie Jirre” (Die Griekwapsalms) was besonder gewild onder alle lesers. Wat het jou gemotiveer om dié gedigte te skryf en hoe voel jy self oor dié spesifieke gedigte? Watter gedig beskou jy as jou heel beste?

Hans: Die Griekwapsalms het my van die begin af self verbaas, want dit het vir my aanvanklik nie anders as my ander gedigte gevoel nie. Vir my was dit maar net nog gedigte. Later het ek eers anders daaroor begin dink. Die Griekwapsalms het ontstaan terwyl ons met taalnavorsing oor hierdie variëteit besig was. Ons was met veldwerk in die omgewing van Douglas toe dit net by my opkom dat die Bybelse metafore vir hierdie segsmense ander sin moes maak. Hoe sou Dawid dit geskryf het as hy `n Griekwa sou wees? Dis al, dis die geskiedenis daarvan. Wat uiteindelik daarvan geword het, was grootliks genade. Die mens het, lyk dit vir my, nie altyd volle beheer oor talent nie. Daar is immers Iemand groter wat dit beheer. Beste gedig? Daaroor kan die digter nooit self oordeel nie. Gunsteling? Psalm 121:

 

Ek slat my twee oge op,

my kyk vang die verste kop.

Wavanaf sal my hulp nou kom?

My hulp is vannie Jirre, van Hom,

Hy’t nou die jimmel en Prieska gekom maak.

Sonner lat jou voete klipperse raak,

is hy skoene agterrie skaap,

Hy dink nooit nie eers oor slaap.

Sontyd is Hy hoed op jou kop,

innie nag hou Hy gevaarlikheid dop.

Hy’s mos nou da om jou op te pas,

jou siel hou Hy tissen jou ribbes vas.

Gan jy nou in of gan jy nou yt,

Hy’s oor jou, vi ewig en vi altyd.

 

Marlies: Noudat jy hopelik meer tyd op hande gaan hê, beplan jy nog ‘n digbundel? Of dalk ‘n nuwe roman? Lig asseblief die sluier so ‘n bietjie oor jou toekomsplanne.

Hans: Meer tyd is ook nie noodwendig ‘n goeie ding nie, want ons mors te maklik met oorvloed. Ek is besig met `n nuwe bundel Griekwapsalms. As dit goed gaan, kan dit volgende jaar by Lapa verskyn, bietjie meer as tien jaar na Innie skylte ….

 

Bookmark and Share

Comments are closed.